Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
HERE, waarom laat U ons wegdwaal van u weë? Waarom verhard U ons hart, sodat ons U nie vrees nie? Keer terug, ter wille van u knegte, die stamme van u erfdeel!- Jesaja 63:17
ONWETTIGE IMMIGRASIE
Ds Andrè van den Berg
Rom.13:1-7; 1 Pet.3:13-16
God eis van gelowiges om met vreemdelinge medelye te hê: “Jy mag ook die vreemdeling nie kwel of hom verdruk nie, want julle was vreemdelinge in Egipteland” (Ex.22:21). “En as ʼn vreemdeling by jou in julle land vertoef, mag julle hom nie verdruk nie. Die vreemdeling wat by julle vertoef, moet vir julle wees soos ʼn kind van die land wat onder julle is. En jy moet hom liefhê soos jouself, want julle was vreemdelinge in Egipteland...” (Lev.19:33,34). In sy Profetiese Rede sê Jesus: “... Ek was ʼn vreemdeling, en julle het My herberg gegee” (Mt.25:35).
Gelowiges het geen probleem met vreemdelinge nie, maar wel met onwettige immigrante. Die vreemdelinge waarvan die Bybel praat, is nie onwettige immigrante nie. Dis ʼn baie belangrike onderskeid! Gelowiges mag nie anders teenoor wettige vreemdelinge in hul land optree as teenoor hul eie volksgenote nie. Indien hierdie vreemdelinge wettig daar is, moet hulle goed behandel word. Onwettige vreemdelinge moet na hul eie land teruggaan.
In Rom.13:1-7 eis God van gelowiges om hul landswette te gehoorsaam. Daar is net een uitsondering op hierdie reël; as ʼn regering burgers dwing om dinge te doen wat teen die Woord van God indruis. Toe die dissipels voor die Joodse Raad gedaag is, antwoord Petrus die Jode: “... Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense” (Hand.5:29).
Wet en orde is die grondslag van alles wat eerbaar is. Niks in die Bybel verbied ʼn land om immigrasiewette te hê nie. Dit verhoed wel onordelike instroming en al die negatiewe dinge wat altyd daarmee gepaard gaan. Onwettige immigrasie is ʼn verbreking van die landswet en gevolglik ʼn misdaad. Dis in werklikheid opstand teen God se wil wat wil hê dat alle mense in vrede saambestaan. Daarvoor is wetgewende orde nodig. Daarom gee God in Rom.13:1-7 aan die staat die reg om wetsoortreders te straf, selfs met die doodstraf (swaardmag).
Om ʼn land onwettig te betree, is wetsverbreking en wetsverbreking is misdaad en derhalwe sonde ongeag wat mense van ʼn land se immigrasiewette dink. Eie reg gee niemand die reg om die landswet te oortree nie. Daar is net een uitsondering; as ʼn wet met die Bybel in stryd is.
Toe Paulus Rom.13 geskryf het, was hy as Romeinse burger aan die Romeinse Ryk onderhorig. Dit was in die tyd van keiser Nero toe baie van die wette boos was. Desondanks alles eis Paulus van gelowiges om hul t.w.v. ʼn vreedsame samelewingsorde aan hul owerhede te onderwerp al stem hulle nie met alle wette saam nie. God is immers ʼn God van orde (1 Kor.14:40).
Alle ontwikkelde lande het immigrasiewette omdat onwettige immigrasie ʼn wesenlike probleem inhou. Onwettige immigrante kom lande om verskeie redes binne. Sommige om vir hulself ʼn beter lewe te voer. Ander om beter vir hul gesinne te kan sorg en van armoede te ontsnap. Al klink hierdie dryfvere ook hoe edel, is en bly dit steeds nie Bybels korrek om ʼn land se wette te verbreek net om beter te kan leef nie.
Vir God is landsgrense baie belangrik. Daaroor is die Bybel baie duidelik. “Jou naaste se grenslyn, deur die voorvaders getrek in jou erfdeel wat jy sal erwe in die land wat die Here jou God jou sal gee om dit in besit te neem, mag jy nie verlê nie” (Deut.19:14). “Vervloek is hy wat sy naaste se grenslyn verlê, en die hele volk moet sê: Amen” (Deut.27:17). Salomo skryf: “Die ou grenslyne wat jou vaders gemaak het, moet jy nie verlê nie” (Spr.22:28).
Die Bybel verwys 169 keer na grense. Omdat grense vir God belangrik is, het Hy dit self ingestel. “Toe die Allerhoogste aan die nasies ʼn erfdeel gegee het, toe Hy die mensekinders van mekaar geskei het, het Hy die grense van die volke vasgestel...” (Deutr.32:8).
Oral waar grense in die Bybel ter sprake kom, staan dit in die teken van die handhawing van ʼn ordelike gemeenskapslewe en gevolglike vreedsame naasbestaan. En dis net moontlik indien daar duidelik grense is. Goeie grense maak goeie bure en wette is daar om gehoorsaam te word.
Gen.11 vertel die verhaal van hoe God verhoed het dat mense met die bou van ʼn toring in ʼn wêreldkoninkryk verenig het. Wat destyds in Babel verkeerd was, is vandag nog steeds verkeerd. Nimrod was die eerste koning wat ʼn Een-wêreld Regering met ʼn valse godsdiens wou oprig.
Ná die sondvloed het God aan die oorblywende mense opdrag gegee om te vermeerder en oor die aarde te versprei. Ongeveer ʼn eeu later het ʼn groep o.l.v. Nimrod besluit om nie te versprei nie, maar hul in Babel te vestig en ʼn toring te bou ten einde vir hulself naam te maak. God sê: “Vermeerder en versprei”; die mens sê: “Ons sal nie versprei nie, maar by mekaar bly!” Toe fnuik God hul ydele drome met ʼn spraakverwarring!
Wie oop grense en onwettige immigrasie voorstaan, staan wesenlik ʼn Een-wêreld Regering voor. Dit kan uiteraard slegs verwerklik indien nasionalisme afgebreek word – presies wat Satan wil hê. Maar wat wil God hê? Aparte volke en nasies; iets wat duidelik in die geskiedenis gesien kan word. Alle pogings om volksgrense uit te wis en volke in kunsmatige eenhede op te klits, het oral ter wêreld klaaglik misluk. Desmond Tutu se reënboognasie is die soveelste aanskouingsles van hierdie dwaasheid. Dis ʼn daaglikse tablo van chaos en ontwrigting en ʼn les hoe daar nie geleef moet word nie!
God het met goeie rede afsonderlike volke en nasies geskep sodat sy wil op die aarde sal geskied en nie dié van Satan nie. Paulus praat by geleentheid in Athene met ʼn kosmopolitiese gehoor en sê vir hulle: “En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy die voorafbepaalde tye en die grense van hul woonplek vasgestel het, sodat hulle die Here kon soek...” (Hand.17:26,27).
Afsonderlike volke en nasies verhoed Satan om sy koninkryk op die aarde op te rig. Hoe meer apart mense leef, hoe moeiliker maak hulle dit vir hom. Internasionalisme soek nie vir God nie, maar eerder die mens. Nasionalisme soek God: “...sodat hulle die Here kon soek...” (Hand.17:27).
Openb.17 sê dat Satan aan die einde van die tyd wel daarin gaan slaag om vir ʼn kort tyd sy koninkryk op die aarde op te rig, maar dat hy en al sy burgers daarna in die hel gewerp gaan word. Aparte volke en nasies is God se instrumente om toe te sien dat reg en geregtigheid onder alle mense geskied (Deut.17).
Die Bybel roep gelowiges op om vir armes, weduwees en wese te sorg. Dis elke regering se heilige plig. Daarom is daar selfs wetgewing in plek gestel om toe te sien dat dit gedoen word. Dis egter niemand se reg om wette te verbreek nie. Wie onwettige immigrasie goedpraat, is aan wetsverbreking aandadig!
Wie na ʼn ander land wil verhuis, moet die immigrasiewette van die betrokke land eerbiedig al is dit ʼn langdradige proses. ʼn Frustrerende wet bly nog steeds ʼn wet en is nog steeds beter as onwettige optredes. Onwettige immigrante kan hul optrede nooit op Bybelse gronde regverdig nie.
Daar is ʼn beduidende verskil tussen onwettige immigrante en vreemdelinge. Let op die woord vertoef in Lev.19:33: “En as ʼn vreemdeling by jou in julle land vertoef, mag julle hom nie verdruk nie. Die vreemdeling wat by julle vertoef, moet vir julle wees soos ʼn kind van die land wat onder julle is...”
Dis vandag nog reg. Maar dit beteken nie dat amnestie voor die voet aan alle vreemdelinge verleen moet word nie. Ons moet baie versigtig wees hoe ons die Bybel lees omdat dit so maklik tot slegte teologie kan lei, nie eens van politiek te praat nie! Die Bybel mag nooit buite sy verband verstaan word nie.
Vreemdelinge wat hulle in Israel bevind het, moes Israel se wette gehoorsaam. Hulle was net tydelik daar en het na verloop van tyd na hul eie land teruggekeer. So lees ons in die boek Rut van Naomi wat met haar gesin weens hongersnood na Moab vertrek, maar na ʼn paar jaar met haar skoondogter teruggekeer het.
Lev.19:33 eis ook van gelowiges om vreemdelinge soos volksgenote te behandel. Dit geld beslis nie vir onwettige immigrante nie! Let op Israel se verblyf in Egipte waarvan ons in die OT lees. Hulle was nie onwettige immigrante nie, maar vreemdelinge wat genooi is om hulle daar te vestig en eers later deur vyandige koningshuise onderdruk is.
Vreemdelinge wat hulle op wettige wyse in Israel bevind het, kon selfs na ʼn tyd burgers word indien hulle Israel se wette onderhou en hulle met die volk se doen en late vereenselwiging het. Die wette wat God vir Israel gegee het, was ook op alle vreemdelinge van toepassing. Wie in Israel was, het gemaak soos die Israeliete gemaak het. Israel het gemaak soos God hul gelei het.
Onwettige immigrasie het oral ter wêreld ongunstige gevolge. In Deutr.28 waarsku God Israel teen geestelike afvalligheid en sê dat Hy selfs vreemdelinge as tugroede in sy hand teen hulle sal gebruik: “Die vreemdeling wat by jou is, sal hoër en hoër teen jou opklim; en jy sal laer en laer afsak ... hy sal die kop en jy die stert wees”(:43,44).
Onwettige immigrasie het altyd ongunstige gevolge. Werkloosheid neem toe. Burgers word van beter inkomste ontneem deur onwettige immigrante wat vir laer lone werk. Onwettige immigrasie beroof wetsgehoorsame burgers van voorspoed en dis 'n onreg. Daarbenewens plaas getalle groot druk op ʼn land se ekonomie en natuurlike hulpbronne.
Onwettige immigrasie laat misdaad toeneem. In Amerika is 25% van die tronkbevolking onwettige immigrante. In Suid-Afrika het die misdaadsyfer in die vyf jaar wat Mandela aan bewind was met 717 % gestyg, grotendeels aan die invloei van onwettige immigrante te wyte!
In die VSA het Los Angeles met ʼn reuse onwettige immigrasie-probleem te kampe. In 2009 het statistiek getoon dat ʼn beduidende persentasie van die 10 miljoen inwoners van daardie stad onwettige immigrante was. Dis bevind dat 40% van alle handearbeiders vir kontant werk en dus geen belasting betaal nie.
95% van die stad se lasbriewe vir inhegtenisname vir moord was vir onwettige immigrante. 75% van alle voortvlugtende misdadigers was onwettige immigrante. 66% van alle geboortes het onder onwettige immigrante voorgekom waarvoor belastingbetalers gedwing word om die mediese koste te betaal. Hierdie droewige prentjie is egter nie net tot Los Angeles beperk nie, maar herhaal homself in talle ander wêreldstede. Kyk maar net wat tans in Europa gebeur!
Wie teen onwettige immigrasie kapsie maak, is met reg oor nasionale selfbelang besorg. As ʼn land nie ʼn einde aan onwettige immigrasie maak nie, maak dit ʼn einde aan die land!
As ons hier in Suid-Afrika gaan ophou om kapsie teen onwettige immigrasie te maak, word ons die bewerkers van ons eie rampsalige lot. Baie van die moorde in ons land word deur onwettige immigrante gepleeg. Hulle beëindig lewens wat moes voortgaan. Ongelukkig bestaan burgerlike veiligheid wat die hoogste landswet behoort te wees, nog net in naam.
Wetgewing wat op die Woord van God geskoei is, maak dit vir burgers maklik om die regte dinge te doen en moeilik om die verkeerde dinge te doen. Dade wat in stryd met die Bybel is, kan nooit goed wees nie.
Onwettige immigrante is wesenlik misdadigers en moet vervolg word. Hulle is nie genooi nie en dus nie ons gaste nie. Hulle is nie maar bloot vreemdelinge nie maar betreders (trespassers). Hulle moet teruggaan na hul land en soos alle ander aansoekers in die ry gaan staan om Suid-Afrika binne te kom. Onwettige immigrante druk nie eens in nie, maar spring sommer bo oor die ry. En daaroor het die Woord van God geen goeie woord nie!
ʼn Burgerlike regering moet toesien dat die wet deeglik toegepas word en sy plig om burgers teen wetsoortreding te beskerm nakom. Voorregte waarvoor hard gewerk is, kan nie met mense gedeel word wat niks doen nie. Dink maar net aan die Gelykenis van die Talente (Mt.25). Net ʼn parasiet het deel aan iets waarvoor hy nie gewerk het nie!
Ons leef in ʼn oorstroomde, plakkerbewoonde land. Daar is egter niks met Suid-Afrika verkeerd wat nie met dit wat reg is gesond gemaak kan word nie. Mag God in genade op ons neersien en die lug in ons ontwrigte land so skoon raak, dat booswigte nie langer daarin sal kan asem haal nie!