Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jou lewe is werklik wat jou gedagtes daarvan maak. Dink dan reg. Dink vrolik. Dink eerlik. Dink sonder vrees. Jou hele persoonlikheid word bepaal deur die dinge waaraan jy dink. As Christen moet jy ook dink aan jou geloof en jouself met jou denke hierin versterk.
KAN GELOWIGES VERVLOEK WORD?
Andrè van den Berg
Num.22:1-12
Al hoe meer gelowiges word deur dwaalleraars beïnvloed om hul huise van allerlei beelde en geestelik ondermynende voorwerpe te reinig sodat daar nie ʼn vloek op so ʼn huis kan rus nie. Indien dit nie gedoen word nie, sal sulke vloeke ʼn gesin in die ongeluk dompel.
Maar wat is ʼn vloek? ʼn Mens hoor van persone wat vir iemand baie kwaad word en dan van ʼn persoon met magiese krag gebruik maak om ʼn vloek oor daardie persoon uit te spreek. Swartes beskuldig dikwels mense van toordery as ʼn albino of kind met liggaamlike gebrek in ʼn gesin gebore word.
Is dit moontlik dat vloeke wat ander oor jou uitspreek die gewenste trefkrag kan hê? Volgens die Bybel is dit God, en nie die duiwel nie, wat mense vervloek: “Hoe sal ek vloek wie God nie vloek nie? En hoe sal ek verwens vir wie die Here nie verwens nie?” (Num.23:8).
In die Gelykenis van die Talente sê Jesus: “Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele.” (Matt.25:41). Omdat God almagtig is, kan geen booswig God se kinders deur afgodery, toordokters of enige ander okkultiese rituele vervloek en in die ongeluk dompel nie.
“Want daar is geen towery teen Jakob of waarsêery teen Israel nie…” (Num.23:23).Ons lees dat Goliat vir Dawid in die naam van sy gode vervloek het, maar hoe hyself op die einde doodgemaak is (1 Sam.17:43). Mense wat vloeke oor gelowiges uitspreek se woorde is soos ʼn voëltjie wat in die lug rondvlieg en geen plek kry om te gaan sit nie: “Soos die voëltjie wegfladder, soos die swaweltjie wegvlieg, so is ʼn vervloeking sonder oorsaak: dit kom nie uit nie” (Spr.26:2). Booswigte se vervloekings raak nie gelowiges nie. Die bloed van Christus maak hulle immuun teen die gif van Satan!
Luister gerus na Ps.91:“Al val daar duisend aan jou sy en tienduisend aan jou regterhand – na jou sal dit nie aankom nie. Net met jou oë sal jy dit aanskou en die vergelding van die goddelose sien” (7,8).
Omdat God sy kinders liefhet, keer Hy selfs die vloek in ʼn seën om soos met Israel in die tyd van Bileam gebeur het. Israel se vyande het Bileam gehuur om Israel te vervloek waarna God dit verhoed het deur die vervloeking in ʼn seën om te keer.
Nie eens Satan kan God se kinders benadeel nie mits God dit as ʼn beproewing en loutering van die geloof toelaat.. Dink maar aan Job: “Daarop sê die Here aan Satan: Kyk, alles wat hy het, is in jou hande; net na homself mag jy jou hand nie uitsteek nie...” (Job 1:12).
Die vroeë Christene wat ter wille van hul geloof uit Jerusalem gevlug en hulle in ʼn okkulties-heidense wêreld bevind het, was blykbaar ook bang vir moontlike vervloekings. Daarom skryf Johannes aan hulle: “... Maar hy wat uit God gebore is, bewaar homself, en die Bose het geen vat op hom nie” (1 Joh.5:18). Jou geloof maak jou siel immuun teen die gif van Satan.
Ek lees onlangs van ʼn vrou wat bekommerd was oor die ornament-voëls in haar huis nadat iemand vir haar gesê het dat dit vloeke in haar huis bring en dat dít die rede was waarom sy huweliksprobleme ondervind het. Sy het streng gesproke haar eie huis getoor!
Om afgodsbeelde uit die Ooste en okkultiese prente en simbole in jou huis aan te hou, is ongewens. Dit strook nie met die Christelike geloof nie, maar verheerlik inderdaad Satan! Geen gelowige hoef egter bang te wees dat dierebeelde van seepsteen uit Zimbabwe, teddiebere uit Duitsland, strokieskarakters op kinderbeddegoed of ʼn ornamentele swaard uit Japan, vloeke oor sy huis sal bring nie.
Desondanks glo baie mense, veral Charismate dat hierdie dinge die oorsaak van huweliksprobleme, finansiële moeilikhede, rebelse kinders en vele meer is. As daarvan ontslae geraak word, sal die probleme verdwyn. En so verskuif hulle die oorsaak van hul probleme weg van die werklike probleem nl. dade van sonde weg na uitlandse produkte wat kwansuis getoor is.
Dis so sprekend van die sondaarmens se verskuiwing van iets binne na iets buite. Het Adam en Eva nie maar dieselfde gedoen nie? Dit kom op ʼn bose klemverskuiwing neer. Die probleme waarmee die persoon te kampe het, word nie meer aan sondedade toegeskryf nie, maar aan bose dinge in sy huis.
Nee, gelowiges hoef nooit bang te wees dat ongelowiges hulle deur sulke dinge kan vervloek nie. Deur die wedergeboorte is jy vry. Deur sy kruisdood het Jesus jou vrygekoop van die vloek wat die wet meebring (Gal.3:13).
Jy is sy kind en nie meer onder die vloek van die Satan nie, maar geseën met alle geestelike seëninge in die hemel: “Geseënd is die God en Vader van ons Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus” (Ef.1:3). En as die almagtige Jesus jou vrygekoop het van die vloek, wie kan jou met ʼn vloek bind?
Daar is selfs mense wat baie gesteld is op die naam wat kinders gegee word omdat jy deur die naam wat jy aan jou kind gee, iets oor hom kan uitspreek. As jy hom bv. Kobus (Jakobus, Jakob) noem, sal hy ʼn leuenaar wees want jy spreek dit die hele tyd oor hom uit. Nee, dis onsin! Ek ken baie mense met die naam Kobus wat alles behalwe leuenaars is. Ek weet ook van mense met die naam Beauty wat glad nie innerlik of uiterlik mooi is, omdat ander dit oor haar uitgespreek het nie. Sulke redenasies is lagwekkend!
In Charismatiese kringe word mense wat gruwelike sondes in hul voorgeslagte gehad het, baie sterk aangemoedig om vir sg. bevryding te gaan. Hulle glo dat die sonde van ongelowige voorvaders in hul nageslag se are vloei en slegs deur die proses van bevryding gereinig kan word. Hulle noem dit bloedlynvloeke.
Dis ʼn leuen! Kinders kan wel deur hul ouers se sonde beïnvloed word soos ʼn kind wat HIV positief gebore word omdat sy ma onsedelik was. Maar dat God ʼn kind straf omdat sy pa gesondig het, is nie waar nie.
Moses skryf baie duidelik hieroor: “Die vaders mag nie vir die kinders, en die kinders mag nie vir die vaders gedood word nie; elkeen moet vir sy eie sonde gedood word.” (Deut.24:16).
Esegiël skryf in soortgelyke trant: “Die siel wat sondig, dié moet sterwe; die seun sal nie die ongeregtigheid van die vader help dra nie, en die vader sal nie die ongeregtigheid van die seun help dra nie; die geregtigheid van die regverdige sal op hom wees, en die goddeloosheid van die goddelose sal op hom wees.” (Eseg.18:20).
Maar wat dan van Eks.20:5 wat duidelik sê dat God die sondes van die vaders tot in die derde en vierde geslag op die wat Hom haat laat neerkom? Die klem val op die laaste deel: “… van die wat Hom haat”. Kinders word gestraf omdat hulle God haat en nie omdat die vaders gesondig het nie.
Charismate moet konsekwent wees en die volgende vers ook lees: “… Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou.” (Eks.20:6). Die verlossing van Jesus deur die kruis is genoegsaam. Niemand hoef vir bevryding te gaan omdat die vloek van sy voorgeslag op hom rus nie.
Petrus skryf: “...omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ʼn lam sonder gebrek en vlekkeloos” (1 Pet.1:18-19).
Deur sy kruisdood het Jesus ons van die grootste vloek in die geskiedenis bevry: die vloek van die sondeval deur die ongehoorsaamheid van Adam (Rom.5:12-21, Gal.3:13). Die gelowige mens sal nooit vervloek kan word nie. Hy is selfs vry om mense wat hom vervolg en probeer vervloek te seën. “Seën die wat julle vervolg, seën en moenie vervloek nie” (Rom.12:14). Jesus sê: “As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.” (Joh.8:36).
Met hul sg. bediening van bevryding dwaal die Charismatiese kerke ernstig. Was Jesus se kruisdood dan nie genoegsame bevryding nie? Die teologie van bloedlynvloeke en bevryding lei mense weg van Jesus en sy kruisdood af. Die versoeking is dus daar om op te sien na mense wat die vloeke kan breek. Nee, Jesus is sterk genoeg en sy kruisdood vir alle sondaars genoegsaam!