Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Baie van ons pyn hier op aarde kies ons vir onsself. Maar ons kan ons aan twee dinge troos: pyn duur nie vir ewig nie; en pyn is juis die bitter medisyne waarmee ons siek gees genees word – daardeur leer ons gewoonlik om beter besluite te neem wat in die toekoms minder pyn sal veroorsaak.
DIE KWEEK VAN SUPERMENSE
Transhumanisme: ʼn Opstand teen God
Ds Andrè van den Berg
Die Bybel waarsku dat Satan aan die einde van die tyd alle stoppers gaan uittrek ten einde mense te mislei om hul rug op God te keer. Dit gebeur alreeds op baie lewensterreine. Een daarvan is die onrusbarende opkoms van ʼn nuwe beweging wat Transhumanisme genoem word. Dis ʼn internasionale beweging wat wetenskap en tegnologie wil gebruik om die mens se verstandelike en fisiese moontlikhede tot ongekende hoogtes te ontwikkel.
Transhumaniste beywer hulle om beter mense vir die toekoms te kweek deur hulle geneties te probeer verbeter. Dit gaan hier oor die kweek van supermense. Sulke geneties verbeterde mense moet dan in die toekoms die toppunt van die beskawing wees en die wêreld beheer. Die tegnologiese vooruitgang wat op hierdie gebied gemaak word, is in een woord verbysterend!
Die ongelooflike tegnologiese ontwikkeling van vandag gaan aan die einde van die tyd nog ʼn baie groot rol in die vervulling van Bybelse profesie speel. Dit gaan ongelukkig ook Satan se invloed versterk.
Transhumanisme beskou menslike gestremdheid, siekte, lyding en veroudering as onnodig. Daarom doen hulle vandag baie navorsing in die biotegnologie en ander nuwe tegnologieë om dit te probeer uit te skakel. Dit klink amper na edel doelstellings, maar dis nie haalbaar nie. In die verlede het ideologieë soos Marxisme, Fascisme en Kommunisme soortgelyke utopiese ideale gehad en t.s.v. hul beloftes het dit alles tot ongekende dood en verwoesting gelei!
Die transhumaniste spoed op die selfde einde af omdat dit die grondliggende oorsaak van die huidige menslike toestand nie aanspreek nie – sy sondige aard. In plaas daarvan om God in die middelpunt te sit, plaas hulle buitengewone (opgegradeerde) mense in die middel – die supermens, ʼn meesterras wat uit ʼn ewolusionistiese ontwikkeling van beter mense gebore word.
Kragtens hul agenda gaan die nuwe era deur mense gekenmerk word wat alle fisiese en intellektuele hindernisse te bowe gekom het; die heelal verower en die wêreld beheer. In kort kom dit op die onttroning van God neer! Die mensdom gaan voor die wederkoms van Christus deur die Antichris tot ongekende vermetelheid en ongeëwenaarde opstand aangevuur word.
Die oorsprong van hierdie opstand moet ons in die nadraai van die sondvloed soek soos Moses dit in Gen.11 opteken. Met die bou van die toring van Babel het God die menslike geslag uit mekaar laat spat deur hulle verskillende tale laat praat. Daardeur het Hy ʼn wêreldregering met een enkele taal verhoed.
Indien Hy nie ingegryp het nie, was daar probleme: “En die Here sê: Daar is hulle nou een volk en het almal een taal! En dit is net die begin van hulle onderneming; nou sal niks meer vir hulle onmoontlik wees van wat hulle van plan is om te doen nie” (Gen.11:9). Dis meer as bloot ʼn terloopse uitspraak. Dis eintlik ʼn profesie - die mens wil soos God wees!
God het van die begin af geweet dat die mens in sy strewe na ontwikkeling Hom eendag sou uitdaag. Dit was immers die dryfveer agter die bou van die toring in Babel: “En hulle sê: Kom, laat ons vir ons ʼn stad bou en ʼn toring waarvan die spits tot aan die hemel reik en laat ons vir ons naam maak...” (:4).
Die Babiloniërs wou iets doen om hul grootheid te verewig, ʼn grootheid soos dié van God: “... en ʼn toring waarvan die spits tot aan die hemel reik...” Die doel van die toring was om God se gesag uit te daag. En dis meer as 4000 jaar gelede! Hierdie ydele strewe het sedertdien nog nooit gaan lê nie. Dit duur deur die eeue voort en sal eers met die wederkoms van Christus einde kry. Die mens se finale poging vind juis net voor dié wederkoms plaas; dit waarmee die transhumaniste tans besig is!
Die dryfveer agter hierdie laaste groot opstand is op leuens gegrond. Soos wat God die Farao se hart verhard het om op sy eie krag te vertrou, sal die laaste mensdom van hul eie krag dronk word. Paulus skryf: “En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo” (2 Thess. 2:11).
Hierdie leuen kom ʼn baie lang pad en ontspring by Satan: “Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie; maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken” (Gen.3:4,5). Hierdie leuen in die Tuin van Eden is dieselfde leuen waarvan Paulus skryf. Dink daaraan: Dieselfde leuen wat sonde in die wêreld gebring het, verskaf op die ou einde ook die vonk vir die laaste opstand teen God as die vermetele mens glo dat hy soos God alwys en onsterflik kan wees.
Sonder Christus verskil die mens se strewes geensins van dié van Satan nie. Jesaja versinnebeeld dit met die magsbeheptheid van die koning van Babel: “Hoe het jy uit die hemel geval, o morestêr, seun van die dageraad! Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan oorweldiger van die nasies! En jy het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde. Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste!” (Jes.14:12-14). Alhoewel hierdie Skrifgedeelte nie direk die val van Satan beskryf nie, is dit so beskrywend van die opstandige mens wat God na die kroon wil steek. En wie vertolk dit duideliker as die transhumaniste?
Transhumaniste glo dat die fisiese mens soos ʼn rekenaar opgegradeer kan word. Alle gebrekkige mensemateriaal kan met intelligente materiaal vervang word. Hulle glo selfs dat die mens van sy fisiese liggaam ontslae kan raak deur op ʼn netwerk afgelaai te word; iets wat hom onsterflik sal maak. In ʼn poging om die verouderingsproses om te keer, het hulle ook hul diëte en lewenspatrone verander. Hulle streef na onsterflikheid; ja, om net soos God te wees!
Ray Kurzweil, een van die leiers van Transhumanisme, skryf in sy boek: When Humans Transcend Biology dat die heelal met ʼn gees van vooruitgang besiel moet word. En, indien God wel bestaan, dit die supermens se plig is om God se ontwerpe as minderwaardig teenoor dié van die supermens te ontbloot.
Transhumaniste is almal met ʼn toekomsvisie van ʼn nuwe, hoogs intelligente menslike spesie besield wat baie beter as die huidige sal wees. In beginsel kom dit op Charles Darwin se ewolusieteorie neer. Darwin het geleer dat ewolusie ʼn natuurlike proses is. Transhumaniste leer anders: dat mense dit doelbewus kan beheer en beheer van sy eie ewolusieproses moet neem. Daarom bestaan hulle agenda uit ʼn soeke na menslike onsterflikheid, die einde van lyding, hongersnood, siektes en gestremdhede.
Dis alles dinge wat God aan gelowiges ná die aardse lewe belowe: “... en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie...” (Openb.21:4).
God beloof ook die einde van hongersnood en siekte: “In die middel van sy straat en weerskante van die rivier was die boom van die lewe wat twaalf maal vrugte dra... en die blare van die boom is tot genesing van die nasies” (Openb.22:2).
God beloof ook die einde van gestremdhede: “Dan sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word. Dan sal die lammes spring soos ʼn takbok en die tong van die stommes sal jubel...” (Jes.35:5,6).
Die Bybel sê baie oor die toekoms. In Ps.2 skryf Dawid wat in mense, veral magshebbers, se harte omgaan. Dis ʼn oorlogverklaring teen God! Die mens wil van God vrykom. Ja, hoe treffend skets hierdie psalm nie die transhumaniste se bose strewes nie! Die Bybel leer dat God die mens beperk het om nie soos God te kan wees nie; iets waarmee ons vrede het. Die transhumaniste daarenteen beskou hierdie beperkings as oorkombaar.
Dis baie duidelik dat die mens op pad na ʼn uiteindelike botsing met God is. Die Bybel sê dit: “En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versamel gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër” (Openb.19:19). Die magte van Satan sal so sterk wees, dat hulle kans sal sien om die magte van God aan te durf.
Maar waarom gebeur al hierdie dinge nou? Omdat Satan se tyd uitloop. “...want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het” (Openb.12:12). In ʼn laaste poging om God te probeer onttroon, gaan Satan, bygestaan deur bose magte, die mensdom van kragte ver bokant hul fisiese beperkings voorsien. Moet dus nie verbaas wees indien tegnologiese vooruitgang die mens van ongekende krag gaan voorsien nie!
Hier gaan die transhumanistiese beweging ʼn leidende rol speel. Hulle gaan ʼn poging aanwend om die heelal na hul smaak te herskep. Soos in Babel sal hul vermetelheid doelgerig wees – om die hemel te bestorm. En net soos met die bou van die toring sal dit op ʼn ramp uitloop.
In die transhumaniste se agenda sien ons hoe lyk ʼn mensdom sonder die saligmakende geloof in Christus – hulle is vyande van God. Enige organisasie of beweging wat hul ten doel stel om sonder Christus, die Lig van die wêreld, aan die mensdom verligting te bied, is in opstand teen God.
Jesus rig ʼn baie ernstige waarskuwing: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie nie by die deur in die skaapstal ingaan nie, maar van ʼn ander kant af inklim, hy is ʼn dief en ʼn rower. Maar hy wat by die deur ingaan, is ʼn herder van die skape” (Joh.10:1,2).
Transhumaniste wil onbeskaamd oor die muur van die skaapkraal klim. Jesus sê: “Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word...” (:9). Hulle agenda gaan die mensdom vernietig omdat hulle Satan as vader het. En hy is ʼn mensemoordenaar van die begin af. “Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom dat hulle lewe en oorvloed kan hê” (:10).
Satan laat baie mense glo dat hy die laaste geveg gaan wen. Dis misleiding op sy allerergste! Jesus Christus gaan as Oorwinnaar uittree. Dis so belowe!