Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Blaas die basuin op Sion, heilig 'n vasdag, roep 'n vergadering saam! Versamel die volk, heilig die gemeente, vergader die oudstes, versamel die kinders en die suiglinge! ... Laat die priesters, dienaars van die HERE, tussen die voorportaal en die altaar ween en sê: O HERE, spaar u volk, en gee u erfdeel nie oor aan smaadheid, dat die nasies met hulle spot nie; waarom sou hulle onder die volke sê: Waar is hulle God? - Joël 2.
WAAR KOM DIE BYBEL VANDAAN?
Ds Andrè van den Berg
Is die Bybel soos ons dit ken werklik die Bybel soos God dit wou hê? Is daar nie miskien boeke weggelaat wat wel in die Bybel moes gewees het of Bybelboeke wat nooit daarin moes gewees het nie? Hoe seker kan ons wees dat die Bybel wat ons lees eg is?
Daar was nooit ’n kerklike liggaam soos ’n Sinode wat besluit het watter boeke moet in, en watter moet uit die Bybel gelaat word nie. Bybelse geskrifte is deur die eeue deur gelowiges ontvang en as geïnspireerde boeke herken. In die tyd van Christus se aardse bediening was dit wat ons vandag as die OT ken alreeds bekend; al 39 boeke. Israel het nooit êrens vergader om oor die inhoud van die OT te besluit nie. God het die Bybel gewil!
Minstens 90% van die NT is t.s.v. baie mondelinge tradisies onmiddellik deur gelowiges as die Woord van God erken. Oor boeke soos Jakobus en Hebreërs was daar aanvanklik ’n bietjie twyfel aangesien die naam van die skrywer by Hebreërs ontbreek en Jakobus met sy klem op goeie werke oënskynlik Paulus se klem op genade weerspreek. Desondanks was daar by die grootste deel van die vroeë Christelike kerk ooreenstemming dat dit wel in die Bybel hoort.
Daar was destyds baie valse geskrifte in omloop waarmee dwaalleraars hul dwaalleer wou regverdig. Geeneen daarvan het die paal gehaal nie; ’n duidelike bewys dat God 27 boeke vir die NT voorsien het. Daarom het die Konsilie van Kartago in 397nC finale erkenning aan die 27 boeke van die NT gegee. Weet een ding: die kerk het nie die Bybel geskep nie maar dit so van God ontvang.
Die OT is oorspronklik in Hebreeus en die NT in Grieks geskryf. Hierdie oorspronklike tekste bestaan nie meer nie. Ná die verwoesting van Jerusalem (586vC) het die Bondsvolk in verstrooiing gegaan waarna die OT tekste op verskillende plekke gekopieer is; ’n moeisame proses omdat dit met die hand oorgeskryf is. Omdat die OT nog nie afgesluit was nie, was daar geen standaard teks nie. Feitlik elke Joodse gemeenskap het ’n eie teks gehad.
In die tyd van Christus was verskillende kopieë van die OT in gebruik. Jode het nie meer Hebreeus gepraat nie. Dit was uitsluitlik ’n Bybeltaal. Desondanks is Hebreeuse manuskripte steeds gekopieer en in sinagoges gebruik. As Jesus uit die OT aanhaal, haal Hy nie die Hebreeuse teks aan nie, maar die Septuagint (’n Griekse vertaling van die OT) omdat daar destyds geen vasgestelde bronteks was nie. Die oudste volledige manuskrip van die OT is die Kodeks Lenningradensis (1008nC) wat die grondteks van die 1933/53 Afrikaanse vertaling is.
Wat die NT betref, dateer die oudste manuskripte om en by die einde van die 2de eeu n.C. Daar bestaan weereens geen oorspronklike Griekse teks nie, maar slegs kopieë van manuskripte. Ons is egter baie gelukkig om manuskripte te hê wat 100-150 jaar na die oorspronklikes gekopieer is. In manuskrip vorm bestaan die boeke van die NT uit losse versamelings. Die oudste volledige NT is Kodeks Sinaiticus (4de eeu) en Kodeks Vaticanus (5de eeu). Beide Kodekse bevat die minste regstellings en word, ouderdom in ag geneem, as die betroubaarste tekse beskou. Gevolglik kom die Bybel wat ons vandag het van kopieë van die oorspronklikes.
Die vraag ontstaan: Hoe betroubaar is hierdie kopieë? Is daar nie dalk foute in nie? Nee, die Heilige Gees oortuig ons van die betroubaarheid. Let daarop dat die oorspronklike manuskripte van Shakespeare se werke, wat 450 jaar gelede geskryf is, ook nie meer bestaan nie. Desondanks bestudeer studente die kopieë daarvan sonder om een van sy woorde in twyfel te trek. Hoeveel te meer moet ons dit nie met die Woord van God doen nie!
Die OT is in Hebreeus geskryf wat slegs uit konsonante bestaan het; geen vokale nie. Daar was ook geen spasies tussen woorde en sinne nie; alles het aaneen geloop. Eers in 600nC het ’n groep geleerde Jode die OT teks ter hand geneem en vokale by wyse van kolletjies en strepies ingevoeg. Hulle is die Masorete genoem en het reëls vasgelê oor hoe die OT gekopieer moes word. Die getal woorde en letters van elke boek moes getel en die middelste letter vasgestel word ten einde die kopieë tot op die letter te monitor.
Tot en met 70 jaar gelede was die Masorete-teks die oudste OT teks waaroor daar beskik is. Hulle het gehou by die betroubare teks wat in 90nC deur Joodse geleerdes by Jamnia (naby Tel Aviv) goedgekeur is. Daar is ’n ouer weergawe van die OT nl. die Septuagint (Griekse vertaling van die OT) wat uit 280vC dateer toe Grieks destyds die wêreldtaal was. Die teks van die Septuagint en die Masorete-teks wat 880 jaar ouer is, stem grootliks ooreen!
Ná die ontdekking van die Dooie Seerolle (1947) is duisende fragmente van die OT wat uit 100vC dateer bekom. Dit stem feitlik letter vir letter met die Masorete-teks ooreen; ’n bykans goddelike bevestiging van die akkuraatheid waarmee daar destyds gekopieer is!
Die NT boeke was teen 100nC klaar geskryf en deur gelowiges as geïnspireerde woorde van God aanvaar. Die kopiëring van die NT-geskrifte was egter nie so akkuraat soos dié van die OT nie omdat dit dikwels, weens vervolging, met groot haas gekopieer moes word. Sommige kopieë is moedswillig deur dwaalleraars verander om hulle dwaalleer in die NT ingeskryf te kry. Die aantal korrekte Griekse manuskripte (meer as 4500!) is egter so oorweldigend eenders wat dit maklik maak om vas te stel wat die oorspronklike teks sê.
Variante lesings is wanneer tekse met mekaar vergelyk word en daar verskille voorkom. Dit was maar die gevolg van skryffoute wat tydens die oorskryf van die teks gemaak is, of woorde wat verskil. Sommige woorde kom in een manuskrip voor maar ontbreek by ’n ander een. Dit verander egter nooit die betekenis van die teks nie.
Net soos wat die Masorete-teks ons basiese Hebreeuse teks is, is die Textus Receptus (1500nC) ons basiese Griekse NT manuskrip wat deur die Chester Beatty papirusse, Codex Sinaiticus, Codex Vaticanus en Codeks Alexandrinus aangevul word. God het in sy voorsienigheid gesorg dat die Woord bewaar gebly het sodat ons vandag ’n hoogs betroubare Bybel het!
Kodeks Sinaiticus (1953OV) en Kodeks Vaticanus (1983 NAV.) verskil die minste van mekaar. Gevolglik is daar met die brontekse geen fout nie. Mense verskil slegs oor die vertaalmetode van mekaar. Ek hou bv. nie van die dinamies ekwivalent van die 1983 Afrikaanse vertaling nie.
Met die koms van die boekdrukkuns het talle uitgawes van Bybelse tekste verskyn. Die eerste volledige Bybel is van 1450- 1456 deur Johann Gutenberg gedruk. Die eerste Griekse NT is eers in 1516 deur Desiderius Erasmus van Rotterdam laat druk.
Ons moet met die regte oë na die Bybel kyk. God het mense direk opdrag gegee het om die boeke van die Bybel te skryf. Daarom is dit ’n openbaring van dinge wat buite ons eie menslike wêreld lê. Die Bybel is al vir 2000 jaar presies dieselfde. Ondanks sy skrywers se uiteenlopende agtergronde vorm dit wat sy boodskap betref ’n eenheid.
Die grootste deel van die Bybel is in Israel geskryf. Dele daarvan is ook in die buiteland geskryf. Dis egter deur mense geskryf wat deur die Heilige Gees geïnspireer is: “Want geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek” (2 Pet.1:21). Een van hierdie heilige mense was Moses wat die eerste vyf Bybelboeke geskryf het. Na die slag teen Amalek lees ons: “Toe sê die Here vir Moses: Skrywe dit as ’n aandenking in ’n boek…” (Ex.17:14).
God het aan spesifieke mense direk opdrag gegee om die Bybel te skryf. Dis aanvanklik op klip geskryf omdat alle inskripsies op klip geskryf was. “Toe sê die Here vir Moses: Klim op die berg na My toe en vertoef daar, dat Ek jou die kliptafels kan gee en die wet en die gebooie wat Ek geskryf het om hulle te onderrig” (Ex.24:12). “En Hy het aan Moses, toe Hy geëindig het om met hom te spreek op die berg Sinai, die twee tafels van die Getuienis gegee, tafels van klip, beskrywe met die vinger van God” (Ex.31:18). ’n Mens kan jou nie indink dat die eerste Bybel-dele op klip was nie! Daar was ook net een uitgawe daarvan en kon tydens oorloë maklik verlore geraak het.
Argeoloë het in die loop van jare baie ou klip-inskripsies opgegrawe. Net die Bybel s’n was nooit nodig om opgegrawe te word nie. Dit het vanaf die skrywe daarvan altyd behoue gebly het. Later is kleitablette en nog later gebreide leer (perkament) gebruik om op te skryf. Skryfmateriaal was egter baie skaars.
God het mense opdragte gegee om die Bybel te skryf. Luister wat sê Hy vir Jeremia: “….Skryf vir jou in ’n boek al die woorde wat Ek met jou gespreek het” (Jer.30:2). En vir Habakkuk sê Hy:”….Skryf die gesig op en graveer dit op tafels…” (Hab.2:2).
Die Bybel is egter nie net ’n goddelike opdrag nie, maar ook ’n openbaring. God maak vir ons dinge oop wat geheel buite ons beleweniswêreld lê bv. dat daar in teenstelling met die ander volke se baie gode, net een ware God is. Die Bybel sê dat God alles uit niks geskep het en die mens aangestel het om namens Hom daarna om te sien: “Deur die geloof verstaan ons dat die wêreld deur die Woord van God toeberei is, sodat die dinge wat gesien word, nie ontstaan het uit sienlike dinge nie” (Heb.11:3).
Die Bybel vertel ons ook dat die mens in ’n staat van godsaligheid geleef het totdat hy in sonde verval het. Daarna het God Hom in sy ontfermende liefde tot die mens neergebuig en later selfs ’n verbond met hom gesluit. Die Bybel vertel ons ook dat God sy Seun sou stuur om alles te herstel. Dit het dan ook in die volheid van die tyd (Gal.4:4) gebeur. Die Bybel verseker ons dat die Heilige Gees Jesus se werk kom voortsit het. “En dit is die getuienis; dat God ons die ewige lewe gegee het en die lewe is in sy Seun. Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die seun van God nie het nie, het nie die lewe nie” (1 Joh.5:11,12).
Die Bybel vertel ons dat alles uiteindelik op die wederkoms en oordeelsdag sal uitloop: “Julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt” (2 Pet.3:12). Al hierdie dinge is openbaringe en derhalwe geheimenisse buite ons normale menslike waarneming.
Die Bybel is ook ’n wonderboek. Dit het oor die 2000 jaar presies dieselfde gebly omdat God nooit verander nie. Hoe anders is die heidendom nie! Die oud-Grieke het later selfs met hul eie gode begin spot en die Romeine hul gode met keiseraanbidding vervang. Israel se Godsbegrip het nooit verander nie, so ook nie God se plan en verbond met die mens nie. Hiervoor is daar net een verklaring – die Bybel kom waarlik van God kom en is deur die Heilige Gees geïnspireer. God het dit selfs so beskik dat die Bybelskrywers nie deur hul bose konings of die gees van hul tyd beïnvloed is nie. Die Heilige Gees het hulle gelei om die geskiedenis van hul tyd suiwer en goddelik te verklaar.
Gewoonlik speel mense se agtergrond ’n taamlike rol in hoe hulle dinge sien. Die Bybel is egter in sy boodskap ’n eenheid ongeag die skrywers se uiteen-lopende agtergronde. Onder die krywers was daar volksleiers soos Josua, boere soos Job en Amos, konings soos Salomo, vissers soos Petrus, wetgeleerdes soos Paulus, ’n dokter soos Lukas, ’n kroegman soos Nehemia (hy was die koning se skinker), ’n musikant soos Dawid, ’n premier soos Daniel en vele meer.
Die Bybel is op verskillende plekke geskryf. Groot dele daarvan is in Jerusalem geskryf. Verrassend genoeg is baie dele buite Israel geskryf. Moses skryf in Egipte, Jona in Nineve, Daniel in Babel, die apostels in Klein-Asië en Johannes op Patmos. Ons kan maar net verwonderd oor die Bybel staan:
“Die wet van die Here is volmaak; dit verkwik die siel; die getuienis van die Here is gewis: dit gee wysheid aan die eenvoudige” (Ps.19:8).
“Vir ewig, o Here, staan U woordvas in die hemele” (Ps.119:89).
“Hoe soet is U beloftes vir my verhemelte, meer as heuning vir my mond” (Ps.119:103).