Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Langenhoven het 'n baie waar uitdrukking gehad dat 'n man van weining woorde se solder te klein is vir 'n klomp kaf. Daarby moet ons onthou dat iemand wat loop en skinder en laster, baie meer oor homself daarme sê as oor sy slagoffer...
GENADEDOOD IS SELFMOORD
Ds Andrè van den Berg
" Wie versoek dat sy lewe voortydig beëindig word, pleeg selfmoord en oortree die sesde gebod... ...Tutu was onlangs in die nuus toe hy gesê het dat net omdat iets in die Bybel staan, dit nie noodwendig waar is nie. Hy het spesifiek na Paulus se briewe verwys waarin God homoseksualisme veroordeel. Dit gee glo aanstoot aan mense met ʼn ander seksuele oriëntering."
Die benaming genadedood is eintlik misleidend. Dit behoort eerder selfdood of lewensbeëindiging genoem te word. Ons het egter gewoond geraak aan lelike dinge wat in mooi papier toegedraai word waarvan regstellende aksie en swart bemagtiging twee van die lelikste is. Vir die doel van dié onderwerp word met die benaming genadedood volstaan omdat dit die bekender benaming is.
Genadedood (Grieks: Eutanasie) is die doelbewuste optrede om ʼn persoon pynloos uit die lewe te help. Dis die opsetlike verkorting van ʼn sterwensproses wat onherroeplik tot die dood sal lei. Dit word ook geassisteerde dood genoem omdat iemand wat erge lyding ervaar met behulp van ʼn professionele persoon sy eie lewe beëindig. Dit word hoofsaaklik net in gevalle waar mense aan ongeneeslike siektes ly en baie pyn verduur, uitgevoer. Die behoefte om so ʼn mens se pyn te verlig, is so sterk dat dit die natuurlike drang om eerder die lewe te behou, oorskadu.
Die moontlikheid van ʼn genadedood kom ter sprake wanneer daar menslik gesproke ʼn definitiewe aanduiding van ʼn naderende dood is. Die vraag is: Kan ʼn mens dit werklik bepaal? Sekerheid is altyd relatief. Die dood het sy eie tyd en ritme en ons liggaam is dikwels die aambeeld van pyn en ellende.
Die vraag of die genadedood nie ook in Suid-Afrika gewettig moet word nie, het onlangs in die nuus gekom toe aartsbiskop Tutu sy ondersteuning daarvoor bekend gemaak het. Dit het aan die lig gekom toe hy verneem het dat die Britte aan ʼn wet om die genadedood in Brittanje te wettig begin werk het. Tutu sê dat dit die risiko vir mense wat erg ly om selfmoord te pleeg, sal verlaag en glo dus nie dat genadedood geassisteerde selfmoord is nie.
George Carey, die voormalige aartsbiskop van Canterbury, het ook te kenne gegee dat hy sulke wetgewing in Brittanje sal ondersteun. Justin Welby, die huidige aartsbiskop, het dit egter as verkeerd en baie gevaarlik bestempel. Die Anglikaanse Kerk is amptelik teen sulke wetgewing gekant.
Met sy steun vir die genadedood het Tutu die soveelste keer ʼn gruwel probeer ontsondig. Hy is openlik ten gunste van aborsie, homoseksuele verhoudings en huwelike van dieselfde geslag. Dit maak hom ʼn vriend van die vyand eerder as van God. Geen wonder dat ds. Theunis Botha, leier van die Christen Demokratiese Party, meen dat indien Christus nog op die aarde was, Hy Tutu ʼn seun van die Satan sou noem!
Die groot fout wat Tutu maak, is om die genadedood as ʼn menseregtekwessie en nie ʼn godsdienskwessie te beskou nie. Wie eenmaal dwaal, slaan gou dubbel bollemakiesie! Dieselfde Tutu was onlangs in die nuus toe hy gesê het dat net omdat iets in die Bybel staan, dit nie noodwendig waar is nie. Hy het spesifiek na Paulus se briewe verwys waarin God homoseksualisme veroordeel. Dit gee glo aanstoot aan mense met ʼn ander seksuele oriëntering. Daarna het hy gesê dat hy nie ʼn God kan aanbid wat homoseksualiteit veroordeel nie en derhalwe nie in ʼn hemel wil wees wat homoseksueles uitsluit nie. Dan gaan hy, in sy eie woorde, eerder na die ander plek (die hel)!
Tutu het by die Verenigde Nasies (VN) se veldtog vir homoseksuele regte gesê het dat hy net so sterk ten gunste van sulke regte is as wat hy teen apartheid is en sy volle ondersteuning aan die veldtog beloof. Regter Edwin Cameron, ʼn selferkende homoseksuele man, het Tutu hierin ondersteun. Dit was die eerste keer dat die VN so ʼn veldtog wat as Vry en Gelyk bekend staan, geloods het.
Uit die oogpunt van die mediese wetenskap is genadedood verkeerd. Medici durf nie genees sowel as doodmaak nie. Hierdie stryd is egter niks nuut nie, maar een van die oudste verhale in die Bybel - Job se begeerte om eerder te sterf as om verder te ly. “En mag dit God behaag om my te verpletter, sy hand uit te strek en my af te sny!” (Job 6:9). In hoofstuk 7:15,16 sê hy dat hy net ʼn geraamte is en sy lewe verfoei.
Die Bybel onderskryf nie sulke gevoelens nie, maar erken dit wel. Die profeet Elia wat vir Agab gevlug en onder ʼn besembos gaan lê en gewens het om te sterf, is ʼn sprekende voorbeeld (1 Kon.19:4). Toe ʼn Filistynse oorwinning ʼn uitgemaakte saak was, het Saul sy wapendraer om ʼn genadedood gevra: “Trek jou swaard uit en deurboor my daarmee....” (1 Kron.10:4). Die man het geweier en eerder saam met sy koning gesneuwel.
Die lewe is die somtotaal van ons besluite. Maar gee God ons ʼn vrye wil om self oor die lengte van ons lewe te besluit? Ons besef dat ons almal eendag gaan sterf. Dis ʼn skuld wat almal moet vereffen. Maar is daar ruimte in God se Woord wat ons toelaat om, indien ons berg ly en sterwend is, ʼn bietjie gouer te sterf? Nee, daar is nie! Ons kan niks aan die lengte van ons lewe doen nie, slegs aan die diepte.
Dit moet ons egter nie moedeloos maak nie. Een ding moet ons weet: Niks gebeur met ʼn gelowige waarvoor God hom nie krag gee nie. Die lewe is vol beproewing, maar ook die krag om dit te verwerk. Christus het nie gekom om ons leed weg te neem nie, maar om ons lewe met sy Teenwoordigheid te vul.
God verstaan dat mense soms so moedeloos kan word dat hulle soos ʼn Elia van oud wens om te sterf. Ons leef egter nie deur gevoel of logika nie, maar deur geloof. “.... Maar die regverdige sal uit die geloof lewe” (Rom.1:17). Die kind van God word lewenslank deur sy godsdienstige oortuigings gelei, so ook wanneer dit by pyn, lyding en die dood kom.
God se weë is nie ons weë nie. Soms stap Hy moeilike paaie met ons wat ons nie verstaan nie. Ongeag hoe ons voel of wat ons dink, moet ons nooit vergeet dat Hy die Gewer en Onderhouer van die lewe is nie: “U is alleen Here, U het die hemel, die hoogste hemel en al sy leërskare gemaak .... en U hou alles in die lewe....” (Neh.9:6). Derhalwe het ons geen reg om die lewe wederregtelik te beëindig nie.
Job het ook moedeloos geword. Aan die einde van die verhaal waarsku Elihu hom: “Moet ook nie jou toevlug neem tot sonde nie, jy verkies dit immers bo swaarkry” (Job 36:21 NAV). Job het aan selfmoord begin dink net om van sy lyding verlos te wees. Dis ook die geval met genadedood – mense weet dat dit verkeerd is, maar sal nogtans sondig net om van lyding verlos te word. God verstaan, maar verskoon dit nie. Die besluit oor die tyd wanneer en die manier waarop ons sterf, berus by God alleen. “... en niemand het mag oor die dag van die dood nie....” (Pred.8:8).
Genadedood is ʼn vergryp teen God se doel met die lewe. Hy gee die lewe. Wie dit beëindig, gooi hierdie geskenk in sy gesig terug! Die reg om ʼn lewe te beëindig, is sy besluit. Hy weet of dit moet aangaan of eindig.
Genadedood is ʼn baie taai tameletjie vir medici. Enersyds wil ʼn medikus nie iemand se lewe in sy hande neem en dit voortydig beëindig nie. Andersyds wil hy ook nie die sterwensproses langer as wat nodig is laat duur nie. Almal wil die lewe behou, maar nie die dood uitrek nie. Op watter punt laat ʼn medikus ʼn persoon sterf sonder om verdere genesingstappe te neem?
Genadedood is selfmoord met bystand. Lydendes word deur medici bygestaan om selfmoord te pleeg. Hulle doen die nodige voorbereiding nadat die persoon wat wil sterf die proses aan die gang gesit het. Mense probeer die genadedood goed en waardig laat voorkom. Dit verander egter niks aan die feit dat dit selfmoord en derhalwe sonde is nie; ʼn ydele poging om God se gesag uit te daag.
Die moderne mensdom is in ʼn doodskultuur gewikkel - aborsies neem oorhand toe terwyl die genadedood as ʼn oplossing vir lydendes aangemoedig word. Die mensdom besef baie duidelik nie wat hier gebeur nie - die fokus verskuif van die lewe na die dood. Ongewenste kinders word geaborteer en lydendes word soos diere uitgesit; ʼn ommekeer van die Bybelse model wat op lewe fokus!
Die dood is ʼn natuurlike vyand: “Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood” (1 Kor.15:26). Die lewe daarenteen is ʼn geskenk van God: “En die Here God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas....” (Gen.2:7). Selfs toe daar ʼn keuse tussen lewe en dood ontstaan, het God Israel aangesê om die lewe te kies: “... Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag” (Deut.30:19). Genadedood smaad die lewe en omhels die vloek!
Die wonderlike waarheid dat God oppermagtig is, laat gelowiges besef dat die genadedood sonde is. Die fisiese dood is vir alle sondaars bestem. Koning Dawid skryf: “Gedenk van watter lewensduur ek is, tot watter nietigheid U al die mensekinders geskape het!” (Ps.89:48). “En net soos die mense bestem is om eenmaal te sterwe...” (Heb.9:27). God het die finale sê oor die dood. Ons is huurders van die lewe en Hy die Eienaar. Hy kan die huur enige tyd opskort.
Die dood is ʼn natuurlike verskynsel. Daar is niks so seker aan die lewe as dat ons dit gaan verloor nie. Soms laat God mense lank ly voordat die dood intree, soms is dit kort. Met die uitsondering van die doodstraf waar God aan die staat die swaardmag gee om lewens te neem, het die mens geen reg om te besluit wanneer iemand moet sterf nie.
Dit gebeur soms dat God sy doel met ʼn mens met ʼn pad van lyding duidelik maak. Lyding maak mense nederig voor God word en laat hulle hul afhanklikheid van Hom besef. Ja, God het meegevoel met hulle wat tot Hom roep om hul lyding te beëindig. Hy weet egter die beste. Sy tydsberekening is altyd volmaak.
Beproewing is nooit sonder verborge genade nie. Daarom durf gelowiges hul nooit vir ʼn voortydige beëindiging van die lewe beywer nie. Om doelbewus die dood te verhaas, is verkeerd. So ook om op uitsonderlike maniere die lewe met masjiene te verleng terwyl die dood onafwendbaar is. Wie ’n goeie lewe lei, sal dit sonder hartseer verlaat.
Die lewe is nie ’n besitting waaraan ons moet vasklou nie, maar ʼn reis huiswaarts waarna ons moet uitsien: “Maar ons het goeie moed en verkies om om liewer uit die liggaam te woon en by die Here in te woon” (2 Kor.5:8). Hoe ʼn mens sterf maak nie saak nie. Hoe jy leef, is belangriker. En in hierdie opsig kan ons Hom ook om wysheid bid: “En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid...” (Jak.1:5). Onthou, Jakobus skryf sy sendbriewe aan gelowiges in die verstrooiing voor besluite te staan gekom het.
Die humanisme van sekere kerkgroepe is ontstellend en ontnugterend. Al hoe meer godsdiensleiers tree na vore om die kwessie van die genadedood vir bespreking oop te stel. Die meeste beoordeel dit in die lig van menslikheid en meegevoel is en nie as ʼn godsdienskwessie nie. België is die eerste land waar kinders wat terminaal siek is, die genadedood kan aanvra. Sedert 2002 kan enige persoon ouer as 12 jaar in Nederland dit aanvra. In 2012 is 1,432 gevalle van genadedood daar aangeteken.
Die argument word aangevoer dat die genadedood ʼn genadige uitweg is vir iemand wat weens pyn en lyding sy menswaardigheid verloor het. Wat dan van Jesus wat die lewende en lydende God op aarde was? Is Hy nie vir almal ʼn voorbeeld nie?
Wie versoek dat sy lewe voortydig beëindig word, pleeg selfmoord en oortree die sesde gebod. Beproewing moet ons nie droewig, maar eerder suiwer maak. Dit moet ons wys en nie dwaas maak nie. Laat ons lewens, al eindig dit ook met erge lyding, ʼn boodskap wees vir almal wat ons geken het. Hardloop op die lewensbaan totdat die doodsklok vir jou lui!
Job.2:1-10