Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
God het in die mens die sterkste krag op aarde geplaas - die krag van keuse en vrye wil. Die mens se lewe sou voortaan die produk van sy keuses wees. Soos hy besluit, sou sy lewe wees. As hy reg besluit, verloop sy lewe reg. As hy verkeerd besluit, dra hy die gevolge!
GELOOFS- GENESING
Ds AE van den Berg
" Charismate leer dat pyn en lyding uit die bose is en dat God gelowiges gesond wil hê. Dis nie wat die Skrif leer nie! Gelowiges is ook aan die gevolge van sonde onderworpe. Geloofsgenesing was geensins bedoel om gelowiges gesond te hou nie, maar om ongelowiges van die goddelike waarheid van die Evangelie te oortuig. Daar is geen Bybelse grond om te glo dat God elke gelowige gesond wil maak nie. Ons kan slegs tot Hom bid. Charismate beskuldig siekes wat nie gesond word nie dikwels van sonde wat nog nie bely is nie."
1. Absurd
Charismate heg groot waarde aan sg. geloofsgenesing. In Amerika is daar selfs charismatiese bewegings wat mense ontmoedig om van die mediese wetenskap gebruik te maak. Hulle beskou dit as ʼn voortsetting van heksery en duiwelskuns. Wie dus ʼn dokter te besoek, stel homself aan demoniese invloede bloot.
Alhoewel baie Charismate nie hierdie siening huldig nie, is baie van hulle skepties oor die mediese wetenskap en vertrou eerder geloofsgenesers.
Talle Charismate is al oorlede omdat hulle nie mediese sorg verkry het nie, selfs geloofsgenesers soos William Branham, Kathryn Kuhlman en Hobart Freeman. So ook Ruth Stapleton, ‘n suster van oud-president Jimmy Carter.
Charismate sê dat God alle siekes wil genees. Dit staan nêrens in die Bybel nie. Hulle verbind siekte verkeerdelik met sonde.
Die aansprake van sommige geloofsgenesers kan nie anders as foefies beskryf word nie.2. Drie kategorieë
Verantwoordelike Skrifstudie dui drie kategorieë geestelike gawes aan.
- Daar is begaafde gelowiges - apostels, profete, evangeliste, leraars ens. Hulle word as gawes van God beskryf (Efes.4).
- Daar is permanente opbouende gawes soos kennis, wysheid, profesie, onderrig, vermaning, gebed en barmhartigheid (Rom.12:3-8; 1 Kor.12:8-10,28).
- Dan was daar ook tydelike gawes wat net vir ‘n beperkte tyd aan sekere gelowiges gegee is om gesag aan die Skrif te verleen toe die Bybel nog nie afgehandel was nie.
Hierdie gawes het uit onthullende profesie, wonderwerke, genesing, tale en die uitleg daarvan bestaan om die gesag van die apostels te bevestig vir wanneer hulle gepraat het, mense kon weet dat dit van God was. Nadat die Bybel voltooi is, was die gawes nie meer nodig nie en het dit ten einde gekom. Daarom maak die kerkgeskiedenis nêrens van ʼn voortsetting van hierdie gawes melding nie. Oral waar Satan dit nageboots het, het dit die kerk geskaad.
3. Die doel van wonders
Wonderwerke, tekens en genesing was buitengewone gawes van God aan sy boodskappers waarvan Jesus die grootste was. Jesus het drie
soorte wonders verrig. Hy het eerstens deur wondergenesing siekes genees en mense uit die dood opgewek. Tweedens het Hy deur duiwelbanning bose geeste uitgedryf en derdens deur natuurwonders brood vermeerder, op die see geloop en storms laat bedaar. Hy het nog baie ander gedoen wat nie aangeteken is nie: “En daar is nog baie ander dinge wat Jesus alles gedoen het; maar as hulle een vir een beskrywe moes word, sou die wêreld self, dink ek, die geskrewe boeke nie bevat nie” (Joh.21:25).
Die doel van hierdie wonderwerke was om sy aanspraak dat Hy God was, te bevestig. Nadat Jesus se aardse taak afgehandel is, was dit die apostels se taak om die Evangelie verder te neem en op te teken. Daarvoor het Jesus hulle die vermoë gegee om genesingswonders te doen en bose geeste uit te dryf. Hulle kon egter nie natuurwonders verrig nie.
God het die vermoë om wonderwerke te verrig nie aan alle gelowiges gegee nie, maar slegs aan die apostels en diegene wat met hulle saamgewerk het. Hulle was God se baanbrekers in die vestiging van die kerk. Ná hulle dood het die wondergawes verdwyn.
Die Griekse woord vir wonderwerk is dunamis en beteken letterlik krag.
Die apostels het die gawes as ʼn krag van God vir hul gewigtige taak ontvang. Jesus het Satan met krag (dunamis) weerstaan, siekes genees en bose geeste uitgedryf. So ook die apostels.
4. Valse genesing
Siekte is ‘n werklikheid wat die mens sedert die sondeval teister. Omdat dit dikwels tot die dood lei, is die soeke na geneesmiddels so oud soos die berge. Nie eens die apostels wat die gawe van genesing gehad het, is die dood gespaar nie. Henog en Elia is wel lewend in die hemel opgeneem, maar slegs Jesus het die dood oorwin en triomfantlik daaruit opgestaan.
Die soeke na genesing word skaamteloos deur Charismate uitgebuit. Die Amerikaanse TV wemel van charismatiese netwerke wat uitsluitlik op geloofsgenesing ingestel is en waarmee die aanbieders jaarliks miljoene dollar versamel.
Hierdie geloofsgenesing vind, vreemd genoeg, altyd in beperkte ruimtes plaas. Waarom kom hierdie aanspraakmakers nie eerder uit hul tente en TV ateljees en gaan vir ʼn slag na hospitale, sanatoriums en rehabilitasie sentrums nie? Omdat hierdie gawe vandag nie meer bestaan nie!
God is meer oor die siel as die liggaam begaan. Al sou alle gelowiges wondergawes hê en duisende siekes genees, sou die mensdom hom nog steeds nie tot Jesus Christus bekeer nie. Wat het Jesus se genesings op aarde per slot van sake vir Hom gebring? Verwerping en die dood. Die apostels het presies dieselfde ding oorgekom. Baie van hulle is in die tronk gegooi, vervolg en selfs doodgemaak. Mense kom nie tot bekering deur wonders te aanskou nie, maar deur die Evangelie te glo (Rom.10:17).
Satan boots God se wondertekens na. Daarom verrig Satan se agente soms opsienbarende wonders soos die Farao se towenaars in die tyd van Moses. Die charismatiese beweging wemel van towenaars en nabootsers. Dit wat in charismatiese genesingsdienste gebeur, strook geensins met die Skif nie. Mense val om, korter bene word skynbaar langer, invalides staan uit hul rolstoele op ens. Is dit geloofsgenesing? Nee, eerder die krag van verbeelding! Die meeste is nie kontroleerbare gevalle nie.
As iemand nie genesing ontvang nie, sê Charismate baie gou dat die persoon se geloof nie sterk genoeg is nie of dat daar sonde in sy lewe is wat nog nie bely is nie. Die probleem lê nooit by die geloofsgeneser self nie. En dis juis waar die probleem lê!
Toneelspelers mislei baie maklik liggelowiges deur voor te gee om ʼn gawe te hê wat hulle nie het nie. Kathryn Kuhlman was ʼn sprekende voorbeeld hiervan. Charismate bestempel haar as een van die grootste geloofsgenesers van alle tye. Sy het daarop aanspraak gemaak dat sy etlike kanker leiers genees het. Na herhaaldelike navraag het sy dr. John Mc Arthur die name en adresse van agt van die kanker leiers laat kry. By navraag het dit geblyk dat sewe van hulle is nooit genees nie.
Van die ander 82 gevalle van genesing, het slegs 23 op ‘n skrywe van dr. Mc Arthur gereageer. Nie een van Kuhlman se genesing was eg nie.
Desondanks het sy uit haar TV optredes en genesingsdienste ʼn multi-miljoenêr geword en is ʼn paar jaar gelede self aan siekte oorlede!
Geen geloofsgeneser kon nog onweerlegbare bewys van sy gawe lewer nie. Die meeste is ooglopend vals of verdag. ʼn Paar jaar gelede het ʼn sekere pastoor Wolmarans ʼn opskudding in die media veroorsaak toe hy aangebied het om ʼn genesing oor die TV te doen. Hy kon nie!
Siekte kan mense soms wanhopig maak. “Toe het die Satan die Here geantwoord en gesê: Huid vir huid, en alles wat iemand het, sal hy gee vir sy lewe” (Job.2:4). Van die mense wat by genesingsdienste opdaag, is werklik tot die dood toe siek. Ander het weer sielkundige skete. Desondanks probeer almal genesing te verkry. Die meeste keer egter gebroke en verslae huiswaarts. Soms met ʼn gevoel dat hul geloof te kort skiet of dat God hulle in die steek gelaat het.
“Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid bewerk” (Mt.7:22,23).
5. Gebedsverhoring
Genees God siekes? Ja, maar slegs as antwoord op gebed. Dramatiese wondergenesings is egter baie skaars en is nooit die gevolg van iemand wat kwansuis ʼn gawe van genesing het nie. Gelowiges glo nie aan geloofsgenesing nie, maar wel aan gebedsverhoring. “..... Die vurige gebed van ʼn regverdige het groot krag” (Jak.5:16).
Met hul aanspraak op geloofsgenesing laat Charismate die kalklig op die mens en nie op God val nie. Gebedsverhoring daarenteen laat die lig net op God val. Gelowiges moet egter altyd soos Jesus bid: “..... Laat nogtans nie my wil nie, maar U wil geskied! (Luk 22:42). As dit ontbreek, kan gebede nie verhoor word nie.
6. Die groot verskil
Daar is ʼn baie groot verskil tussen die goddelike genesing wat Jesus en die apostels gedoen het en dit waarop Charismate hulle beroem. Jesus se genesingsbediening is aan ses eienskappe gekenmerk. Hy het eerstens met ʼn woord of aanraking genees. In Mt.8 word van die verlamde kneg van die hoofman van Kapernaum melding gemaak wat met ʼn magswoord van Jesus genees is. Jesus het ook deur aanraking genees. In Mark.5 word van ʼn vrou geskryf wat lank aan bloedvloeiing gely het. Nadat sy die soom van Jesus se kleed aangeraak het, is sy onmiddellik genees.
Tweedens het Jesus siekes onmiddellik genees. Die vrou in Mark.5 is onmiddellik genees, so ook die kreupele by die bad van Betesda asook blindes en melaatses. Dit was nooit geleidelik of gedeeltelik soos Charismate soms beweer nie.
Derdens het Jesus volledig genees. Daar het nooit ʼn brokkie van die siekte oorgebly nie. Petrus se skoonmoeder is so volledig genees, dat sy opgestaan en haar huismense bedien het. Daar was geen herstel periode nie.
Vierdens het Jesus almal genees en nooit lang toue mense teleurgesteld huis toe laat terugkeer nie.
Vyfdens het Jesus sigbare siektes genees en nie rugpyne, hartkloppings, hoofpyne en ander onsigbare siektes nie. Hy het kreupeles, verdorde hande, verlamdes, blindes en melaatses genees; sigbare gebreke.
Laastens het Jesus ook mense uit die dood opgewek waarvan die opwekking van Lasarus die aangrypendste is (Joh.11).
Charismate kan nie Jesus en die apostels se genesing wonders nadoen nie. Hulle maak eerder dit wat kosbaar is, goedkoop. In Amerika word genesing feitlik daagliks gebeeldsaai; altyd van die soort wat geen sigbare bewyse benodig nie. Hoe verskil dit nie van Jesus se genesing wat in die openbaar plaasgevind het nie!
7. Genesing in die vroeë kerk
Jesus het die gawe van genesing later ook na 70 ander dissipels uitgebrei toe Hy hulle uitgestuur het om die Evangelie te verkondig: “En maak die siekes gesond wat daarin is en sê vir hulle: Die koninkryk van God het naby julle gekom” (Luk.10:9). Geloofsgenesing was nooit lukraak in die vroeë kerk gebruik nie omdat dit nie aan alle gelowiges gegee is nie.
Toe die kerk op Pinksterdag gebore is, het ‘n nuwe era aangebreek waarin God aan die apostels wondergawes gegee het ten einde die Evangelie te vestig. Dieselfde ses eienskappe wat Jesus se genesingsbediening gekenmerk het, het ook die van die apostels gekenmerk.
Hulle het ook met ʼn woord of aanraking genees. Hand.9 vertel van Petrus wat ʼn verlamde man in Lidda met ʼn magswoord genees het. Paulus het op die eiland Malta ʼn man met koors aangeraak en hom genees (Hand.28).
Die apostels het, soos Jesus, dadelik genees. Die kreupele in die tempelpoort het onmiddellik gesond geword (Hand.3). Die apostels kon ook enigeen genees. “En die menigte van die stede in die omtrek het ook in Jerusalem bymekaargekom en siekes gebring en mense wat deur onreine geeste gekwel was; en hulle is almal genees” (Hand.5:16). Die apostels het hulle nooit met die genesing van sielkundige skete of psigosomatiese siektes opgehou nie, maar organiese en fisieke gebreke genees.
Laastens kon die apostels ook mense uit die dood opwek. Hand.9 vertel van Petrus wat Dorkas (Tabita) opgewek het. Let veral op vers 42: ” En dit het bekend geword in die hele Joppe, en baie het in die Here geglo”. Hierdie wonderwerk het net soos in Christus se tyd geloofwaardigheid aan die Evangelieboodskap gegee. Hand.20 vertel van nog ʼn opwekking uit die dood toe Paulus vir Eutichus, wat tydens ʼn lang preek aan die slaap geraak en by ‘n venster uitgeval het, uit die dood opgewek het.
Moderne geloofsgenesers vertoon nie een van hierdie ses eienskappe nie.
Dit beteken egter nie dat God nie meer genees nie. Hy doen dit nog steeds, maar slegs in antwoord van opregte gebed. Geloofsgenesing was een van die wondertekens wat God in die era van die apostels gegee het om gesag aan die Evangelieboodskap te verleen. Nadat die kerk gevestig geraak het, was wondertekens nie meer nodig nie en het dit opgehou.
Paulus skryf in Fil.2 van ene Epafroditus wat baie ernstig siek was. Waarom het Paulus hom nie genees nie? Omdat geloofsgenesing waarskynlik toe alreeds iets van die verlede was. Dit was geensins bedoel om gelowiges gesond te hou nie, maar om ongelowiges van die goddelike waarheid van die Evangelie te oortuig.
Om Epfroditus te genees, sou dus nie met die doel van die gawe klop nie. So ook nie met Trofimus wat deur Paulus op Malta agterlaat moes word nie (2 Tim.4). Geloofsgenesing was ʼn wonderteken vir spesiale geleenthede en nooit bedoel om gelowiges van goeie gesondheid te voorsien nie.
Charismate leer dat pyn en lyding uit die bose is en dat God gelowiges gesond wil hê. Dis nie wat die Skrif leer nie! Gelowiges is ook aan die gevolge van sonde onderworpe. Waarom neem ʼn sondaar sy toevlug tot Jesus? Om genesing vir sy siekte of vir sy siel te verkry?
Indien goeie gesondheid ʼn voordeel van bekering was, sou miljoene mense net ter wille van gesondheid hul toeloop na Jesus neem. Dit sou egter om die verkeerd rede wees net soos diegene wat tydens Jesus se vermeerderings van brood slegs voedsel vir hul liggaam en nie vir hul siele gesoek het.
8. Die doel van siekte
Waarom word gelowiges siek? Benewens die werklikheid van ʼn lewe in ʼn gebroke bestel, het God ook ʼn doel daarmee: “... Wie het vir die mens die mond gemaak, of wie maak stom of doof, of siende of blind? Is dit nie Ek die Here nie? “ (Ex.4:11). Daar is wel siektes wat deur die teistering van Satan geskied. Luk.13 vertel van ʼn vrou wat 18 jaar lank deur ʼn bose gees verlam was en toe deur Jesus genees is. God het dit toegelaat sodat Jesus daardeur verheerlik kon word. Dieselfde met Job.
Sommige siektes is die gevolg van sonde. Gehasi het weens hebsug melaats geraak. Wanneer gelowiges siek word, moet hulle biddend seker maak dat daar nie iets met hul geestelike lewe skort nie. In Ps.139:24 bid Dawid tot God om hom te help dat daar nie ʼn weg van smart by hom is nie - sonde wat nie bely is nie. Charismate beskuldig siekes wat nie gesond word nie dikwels van sonde wat nog nie bely is nie.
Dit gebeur soms dat gelowiges deur God getug en siek word sodat hulle hul van sondes ontslae moet raak. Dis egter nie altyd die geval nie. Wanneer Charismate sê dat siekte die gevolg van persoonlike sonde is, maak hulle dieselfde fout as Job se vriende (Job.42:7,8). Joh.9 leer ons baie anders.
Daar is geen Bybelse grond om te glo dat God elke gelowige gesond wil maak nie. Ons kan slegs tot Hom bid. Elke kind van God mag na sy hemelse Vader vir genesing opsien. Eerstens omdat God ʼn Geneser is: “... want Ek is die Here wat jou gesond maak” (Ex.15:26). Tweedens omdat Hy sy beloftes hou: “En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil” (1 Joh.5:14). Derdens omdat God in Christus meegevoel met siekes het: “Hy het ons krankhede op Hom geneem en ons siektes gedra” (Mt.8:17).
Die Bybel leer siekes om na ʼn dokter te gaan. Jes.38 vertel van koning Hiskia wat ernstig siek geword en tot God gebid het. “.... Laat hulle ʼn vyekoek neem en dit op die sweer sit, dat hy gesond kan word” (:21). Waarom was dit nodig as God hom daar en dan kon genees het? God lê hier ʼn belangrike beginsel neer. Siekes moet vir genesing bid, maar ook mediese hulp verkry. Charismate glo egter dat hulle ʼn gawe het wat al eeue lank nie meer bestaan nie.