Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
"Here, my hart is in 'n knoop gebind!
Ek is moeg baklei teen hierdie sterk wind!
Ek wil tog net weer rus en vrede vind."
Die Here sê: "Jy is dan My lieflingkind.
Jy is met My anker van liefde gebind!
Raak stil. Raak rustig! Jy sal weer vrede vind!"
DIE APOSTELKULTUS
Ds AE van den Berg
Gal.1:6-10; 2 Tim.3:10-17
"Die Apostelkultus vier soos die RK weekliks nagmaal sonder die wyn. Wie afwesig is se sondes word nie vergewe nie. Gevolglik word eredienste goed bygewoon en vier dwaallering hoogty."
Die Apostelkerk is nie ʼn Christelike kerk in die ware sin van die woord nie, maar eerder ʼn godsdienskultus met ʼn stam-apostel as Christus-figuur. Die stigter was Edward Irving, ʼn Skotse dwaalleraar wat die tradisionele kerk van sonde beskuldig het omdat sy die ampte van Efes.4:11, veral die apostel-amp, nie voortgesit het nie. Hy het gewaarsku dat alvorens die apostel-amp nie in ere herstel is nie, die wederkoms van Christus nie sou plaasvind nie.
Die eerste 12 moderne apostels is in 1835 is gekies waarna die kultus na Europa versprei en in Duitsland sterk aanklank gevind het. In 1865 het ʼn twis oor die vraag of daar meer as 12 apostels benoem kon word ontstaan. Diegene ten gunste daarvan het weggebreek en die Nuwe Apostoliese Kerk gestig wat sedertdien betreklik vyandig teenoor die Ou Apostelkerk staan.
Die Apostelkerk moet nie met die Apostoliese Geloofsending (AGS) verwar word nie. Alhoewel die AGS talle dwalings verkondig, is en bly dit steeds ʼn Christelike kerk terwyl die Apostelkultus die bal heeltemal mis slaan. Hulle beskou hulself nie eens as Protestante nie, maar as die enigste ware kerk op aarde wat geen behoefte aan bande met valse kerke het nie.
Die Apostelkultus verkondig dat Christus sy kerk deur lewende apostels met besondere magte regeer soos om sondes te vergewe, mense met die Heilige Gees te doop en aan mense, selfs afgestorwenes, die ewige lewe te gee. Die nuwe apostels word as plaasvervangers van Christus in die vlees geëer. Wie hulle so aanvaar en sakramente uit hul hand ontvang, word as gelowiges geag. Die stam-apostel beklee egter die hoogste gesag in die Apostelkultus.
Waarom is daar tans nie apostels in die Christelike kerk nie? Omdat daar nie meer apostels kan wees nie. ʼn Apostel moes aan sekere Bybelse vereistes voldoen soos om deur Jesus persoonlik geroep asook ʼn getuie van Sy aardse optrede en opstanding te wees (Hand.1:15-26; 9:1-6). Gevolglik was die eerste apostels ook die laastes. Na die hemelvaart het die kerk hulle nooit as Christus in die vlees beskou nie. Nog minder kon hulle mense tot die saligheid verseël of die Heilige Gees op iemand uitstort. Hulle was slegs grondleggers van die NT kerk (Gal.2:20). Alleenlik God het die verlossing geskenk (2 Kor.5:18,19).
Nie die Bybel of die kerkgeskiedenis verwys enigsins na ʼn stam-apostel as ʼn Christus-op-aarde nie. Gevolglik is die Apostelkultus ʼn tragiese misverstand met verreikende gevolge vir leke! Hul minagting van die Skrif maak van hulle die allergevaarlikste sekte ter wêreld. Daar kan bv. nog met die Jehova Getuies, Mormone of Adventiste oor die Bybel gepraat word, maar nie met die Apostelkultus nie. Die Bybel is vir hulle ʼn dooie woord en die woord van die apostel lewendig sodat net hy God se wil bekend kan maak.
ʼn Duitser, ene Wilhelm Leber, is die huidige stam-apostel en word as die enigste persoon wat die Skrif onfeilbaar kan verklaar vereer. Dit verskil nie veel van die Roomse Kerk (RK) se leer oor die onfeilbaarheid van die pous nie. In 1951 het ʼn eertydse stam-apostel, ene Bischoff, verklaar dat die wederkoms van Christus in sy leeftyd sou plaasvind. Wie dit nie wou glo nie se name sou glo uit die boek van die lewe geskrap word. Hierdie onfeilbare is in 1960 dood.
Alleenlik God se Woord is onfeilbaar. Gevolglik is sinvolle gesprek tussen gelowiges en lede van die Apostelkultus prakties onmoontlik. Gelowiges redeneer vanuit die Skrif maar laasgenoemdes nie. Vir hulle het die apostel se woord meer gesag as die Woord van God. Dit verskil niks van die pous se ex cathedra uitsprake nie. Die raakpunte met die RK is baie. Soos wat die RK die pous as God se plaasvervanger op aarde ag, beskou die Apostelkultus die apostel in dieselfde lig.
Die Bybel getuig self dat dit die Woord van God is. Omdat God daardeur met mense praat, is dit vir gelowiges genoegsaam en gesaghebbend. Dis immer hoe Jesus die Bybel self beskou het. In sy gesprek met die Sadduseërs oor die opstanding vra Hy hulle: “En wat die opstanding van die dode betref – het julle nie die woord gelees wat tot julle deur God gespreek is nie...” (Mt.22:31).
Met die gebruik van ʼn derde sakrament, die verseëling, wyk die Apostelkultus nog verder van die Skrif af. Hierdie vergryp word slegs deur ʼn apostel bedien wanneer hy ʼn persoon met olie salf en daarna die hande oplê om die Heilige Gees te ontvang. Dit word as die wedergeboorte en sekerheid van verlossing gehuldig. Mense wat die kultus verlaat, verloor hierdie verlossing. Die apostel seën nie alleen nie, maar kan ook mense vervloek. Daarom verlaat mense uit vrees vir vervloeking nie maklik die kerk nie.
Die kultus leer verder dat redding net deur bemiddeling van ʼn apostel moontlik is. Niemand kom sonder hom tot die geloof nie. En so bereik die verheerliking van die apostel ʼn gruwelike uiterste! Jesus waarsku baie duidelik teen sulke dwaalleraars: “Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! En hulle sal baie mense mislei. Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei ” (Mt.24:5,24).
Wat leer die Bybel van verseëling? Absoluut niks nie! Dis ʼn mensgemaakte sakrament wat van alle waarheid ontdaan is. “O, onverstandige Galasiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie?...” (Gal.3:1). Die Bybel leer dat die Heilige Gees slegs deur die geloof ontvang word. Geen mens kan dit op mense uitgestort nie. Die Bybelse apostels het nooit die mag gehad om sondes te vergewe of om die wedergeboorte te skenk nie.
Die Apostelkultus het ʼn hiërargie van sewe ampsdraers; die een belangriker as die ander. Dis soos die oud-Nikolaïete vir Christus ʼn gruwel (Openb.2:15). So ʼn hiërargie gee aan dwaalgeeste ʼn gevoel van mag, eie waarde en misplaaste status. Die leraarsamp wat in Efes.4:11 vermeld word, funksioneer ironies genoeg glad nie in die Apostelkultus nie!
Die Apostelkultus wemel van priesters, ʼn amp wat geen bestaansreg in die NT het nie. Die OT priesterskap is in Christus vervul toe die gordyn met Christus se dood in die tempel middeldeur geskeur het. Jesus het die priesterlike werk vervul. “maar Hy, omdat Hy vir ewig bly, besit ʼn priesterskap wat nie op ander oorgaan nie” (Heb.7:24).
Die Apostelkultus lei strydig die Woord van God nie sy ampsdraers op nie: “en wat jy van my gehoor het onder baie getuies, vertrou dit toe aan getroue manne wat bekwaam sal wees om ook ander te leer” (2 Tim.2:2). As gevolg van ʼn gebrek aan kennis en opleiding verkeer hulle in ʼn verstikkende duisternis. “Maar al sou ons of ʼn engel uit die hemel julle ʼn evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ʼn vervloeking wees!” (Gal.1:8).
Die Apostelkultus vier soos die RK weekliks nagmaal sonder die wyn. Wie afwesig is se sondes word nie vergewe nie. Gevolglik word eredienste goed bygewoon en vier dwaallering hoogty. Selfs oorledenes wat die verseëling op aarde ontvang het, deel in die gees die nagmaal met die lewendes. Verlore ontslapenes kry drie maal per jaar die geleentheid (die eerste Sondag in Maart, Julie en November) om tydens ʼn spesiale nagmaal by apostels wat die sleutels van die doderyk het, redding te soek.
In hierdie opsig verkeer hulle op feitlik gelyke voet met die RK, Mormone en Spiritiste. Lewendes kan met dooies kontrak maak en omgekeerd. Mense wat ongered sterf kan nog na die dood gered word. Dis onbeskaamde dwaalleer!
Nêrens in die Bybel word gesê dat apostels die sleutels van die doderyk het nie, slegs Christus alleen (Openb.1:18). “Maar wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle sluit die koninkryk van die hemele toe voor die mense; want julle gaan self nie in nie, en die wat sou ingaan, laat julle nie toe om in te gaan nie” (Mt.23:13).
Geloof het vir die Apostelkultus ʼn geheel ander betekenis as in die Skrif. Hulle vertrou nie op ʼn onsigbare Christus en dit wat op Golgota gebeur het nie. Hulle glo eerder in ʼn sigbare Christus – die apostel. Om ʼn stam-apostel te sien, te ontmoet en aan te raak, is vir hulle die wonderlikste geloofondervinding denkbaar. Die Bybel leer dat ware geloof slegs op dit wat in die Skrif staan en deur die Heilige Gees geskenk word, gebou word (2 Kor.4:13,14; Joh.20:31; Heb.11:1-3 en Efes.2:1-10).
Daarbenewens kan dooies nie gered word nie. Dis ʼn gruwelike dwaling! Die stam-apostel het glo die sleutels van die doderyk en skenk aan dooies die geleentheid om die apostel-troon vir redding te nader. Hy bemiddel hierdie skyn redding deur die nagmaal aan twee priesterlike ampsdraer te bedien wat vir die dooies instaan.
Dooies kan nie gered kan word nie. Die verhaal van Lasarus en die ryk man in Luk.16:19-31 is duidelik hieroor. Met hierdie dwaalleer begeef die Apostel-kultus hul op die terrein van die okkulte. Dis onverbloemd spiritisties en open ʼn deur waarby bose geeste mense se lewens kan betree.
Die grootste probleem in die Apostelkultus is en bly die redder. Soos wat die maagd Maria Christus in die Roomse Kerk verdring, verdring die apostel Hom in die Apostelkerk. Die apostel-amp vervang die middelaarskap van Christus. Hulle glo bv. dat toe Jesus ten hemel gevaar het Hy geestelik in die apostels opgevaar het en tans in hulle sigbaar is. Daarom verwerp hulle ʼn letterlike hemelvaart. Dit moet glo geestelik verstaan word. Jesus het in hul verstand opgevaar. Hy is in hulle kop! Daarbenewens glo hulle, strydig met hul stigter se leer, ook nie aan ʼn letterlike wederkoms nie. Wanneer ʼn apostel huisbesoek doen, is Christus in die vlees by hulle – dis die wederkoms!
Hoe bots dit nie met die Bybelse waarheid nie! “ Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien...” (Openb.1:7). “.... Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het” (Hand.1:11).
Die Apostelkultus verkondig voorts dat daar geen werklike hel is waar mense brand nie. Die hel is ʼn plek waar verlore siele in die duisternis rondswerf totdat hulle die altaar van die apostel se genade nader en verlos word. Dit herinner ʼn mens aan die Roomse vagevuur!
Verder lê die Apostelkultus sterk klem op goeie werke, maar slegs dit wat ter bevordering van die kultus gedoen word. Wie goeie werke doen, verdien ʼn amp, maar wie in gebreke bly, verpas sy saligheid. Geen klem word egter op bekering, die vrug van die Gees of heiligmaking geplaas nie.
Laat ek saamvat: Op grond van die spiritistiese karakter, die verloëning van Christus en die gesag van die Bybel, hul hiërargie, verafgoding van die apostel-amp en verhouding met dooies is dit duidelik dat ons hier nie met ʼn kerk maar eerder met ʼn bose kultus te doen het. Dis mense sonder hoop op saligheid. Net die Heilige Gees kan in hulle harte werk om hul van hul sonde en gruwels te oortuig. Al wat gelowiges kan doen, is om van hul persoonlike redding en geloofsekerheid teenoor hierdie mense te getuig. Getuig, moenie probeer oortuig nie!