Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wanneer jy siek is, is jou hele menswees siek, ook jou verstand, jou emosies en jou gees. As jy na die Here vra wanneer jy siek is kan jy seker wees dat Hy nooit ver van jou af is nie. Skep moed, vra God wat sy doel met jou lyding is, en jy sal nuwe sin in die lewe vind as gevolg van hierdie moeilike tyd.
DIE NIKOLAIETE
Ds AE van Berg
Mt.20:25-28; 23:1-12
In Openb.2:6 het Christus lof vir die gemeente in Efese: “Maar dit het jy, dat jy die werke van die Nikolaïete haat, wat Ek ook haat” en in Openb.2:15 wys Hy die gemeente van Pergamus op dwaalleer in hulle midde: “So het jy ook mense wat vashou aan die leer van die Nikolaïete, wat Ek haat” Dan waarsku Hy: “Bekeer jou; anders kom Ek gou na jou toe en sal teen hulle (Nikolaïete) oorlog voer met die swaard van my mond” (:16).
Die Nikolaïete was die voorlopers van Roomse Katolisisme. Nie die kerk as sodanig nie, maar die dwaling waarmee dit die kerk al eeue lank skaad. Die woord Nikolaïete kom van twee Griekse woorde: nikao “om te verower” en lao “lekedom” vanwaar die Engelse woord laymen afgelei is. Nikolaïete beteken dus die “veroweraars van die lekedom”.
Waarom het Christus hulle gehaat? Omdat hulle die kerk in twee segmente verdeel het – geestelikes en leke. Dis on-Skriftuurlik. Christus het nooit die kerk in die hande van ’n magsbehepte elite leierskorps geplaas nie, maar eerder in die hande van manne wat met die Heilige Gees vervul was en die Bybel as hul enigste maatstaf gebruik het.
Hierdie Gees vervulde manne het in die vroeë kerk leiding geneem en mense met die Woord van God gevoed soos Jesus Petrus in Joh.21 beveel het. Jesus het nooit vir Petrus gesê om oor sy skape te heers nie, maar om hulle eerder op te pas en te laat wei. Daarom is ’n heersende heilige priesterdom soos wat die RK bedryf in stryd met die Bybel. Jesus haat dit!
Die kerklike leierskap moes wel heilig wees, maar so ook die hele gemeente. Dis nie ’n geval van ’n klein groepie heilige kerkleiers aan die een kant en ’n groot groep nie-so-heilige gemeentelede aan die ander kant nie. Daar is ook geen NT regverdiging vir geestelikes wat as tussengangers tussen God en sondaars optree soos in die RK die geval is nie. Juis daarom het die gordyn na Jesus se kruisiging in die tempel middeldeur geskeur; mense moes voortaan direk tot God nader. Die priesteramp was uitgedien.
Nikolaïtisme het geestelikes van leke geskei en van die geestelikes opsieners i.p.v. diensknegte gemaak; ’n liederlike dwaling wat sy kop vroeg in die Christelike kerk uitgesteek het. Toe baie van die geestelikes eers mag geproe het, wou hulle dit nie met leke deel nie.
Nikolaïtisme het weens die misverstaan van die Bybel ontstaan. Jesus sê aan die Skrifgeleerdes van sy tyd dat hulle dwaal omdat hulle die Skrifte nie ken nie. Onkunde is die oorsaak van alle dwaling! Sekere kerklui het begin glo dat die kerk deur twee ampte gelei moes word; ouderlinge (presbuteroi) en opsieners (episkopoi) en selfs die Skrif aangehaal: “Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg…” (Hand.20:28). Opsieners (biskoppe) het spoedig gesag en beheer oor die ouderlinge begin uitoefen.
In werklikheid het die woord ouderling die persoon en opsiener sy amp aangedui. Dit was nie twee ampte nie, maar een. ’n Ouderling beklee ’n opsienersamp en moet toesien dat gemeentelede hul waardig gedra. Ouderling verwys na sy ouderdom. Hy is nie uitverkore of georden nie, maar bloot ’n ouer man en derhalwe meer ervare. Hy is nie ’n nuweling nie. Die Nikolaïete het dus van een amp twee gemaak. Baie kerke doen dit vandag nog.
Wat die kerkregering betref, het die vroeë kerk net ouderlinge geken. Hierdie amp was slegs tot opsigwerk in die eie gemeente beperk. Nikolaïetisme het aan biskoppe uitgebreide gesag oor plaaslike godsdiensleiers gegee. Dis on-Skriftuurlik: “Maar Jesus het na hulle na Hom geroep en gesê: Julle weet dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen; maar so moet dit nie onder julle wees nie, maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie” (Mt.20:25-28).
’n Kerk kan mense net dring, maar nie dwing nie. Dis ongelukkig nie die geval met Episkopaalse (Nikolaïtiese) kerke nie waar biskoppe na goeddunke handel. Hulle kan geestelikes plaas net waar hulle wil. Sulke kerke beroep nie leraars nie; hulle word deur biskoppe in gemeentes geplaas - ’n gruwelike miskenning van die leiding van die Heilige Gees!
Johannes waarsku gelowiges teen ‘n bose groepering wat in die kerk doenig was; mense wat hul as gelowiges voorgedoen het, maar werktuie van Satan was.
Nikolaïetisme is ’n set van Satan om beheer oor mense te verkry. “En ek het een van sy koppe gesien net of dit dodelik verwond was en sy dodelike wond is genees. En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aangegaan” (Openb.13:3).
Die verwonde kop was die Romeinse ryk, ’n prototipe van die ryk van Satan. Nadat die Romeinse ryk lank die wêreldheersers was, het dit geval en gelyk of dit dood was. Dit was egter nie. Die kop het weer opgelig en onder ’n nuwe naam die werk van die Satan voorgesit – die Roomse Kerk (RK), ’n magtige ryk. Gevolglik het die Romeinse ryk slegs van gedaante verwissel en as ’n Christelike kerk begin poseer. Dis misleiding op sy gevaarlikste!
Die RK gebruik dieselfde resep as die Romeinse Ryk om mag te verkry; verdeel en heers. Dis Satan werk al eeue lank so. Kyk gerus na Gen.3! Die RK het deur die eeue volke en nasies verskeur en verslind. Wie se paaie met haar gekruis het, het nooit weer opgestaan nie. Uit haar het die valse kerk met sy kerkregering van verdeel en heers opgestaan; die Nikolaïete wat God haat!
Geestelikes het hul openlik vir die amp van biskop begin beywer. Die drang om mense te lei, was slegs ’n front om hulle te beheer. Korrupte kerklui het hulself in die strewe na mag verloor. En hoe groter die mag, hoe gevaarliker het die misbruik geword.
Die biskop-amp is aan geleerde, invloedryke mense gegee al het hulle weinig godsvrug getoon. Menslike kennis en wysheid het die plek van die Heilige Gees verdring en booswigte in die hoogste kerklike kringe laat beland. Dit was nie meer nodig om ’n heilige lewe te lei nie; jy moes net slim en slu wees!
Toe die kerk opsieners tot ’n plek verhoog wat die Skrif nie aan hulle toeken nie, het ’n God-onterende kerklike hiërargie ontstaan. Biskoppe het oor priesters, aartsbiskoppe oor biskoppe, kardinale oor aartsbiskoppe en ’n pous oor die kardinale geag gevoer; net soos in Babilon. Die kerk het met die heidendom en sy verfoeilike beelde en gebruike vermeng geraak.
Esegiël beskryf die verwording van die kerk in sy tyd as volg: “Ek gaan toe en kyk – en daar was allerhande afbeeldinge van afskuwelike kruipende en viervoetige diere en allerhande drekgode van die huis van Israel wat al rondom op die muur uitgesny was. En sewentig manne uit die oudstes van die huis van Israel het daarvoor gestaan… en elkeen het sy wierookpan in sy hand gehad en die geur van die wolk het opgegaan. Toe sê Hy vir my: Het jy gesien, mensekind, wat die oudstes van die huis van Israel in die duisternis doen, elkeen in sy kamer met beeldwerk?...” (Eseg.8:10-12). Klink dit nie na die RK nie?!
Die leer van die Nikolaïete is nie sonder teenstand in die kerk aanvaar nie. Alhoewel die meerderheid mense nie kon lees of skryf nie, was daar tog manne wat die ou Bybelse manuskripte onder oë gehad en besef het dat hierdie leer nie Skriftuurlik was nie en die pen daarteen opgeneem. Ongelukkig was die Babiloniese invloed al so sterk, dat die kerk nie meer tussen leer en dwaalleer kon onderskei nie. Van haar leraars is uitgeban en hul werke verbrand.
Daarna het die verworde kerk voorgegee dat dit spesiale opleiding verg om die Bybel te lees en te verstaan. Hulle het selfs vir Petrus aangehaal wat geskryf het dat Paulus se geskrifte moeilik is om te verstaan. Gevolglik het die kerk die Bybel van die leke weggevat sodat hulle kwansuis nie kon dwaal nie. Hulle moes slegs na die priesters luister – oorwinnaars oor die lekedom! Die Bybel was vir etlike eeue lank op die RK se lys van verbode boeke.
Naas die sondeval (Gen.3) is die godsdienstige samesmelting van Rome en Babel die grootste ramp wat die mensdom ooit getref het. Daaruit het die RK ontstaan. Die kerk is mislei om heidense gebruike te huisves en so gou ingebed geraak, dat mense die waarheid nie meer van leuens kon onderskei nie.
Die lekedom het die priesters toegelaat om vir hulle te dink. Kerklike mag het in die hande van ’n klein groepie uitgesoektes beland terwyl magteloosheid by die meerderheid vol in die aar gestaan het. Kerklike dwang was die teelaarde van despotisme. Mag sonder geregtigheid het spoedig tot ’n tirannie in die kerk gelei. Dink maar net aan die berugte Inkwisisie onder Loyola! Mense het, soos in die eertydse Babilon, slawe van ’n despotiese priesterorde geword.
Roomse kerklui verskil weinig van hul eertydse Babiloniese kollegas. Beide het ’n onmenslike houvas op hulle onderhoriges gehad het. Dis immers een en dieselfde magsisteem! Almal moet soos Rome dink en doen. Wat vandag op die oewer van die Tiber-rivier (Rome) gebeur, het duisende jare gelede op die oewer van die Eufraatrivier gebeur. Die RK wys al vir baie eeue lank haar ware kleure maar mense let dit nie op nie. So goed is haar misleiding!
Die Edik van keiser Theodosius die Grote (380 n.C.) het die Roomse geloof tot die amptelike godsdiens van die Romeinse ryk verklaar. Alle gelowe wat daarvan afgewyk het, is as kettery gebrandmerk. Die 15 drakoniese strafwette wat in hierdie edik afgekondig is, het mense wat anders as die RK gedink het, die reg ontneem om hul godsdiens vry te beoefen. Baie van hulle is selfs uit regeringsposte ontslaan en met boetes gedreig. Die owerheid het op eiendom en besittings beslag gelê, ketters verban en sommige selfs doodgemaak. Die mensdom is weer op pad daarna. Dis die Groot Verdrukking waarvan Jesus in Mt.24 praat.
Die RK noem haarself die moederkerk en sien haarself as die oorspronklike kerk waarheen die ganse Christendom moet terugkeer. Die Bybel praat ook van haar as ’n vrou - ’n vrou wat op sewe heuwels sit (Openb.17). Rome is op sewe heuwels gebou. Hierdie vrou op die sewe heuwels is egter ’n straatvrou wat talle dogters gebaar het. Dis die kerke wat uit haar stam en ’n godsdiens-hiërargie beoefen – die Nikolaïete, wat Christus haat. “ Julle is duur gekoop; moenie slawe van mense word nie” (1 Kor.7:23).
Die RK word ’n straatvrou genoem omdat sy ontrou aan haar man geword het. Sy was aan God verbind maar het met Satan owerspel bedryf en dogters gebaar wat net soos sy is; anti-Bybel, anti-Heilige Gees en derhalwe ook anti-Christus. Daarom staan die Antichris uit haar midde op.
Protestante moet ernstig waak teen die opkomende wêreldkerk wat met haar seekat-arms elke Protestantse kerk wil verwurg. Volksgenote moenie kerke blindelings volg nie, maar hulle op die proef stel of hulle suiwer is. Christus sê wat hulle moet doen indien hulle in dwaalkerke is: “Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem” (2 Kor.6:17). “….Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie”.(Openb.18:4).
Gelowiges moet duidelik standpunt begin inneem: “Elkeen wat ’n oortreder is en nie bly in die leer van Christus nie, hy het God nie. Wie in die leer van Christus bly, hy het die Vader sowel as die Seun. As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie, want die een wat hom groet, het gemeenskap aan sy bose werke” (3 Joh. 9-11).
Ken jou Bybel. “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai” (Gal.6:7). Moenie iemand anders die skuld gee as jy jouself laat mislei nie! Beskou dit as jou Christelike plig om vir reg, geregtigheid en die waarheid te stry. En wees versigtig - alle duiwels het nie gesplete hoewe nie!