Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As jy baie swaar help dra, moet jy nie vir ‘n ligter las pleit nie, maar eerder vir ‘n sterker rug!
AANBIDDING VAN MARIA
Ds AE van den Berg
" Pous Pius XII het op 1 November 1950 die grootste onsin wat ooit aan Maria toegedig is, kwytgeraak. Hy het tydens ‘n ex cathedra uitspraak gesê dat haar liggaam drie dae na haar dood opgewek is waarna sy as die koningin van die hemel opgevaar het en ‘n troon aan die regterhand van Jesus ingeneem het! Hiermee trek die RK ‘n lasterlike parallel met Jesus se opstanding en hemelvaart. "
Die Christendom het nooit enige probleme met Maria gehad totdat die Roomse Kerk (RK) haar as hemelse koningin gekroon het nie. Die Nuwe Testament sê weinig oor Maria. Haar laaste aangetekende woorde word aan die begin van Christus se amptelike bediening geuiter toe sy tydens ‘n bruilof te Kana vir die diensknegte sê: “Net wat Hy vir julle sê, moet julle doen” (Joh.2:5).
Dit staan nêrens in die Bybel dat sy tot dieselfde vlak as Christus verhef en aanbid moet word nie. Maria was slegs geseënd omdat sy die Christuskind gebaar het en niks verder nie. Daarom het die vroeë Christelike kerk geen Maria-verering geken nie. Dit sou beslis as afgodery verwerp gewees het.
Nêrens word daar in die 21 Apostoliese briewe wat in die Bybel opgeteken is, enigsins na Maria verwys nie omdat sy hoegenaamd geen rol in die uitbreiding van die Christendom gespeel het nie.
Tydens die verheerliking van Christus op die berg sê God vir die aanwesiges: “Dit is My geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het. Luister na Hom!” (Mt.17:5). Die RK doen dit nie, maar luister eerder na Maria; ’n minagting van die Skrif : “Nadat God baie keer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun…” (Heb.1:1). God praat net deur Christus. Hy voorsien ook nie deur Maria nie, maar deur Christus: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle die Vader sal vra in my Naam, sal Hy julle gee” (Joh.16:23).
Protestante sal nooit die RK se afgodiese liefde en toewyding aan Maria begryp nie; daarvoor moet ‘n mens met ‘n Roomse gewete gebreinspoel wees. Roomse Katolisisme is nie ’n godsdiens in die ware sin van die woord nie, maar ‘n kultus. ‘n Kultus ontstaan as buitengewone eerbetoon aan of aanbidding van ‘n mens geskied. Luister wat het pous Benedictus XVI na sy verkiesing tot pous in 1995 gesê:
“Liewe broeders en susters, na die heengaan van die groot pous Johannes Paulus II, het die Raad van Kardinale my, ‘n eenvoudige, nederige werker in die Here se wingerd gekies. Ek troos my daaraan dat dit vir die Here moontlik is om met ‘n gebrekkige instrument te werk. Bo alles steun ek op julle gebede. Laat ons voorwaarts in die vreugde van die opgestane Here gaan, verseker van sy permanente hulp. Die Here sal ons help. Maria, Sy heilige moeder is aan ons kant. Dankie” (Afrikaanse vertaling van NBC News 19 April 2005).
Die Bybel weet van geen heilige moeder of koningin in die hemel nie. Babilon wel! Roomse Katolisisme is ’n herlewing van Babiloniese afgodsdiens. “Die kinders maak hout bymekaar, en die vaders steek die vuur aan, en die vroue knie deeg om koeke te maak vir die hemelkoningin en vir ander godedrankoffers uit te giet om My te terg” (Jer.7:18).
Die RK se fabelleer oor Maria stem met die leer van die Melekiete ooreen, ’n vroeë Christelike sekte wat tydens die Sinode van Nicea (325nC) die afgevaardigdes probeer oortuig het dat die Drie-eenheid uit God (Vader), Christus (Seun) en Maria (middelaar) bestaan. Hierdie fabelleer oor Maria is deur die eeue met allerlei lasterlike aankondigings en ‘n magdom van buite Bybelse tradisies opgebou. Die meeste daarvan is uiters subjektief soos haar verskynings aan mense.
Die RK het ’n lasterlike woordgebruik as hulle van Maria as die moeder van God praat. God is ewig en het derhalwe geen moeder nie. Maria was slegs die vleesgeworde Christus se moeder, maar nie die moeder van Jesus, die ewige Seun van God nie! As tweede Persoon van die Drie-eenheid is Jesus ewig en derhalwe ook Maria se Skepper. “Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, voordat Abraham was, is Ek” (Joh.8:57).
‘n Moeder bestaan altyd voor haar kind. Daar was niemand voor God nie. Gevolglik laster die RK as sy Maria vereer asof sy voor God daar was. Met hierdie benaming keer sy die Bybelse orde om. Sy verhoog die persoon wat die Heilige Gees klein wil sien (Maria) en verneder die Persoon wat Hy groot wil maak (Jesus). Daarom verwerp ons as Protestante hierdie verfoeilike uitdrukking met al die veragting wat dit verdien!
Die RK dwaal as sy leer dat sondaars wat hulle voor Christus verootmoedig, nooit werklik van gebedsverhoring seker is nie. Sy leer dat Christus Hom eerder met geregtigheid en oordeel besig hou en die betoning van genade aan sy moeder oorlaat. Daarom het sondaars ‘n beter kans om met hulle versugtinge by Maria en nie by Jesus geholpe te raak. Niemand sal buitendien na Christus gaan indien sy moeder meer toeganklik is nie.
Die RK beeld Christus graag as ‘n hulpelose mens uit – ‘n baba, dood in Maria se arms of dood aan ‘n kruis. Hierdie negatiewe beeld laat mense beslis aan sy middelaarskap twyfel. Die Roomse Christus mag hoogstens gevoelens van meegevoel en hartseer opwek, maar beslis nie van hoop en vertroue nie!
Die RK verkies baie duidelik ‘n lewende Maria bo ‘n dooie Christus. Strydig met die Bybelse belofte probeer sy voorgee dat dit nie soseer die saad van die vrou (Jesus) is wat die kop van die slang vermorsel (Gen.3:15) nie, maar die vrou (Maria) self!
Daarbenewens voer die RK dié onsinnige argument aan: omdat Christus deur Maria na die mens gekom het, moet mense deur haar na Hom gaan. Haar sielelyding by die aanskoue van die kruisiging is glo net so versoenend soos Jesus se lyding aan die kruis. Dit maak van haar as’t ware ‘n vierde persoon van die Godheid.
Pous Pius XII het op 1 November 1950 die grootste onsin wat ooit aan Maria toegedig is, kwytgeraak. Hy het tydens ‘n ex cathedra uitspraak gesê dat haar liggaam drie dae na haar dood opgewek is waarna sy as die koningin van die hemel opgevaar het en ‘n troon aan die regterhand van Jesus ingeneem het! Hiermee trek die RK ‘n lasterlike parallel met Jesus se opstanding en hemelvaart. Daarbenewens glo die RK dat Maria se geboorte bonatuurlik en sy dus sonder sonde was. En dis nie al nie - haar bonatuurlike koms na die aarde is met ‘n bonatuurlike verlating van die aarde afgesluit!
Die kerkvader Augustinus skryf in sy De Peccatorum Meritis tereg dat Maria van sondige vlees was. Omdat sy uit Adam gebore is, is sy weens die sonde dood. Daarom moes die vlees van Jesus, omdat dit uit Maria was, ook sterf om die sonde weg te neem. Maria was ‘n sondaar en sondaars kan nie verlossers of redders wees nie. “En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie” (Hand.4:12).
Die RK moet na reg die Maria-kerk genoem word omdat sy hul eintlike voorwerp van aanbidding is. Kerklui en pouse bid onbeskaamd tot haar en moedig mense aan om hul voorbeeld te volg. In Augustus 1993 het pous Johannes Paulus II tydens ‘n groot mis-offer in Denver (VSA) die jeug en die hele wêreld simbolies onder die beskerming en leiding van Maria geplaas.
Katolieke bid baie eerder tot Maria as tot God. Hulle glo dat Maria en die heiliges na hulle dood verheerlik is en van God die reg ontvang het om gebede aan te hoor. Dis onbybels! Mense wat tot dooies bid, begaan ’n gruwelike sonde. Dis ’n verbreking van die tweede gebod. Dooies kan buitendien nie gebede hoor nie.
Die Bybel leer dat gelowiges alleenlik vir mekaar mag bid, maar nooit tot mekaar nie. Desondanks leer die RK strydig met die Woord van God (Heb.4) dat daar wel vir en tot dooies gebid moet word. Deutr.18:10-12 waarsku baie duidelik teen geestes-tussengangers wat dooies raadpleeg.
Roomsgesindes kniel en bid onbeskaamd voor beelde van Maria. Pous Johannes Paulus II het die titel van Totus Tuam Maria (Alles vir jou Maria) gehad. Hy het twee keer by die dood omgedraai en daarna amptelik verklaar dat die heilige moeder sy lewe van die dood gered het.
Nêrens in die Bybel is daar enige aanduiding dat daar tot Maria gebid moet word nie. Die wyse manne uit die Ooste het die Jesuskind aanbid en nie Maria nie. In die OuTestament het gelowiges nooit tot Abraham, Moses, Dawid of enige geloofsheld gebid nie. Nog minder het enigeen van die apostels gelowiges versoek om tot ‘n dooie te bid. Die Bybel praat ook nêrens van mense wat na hul dood skakeling met mense behou het of hul gebede kon hoor nie. Desondanks leer die RK dat Maria gebede kan hoor en verhoor.
In 1854 het biskoppe uit alle wêrelddele in Rome byeengekom en met slegs vier teenstemme besluit dat Maria sonder sonde ontvang en gebore is en voortaan as die Onberispelike Maagd vereer moes word. Dit rym nie met Maria wat in haar eie woorde ’n behoefte aan ‘n Verlosser erken nie: “My siel maak die Here groot, en my gees is verheug in God, my Saligmaker” (Lk.1:46,47). Slegs sondaars het ‘n behoefte aan ‘n verlosser. “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Rom.3:23).
Die RK se aanbidding van Maria weerspreek die Evangelie dat God sy heerlikheid aan niemand anderste as Jesus Christus gegee het nie. Net soos wat die Jesus wat in die Mormoonse kerk verkondig word nie die Jesus van die Bybel is nie, is die Maria van die RK nie die Bybelse Maria nie. Die regte Maria was geseënd, nederig en het ‘n behoefte aan ‘n Verlosser gehad.
Daar is al soveel fiksie en fabel aan Maria toegedig, dat die werklike Maria in die stortvloed van Roomse leuens en misleidings verdwyn het. Desondanks bly die valse Maria die rolmodel vir alle vrouelidmate van die RK. Sy word as’t ware die dwangbuis waarin die RK al haar vrouelidmate probeer dwing ten einde hulle te beheer. Want dis waaroor die RK gaan – mensebeheer!
Die laaste keer dat die Bybel van Maria melding maak, bid sy op dieselfde vlak as haar medegelowiges: “Hulle almal het eendragtig volhard in gebed en smeking, saam met ‘n aantal vroue en Maria, die moeder van Jesus…” (Hand.1:14).
Wat doen die RK in werklikheid met Maria-verering? Hulle plaas Semiramis, die Babiloniese hemelgodin, van die een afgodiese sisteem na ‘n ander oor. Sy bly een en dieselfde afgod; net haar naam het na Maria verander! In die RK herleef die heidense beeldediens. Die Babiloniërs het, interessant genoeg, ook geglo dat Semiramis uit die dood opgestaan en ten hemel gevaar en ‘n ereplek as die hemelkoningin beklee.
Die RK se uitbeelding van Maria is geensins Joods nie maar eg Babilonies. Maria word as ‘n jongvrou met blou oë en blonde hare uitgebeeld. Dis hoe Semiramis voorgestel en uitgebeeld is, soos deur die argeoloog Sir Robert Ker-Porter jare gelede in Babilon gevind het. Maria word dikwels net soos Semiramis met ‘n stralekrans om die kop voorgestel. ’n Stralekrans is simbolies van die songod.
Semiramis is ook as ‘n vrou met ‘n wynbeker in haar uitgestrekte hand uitgebeeld. Johannes beskryf die kerk van die Antichris as ‘n magtige vrou met ‘n goue beker in haar hand: “En die vrou was bekleed met purper en skarlaken en versierd met goud en kosbare stene en pêrels, en sy het in haar hand ‘n goue beker gehad….” (Openb.17:4). Purper en skarlaken is die RK se amptelike kleure.
In 1825 het pous Leo X11 ‘n herdenkingsmedalje uitgegee wat die RK as ‘n sittende vrou met ‘n beker in haar uitgestrekte hand uitbeeld. Die onderskrif lui: “Die hele wêreld is haar setel”. Die RK gaan aan die einde van alle tye so magtig word, dat sy die wêreld sal beheer. Johannes vergelyk haar invloed met hoerery: “…en die bewoners van die aarde het dronk geword van die wyn van haar hoerery”(Openb.17:2). Semiramis is ook deur baie konings vereer.
Die RK bid ook tot heiliges – dooies wat baie vir die kerk gedoen en na hulle dood tot heiliges verklaar is. Pous Gregorius I is bv. in 1295 tot heilige verklaar en word as die beskermheilige van kerkskole, koorsang, onderwysers, skoliere, studente, sangers, musikante, messelaars en knoopmakers vereer. Daar word ook tot hom vir die verlossing van jig of builepes gebid.
In die Vatikaanstad is die gebalsemde liggame van ‘n hele aantal pouse in glaskaste te sien. So is pous Johannes XXIII, wat in 1964 oorlede is, in 2000 opgegrawe en in ‘n glaskis geplaas. Ongelowiges bid gereeld voor sy kis.
Die Bybel verbied die aanbidding van heiliges. Petrus is ‘n voorbeeld hiervan: “Toe Petrus dan binnekom, het Cornelius hom tegemoet gegaan en aan sy voete neergeval en hom hulde bewys. Maar Petrus het hom opgerig en gesê: Staan op, ek is self ook maar ‘n mens” (Hand.10:25,26). Paulus en Barnabas doen dieselfde in Hand.14. Die RK se aanbidding van dooies is suiwer Babilonies en maak die bidder vir demoniese besitname ontvanklik. Die Bybel praat ook van heiliges, maar met die verskil dat hulle lewe – dis die gelowiges van destyds. “Paulus, ‘n apostel van Jesus aan die heiliges wat in Efese is…” (Efes.1:1).
Sondaars het nie die bemiddeling van Maria of enige ander dooie vir redding nodig nie. Om redding uit die hande van die Saligmaker te neem en in die hande van mense te plaas, pluk die hart uit die Evangelie. Jesus sê: “Kom na My toe” (Mt.11:28). Wie hieraan verander, werk vir Satan!
Hand.10:24 -27; Openb.19:1-10