Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die liefde reken die kwaad nie toe nie...
GEBRUIK JOU EEN KANS!
Ds AE van den Berg
“Toe roep Simson die Here aan sê: Here, HERE, dink tog aan my en versterk my tog net hierdie keer, o God!” - Rigt.16:28
Die Bybel is vol aangrypende verhale. Een van die merkwaardigste is die verhaal van Simson; ’n verhaal van skitterende hoogte, maar ook vernederende diepte. Simson beteken sonskyn; ’n man wat hom, ironies genoeg, op ’n ouderdom van 40 jaar in stik duisternis bevind en so gesterf het!
Geen rigter het meer berekende houe vir sy volk as Simson geslaan nie; geeneen het so onverantwoordelik met sy hoë roeping omgegaan en God se eer so op die spel geplaas soos Simson nie. Hy het roekeloos met die uitsonderlike gawes wat God hom gegee het gedobbel!
In die gelese gedeelte vind ons hom nie op die stoel van die rigters soos God dit in sy lewe bestem het nie, maar in ’n tronk, tastende in die stikdonker wêreld van ’n blinde. Die lig wat in hierdie krag-reus se oë te sien was, is vir ewig en altyd uitgedoof omdat die Filistyne sy oë uitgesteek het nadat hy gevang is.
Simson was bestem om as Nasireër na aan God te leef sodat God sy wil deur hom aan mense bekend kon maak. Daarbenewens was Simson ook met bonatuurlike liggaamskrag bedeel sodat die vyand, wanneer sy naam genoem is, gesidder het! En kyk waar tref ons hom aan – ’n hanswors op ’n heidense fees, ja soos ’n magtelose dier in kettings, ’n voorwerp van heidense spot.
Kan daar vir so ’n man enige hoop en kans wees om reg te maak wat hy verbrou het? Die wêreld sê: “Nee, daar is geen hoop nie; hy ontvang sy verdiende loon!” Wat sê God? “Ja, daar is hoop, My genade is nie finaal verby nie”.
Hoor wat sê God vir Israel: “Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: Al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol” (Jes.1:18).
In die tronk waar Simson soos ’n donkie die meule draai, het sy hare weer gegroei. Hy het besef dat hy verkeerd gedoen het en tot God gebid om hom een kans te gee om reg te maak wat hy verbrou het. En God het! “Toe roep Simson die Here aan sê: Here, HERE, dink tog aan my en versterk my tog net hierdie keer, o God!” Alles het van hierdie een kans afgehang – die beslissende oomblik van sy lewe - of hy as swakkeling wat sy volk in die steek gelaat het, sou sterf of as rigter wat sy volk met sy dood van die juk van die vyand sou red.
Simson het die gewig van die oomblik met soveel geloof aangegryp dat hy nie eens vir die onafwendbare dood bang was nie. Hy was gewillig om sy lewe as losprys vir sy siel te gee! Hoe baie het daar nie al van een oomblik afgehang nie! Een oomblik was vir Petrus genoeg om Jesus te verraai. Een oomblik was vir Demas genoeg om die geloofslewe te verlaat en in die wêreld te verdwyn.
Esau is ’n sprekende voorbeeld van nog ’n man wat in een besonne oomblik sy eersgeboortereg verkwansel het. Moses het met een driftige hou na ’n rots sy toegang tot Kanaän gekanselleer. Dawid het in een oomblik van ontoelaatbare hartstog sy gesin in ellende gedompel. Dan is daar ook die geval van Felix die goewerneur wat die oomblik toe God se genade verskyn, dit nie aangegryp het nie:”Gaan maar terug en as ek tyd het, sal ek jou weer laat roep” (Hand.24:25). Felix het nooit weer tyd gehad nie en die hel beêrwe.
Hoe baie mense het nie al in ’n krisis beland weens een onbedagsame oomblik (verkeerde besluit) nie! Maar een oomblik is ook genoeg om God se genade te verkry. “….net hierdie een keer, o God!” bid Simson; woorde wat sondaars uit die dieptes van die hel verlos en die poorte van die hemel laat oopgaan.
Wanneer die laaste trompet blaas, sal miljoene mense die hel binnegaan omdat hulle een maal voor die Bose geswig en nie met Jesus reggemaak het nie. Daar sal ook ander mense wees wat wel ’n laaste geleentheid aangegryp het soos Saggeüs. Jesus het net een maal deur Jerigo gegaan, maar hierdie een maal was genoeg vir Saggeüs se redding.
Jesus het net een maal verby die blinde Bartimeus van Nasaret geloop. Die mense wou hom stilmaak toe hy al hoe harder na Jesus roep, maar dit het hom nie afgesit nie. Dit was sy enigste en laaste kans! Jesus het gaan stilstaan, hom genees en sy siel gered. Moenie na stemme rondom jou luister wat jou wil stilmaak as jy God se genade benodig nie; jy kry miskien net een kans!
In die Evangelies lees ons van die tuinier wat by die eienaar vir een jaar se genade vir die onvrugbare vyeboom gepleit het . Hoeveel jaar pleit Jesus nie by die Vader vir ons nie? “Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree” (Rom.8:34). “Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree” (Heb.7:25).
Laat ons elke geleentheid om met God te versoen aangryp! Waar is daar ’n beter voorbeeld as op Golgotha waar twee misdadigers weerskante van Jesus hang? Een spot; die ander een gryp die geleentheid aan: “Jesus, dink aan my…” Hulle is in eenderse omstandighede; een is verlore en een gered. Die geredde een eggo Simson se laaste versoek: “Here, dink aan my…”
Simson het saam met die heidene onder die puin van die heidense tempel gesterf. Enersyds ’n tragiese verhaal van ’n jongman met soveel moontlikhede wat deur sy eie toedoen te vroeg in ’n graf beland het. Andersyds is dit ook ’n bemoedigende verhaal van ’n man wat ten spyte van sy verkeerde dade met God reggemaak en die ewige heerlikheid ingestap toe die wêreld op hom omgekeer het. Hy het besef dat hy sy verhouding met God moes regmaak en hy het! Sy laaste versoek het nie oor wraak op die vyand gegaan nie maar vrede met God.
Simson se dood het na twee kante gesny: “En Simson sê 'Laat my sterwe saam met die Filistyne!' En hy buig hom met krag, sodat die huis inval op die vorste en op al die mense wat daarin was. So was dan die dooies wat hy by sy sterwe gedood het, meer as dié wat hy in sy lewe gedood het” (vers 30). Die man wat vroeër alles in die lewe gewen, maar sy God verloor het, het alles verloor, maar weer sy God gevind.
Die Evangelies vertel van ’n Man wat by geleentheid van God verlaat was, maar nie weens ’n fout wat hy begaan het nie, maar om sy lewe as ’n skuldoffer te gee sodat mense gered kon word. Hierdie Man staan by die deur van jou hart en Hy klop. Moenie versuim om oop te maak en reg te maak wat verkeerd is nie. Jy weet nie of jy weer die geleentheid sal kry nie. Maak oop, maak vrede met Jesus!
Amen!