Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Diegene wat Jesus as die Seun van God ontken, gaan juis verlore omdat hulle God se finale openbaring en boodskap totaal mis. Hulle hoor dit nie want nadat Jesus vir ons aan die kruis gesterf het vind dit plaas slegs deur sy Seun. Anders as in die tyd voor Jesus gekruisig is, het God deur profete en profesië tot die volksleiers gespreek wat dan God se boodskap aan die volk oorgedra het – Ná die kruisiging is Jesus Christus die enigste deur na God.
VREES GOD, NIE DIE OWERHEID
BURGERLIKE ONGEHOORSAAMHEID
Ds AE van den Berg
Mense met baie name hou gewoonlik nie daarvan om vorms in te vul nie. Keiser Nero sou beslis nie daarvan gehou het nie - Nero Claudius Caesar Augustus Germanicus! Hy was 12 jaar lank keiser van Rome (54-68nC) en ’n booswig wat gruwels in die oë van God bedryf het, soos ’n homoseksuele huwelik! Toe ’n vernietigende brand ’n deel van Rome in 64nC verwoes het, het Nero die Christene die skuld daarvoor gegee terwyl hyself die brand laat stig het sodat hy nuwe geboue kon laat oprig!
Paulus se brief aan die Romeine is tydens Nero se regering geskryf. ’n Mens sou kon verwag dat Paulus die Christene tot opstand teen hierdie booswig sou aanvuur, maar hy doen dit nie. Selfs onder ’n genadelose, goddelose keiser skryf Paulus o.l.v. die Heilige Gees om die regering van die dag nie teen te staan nie omdat alle regeermag van God af kom. Regeerders dien God in hul politieke hoedanigheid.
Paulus stel dit in Rom.13 duidelik dat die staat sy mag van God ontvang en hy derhalwe ’n dienaar van God is. Wie hierdie mag nie gebruik nie, word ’n dienaar van Satan! Daar staan geskryf dat die owerheid die swaard nie verniet dra nie.
Toe Jesus voor Pilatus verskyn, sê Pilatus vir Hom: “….Weet U nie dat ek mag het om U te kruisig en mag het om U los te laat nie?” (Joh.19:10). Hierop het Jesus hom geantwoord: ” …U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie…” (:11). Jesus het Pilatus tereggewys; sy menslike gesag was ’n Godgegewe gesag.
Toe Paulus later voor Festus staan, sê hy: “….Ek staan voor die regterstoel van die keiser waar ek geoordeel moet word….as ek oortree het of iets gedoen het wat die dood verdien, weier ek nie om te sterwe nie…” (Hand.25:10,11). Paulus het die owerheid wat die reg het om die doodstraf op te lê, eerbiedig.
’n Paar jaar later het Petrus ook in sy eerste Sendbrief oor staatkundige gesag geskryf wat, soos Paulus se skrywe, tot ’n paar vrae onder die Christene gelei het. Het Paulus en Petrus van Christene verwag om altyd aan die regering van die dag onderdanig te wees ongeag watter wette hulle uitvaardig? Moet ’n gelowige altyd burgerlik gehoorsaam wees?
Daar is drie vorms van burgerlike ongehoorsaamheid:
Anargisme: Die anargistiese standpunt sê dat ’n persoon self kan kies om die regering te gehoorsaam soos wat hy goeddunk. In die lig van Rom 13 het hierdie standpunt geen Bybelse ondersteuning nie.
Ekstremisme: Hierdie standpunt sê dat ’n persoon die regering van die dag moet gehoorsaam ongeag sy optrede/opdragte. Ook hierdie standpunt het geen Bybelse steun nie.
Selfs die geskiedenis kom hierteen in opstand. Tydens die Nuremberg-verhore wou een van die Nazi prokureurs die verskoning gebruik dat sy kliënte net hoër opdragte uitgevoer het en dus nie vir hul gruwels aanspreeklik gehou kan word nie. Een van die regters vra toe: “Meneer, is daar dan nie ’n hoër wet as menslike wette nie?” Met hierdie eenvoudige vraag het die opposisie se argument verkrummel. Die Heilige Gees oortuig die mens wat reg of verkeerd is! Ongeag wat die Nazi-regering hulle beveel het, het die offisiere geweet dat hulle verkeerd doen.
Bybelse onderdanigheid: Die Skrif leer gelowiges om aan ’n burgerlike regering onderdanig te wees mits dit nie gruwels wettig nie. Sou dit wel die geval wees, durf ’n gelowige nie gehoorsaam wees nie, want dit sal sonde wees. “Jy mag die meerderheid nie volg in verkeerde dinge nie…” (Ex.23:2).
Die Bybel het talle voorbeelde van gelowiges wat burgerlik ongehoorsaam was maar in die oë van God reg opgetree het. In Ex.1 het die farao twee Hebreeuse vroedvroue opdrag gegee om alle manlike babas dood te maak. ’n Ekstremis sou die opdrag tot op die letter uitgevoer het.
Die vroedvroue het egter geweier: “Maar die vroedvroue het God gevrees en nie gedoen soos die koning van Egipte aan hulle gesê het nie, maar die seuntjies laat lewe” (vers 17). Die Bybel gaan voort en sê dat die vroue met God se seën vir die farao gelieg het: ”Maar God het aan die vroedvroue weldadigheid bewys.…En omdat die vroedvroue God gevrees het, het Hy huisgesinne aan hulle geskenk” (vers 20,21).
In Jos.2 lees ons van Ragab wat die koning van Jerigo se opdrag verontagsaam het om die Israelitiese spioene uit te lewer wat in die stad was om inligting te bekom vir die geveg wat ophande was. In plaas van hulle uit te lewer, het sy hulle laat ontsnap. Alhoewel dit ’n opdrag van haar koning was wat met die dood gestraf kon word, het Ragab geweet dat sy dit nie kon doen nie. Die Israeliete het dan ook haar lewe gespaar toe hulle die stad ingeneem het.
In 1 Sam. gee koning Saul tydens ’n militêre optrede teen die Filistyne opdrag dat niemand moes eet voordat hy die geveg gewen het nie. Toe sy seun Jonathan die opdrag veronagsaam en heuning eet om hom vir die geveg te versterk, het Saul dit uitgevind en opdrag gegee dat Jonathan doodgemaak moes word. Toe sê sy manskappe vir hom:” ….Moet Jonathan sterwe wat hierdie groot verlossing in Israel bewerk het? Volstrek nie! Sowaar as die Here leef, geen haar van sy hoof sal op die aarde val nie!....So het die volk dan Jonathan losgekoop, dat hy nie gesterf het nie” (1 Sam.14:45).
1 Kon.18 lees ons van nog ’n verhaal van burgerlike ongehoorsaamheid. ’n Sekere Obadja het God gevrees. Toe sy koningin Isebel die profete van God begin vermoor, het hy 100 van hulle versteek en hulle so aan die dood laat ontkom. Sy optrede was direkte ongehoorsaamheid aan die regering van die dag, maar in ooreenstemming met God se wil. Daarom het Isebel se plan om al die profete van God dood te maak, nie geslaag nie.
In 2 Kon. 11 lees ons van Atalia, koning Ahasia se moeder, wat ná sy dood die hele koninklike geslag van Juda laat uitroei het. Die koning se dogter het egter vir Joas laat wegsteek sodat die bloedlyn behoue kon bly. Toe hy ses jaar later koning word, het hy sy ouma laat teregstel. Dit was reg in God se oë.
Die boek Daniël vermeld twee gevalle van burgerlike ongehoorsaamheid. Die eerste geval in hoofstuk 3 vertel die verhaal van Sadrag, Mesag en Abednego wat geweier het om voor die beeld van koning Nebukadnesar te buig en daarna uit die brandende vuuroond verlos is. Die tweede verhaal is in hoofstuk 6 waar Daniël koning Darius se bevelskrif om niemand anders as die koning te aanbid nie, verontagsaam het en hoe God hom uit die leeukuil verlos het.
In die NT vertel Hand.4 van Petrus en Johannes se optrede teen die regering van die dag. Nadat Petrus ’n verlamde man genees het, is hulle weens hul getuienis oor Christus in die tronk gegooi. Die kerklui wou die Christendom stop en die dissipels beveel om nooit weer van Jesus te praat nie:"Toe antwoord Petrus en Johannes en sê vir hulle: Of dit reg is voor God om julle meer gehoorsaam te wees as God, moet julle self beslis; want vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien of gehoor het nie” (Hand.4:19,20). Toe die kerklui hulle later weer aan die opdrag herinner om nie oor Jesus te praat nie, het Petrus as volg gereageer: “…Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense” (Hand.5:29).
Die laaste voorbeeld van burgerlike ongehoorsaamheid wat in die Bybel opgeteken is, is in Openb.13 waar die Antichris almal wat in die eindtyd leef, opdrag gaan gee om die beelde wat van homself gemaak is, te dien. Johannes skryf dat die gelowiges van daardie tyd dit nie sal doen nie. Dis ’n soortgelyke geval as Daniël.
Daniël is ’n baie belangrike boek vir die gelowiges van die eindtyd. Soos wat gelowiges in die tyd van Daniël geleef het, sal dit ook aan die einde wees. Daar sal vervolging van staatsweë wees, maar ook goddelike ingrypings! God raap nie gelowiges weg soos wat dwaalleraars verkondig nie, maar staan hulle op ’n baie besondere wyse by.
Burgerlike ongehoorsaamheid is nie sonder meer sonde nie. Die Bybel gee vir ons duidelike riglyne in hierdie verband. Gelowiges moet ’n regering wat gruwels wettig en mense tot boosheid aanhits, teenstaan en op ’n nie gewelddadige wyse ’n verandering van regering probeer bewerkstellig.
Wanneer ’n land se wette in direkte oortreding met God se Woord is, verwag God van sy kinders om sulke wette nie te gehoorsaam nie - burgerlike ongehoorsaamheid! Gelowiges moet hulle inspan om nuwe volksleiers daar te stel binne die raamwerk van die wet, en moet God om ’n hemelse ingryping bid waardeur die booswigte deur die hand van God verwyder word en met godvresende leiers vervang word.
Rom.13:1-7; 1 Pet.2:13-17