Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Leef reg. ‘n Heilige lewe maak altyd ‘n indruk op mense. Wees soos ‘n vuurtoring. Dit maak nie lawaai nie; dit skyn net. Al lê die sneeu van die winter op jou kop, moet mense altyd kan sien dat dit lente in jou hart is!
DIE DUISENDJARIGE VREDERYK...
...FEIT OF FABEL?
Ds AE van den Berg
"Net voor Jesus se wederkoms gaan die wêreldtoneel drasties verander. Satan gaan losgemaak word om vir ’n baie kort tydjie volke en nasies teen die kerk te laat saamspan. Dit gaan ’n pynlike dog noodsaaklike siftingsproses wees."
In Openbaring gaan dit oor twee basiese waarhede - God se oordeel oor die goddelose en sy bewaring en latere verhoging van sy getroue gelowiges. God straf, maar bewaar ook - ’n tema wat soos ’n hoogspanningsdraad dwarsdeur Openbaring loop. God se oordeel begin, soos Petrus skryf, by die kerk: “Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God…” (1 Pet.4:7). Daarom loop Jesus in hoofstuk een tussen sewe kandelaars (:13) terwyl ’n skerp tweesnydende swaard uit sy mond gaan (:16).
Die sewe kandelare het die Christelike kerk van daardie tyd voorgestel. Hoofstukke 4-5 vertel van Christus wat koninklik in die hemel heers en hoofstukke 6-11 van sy eerste oordele wanneer die sewe seëls oopgemaak word. Hoofstukke 12-19 maak gewag van die stryd tussen Christus wat sy kerk bewaar en Satan wat dit wil vernietig en eindig met die oordeel oor Rome (Roomse Kerk) wanneer die dier en die valse profeet in die hel gewerp word. Hoofstuk 20 gee ’n panoramiese visie van die oordeel oor Satan self wat vir ’n simboliese 1000 jaar gebind was en toe vir ’n kort tydjie losgelaat is.
Hoofstuk 20 beskryf sy finale verdoemenis – die toneel van die volledige oordeel oor Satan. Die voorafgaande hoofstukke handel net gedeeltelik oor die oordele wat die vyande van die kerk tref, maar hoofstuk 20 oor God se finale optrede as regter wanneer Hy Satan vernietig.
Baie mense, veral charismate, verstaan Openb.20 glad nie; iets wat tot wilde spekulasies en verwarring aanleiding gee. Hulle sien nie die eenvoudige waarhede wat hier en elders in die Bybel geleer word raak nie. Gevolglik raak hulle op loop met moeilik verklaarbare gedeeltes. Op die ou einde weef hulle met hul ooraktiewe verbeelding soveel leerstellings aan mekaar, dat hulle dinge leer wat geensins met die Skrif ooreenkom nie en dwaal (Mt.22:29).
Dit was vir Johannes nodig om die boek Openbaring te skryf. Benewens dat God hom begeester het om die boek te skryf, het die eerste Christene ’n behoefte gehad om te weet dat Satan wat so fel te kere gegaan het, gebind en sy magte beperk was.
Met alles wat vandag in ons land en elders gebeur kan ’n mens nie dink dat Satan gebind kan wees nie. Bykans elke nuusberig vertel ’n ander verhaal! Praat Petrus dan nie ook van Satan wat soos ’n brullende leeu rondloop nie? Weerspreek die Bybel homself? (1 Pet.5:8).
Daarom verkondig charismate en ander dwaalgeeste dat hierdie binding eers ná die wederkoms gaan plaasvind wanneer Satan letterlik vir ’n 1000 jaar gebind gaan wees om niemand verder te pla nie. Daarna sal daar ’n vrederyk op die aarde aanbreek met Jesus as sigbare Heerser daarvan.
Charismatiese predikers kleur hierdie prentjie so dramaties in, dat mense by die duisende aan hulle lippe hang. Die probleem is dat die Bybel niks van ’n aardse vrederyk weet nie! Charismate lees Openb.20:1-3 buite sy verband. Daarom dwaal hulle hopeloos.
Let op die geskiedenis wat Openbaring dek. Dit skets die tydperk tussen Jesus se eerste en tweede koms. Dieselfde geskiedenis word uit sewe verskillende hoeke, soos sewe tonele belig, elkeen met sy eie fokuspunt – dieselfde geskiedenis in sewe tonele.
Hoofstuk 19 eindig met die sesde toneel wat die wederkoms van Christus en die vernietiging van die Antichris en sy valse profeet treffend beskryf. Openb.20 vat al ses voorafgaande tonele saam en wys op die uiteinde van Satan – sy vernietiging. Die binding van Satan vind nie dan eers plaas nie, maar is ’n werklikheid vanaf die eerste toneel. Die binding van Satan het begin by Jesus se opstanding uit die dood en strek tot net voor Jesus se wederkoms.
Openbaring is die verhaal van sewe tonele om gelowiges wat deur die eeue ter wille van die Evangelie swaarkry te troos en te bemoedig. Openbaring is nie geskryf om mense soos die charismate se nuuskierigheid oor die toekoms te bevredig nie. Dis ’n bemoediging – voorwaarts Christenstryders!
God wil hê dat gelowiges tot en met Jesus se wederkoms moet weet wat Satan se bedoeling en werking is. Daarom moet ons nie rondom ons kyk en verkeerde afleidings maak dat Satan wel los is nie. Satan is nog gebind. Dis wat die Woord van God sê!
Moenie uit die oog verloor dat Openbaring in simboliese taal geskryf is nie. Desondanks gaan dit oor ware feite. Dis nie stories nie; die simbole deel feite mee! Die Satan is gebind (’n feit) maar nie met ’n regte ketting nie. Dis ’n simbool van binding. Satan verkeer ook nie in ’n regte onderaardse diepte nie. Dit was ’n ou bekende simbool van ’n bewaking waaruit niemand kon ontsnap Satan is ’n gevangene van God en wag op die voltrekking van die doodstraf. Sy mag geld net vir sovêr as wat die hemelse Bewaarder hom toelaat. Satan is gebind, maar nie geheel magteloos nie; soos ’n kwaai hond aan ’n ketting. Die ketting waarvan Openb.20 praat, ’n simboliese beeld en dui op die gedugtheid van die vyand wat nie andersins aan bande gelê kan word nie.
Geen mens het die mag om hom te bind nie. Luister na die opeenhoping van lelike name wat hy het: draak, slang, duiwel, Satan. Alleenlik Christus is by magte om hom te bind omdat Hy met sy opstanding uit die dood Satan oorwin het. Daarna het Jesus sy engel gestuur om Satan in sy Naam te bind; nie dat hy die mag gehad het nie. Christus is uiteraard die Sleuteldraer wat oop- en toesluit. Openb.12 is ’n parallelle gedeelte met Satan wat neergewerp word.
Hoe is dit moontlik dat Satan gebind kan wees, as hy oënskynlik so los rondloop? Ons moet een ding begryp: Satan is ingeperk, maar nie magteloos nie. Openb.20:3 gee die leidraad: “….sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duidend jaar voleindig is nie…”
Wie is hierdie nasies? Want hierdie binding het spesifiek op hulle van betrekking. In die lig van vers 7-8 is dit groeperinge van nie-christelike nasies. Satan word nie toegelaat om nie-christelike nasies teen die kerk aan te hits en die Evangelie te skaad nie. Want dis mos wat Satan wil doen – hy wil die kerk en sy boodskap vernietig deur nasies teen God aan te hits: “Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge? Die konings van die aarde staan gereed en die vorste hou saam raad teen die Here en teen sy Gesalfde sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!” (Ps.2:1-3). Gelukkig werk dit net gedeeltelik want Satan is geboei.
By geleentheid het Jesus ’n kort gelykenis vertel wat Openb.20 verduidelik. “Of hoe kan iemand in die huis van ’n sterk man ingaan en sy goed roof, as hy nie eers die sterk man geboei het nie?....” (Mt.12:29). Die Griekse woord wat hier vir boei gebruik word, word ook in Openb.20:3 vir bind gebruik. Jesus het die sterk man (Satan) geboei. Dit het met Jesus se opstanding uit die dood gebeur sodat Satan nie die kerk kon vernietig en nasies as geheel mislei nie. Was dit nie daarvoor nie, sou geen sendingwerk gedoen kon word en die kerk ook nie gevestig kon word nie. Satan is nie by magte om die kerk te vernietig nie.
“Hou Christus self sy kerk in stand – vergeefs die hel se woede. As Here aan God’s regterhand, regeer Hy ons ten goede. Hy is in alle leed steeds tot ons hulp gereed, bewaak die Christendom en waar die vyand kom, stuit Hy die bose woede” (Ges.266:1).
Net voor Jesus se wederkoms gaan die wêreldtoneel drasties verander. Satan gaan losgemaak word om vir ’n baie kort tydjie volke en nasies teen die kerk te laat saamspan. Dit gaan ’n pynlike dog noodsaaklike siftingsproses wees. Baie kerkgangers gaan geweeg en te lig bevind word.
Wanneer hierdie kort tydjie begin weet niemand nie. Dit begin sodra Christus al sy uitverkorenes (ware kerk) vergader het. Die getal uitverkorenes wat by die grondlegging van die aarde af vasgestel is, sal dan vol wees; die simboliese 144,000 van Openb.16.
Hierdie moeilike tyd wat met die loslating van Satan begin, is die groot verdrukking waarvan Jesus in Mt.24 praat. Gelukkig duur dit nie baie lank nie, anders sou niemand gered word nie.
Die leer van die Duisendjarige vrederyk is vreemd aan die Skrif en derhalwe ’n dwaling. Wie dit glo, glo uiteraard nie in een nie, maar twee wederkomste. Hierdie dwaling leer dat Jesus ’n vrederyk op aarde kom stig en vir ’n 1000 jaar daaroor sal regeer. Daarna gaan Hy terug hemel toe om later as Regter te kom oordeel – twee wederkomste! Dis geheel vreemd aan die Skrif. Daarbenewens praat die Skrif nêrens van ’n duisendjarige vrederyk as sodanig nie. Hierdie benaming is ’n suiwer sektariese afleiding sonder ’n greintjie waarheid.
Elkeen wat wil weet hoe die einde gaan wees, moet Mt.24 lees. Jesus gee die presiese volgorde waarin die dinge van die laaste dae gaan verloop. Johannes herhaal dieselfde volgorde in Openb.6. Daar is geen wegraping of duisendjarige vrederyk nie. Dis geen feite nie, maar alles fabels!