Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jesus het alles vir ons kom doen op aarde; selfs sy uitroep: "My God, my God, waarom het U My verlaat?" het beteken dat ons as Christene nooit weer daardie vraag hoef te vra nie!
BLY SUIWER – SKEI AF!
Ds AE vd Berg
" Indien die Boerevolk nog verder deur die smeltkroes moet gaan, sal dit so wees. God suiwer ons gedurig. Een ding is egter seker: Hy laat vaar nooit die werke van sy hande nie! Hy sal die Boerevolk op sy eie tyd in genade aansien en ons verwoeste land herstel. Ons durf egter nie stilsit nie... "
"Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis?" (2 Kor.6:14).
Die Bybel verdeel die mensdom in twee groepe: Gelowiges en ongelowiges. Dis twee wêrelde wat teenoor mekaar staan. In die gelese gedeelte skryf Paulus van die wêreld van die geregtigheid wat teen die wêreld van ongeregtigheid stryd voer en soos lig en duisternis van mekaar verskil. Elke mens is 'n burger van die een of die ander.
Hierdie twee wêrelde bots onophoudelik met mekaar. Die wêreld van die duisternis val dié van die lig gedurig aan. Die vors van die duisternis stel strikke om mense te vang. Gevolglik moet gelowiges gedurig op die uitkyk wees. Sulke aanvalle is gewoonlik uiters subtiel. Satan vernietig die goeie deur dit met die bose te vermeng en uiteindelik te laat verdwyn.
Paulus waarsku teen gelowiges se vermenging met ongelowiges; die heidendom. Onthou, die Korinthiërs was Grieke en eertydse heidene. Hoe lyk heidene? Wesens wat iewers in 'n bos met spiese in die hand en ringe deur hul neus rituele danse om 'n groot ysterpot uitvoer? Nee, dít is barbare.
Heidene is dikwels hoogs beskaafd soos dié in oud-Griekeland. Hulle kom selfs baie aanneemlik voor maar staan God teen. "Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die Here en teen sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp" (Ps.2:2,3).
Nog ’n kenmerk van dié twee wêrelde is dat hulle niks met mekaar in gemeen het nie. Daar is geen raakpunte nie. Daarom staan die heidendom altyd lynreg teenoor die Christendom. In oud-Israel is die vermenging van ongelyksoortige dinge nie toegelaat nie. "Jy mag nie met 'n os en 'n esel tegelyk ploeë nie" (Deutr.22:10). Christene en heidene pas net so min bymekaar soos 'n os en 'n esel in selfde juk. Hulle weë loop uiteen.
Daar is sulke sterk grense tussen gelowiges en heidene, dat kinders van God elke sekonde op hul hoede moet wees vir moontlike vermenging. Onthou, Satan val die goeie aan deur dit met die bose te vermeng. Hy val hulle uit oorde aan waar ’n mens dit die minste verwag - selfs kerke! "Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van die sonde geopenbaar word, die seun van die verderf .....sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is" (2 Thess.2:3,4).
Aan die begin van die Christelike era het die kerk die wêreld inbeweeg. Vandag beweeg die wêreld die kerk binne. Let daarop dat Satan die goeie deur ’n vermenging met die bose vernietig! Hierdie patroon herhaal hom deur die eeue; vernietiging deur vermenging.
Gelowiges moet vreemd aan die wêreld wees. Dwarsdeur die NT dring God by gelowiges op 'n vreemdelingskap-houding. Gelowiges het geen ander keuse nie, hulle moet hul van die bose wêreld afskei. Vermenging met die wêreld beteken 'n terugval uit die verlossing. Dit gebeur tog so maklik. Mense begin goed, maar eindig sleg. "Want Demas het my verlaat, omdat hy die teenwoordige wêreld liefgekry het..." (2 Tim.4:10).
Gelowiges kan die wêreld egter nie vermy nie. Ons is genoodsaak om binne die kader van ’n god-vyandige wêreld te leef. Dis ons enigste leefruimte. Ons deel dit saam met heidene. Ons kan nie, soos sommige Roomse Katolieke, ons van die wêreld onttrek en agter kloostermure skuil nie. Gelowiges moet dan juis sout van die aarde en lig van die wêreld wees (Matt.5:13-16)!
Nogtans durf gelowiges nie met heidene en hul booshede vermeng nie. Alhoewel ons dieselfde woonplek deel en onder dieselfde staatkundige omstandighede leef, moet ons optrede en gedrag geheel anders wees. Die teksvers praat van 'n verskil in etos (ingesteldheid). Paulus pleit nie vir afsonderlike Christelike instellings nie, maar vir ’n duidelik, onderskeidings-gedragslyn binne die kader van wêreldlike instellings. Gelowiges se andersheid moet sigbaar wees, nl. dat hulle in die wêreld, maar nie van die wêreld is nie.
In die gelese Skrifgedeelte volg 'n paar vrae: "want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid?" Geregtigheid is sinoniem met terme uit die volgende paar verse soos "lig", "Christus", "gelowige" en "tempel van God". Ongeregtigheid is sinoniem met "duisternis", "Belial", "ongelowige" en "afgode". Dis twee volstrek verskillende wêrelde wat in skrille kontras met mekaar staan.
Let op die verskil tussen hierdie twee wêrelde. In die wêreld van die geregtigheid staan God sentraal. Die mens is 'n afhanklike. Matt.5:3 sê: "Gelukkig is die mens wat weet hoe afhanklik hy van God is". God is die barmhartige, lewegewende God. Die mens daarenteen is 'n hulpbehoewende wese na wie God moet omsien soos 'n vader na sy kinders.
Teenoor hierdie wêreld staan die wêreld van ongeregtigheid (wetteloosheid) met sy booswigte. God is vir hulle nie die liefhebbende Een nie, maar 'n vyandige maghebber Wie se bande stukkend geruk moet word (Ps.2). Daarom haat goddeloses God se orde.
Die wêreld van die geregtigheid is onderwerping en lewe. Dié van die ongeregtigheid is opstand en selfvernietiging. Mense moet tussen hierdie twee wêrelde kies. Hulle kan nie iets van beide hê nie, want die twee wêrelde het niks met mekaar in gemeen nie. Wie in die een leef, staan buite die ander.
Gelowiges is burgers van die wêreld van die geregtigheid. Hulle was aanvanklik burgers van die wêreld van die ongeregtigheid maar het deur die bloed van Jesus geëmigreer na die wêreld van die geregtigheid. Derhalwe het gelowiges geen gemene saak met mense van die ander wêreld nie. Hulle is anders ingestel met ’n ander troos, lewensuitkyk en deel dus nie die lewensuitkyk van heidene nie.
Die tweede vraag lui: "En watter gemeenskap het die lig met die duisternis?" Lig en duisternis verteenwoordig die wêrelde van God se skeppende goedheid en dié van die chaos-magte onderskeidelik. Van Genesis 1 tot Openbaring 22 sien ons dat lig 'n verskrikking vir die duisternis is.
Wanneer iemand gelowig word, word hy vanuit die duisternis na die lig geroep. Die duisternis is 'n mag wat alle mense in sy greep het totdat God hulle in Christus daaraan ontruk. Slegs waar die lig skyn, is daar lewe. In die duisternis heers slegs die dood. "Die volk wat in duisternis wandel, het 'n groot lig gesien; die wat woon in die land van die doodskaduwee, oor hulle het 'n lig geskyn" (Jes. 9:1)
Die derde vraag lui: "En watter ooreenstemming het Christus met Belial?" Belial is gesien as die god van die onderwêreld. Dit was ook 'n ander naam vir Satan. Christus, die Vredevors, staan teenoor die vors van die duisternis; Oorwinnaar teenoor verloorder met geen raakpunte tussen hulle nie. Wie die een volg, kan nie die ander een ook volg nie. Dit is of Christus of Satan.
Die vierde vraag lui: "...of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige?" Gelowiges hoort by Christus want hulle het 'n besliste keuse vir Hom gemaak. Ongelowiges hoort by Belial. Hulle word deur bose kragte gemanipuleer. Gelowiges is onder beheer van die Heilige Gees en ongelowiges in die mag van Satan .
Die vyfde vraag vat alles saam: "Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode?" Daar is geen raakpunte nie en 'n kompromie ondenkbaar.
Wat staan die burgers van die wêreld van die geregtigheid te doen as mense hul met die wêreld van die ongeregtigheid wil vermeng? Vers 17 antwoord hierop as volg: "Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem".
In Openb. 18:4 ontvang gelowiges 'n soortgelyke opdrag om hul van die valse kerk af te skei: "Gaan uit haar uit my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie” Ná hierdie opdrag volg die belofte: "....en Ek sal julle aanneem". God skaar Hom by gelowiges, maar dan moet hulle heidense besmetting vermy en weier om te vermeng.
In die tyd van koning Josafat het 'n gedugte vyand teen hom opgestaan. Wat getalle betref, het hy nie 'n kat se kans nie. Sy mense was doodbenoud en by hom aangedring om bondgenootskappe met omringende lande te sluit. Josafat het nie daaraan gehoor gegee nie en Juda by die tempel byeen laat kom om hul voor God te verootmoedig waarna God deur ’n profeet met hulle gepraat het: "Wees nie bevrees of verskrik vanweë hierdie groot menigte nie, want die stryd is nie julle saak nie, maar die saak van God" (2 Kron.20:15).
Die stryd aan die suidpunt van Afrika is God se stryd, nie ons s'n nie. Wat hier gebeur, is God se wil. Indien die Boerevolk nog verder deur die smeltkroes moet gaan, sal dit so wees. God suiwer ons gedurig. Een ding is egter seker: Hy laat vaar nooit die werke van sy hande nie! Hy sal die Boerevolk op sy eie tyd in genade aansien en ons verwoeste land herstel.
Ons durf egter nie stilsit nie. Die Bybel sê wat ons moet doen: "(as) my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ek uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees". (2 Kron.7:14). Ons moenie soos miere voor 'n groot reën rond en bont hardloop nie, maar drie dinge doen: Ons verootmoedig, ernstig bid en volksgenote wat nog nie tot bekering gekom het, na Jesus lei. God doen die res. Vertrou Hom!
Die geskiedenis van die Boervolk is die geskiedenis van misplaaste vertroue. Ons het mense i.p.v. God vertrou. God het ’n behae in mense wat Hom onwrikbaar vertrou. "want die Here - sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is..." (2 Kron.16:9).
Daarom sien gelowiges nie kans om hul wêreld van goddelike geregtigheid met dié van heidense ongeregtigheid te vermeng nie. Hulle laat ook nie toe dat hul lig met die duisternis opgeklits word en in ’n reënboognasie verdwyn nie. Die os en die esel sal nooit gelyk trek nie!
Paulus waarsku gelowiges: "Julle kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van die duiwels nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van die duiwels nie" (1 Kor.10:21).
Kom ons verootmoedig ons voor God en bid dat Hy ons sterwende land sal genees.