DAAR ÍS HULP VIR JOU!

Ds AE van den Berg

“My hulp is van die Here wat hemel en aarde gemaak het” - Ps.121:2                                  

Ps.121 is ’n Bedevaartslied, ’n lied wat pelgrims op pad na die groot Joodse feeste in Jerusalem gesing het.   Die Psalm vertel van die gevare op pad.   Ja, daar was destyds ook rowers.   Die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan vertel van ’n Jood wat na ’n rooftog vir dood agtergelaat is.

Vers 1 is nie ’n belydenis van geloof nie, maar eerder ’n uitroep van wanhoop; ’n man wat bang is om op pad te wees.  Hy vertel van die gevaar wat in die heuwels skuil en rowers wat wag om moeë reisigers te beroof omdat die booswigte geweet het dat hulle geld by hulle gehad het.   As so ’n reisiger aangeval is, waar sou hy hulp vandaan kry?   Beroofde mense is dikwels aan hul eie lot oorgelaat.   Mense wou, soos die priester en die Leviet, nie betrokke raak nie. Die Psalmdigter beantwoord sy eie vraag.  Sy hulp kom van God.   Ook ons s’n.

Ons is almal reisigers op die lewenspad, pelgrims na die Nuwe Jerusalem, ons eindbestemming.   Ons pelgrimstog het begin toe ons Jesus as Verlosser aangeneem het en duur voort totdat ons van die lewenspad afklim en ons geloofsvertroue in aanskoue oorgaan.   “Ek is ’n vreemdeling op die aarde; verberg u gebooie nie vir my nie” (Ps.119:19).

Op pad na die Nuwe Jerusalem is ons ook aan rowers uitgelewer wat ons van ons vrede en vreugde wil beroof.    Hoe lyk hierdie rowers?  Een daarvan is sonde.   Daar is sondes wat die vuur van God in ons siele wil blus.   Wat van probleme?    Is dit nie ook ’n rower nie?   Daar is probleme wat ons van die heerlikheid en krag van God wil stroop.  Ja, daar kom tye wat jy so deur probleme omring is, dat jy wonder hoe jy ooit daaruit gaan kom!  Moenie moed verloor nie; hierdie Psalm is net vir jou!

Jy moet egter dieselfde kragbron as die Psalmdigter hê - God!   “My hulp is van die Here wat hemel en aarde gemaak het” In die Psalm vind ons hulp en raad vir ons lewensreis.   Die Psalmdigter wil vir ons sê: Byt vas, hulp is op pad!

Die Psalmdigter weet dat sy hulp nie van die berge kom nie.  In die ou tyd is afgodery op die heuwels en berge bedryf.   Van koning Agas word gesê:  “Ook het hy in elke stad van Juda hoogtes opgerig om vir ander gode offerrook te laat opgaan en die Here, die God van sy vaders, geterg” (2 Kron.28:25).

Afgode help geen mens op sy lewenspad nie, maar verwoes hom eerder.  Daarom wend die Psalmdigter hom tot God vir hulp want as God die wêreld kon maak, het Hy beslis die krag om na hom om te sien.   “En aan Hom wat mag het om te doen vêr bo wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk” (Efes.3:20).

In vers 3 skryf die Psalmdigter dat die Here ons voet nie sal laat wankel nie.   Hy weet hoe maklik ons voor sonde en moedeloosheid kan swig.  God het ons wonderlike beloftes van onderskraging gegee: “….Ek sal jou nooit begewe of verlaat nie” (Heb.13:5).  “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Mt.28:20).

Het God al ooit ’n ding begin wat Hy nie voltooi het nie?   Het God al ooit ’n fondament gelê wat ingegee het?   Hoor wat sê Hy vir die gemeente in Filadelfia:  “….Kyk, Ek het voor jou ’n geopende deur gegee en niemand kan dit sluit nie….” (Openb.3:8).

Daar kom tye in gelowiges se lewe dat hul voel om tou op te gooi en maar in te gee.   Maar waarom het dit nie gebeur nie?  Omdat God ons betyds uit die modderige slyk van moedeloosheid opgetel het.   Dawid het dit ervaar!   “Ek het die Here lank verwag en Hy het Hom na my toe neergebuig en my hulpgeroep gehoor; en Hy het my uit die kuil van vernietiging, uit die modderige slyk opgetrek en my voete op ’n rots gestel….” (Ps.40:2,3).

Gelowiges kan op die Here reken om hul op die lewenspad te help.  Die NT skets God, die Heilige Gees, as ’n Trooster.  “Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei…” (Joh.16:13).   Die Heilige Gees help ons om vas te staan sodat ons nie op die glybaan van moedeloosheid seerkry nie.

God weet dat ons nie net maklik val nie, maar ook maklik aan die slaap raak.   In tye van beproewing raak ’n mens soms so moeg dat jy nie meer waak nie en aan die slaap raak.   Dis hier waar God vir jou tegemoetkom.  Hy is nooit moeg nie, maar wakker om ons by te staan.   Daarom is dit onnodig om bekommerd te wees en selfs slapelose nagte hê.   God is altyd wakker en waak oor jou.   Jeremia kon in sy grootste nood toe hy saam met sy volksgenote in ballingskap gegaan het, uitroep: “Die Here is my deel, sê my siel, daarom sal ek op Hom hoop” (Klaagl.3:24).

Tydens die Tweede Wêreldoorlog is Londen een nag hewig gebombardeer.  Ná die lugaanval het die inwoners ’n ou tannie vermis en haar later in haar bed vas aan die slaap gevind.  Toe hulle haar vra hoe sy te midde van die gevaar kon slaap, het sy geantwoord:  “Omdat die Bybel sê dat die Bewaarder van Israel nie sluimer of slaap nie, het ek maar gaan slaap.  Dit was nie nodig vir beide van ons om wakker te bly nie!”

In vers 5 skryf die Psalmdigter dat die Here ons skaduwee aan ons regterhand is.  In die ou tyd het soldate twee dinge na die gevegsfront geneem – ’n swaard en ’n skild; ’n skild in die linker en 'n swaard in die regterhand.   Omdat daar geen skild was om die regterkant te beskerm nie, is dit onbeskermd gelaat.   Die Psalmdigter sê dat God ’n berekende, verdedigende houding inneem om ons daar waar ons die kwesbaarste is, te beskerm.

Die slegte ding is dat ons nooit weet vanwaar aanvalle kom nie.   Ons bevind onsself soms op lewensgebiede waar ons baie kwesbaar is en ons vyande weet dit!    Ons word ook soms op gebiede aangeval waar ons dink dat ons sterk is.  Elia was bekend vir sy moedigheid in die geloof, maar moes desondanks vir ’n vrou (Isebel) vlug!   Moses se grootste deug was sagmoedigheid.  Desondanks het hy die rots geslaan en kon gevolglik nie Kanaän ingaan nie.    Abraham se krag was sy geloof in God.   Desondanks het hy uit vrees vir sy lewe in Egipte voorgegee dat sy vrou sy suster is.   Feit bly staan: Ons word aangeval sonder om altyd te weet vanwaar die aanval kom!    Dis hier waar God ons tegemoetkom.   Hy word nooit onverhoeds betrap nie en is altyd daar om ons te beskerm en te bemoedig.

In vers 6 skryf die Psalmdigter dat God ons ook van natuur-elemente bewaar en meld twee van die gevare waarmee daar rekening gehou moes word: son- en  maansteek.  Sonsteek is ’n gevaarlike toestand waar die liggaam oorverhit en tot stilstand kom.   Dit kan die dood veroorsaak.   Maansteek is deur die oumense as net so gevaarlik beskou.    Dit het egter nie die liggaam nie maar die verstand geraak.   Mense het geglo dat sielsieke toestande deur die maan veroorsaak is.   Mt.17 vertel van ’n man wat vir Jesus sê: “Here, ontferm U oor my seun, want hy is maansiek en ly swaar…” (:15).  Dis waar die Engelse term lunatic vandaan kom vir iemand met ’n psigiese versteuring.

Die Psalmdigter sê dat God ons van innerlike en uiterlike vyande bewaar.   Of die aanvalle openlik of geheimsinnig, in die dag of gedurende die nag is, God is altyd daar om jou te bewaar en jou krag vir die stryd te gee.  Jy kan na Hom vlug:  “Hy sal jou dek met sy vlerke en onder sy vleuels sal jy skuil.; sy trou is ’n skild en ’n pantser” (Ps.91:4).

In vers 7 sê die Psalmdigter dat God ons van onheil bewaar.   Ons is soos ’n vulkaan wat enige oomblik kan uitbars.  Ons kan elke denkbare sonde begaan.  Ons is van nature bedorwe: “Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie,; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie” (Rom.7:18).

Kan ’n mens ooit reg vir God leef?  Ja, jy kan.  Daarvoor het ons die Heilige Gees nodig.   As ons tot bekering kom, neem Hy sy intrek in ons.   Ons glo nie soos die Charismate dat die Heilige Gees eers later kom nie.   Hy kom in ons woon en gee ons al die hulpmiddels om versoeking te weerstaan, d.w.s. vir sonde nee te sê. “Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ’n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle  kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan verdra” (1 Kor.10:13).

Hoe maklik is dit nie om te sondig nie!   Dit verg geen moeite nie, want ons is so gebore, ons hele menswees neig in daardie rigting, ons geniet sonde en is goed daarmee.   Desondanks help God ons om dit te oorwin indien ons die begeerte in ons harte het.  In vers 8 sê die Psalmdigter dat God ons vir ewig sal bewaar.  In Jesus is ons vir ewig bewaar.   Dit is ’n kosbare waarborg!

Ons is pelgrims op pad na die Nuwe Jerusalem en het al hierdie beloftes vir ons lewensreis.   Daar is ’n lewende God in die hemel wat belang stel in alles wat met my gebeur.   Ek moet Hom net met my lewe vertrou.  Dis my grootste verpligting want geloof is vertroue en sonder geloof kan niemand God behaag nie.    Hy sien na my om al is ek so moeg vir die lewe dat ek kan sterf. “Kom na My toe almal wat vermoeid en belas is en Ek sal julle rus gee” (Mt.11:28).