HEILIGE HAAT

Ds AE van den Berg

Ps.139

"As jy sê dat jy God liefhet, durf jy nie sy vyande liefhê nie, want dan weerspreek jy jouself!    ’n Lojale onderdaan sal nooit vriendelik met sy koning se vyand wees nie.   Die koning sal dit as verraad beskou."

Leuens is nie noodwendig die grootste vyand van die waarheid nie.  Mites rig soms groter skade aan, veral as dit in kerke aanvaar word.    Een van die gewildste kerklike mites is die mite dat Christene verplig is om alle mense ongekwalifiseerd lief te hê.   Dit staan nêrens in die Bybel nie!   Hoor wat skryf Dawid, die man na God se hart: “HERE, sou ek nie dié haat wat vir U haat en ’n afsku hê van die wat teen U opstaan nie? Ek haat hulle met ’n volkome haat; vyande is hulle vir my!” (Ps.139:21,22).

Heilige haat is so Skriftuurlik soos Jesus se opdrag om die Evangelie te verkondig.   Nogtans swyg die meeste kerke hieroor omdat dit geen gewilde onderwerp is nie.   Daarbenewens het die liberale teologie mense al so gebreinspoel om almal lief te hê, dat dit as Evangelie aanvaar word!

Wat moet ek as ’n gelowige doen indien ’n dwaalleraar opstaan en die basiese leerstellings van die Christelike geloof verwerp, mense mislei en aanhang verkry.   Moet ek maar ander pad kyk, verdraagsaam wees en hom liefhê?   Wat moet ek maak as ’n persoon openlik teen God laster?  Moet ek maak asof ek niks gehoor het nie en hom liefhê of mag ek hom haat?

Verreweg die meeste mense glo dat jy mense ongeag hul dade moet liefhê.  Sê Jesus dan nie in die Bergrede dat jy jou vyande moet liefhê nie?   Dis waar.   Jy moet jou vyande liefhê, maar nie God s’n nie.  Mense skeer God se vyande en hul eie vyande onder dieselfde kam.  Nee, dis nie een en dieselfde ding nie.  God se vyande is een ding en jou eie vyande ’n ander ding.

Ps.139 en ander Skrif gedeeltes wat oor heilige haat handel, word geminag.  Diegene wat waag om dit op te haal, word aangekyk soos ’n bord kos wat nie bestel is nie.   Nogtans staan dit in die Bybel!   Hoe nou?

Liberale teoloë sê dat hierdie Skrifgedeeltes tot die OT hoort en dat die gedagte-gang baie van dié van die NT verskil.   Dis glo die persoonlike gevoelens van die skrywer en moet derhalwe nie as geïnspireerde woorde geag word nie.  So ’n siening bring die hele inspirasie van die Skrif in gedrang!  Nee, Ps.139 en aanverwante Skrifgedeeltes is net so geïnspireer as die Bergrede en die res van God se Woord.

Gelowiges moet onbevange na die Woord van God luister soos dit opgeteken is en hul nie deur vrysinnige menings laat meevoer nie.  Dis ’n set van die Satan om die pad vir allerlei booshede in die kerk oop te maak.  Gelowiges word juis opgeroep om te waak en te bid.   Satan kom nie met weermagstewels op die kerk afgemarsjeer nie, maar op die punte van sy tone.   Die hartseer toestand waarin die kerk haar tans bevind, is juis daaraan toe te skryf dat sy wel gebid, maar nie gewaak het nie!

Die haat waarvan Dawid praat, is werklike haat, die teenoorgestelde van liefde.  Dis nie “mindere liefde” nie.  Dawid sê nie: “Here, sou ek nie die minder liefhet wat U nie liefhet nie…”maar “HERE, sou ek nie dié haat wat vir U haat …” Dawid se haat staan nie los van God se haat nie.  En dis wat heilige haat so anders as menslike haat maak.

Verder sê Dawid: “Ek haat hulle met ’n volkome haat; vyande is hulle vir my!” Volkome haat is ’n haat wat nie deur sonde aangetas is nie.   Is dit moontlik om te haat sonder om te sondig?  Ja, as jy die vyande van God haat.   Daarom word dit heilige haat genoem.  Dis anders as menslike haat - dis goddelike haat.   Menslike haat is vol emosies, afguns en wraak, maar nie heilige haat nie.

Heilige haat is in lyn met heiligmaking.   Luister wat bid Dawid in die daarop volgende verse:  “Deurgrond my, o God en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ’n weg is van smart en lei my op die ewige weg!” (:23, 24).

Wanneer gelowiges die vyande van God haat, betuig hulle hul liefde en eerbied vir God.   As jy sê dat jy God liefhet, durf jy nie sy vyande liefhê nie, want dan weerspreek jy jouself!    ’n Lojale onderdaan sal nooit vriendelik met sy koning se vyand wees nie.   Die koning sal dit as verraad beskou.   Wie diegene wat teen God in opstand kom haat, het God waarlik lief.

Dit wat God walg, moet ook sy kinders walg.   Dit sal vermetel wees om God se vyande lief te hê, want dan wil jy God korrigeer.   God straf mense wat slimmer as Hy wil wees: “Want kyk, die dag kom en dit sal brand soos ’n oond.  Dan sal al die vermeteles en almal wat goddeloosheid bedrywe, ’n stoppel wees; en die dag wat kom, sal hulle aan die brand steek” (Mal.4:1).

Wie glo dat God almal liefhet en niemand haat, is uit pas met God se geregtigheid en die Skrif wat duidelik sê dat God sekere mense haat:   In Rom.9 haal Paulus die profeet Maleagi aan:  “Soos geskrywe is: Jakob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat”(:13).  Dawid bid in Ps.139:19: “o God, as U tog maar die goddelose wou ombring!” Hy weet dat God die goddelose gaan vernietig, maar wens dat dit onmiddellik kon wees.

By geleentheid het Jesus op ’n Sabbat in die sinagoge ’n man met ’n verdorde hand genees en die vyandskap van die Joodse kerklui op Hom getrek het.  Dit het Jesus kwaad gemaak:  ”En nadat Hy hulle rondom met toorn aangekyk het en tegelykertyd bedroef was oor die hardheid van hul hart…” (Mark3:5).

Die vyande van God is mense van vlees en bloed.  God haat nie net hul sonde nie, maar ook hul persoon.     Daar word allerweë gesê dat God die sonde haat maar die sondaar liefhet.   Dis net op gelowiges van toepassing.  In hierdie lig moet ons ook Joh.3:16 verstaan: “Want so liefhet God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar ewige lewe kan hê”.

Dis ’n leuen dat God slegs die sonde haat.   Gaan God miskien net die sonde, maar nie die sondaar in die hel werp nie?  Jy kan ’n sondaar nie van sy sonde losmaak nie.  Dit sit aan hom vas en bevlek sy hele lewe.  Net die bloed van Christus was dit skoon: “….en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde” (1 Joh.1:7).

Wat doen God se vyande ?   Hulle verag Hom openlik en probeer sy Koninkryk op aarde te vernietig:  “Die konings van die aarde staan gereed en die vorste hou saam raad teen die Here en teen sy Gesalfde sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp” (Ps.2:2,3).   Die vyande van God vloek Hom, verag Jesus en stook geweld.   Daarom noem Dawid hulle “manne van bloed” .  God haat sulke mense!

Die hoofrede vir Dawid se haat is dat sulke mense God haat.   Hy plaas hierdie haat bo sy eie haat.   Hieruit leer ons iets baie belangrik - heilige haat is nie vleeslik, selfsugtig of persoonlik soos menslike haat nie.   Die vyande van God doen ons as sulks nie fisiese leed aan nie.  Hul optrede teen God maak wel ons gees seer.   Maar dit gaan in hoofsaak nie om dit wat hulle my aandoen nie, maar dit wat hulle my God aandoen!    Hulle optrede roep nie om wraak nie.  God vergeld: “My kom die wraak toe en die vergelding…” (Deut.32:35).

Kom ons keer terug na Jesus se opdrag in die Bergrede: “Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê; seën die wat julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat en bid vir die wat julle beledig en vervolg” (Mt.5:44).   Strook dit met heilige haat of weerspreek die Bybel homself?  Nee, die OT en NT staan nie teenoor mekaar nie, maar is beide deel van die Woord van God.

Die vyande waarvan Jesus praat, is mense wat persoonlike wrokke koester.  Ons moet tussen die vyande van God en ons eie vyande onderskei.  Ons moet ons eie vyande kan liefhê, maar nooit God s’n nie.   Ongelukkig gebeur die teenoorgestelde in vrysinnige kringe – mense haat hul vyande, maar het God s’n lief.   Ons sien dit in die toenemende verdraagsaamheid jeens dwaalleer en afgodery.

Kom ons vra onsself die vraag af:  Het ons God werklik lief soos dit kinders van God betaam?   Tree ons nog vir God in die bresse as sy heiligheid en Naam onteer word?   ’n Kind van God haat almal wat die God wat hy liefhet, haat. Hy is ’n vyand van die vyande van sy God soos Dawid sê:  “Ek haat hulle met ’n volkome haat; vyande is hulle vir my!”

Heilige haat is nie iets wat in die geheim gedoen word nie.  Die wêreld moet kennis daarvan neem deur eerstens openlik vir hulle te sê: Julle is my vyande! Dis ’n geloofshandeling soos toe Elia die Baal-profete op Karmel laat slag het (keel-af laat sny het).   Dit was niks anderste as heilige haat nie!    Tweedens moet gelowiges hul openlik van hulle afskei: “gaan van my af weg” (:19) en derdens hulle geselskap vermy: “…en moet ook nie met die sondes van ander gemeenskap hê nie. Hou jou rein” (1 Tim.5:22).

Dit geld ook vir die kerk.  Die liggaam van Christus het geen gemeenskap met die vyande van God nie.  Die kerk mag nie by ’n God-vyandigheid betrokke wees, hetsy geldelik of ondersteunend nie.   Luister wat sê die siener Jehu vir koning Josafat toe hy die goddelose Agab teen die Arameërs gehelp het: “…Moet ’n mens die goddelose help en het u lief die wat die Here haat?  Daarom kom daar nou ’n toorn op u van die Here” (2 Kron.19:2).

Gelowiges glo in die gemeenskap van die heiliges.  Hulle knoop slegs met diegene wat God eer vriendskap aan en nie met God se vyande nie.  God se vriende is my vriende en sy vyande my vyande.  Wie anders dink, is geestelik stiksienig, verdedig nie die eer van God nie en tree derhalwe nie sterk op nie.   Dit laat die verskil tussen deug en ondeug onder voorwendsel van broederliefde vervaag.

Ek haat al God se vyande met ’n volkome haat en skaam my nie daaroor nie.  Ek is eerder trots daarop.  Ek beskou dit as ’n geestelike deug wat van my liefde en ontsag vir God getuig.   Verder beskou ek dit as my Christelike plig om ander gelowiges lief te hê.   Indien ek God se vyande sou liefhet, maak ek my aan ’n vergryp teen God skuldig.

As ek iemand sou haat omdat hy my persoonlik benadeel het, is dit sonde, maar om iemand te haat omdat hy ’n vyand van alle goedheid en derhalwe ook van my God is, beskou ek as ’n verpligting.    Hoe meer ek God liefhet, hoe meer haat ek hulle wat teen Hom opstaan.    Daarom beskou ek heilige haat as ’n opdrag.   Laat elkeen wat God minag ’n vervloeking wees!