Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Nadat die Fariseërs Jesus probeer versoek het met die vraag of hulle belastings aan die keiser behoort te betaal, het Hy hulle geantwoord: 'Betaal aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom'. Want die keiser se kop was op die muntstuk en kon hy maar sy regverdige deel kry. Nou is die vraag of ons aan God betaal wat Hom toekom: nie net ons tiendes in geldvorm nie, maar Hy vra ook 'n tiende van ons tyd in diens van Hom. Maar in die lig daarvan dat alles aan God behoort, maak dit sin dat jy met dít wat Hy aan jou toevertrou het, sal doen wat Hy wil hê en nie wat jý wil hê nie.
BOSE GEESTE 'N WERKLIKHEID?
Ds AE van den Berg
Lees reeks by Aktuele geloofsonderwerpe: Ds AE vd Berg
Bestaan daar werklik iets soos bose geeste (demone)?
Ja, daar is, miljoene van hulle! Hul oorsprong is ’n interessante dog hartseer verhaal wat by die val van Satan begin. Alhoewel die Bybel nie ’n volledige verslag van dié gebeure gee nie, vind ons dit broksgewys om soos ’n legkaart aanmekaargesit te word.
Satan was ’n baie gewilde leier wat byna koninklike waardigheid geniet het. Desondanks was Christus, God se geliefde Seun wat voor die skepping van engele alreeds daar was, meer voortreflik; iets waarop die Satan mettertyd baie jaloers geraak het.
Toe God by geleentheid die engele bymekaar laat kom, het Hy uitsonderlike eer aan Christus betoon deur Hom saam met Hom op sy troon te laat sit. Die Psalmdigter vertel ons iets hiervan: “Ek wil vertel van die besluit: Die Here het aan My gesê: U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer” (Ps.2:7).
In Hand.13:33 haal Paulus dieselfde teks tydens sy optrede in die sinagoge van Antiochië aan. Luister wat skryf die skrywer van Hebreërs: “Want aan wie van die engele het Hy ooit gesê: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer?” (1:5). Genereer beteken: Ek het jou vader geword.
Satan was jaloers op Christus omdat al die engele voor Hom gebuig en sy gesag oor hulle erken het. Satan het geglo dat hy God se gunsteling was en hom as’t ware met God gelykgestel. Gevolglik het hy die onmiddellike teenwoordigheid van God gebelg verlaat en die engele ingelig dat hy nie verder voor Christus sou buig nie. Dit het groot verdeeldheid onder die engele gebring.
Satan het baie simpatiseerders gehad, engele wat hul vir ’n hervorming van God se regering in die hemel beywer het. Gevolglik het hulle teen die gesag van Christus in opstand gekom. Die res van die engele het hul egter aan Christus onderwerp. Hy was immers voor enigeen van hulle daar.
Daarbenewens was dit nooit nodig om Christus se liefdevolle gesag te bevraagteken nie. Sy bevele was ’n lus om uit te voer en ’n vreugde om Hom te gehoorsaam. Miskien het hulle by Satan gaan pleit om hom te besin, maar hy het nie. Dit het elke engel voor ’n keuse te staan laat kom wie hy wou dien; Christus of Satan. ‘n Derde van die engele het Satan verkies. Johannes skets Satan as ’n vuurrooi draak: “en sy stert het die derde van die sterre van die hemel meegesleep en hulle op die aarde gegooi” (Openb.12:4).
Satan en sy trawante het hulle egter lelik met God se krag misreken. As Hy engele kon skep, kon Hy hulle ook straf! Om teen sy regering in opstand kon kom, was vermetel en ’n gruwelike misdaad.
Daarna het God al die engele byeen geroep en die ongehoorsames aangesê om hul hemelse woonplek te verlaat en hul op die aarde neergewerp. “En die engele wat hul eie beginsel nie bewaar het nie, maar hul eie woning verlaat het…” (Judas: 6). Daarna was dit rustig in die hemel.
Hierdie gevalle engele is die bose geeste en ’n werklikheid wat nie wegredeneer kan word nie. Talle geleerdes ontken hul bestaan en maak dit as mites en spookstories af. Die feit dat die Bybel van Satan en bose geeste praat, word gesien as verhale wat vir die mense van daardie tyd aanvaarbaar was en nie meer vandag nie. Die kultuur van die tyd bepaal dus wat aanvaarbaar is en nie! Die geloof dat daar ’n God is, is vir die moderne mens nog aanvaarbaar, maar nie die bestaan van ’n duiwel en bose geeste nie. Mense het dit soos die bestaan van Kersvader en die tandemuis ontgroei!
Vir gelowiges spreek die Bybel die finale woord hieroor. Dis ons belangrikste bron van inligting oor die oorsprong van boosheid in die wêreld. Onthou, elke woord in die Bybel is deur die Heilige Gees geïnspireer. “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid” (2 Tim.3:16). Daarom luister ons met aandag na wat die Bybel oor die oorsprong en teenwoordigheid van bose geeste sê.
Die Bybel vertel by etlike geleenthede dat Jesus met bose geeste afgereken het. Dis werklike geskiedkundige gebeure en nie stories om ’n ouderwetse kultuur ter wille te wees nie. Daarbenewens is die Bybelse waarhede nie op enkele tekse gegrond is nie, maar op die hele Skrif. Die Bybel is baie duidelik oor die bestaan van boosheid en skryf dit aan die optrede van Satan en gevalle engele toe.
Die werklike bestaan van bose geeste kan ook in die doel van Jesus se koms na die aarde gesien word. Hy het na die aarde gekom om sy koninkryk te vestig. “In daardie dae het Johannes die Doper opgetree en in die woestyn van Judea gepreek en gesê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Mt.3:1, 2). “Maar as Ek deur die Gees van God die duiwels uitdryf, dan het die koninkryk van God by julle gekom” (Mt.12:28). Die oorwinning oor bose geeste is ’n bewys dat sy Koninkryk op aarde gevestig is.
Toe Jesus die dissipels op ’n eerste sendingtog uitstuur, sê Hy vir hulle: “En gaan preek en sê: Die koninkryk van die hemele het naby gekom. Maak siekes gesond, reinig melaatses, wek dooies op, dryf duiwels uit…” (Mt.10:7,8). God se heerskappy het oral waar Hy die mag van die Bose gebreek het, sigbaar geword. Jesus se uitdrywing van bose geeste het baie sterk daarvan getuig.
Johannes skryf in sy eerste Sendbrief dat die wêreld in die mag van die bose lê. Dis egter nie ’n hopelose saak nie. Daar is Een wat sterker as die Satan is en hom oorwin. Satan veroorsaak talle siektes, pyn, lyding en gebondenheid. Dis hoe sy koninkryk lyk. As iemand daarvan bevry word, verloor hy!
Wie die werklike bestaan van bose geeste ontken, wil ’n kernelement van die Christelike geloof verwyder. “Hy wat sonde doen, is uit die duiwel, want die duiwel sondig van die begin af. Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek” (1 Joh.3:8).
Die Bybel sê dat die binding wat bose geeste op mense het, ’n bewys van die Satan se heerskappy in die wêreld is. Oral waar dit gebreek word, word Jesus se koninkryk op aarde ’n groter werklikheid.
Alle gelowiges was aanvanklik burgers van Satan se koninkryk en geestelik dood. Toe hulle tot die geloof in Christus gekom het, het hulle van burgerskap verander: “En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes waarin julle tevore gewandel het…volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk” (Efes.2:1,2).
Dit beteken nie dat hulle onaantasbaar is nie. Gelowiges is uiters bewus van die gevaar wat Satan en sy bose geeste inhou. Luister hoe leer Jesus die dissipels o.a. bid: “…en verlos ons van die bose”. (Mt.6:14). As bose geeste nie ’n werklikheid is nie, maak hierdie gebed geen sin nie!
Satan stuur sy bose geeste om mense te bind. Afgodery en afgeleide praktyke soos spiritisme, fortuinvertellery, sterrewiggelary, waarsêery, voorvadergees-aanbidding en hul tradisionele genesing en is maar enkele voorbeelde hiervan. Alle afgodery is met bose geeste besmet: “Daarom, my geliefdes, vlug vir die afgodediens…..Ek wil nie hê dat julle met die duiwels gemeenskap moet hou nie” (1 Kor.19:14,20).
Die Bybel vertel van besetenes en die simptome daarvan. Besetenheid skep fisiese gebreke soos stomheid, epileptiese aanvalle, blindheid ens. Bose geeste laat mense selfs vreemde dinge doen. In Hand.16 word van ’n slavin vertel wat wat toekomstige dinge bekend kon maak. Die besetene van Gadara het oor bo-menslike krag beskik. Toe Saul van God afvallig geword het, het ’n bose gees hom neerslagtig gemaak en ’n moordlus in hom laat ontbrand om Dawid dood te maak. Alles getuig van ongewone gedrag.
Naas fisieke en emosionele versteurings is daar ook geestesversteurings waar te neem soos onversetlikheid om te vergeef : “Aan wie julle iets vergewe, vergeef ek ook….sodat ons nie deur die Satan bedrieg wou word nie, want ons is met sy planne nie onbekend nie (2 Kor.2:10,11).
Nog ’n kenmerk van bose geeste is die verkondiging van dwaalleer rakende Jesus se versoeningswerk: “Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan….en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie; en dit is die gees van die Antichris…” (1 Joh.4:1,3).
Die belangrike vraag is: Kan gelowiges besete raak? Nee, hulle kan slegs beïnvloed word soos Petrus toe hy Jesus verloën het; beïnvloed, nie beset nie. Nêrens in die Bybel is daar ’n voorbeeld van ’n gelowige wat besete geraak het nie. Die rede hiervoor is dat die Heilige Gees in so ’n mens is. Paulus sê iets baie belangrik wat God vir gelowiges doen “wat ons ook verseël het en die Gees as onderpand in ons harte gegee het” (2 Kor.1:22). Ons is vir God verseël. Nie eens Satan kan ons uit sy hand ruk nie. “En Ek gee hulle die ewige lewe en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie en niemand sal hulle uit my hand ruk nie: (Joh.10:28).
Die Bybel sê nie vir ons hoe mense besete raak nie. Daar is baie maniere. Al wat ons weet, is dat die herhaling van ’n bewustelike sonde wel die pad vir ’n bose gees oopmaak om in ’n lewe in te stap. Okkultiese materiaal en speletjies soos die glasie-speletjie is bitter gevaarlik. Daarmee word bose geeste letterlik uitgenooi om hul opwagting te maak. Wie nie met Satan handel wil dryf nie, moet uit sy winkel wegbly!
Die Skrif lê ’n duidelike verband tussen afgodsdiens en bose geeste: “Hulle het aan die duiwels geoffer, wat nie-God is, gode wat aan hulle nie bekend was nie; nuwes wat kort gelede opgekom het, vir wie julle vaders nie gehuiwer het nie” (Deut.32:17).
Vermy alle afgodsdiens omdat dit tot besetenheid kan lei. Blankes raak toenemend by Oosterse afgodsdiens en skadelike on-Bybelse leerstellings betrokke. Dit laat mense ’n ongesonde bekoring vir duiwelskunste ontwikkel. Bly weg daarvan! Waarsku mense daarteen! Gelowiges het vir Satan eintlik net een ding te sê: “Christus het jou alreeds oorwin en met die oordeel sal jou mag sal finaal gebreek word!”