Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As jy nie iets kan sê wat tot die eer van God bydra nie, bly liewer stil. Mense het al dikwels spyt gekry oor hulle woorde maar nie oor hulle stilswye nie.
WAT WORD VAN 'N SELF- MOORDENAAR SE SIEL?
SELFMOORD
Ds AE vd Berg
Lees reeks by Artikels: Ds Andrè vd Berg
"Ons kyk een baie belangrike punt mis: Dit gaan nie oor die manier waarop die persoon gesterf het nie, maar oor hoe hy geleef het."
Skrif: 1 Sam.31:1-5; Mt.27:1-5
Daar is min dinge wat ’n familie of vriendekring so ruk soos selfmoord. Prof. Lourens Schlebush van die departement van gedragsgeneeskunde aan die Universiteit van Natal het bevind dat 8000 mense per jaar in Suid-Afrika selfmoord pleeg. Dit kom op 667 per maand, 154 per week en 22 per dag neer!
Talle mense het tydens die afgelope Kerstyd selfmoord gepleeg omdat die emosionele put waarin hulle te midde van die uitbundigheid van feesgangers verkeer het, net te diep geword het. Wat word van die siel van ’n selfmoordenaar?
Selfmoord kom nie net onder ongelowiges voor nie. Een van die hartseerste werklikhede van die lewe, is dat dit ook onder gelowiges voorkom. Wat word van so ’n mens se siel? Wie sê die Bybel?Die Bybel lewer geen direkte uitspraak oor selfmoord nie. Dit maak wel van vier spesifieke persone melding wat selfmoord gepleeg het – Saul (1 Sam.31), die verraaier Agitofel (2 Sam.17:23), die samesweerder Simri (1 Kon.16:18) en, die bekendste van almal, Judas Iskariot (Mt.27:5).
Wat gebeur met ’n gelowige se siel indien hy selfmoord pleeg? Die meeste mense beskou selfmoord as ’n onvergeeflike sonde en glo dat so ’n persoon hel toe gaan. Ek wil radikaal van so ’n siening verskil!
Laat ek twee gevalle skets. Piet is ’n gelowige en kom in ’n ongeluk te sterwe omdat hy die spoedgrens oorskry het. Koos is ook ’n gelowige, raak baie neerslagtig en pleeg op ’n dag selfmoord. Beide het deur hul eie toedoen gesterf. Daar is in werklikheid geen onderskeid nie. Nogtans sal meeste mense sê dat Piet hemel en Koos hel toe is.
Wat gebeur met enige ’n gelowige wat sterf? Hy is op grond van sy bekering gered. Dit beteken dat sy sonde vergewe en hy saam met Jesus in die paradys is. As ons Jesus se verlossingsboodskap reg verstaan, hou geen sonde, hoe groot ook al, ’n gelowige uit die hemel nie. Nie eens selfmoord nie!
Selfmoord is ’n vorm van moord en derhalwe ’n verbreking van die sesde gebod. Enigeen wat ’n lewe neem, behalwe uit selfverdediging of ter beskerming van iemand se lewe, oortree die sesde gebod.
Daar is nie klein en groot sondes in die sin dat sommige minder sondig as die ander is nie. Alle sondes is ewe sondig. Sekere sondes het wel ernstiger gevolge en verdien daarom groter veroordeling. In die gelykenis van die waaksame dienskneg in Luk.12 sê Jesus: “En daardie dienskneg wat die wil van sy heer geken het en nie klaargemaak of volgens sy wil gedoen het nie, sal met baie slae geslaan word; maar hy wat nie geweet het nie en gedoen het wat slae verdien, sal met min slae geslaan word…” (:47,48).
Al leef gelowiges ook hoe vroom, is hulle steeds sondaars. Deur die bekering word ons van slegs van die bindende mag en uiteindelike oordeel van sonde verlos. Dit as sodanig waarborg ons hemelse erfenis wat ons as dankbare, verloste mense met ’n innige begeerte om nie te sondig nie, laat leef. Geen sonde hou ’n kind van God uit die hemel nie, nie eens selfmoord nie! “Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie” (Joh.6:37).
Baie mense glo dat selfmoord hierdie genade laat verval. Daar is geen Bybelse gronde daarvoor nie. En maal kind van God, altyd kind van God. Selfmoord is nie ’n onvergeeflike sonde nie. Die enigste onvergeeflike sonde is om te weier om Jesus se genade-aanbod te aanvaar. Dit laat mense in die hel beland. God dwing niemand om sy genade-aanbod te aanvaar nie.
Ons leef in ’n gebroke wêreld en is nie teen die gevolge daarvan gevrywaar nie. Daarom ly gelowiges ook aan depressie en pleeg soms selfmoord. In baie gevalle is dit ’n chemiese wanbalans wat die gesonde werking van hul brein beïnvloed het. Desondanks sny dit hulle nie outomaties van God af nie.
Al is gelowiges van die mag van sonde bevry, is hulle nie teen die invloed daarvan gevrywaar nie. ’n Gelowige met vaste geloofsekerheid kan so deur sy omstandighede oorweldig word, dat hy op ’n stadium sy eie lewe neem. So ’n optrede verskoon of regverdig nie die daad nie. Hy het verkeerd opgetree en nie op God vertrou soos wat hy moes nie. “Geen versoeking het julle aange-gryp behalwe ’n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra” (1 Kor.10:13). Om op grond hiervan ’n verdoemende uitspraak oor iemand se redding te maak, is onvanpas. Die Bybel durf nie goedsmoeds ingespan word om mense te veroordeel nie!
Daar is baie faktore wat ’n rol in selfmoord speel. Om te wonder of so ’n persoon hemel toe gaan of nie, is om te wonder of hy gered was of nie. Selfmoord beïnvloed nie gelowiges se redding nie. Dit as sodanig laat hulle nie verlore gaan nie. Ons kyk een baie belangrike punt mis: Dit gaan nie oor die manier waarop die persoon gesterf het nie, maar oor hoe hy geleef het. Het hy ooit tot bekering gekom? Was hy ’n gelowige?
Selfmoord is teen die wil van God. Die Bybel slaan die lewe enersyds hoog aan omdat dit van God kom. Andersyds is die dood deel van mens-wees. Ons leef elke dag daarmee saam. In Ps.18:5 sê Dawid: “Bande van die dood het my omring en strome van onheil het my oorval”
Die meeste van ons ken nie die donkerte van depressie waarmee baie gelowiges sukkel nie. Luister na Elia toe hy vir sy lewe moes vlug en onder ’n besembos gaan lê en tot God gebid het: “Dit is genoeg, neem nou my siel weg, Here, want ek is nie beter as my vaders nie” (1 Kon.19:4). Ja, depressie vat jou die woestyn van die lewe in waar jy wens om te sterf! Dis in sulke tye wat mense baie begrip en ondersteuning nodig het. ’n Gebrek daaraan kan net die laaste druppel wees wat die emmer laat oorloop.
Dis duidelik dat Job ook met depressie geworstel het en ook die dood begeer het. Ja, daar kom ’n punt in sommige gelowiges se lewe waar hulle die dood bo die lewe verkies omdat dit na ’n welkome ontvlugting lyk. Dit is en bly egter ’n onnatuurlike toestand. Die dood skreeu teen die mens se natuur want ons sterkste drang is om te lewe.
Is mense wat selfmoord pleeg swakkelinge? Ja, beslis! Hulle het ’n laagtepunt in hul gees en geloof bereik. Dit getuig nie van krag nie! Dat dit moed verg om selfmoord te pleeg, is waar. Moet egter nooit moed met krag verwar nie.
Is ’n selfmoordenaar ’n mislukking? Ja, beslis! “Want niemand van ons leef vir homself nie en niemand sterf vir homself nie” (Rom.14:7). Jou lewe en jou dood raak ook baie ander mense. Selfmoord los geen situasie op nie. Dit skep eerder oneindig meer probleme vir diegene wat agterbly. Daarbenewens bring dit ergerlike skuldgevoelens oor naasbestaandes.
Sondig ’n selfmoordenaar? Ja, beslis! Dis moord op jouself. Maar laat ons een ding baie mooi verstaan: Geen mens gaan hemel toe omdat hy nie gesondig het nie terwyl ’n ander een hel toe omdat hy gesondig het nie. ’n Mens gaan hemel toe omdat hy Jesus as Verlosser aanvaar het. Ek gaan nie hel toe bloot omdat ek gesondig het nie, al is dit ook die laaste oomblik van my lewe. Ek gaan hel toe omdat ek God se genadige aanbod nie aanvaar het nie.
God is ’n genadige God wat ons swakhede beter as onsself verstaan. Ook die gelowige wat tydens ‘n geestelike en emosionele laagtepunt sy eie lewe neem. God se genade is baie groter as enige sonde wat ons in swakheid begaan.
Die Bybel sê dat niks gelowiges van die liefde van God kan skei nie. “Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenswoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal skei van die liefde wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie” (Rom.8:38,39). Selfmoord is een van die baie sondes waarvoor Jesus gesterf het!
Karl Barth het iets veelseggend oor selfmoord en sonde gesê. Hy het gesê dat hoogmoed die grootste sonde in God se oë is. Dit was die heel eerste sonde en het Satan die hemel gekos. Barth het gesê dat selfmoord die sonde is wat die vêrste van hoogmoed verwyder is omdat ’n selfmoordenaar op ’n laagtepunt verkeer en geen hoogmoed of eiewaan ervaar nie. Daarom is selfmoord nie ’n kleiner sonde as hoogmoed nie. Die gevolge daarvan is net veel ingrypender!
In Persië was daar ’n wet wat bepaal het dat niemand ongenooid voor die koning durf verskyn het nie. Hy kon tereggestel word mits die koning sy septer na hom toe uitgesteek het. Dit het genade aangedui. Selfmoord is soos om jou weg na die hemelse Koning oop te forseer i.p.v. op Hom te wag dat Hy jou ontbied. Hy sal sy septer na die gelowige uitsteek, maar dit beteken nie dat hy met daardie persoon se optrede gelukkig is nie.
Samevattend kan ons dus sê dat selfmoord geen gelowige se toegang tot die hemel versper nie. ’n Selfmoordenaar wat sonder die bekering sterf, verhaas in werklikheid die eindoordeel oor homself. ’n Gelowige daarenteen verloor nie sy verlossing daardeur nie. Dit is en bly egter ’n baie ernstige sonde. Geen omstandighede, hoe donker ook al, regverdig selfmoord nie. Gelowiges moet juis anders as die wêreld wees en vir God te leef. Die dood is God se besluit en syne alleen. Hy besluit waar en wanneer ’n mens sterf. Niemand durf hierdie mag uit sy hande neem nie!