Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Moenie so hard vir Christus werk dat jy geen krag oor het om te bid nie. Om sterk te kan wees moet jy bid. En om te kan bid moet jy sterk wees.
SONDAG OF SABBAT?
Ds. Andrè van den Berg
"Die doel van ‘n nuwe wet is immers om iets beter in die plek van ‘n ou wet te stel. Daarom durf geen Christen die Joodse sabbat onderhou nie. Dit skreeu teen die genade!... Daar is hoegenaamd geen aanduiding van ‘n pous wat die sabbat na die Sondag verander het nie. Nog minder dat die hou van eredienste op Sondae ‘n Roomse bevel was. Gelowiges het lank voor die ontstaan van die RK reeds op Sondae byeengekom."
Inleiding
Lidmate wat deur die leer van die Sewendedagadventiste (hierna Adventiste genoem) beïnvloed word, bevraagteken al hoe meer die heiliging van die Sondag as Christelike rusdag. Die Adventiste dring op ‘n herstel van die Ou Testamentiese sabbat aan en glo dat Christus nie na die aarde sal terugkeer alvorens dit herstel is nie. Hulle beskou die huldiging van die Sondag as ‘n heidense verering van die son wat by keiser Konstantyn, ‘n sonaanbidder, begin het. Hulle stigter, Ellen G White, dig die instelling van die Sondag as heilige rusdag in die kerk aan ‘n Roomse pous toe.
1. Oorsprong van die Sabbat
Waar kom die sabbat vandaan? God het dit in die Ou Testament (OT) as rusdag bepaal: “En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus....En God het die sewende dag geseën en dit geheilig...” (Gen.2:2,3). Die eerste aanduiding van die sabbatsgebod is in Ex.16 toe Israel aangesê is om dubbeld die hoeveelheid manna op die sesde dag op te tel sodat hulle op die sewende dag kon rus. Daarna kom dit in die Tien Gebooie (Ex.20) voor.
Hoewel God op die sewende dag van sy Skepping gerus het, was die sewende dag nie as ‘n gebod vir elke sewende dag ingestel nie. Dis eers 2,500 jaar later ingestel (Gal.3:17). Die sabbatsgebod wat op die beginsel van God se rus op die sewende dag gebou was, het eers in die woestyn as deel van die Ou Verbond tot stand gekom.
2. Oorsprong van die Sondag
Dwarsdeur die OT en ook tydens Jesus se aardse lewe is die rusdag op die Saterdag gehou. Na Jesus se opstanding is die Sondag as rusdag gehuldig. Dit het deel van die uiterlike onderskeid tussen Jode en Christene gevorm. Daarbenewens het Christene nie meer besny nie, maar eerder gedoop. Hulle het ook nie meer die pasga gevier nie, maar die nagmaal gebruik.
Omdat die eerste Christene hoofsaaklik uit die Jodedom gekom het, het hulle die sabbat aanvanklik as rusdag gehou. Die Heilige Gees het egter deur Paulus gewerk en hulle gelei om die Sondag as rusdag te onderhou. Dis die dag van die Here genoem omdat dit na Jesus se opstanding uit die dood verwys het. Na Paulus se hewige stryd teen Joodse wettisisme in die vroeë kerk, het al die gemeentes die Sondag as rusdag afgesonder.
Christus is derhalwe die oorsprong van Sondag-onderhouding. Hy het op die eerste dag van die week uit die dood opgestaan: “En baie vroeg, op die eerste dag van die week, net na sonop, kom hulle by die graf.....En hy sê vir hulle: Moenie verskrik wees nie. Julle soek Jesus....Hy het opgestaan. Hy is nie hier nie...(Mark.16:2,6).
Met Christus se opstanding uit die dode het Hy die dood en die hel oorwin en sondaars uit die slawerny van die sonde verlos. Met hierdie daad het Hy diè dag vir Homself afgesonder. In Openb.1:10 sê Johannes dat hy die Openbaring op die dag van die Here ontvang het. Dis ‘n duidelike aanduiding dat diè dag voortaan aan Christus behoort het.
Die feit dat Jesus ná sy opstanding twee keer op ‘n Sondag aan sy dissipels verskyn het, dui beslis op die belangrikheid van diè dag vir Hom (Joh. 20:1,19,26). Daarbenewens is die Heilige Gees ook op ‘n Sondag uitgestort. Hand. 2:1 sê spesifiek dit op die dag van die Pinksterfees was. Dis altyd op ‘n Sondag gevier.
Met hierdie gebeure het Jesus die belangrikheid van die Sondag bevestig. Al hierdie dinge het nie toevallig op ‘n Sondag gebeur nie, maar met ‘n doel. Dis die dag waarop gelowiges daaraan moet dink dat Jesus hulle van die ewige verderf losgekoop het!
Christus het Paulus duidelik gelei om die rusdag op ‘n Sondag te vier: “Maar ek maak julle bekend, broeders, dat die evangelie wat deur my verkondig is, nie na die mens is nie. Want ek het dit ook nie van ‘n mens ontvang of geleer nie, maar deur ‘n openbaring van Jesus Christus” (Gal.1:11,12). Gelowiges het op die eerste dag van die week byeen-gekom. Paulus het vir hulle gepreek en die nagmaal bedien (Hand.20:6,7). Die gemeente in Korinthe het ook op die eerste dag van die week fondse vir die behoeftige gelowiges in Judea ingesamel (1 Kor.16:1,2).
Waarom het Paulus spesifiek op die eerste dag van die week gepreek? Waarom het die gemeentes op die eerste dag van die week nagmaal gebruik? Waarom het een van die gemeentes op die eerste dag van die week fondse vir barmhartigheidswerk ingesamel? Omdat Christene die Skrif reg verstaan het en deur die Heilige Gees gelei is om op die eerste dag van die week bymekaar te kom om God te aanbid en die gemeenskap van die gelowiges te geniet.
3. Nie meer onder die wet nie
Christus het met sy dood die Ou Testamentiese wet vervul en dit beëindig. Christene is nie meer onder die wet nie, maar onder die genade (Efes.2:8). Derhalwe is Christene onder geen verpligting om die Ou Testamentiese wette te onderhou nie. Hulle is net aan een wet gebonde - die liefdesgebod ((Mt.22:37-39).
As gelowiges verstaan hoe die Nuwe Testament (NT) oor die wet praat, durf hulle nie die Joodse sabbat hou nie. Hulle is dan juis ontslae daarvan: “Maar nou is ons ontslae van die wet waardeur ons gebonde was, aangesien ons dit afgesterf het, sodat ons dien in die nuwigheid van die Gees en nie in die oudheid van die letter nie” (Rom.7:6). Wie van boeie ontslae is, bind hom mos nie weer daarmee nie!
Die wet het sy waarde vir sy tyd gehad. Met die sterwe en opstanding van Christus het dit egter uitgedien geraak. “Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade” (Rom.6:14). Toe die Nuwe Verbond kom, is die oue vervul en derhalwe tot niet gemaak.
Die doel van ‘n nuwe wet is immers om iets beter in die plek van ‘n ou wet te stel. Daarom durf geen Christen die Joodse sabbat onderhou nie. Dit skreeu teen die genade! Paulus sê in Rom.13:9 baie duidelik dat al die gebooie in die gebod van naasteliefde saamgevat is. Dit sluit ook die sabbat in. Daarom is mense wat na die Ou Verbond terugval, òf dwaas òf mislei.
4. Vir die mens gemaak
Een van die belangrikste dinge wat gelowiges oor die sabbat moet weet, is dat dit vir die mens gemaak is en nie die mens vir die sabbat nie. Dit beteken dat God mense nie daarmee aan bande wou lê nie. Die sabbat moes vir hulle nie ‘n las wees nie. Hy het die heilige rusdag juis vir die mens se beswil ingestel sodat hulle hulself nie oorwerk nie en minstens een dag uit die sewe kon rus.
“As jy jou voet terughou van die sabbat – om nie jou sake op my heilige dag te doen nie, en as jy die sabbat ‘n verlustiging noem en die heilige dag van die Here hooghou; en as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie geleentheid vir jou sake soek of ydele taal spreek nie; dan sal jy jou verlustig in die Here.....” (Jes.58:13,14).
5. ‘n Getuienis teenoor die heidene
Die Jode het op die sabbatdag besondere erns met hul godsdiens gemaak. Dit was ‘n getuienis teenoor die heidene wat geen rusdag eerbiedig het nie. In Ex.31:13 word dit dan ook ‘n teken genoem. So ook in Eseg.20:12: “Daarby het Ek ook my sabbatte aan hulle gegee om ‘n teken te wees tussen My en hulle, dat hulle kan weet dat dit Ek, die Here, is wat hulle heilig”
6. Jesus gee nuwe inhoud aan die sabbat
Die opskrif by Mt.12:1-8 lui dat Jesus die Here van die sabbat is. Hy het die sabbat met sy Persoon vervul en nuwe inhoud daaraan gegee. Hy het die diepere betekenis daarvan beliggaam. Jesus het die kerklui van sy tyd ontstel deur ongeoorloofde dinge op ‘n sabbat te doen. Hy het mense genees en sy dissipels nie verhinder om koringare langs die pad te pluk nie. Dit het teen die grein van die kerklui ingegaan en was dan ook een van die hoofredes waarom hulle Hom laat kruisig het. Wie die sabbat breek, moes self gebreek word (Ex31:14)!
7. Die gevaar van wettisisme
Gelowiges moet lig loop vir wettisisme. God spreek telkens sy misnoë teen uiterlike vormgodsdiens uit - mense wat godsdienstige rituele aanhang sonder dat hulle hart daarin is. “Bring nie meer skynheilige offergawes nie....Nuwemane en sabbatte, die uitroep van samekomste....hulle is My ‘n oorlas. Ek is moeg om dit te dra” (Jes.1:13,14).
Paulus was hewig ontsteld toe die gelowige Galasiërs, nadat hy die evangelie van genade baie duidelik aan hulle verkondig het, op ‘n tydstip in Joodse wettisisme teruggeval het. “O, onverstandige Galasiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie, julle voor wie se oë Jesus Christus afgeskilder is as onder julle gekruisig? Dit alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof? Is julle nou so onverstandig? Nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees? Het julle verniet so baie gely? As dit maar verniet was! Hy wat julle dan die Gees verleen en kragte onder julle werk, doen Hy dit uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof” (Gal.3:1-5).
Dit lyk asof die Galasiërs se godsdiens uit ‘n klomp moets en moenies bestaan het. Alhoewel hulle Jesus bely het, het hulle nog steeds van bekeerdes verwag om hulle volgens Joodse voorskrifte te laat besny en daarmee in die Ou Verbond teruggeval. Daarom berispe Paulus hulle baie ernstig: “Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie” (Gal.5:1). Hy waarsku in verse 3 en 4 dat as ‘n gelowige hom laat besny, hy in die Ou Verbond terugval en dan verplig is om die hele wet te onderhou. So ‘n mens verag die genade en draai sy rug op Jesus!
In Gal.4:9 praat Paulus van die armoedige eerste beginsels wat weer gedien word en sê in vers 10: “Julle neem dae en maande en tye en jare waar” Hy verwys na die Joodse feeste en dae waarvan die sabbat een was. Net soos wat dit nie meer nodig was om hierdie feeste te vier nie, is dit ook nie nodig om die sabbat te onderhou nie. Al hierdie feesdae was in elke geval net ‘n skaduwee van die ware rus wat in Christus sou kom.
Die Kolossense is ook deur wettisisme gepootjie: “As julle dan saam met Christus die eerste beginsels van die wêreld afgesterf het, waarom is julle, asof julle nog in die wêreld lewe, onderworpe aan insettinge soos: raak nie, smaak nie, roer nie an nie? – almal dinge wat deur die gebruik bestem is om te vergaan – volgens die leringe van mense, wat, alhoewel dit ‘n skyn van wysheid het, in eiesinnige godsdiens en nederigheid en in gestrengheid teen die liggaam, geen waarde het nie, maar strek tot versadiging van die vlees” (Kol.2:20-23).
8. Skaduwees van toekomstige dinge
Paulus sê tog baie duidelik dat die Ou Testamentiese feeste en dae nie op Christene van toepassing is nie. “Laat niemand julle dan oordeel in spys en drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of sabbat nie, wat ‘n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus. (Kol.2:16,17). ‘n Ander vertaling lui: “Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie, of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die Sabbatdag moet vier nie. Dit is alles maar net die skaduwee wat sou kom; die werklikheid is Christus” (NAV).
Paulus het dikwels met die Jode wat hul geloof en gebruike op die Christene probeer afdwing het, gebots. Sekere gelowiges het geglo dat wanneer iemand ‘n Christen word, hy nog steeds die Joodse gebruike moes onderhou om gered te word. In Kol.2 sê Paulus dat al hierdie wette skaduwees van beter toekomstige dinge was.
Die Ou Testamentiese gebruike was dus bloot skaduwees van dinge wat nog nie sigbaar was nie. Dis soos wanneer iemand om ‘n hoek staan en sy skaduwee vir iemand sigbaar is, sonder om hom te sien. Hy is uiteraard meer as sy skaduwee. Sy skaduwee is slegs ‘n teken van sy naderende koms. So was die onderhouding van sekere seremoniële wette, feeste en sabbatte alles skaduwees van Jesus wat sou kom. Wie die Joodse sabbat onderhou, is net so dwaas soos iemand wat aan die skaduwee van iemand wat alreeds gekom het, vashou.
Alles in die OT het na Jesus heengewys; elke seremonie, fees, offer en sabbat. Alles was slegs skaduwees. Jesus is die werklike inhoud van die Sondag. Daarom is sy koms, sterwe en opstanding die grondmotief vir die onderhouding van die Sondag. God het die kerk gelei om Christus se opstandingsdag as rusdag te onderhou.
9. Die ware sabbatsrus
God het die sabbat ingestel sodat mense kon rus. Dit was egter ook ‘n voorafskaduwing van die werklike rus wat sou kom – die rus in Christus Jesus. Die skrywer van die Hebreërbrief skryf baie duidelik hieroor. Die ware sabbatsrus vind plaas wanneer ‘n sondaar deur die bekering tot Jesus tot rus gekom het. “...Vandag as julle Sy stem hoor, verhard julle harte nie” (Heb.4:7) Dis nou nie meer ‘n spesifieke dag nie. Gelowiges kan enige dag tot die rus in Christus toetree.
Wie in Jesus sy rus gevind het, rus ook soos God van sy werke (Heb.4:10). Hy het dit wat die fisiese sabbatsrus bedoel was om te doen, ten volle nagekom. Dit laat ‘n mens aan die gebed van Augustinus dink toe hy by geleentheid gebid het dat God ongelowiges so onrustig moet maak totdat hulle hul rus in Jesus vind!
Gelowiges durf nie aan die sabbatsgebod van die OT gehoor gee nie. Jesus het dit alreeds vervul. ‘n Volharding daarvan sal op ‘n verloëning van Hom neerkom. Hy is die ware rus – klaar en afgehandel. “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem My juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele” ( Mt.11:28,29).
10. Sondag het nie Saterdag vervang nie
Elkeen van die Tien Gebooie word in die NT van naderby uitgewerk. Net nie diè oor die sabbat nie. Dit kom nêrens in die NT voor nie. Nog minder is daar enige aanduiding dat die Sondag die Saterdag vervang het. Dit sou uiteraard op ‘n nuwe wet neerkom.
‘n Streng Sondag-onderhouding met moets en moenies lei tot wettisisme en vervreem gelowiges van die genade. Dit laat ook die gevaar ontstaan dat mense net een dag in die week aan God wy en om die res leef soos wat hulle wil. Sondae word dan bloot die dag waarop die sondes van die week bely word. Paulus praat juis van die Jode wat die een dag ten koste van die ander oorbeklemtoon het: “Die een ag die een dag bo die ander, die ander ag al die dae gelyk...” (Rom.14:5). Gelowiges moet in beginsel elke dag van die week tot die sabbatsrus toetree!
Dis egter vir gelowiges ‘n sielsverkwikkende gebruik om minstens een dag van die week in besonder op hul verhouding met Christus te fokus, maar nie as ‘n nuwe wet nie. Dit kan enige dag van die week wees. Dit gaan uiteraard om die reëlmaat van een dag uit die sewe. Die Joodse sabbat het bv. van ‘n Vrydag 18:00 tot ‘n Saterdag om18:00 geduur. Dus ook ‘n deel van die sesde dag. Saam het dit 24 uur geduur. Derhalwe gaan dit in Ex 20:8-11 nie oor ‘n spesifieke dag soos ‘n Saterdag nie, maar om die reëlmaat van een dag uit die sewe.
Die algemene opvatting dat die onderhouding van die Sondag in die plek van die sabbat gekom het, is dus nie korrek nie. Toe Christus aan die kruis gesterf het, het die Joodse wettiese sabbatsonderhouding tot ‘n einde gekom en nie met ‘n nuwe dag of gebruik vervang nie. Gelowiges is egter deur die Heilige Gees gelei om spontaan op Sondae byeen te kom. “Maar as julle deur die Gees gelei word, dan is julle nie meer onder die wet nie” (Gal.5:18). Daarmee is die reëlmaat van een dag uit sewe eerbiedig, nie as ‘n nuwe wet nie maar eerder as ‘n heilige geleentheid.
11. Die Kerkvaders
Openbaring is die laaste boek van die NT en teen 95nC geskryf waarna die era van die Kerkvaders aangebreek het. Hulle was die volgende geslag kerkleiers. Hulle het die naaste aan die tyd van die apostels geleef en bied insiggewende getuienis aangaande die Sondag as rusdag. Die Roomse Kerk het eers eeue daarna ontstaan en is derhalwe geen faktor in die Sondagheiliging soos wat die Adventiste verkondig nie.
Die Kerkvaders het nie van mekaar oor die Sondag as rusdag verskil nie. Die Didaché (die leer van die 12 apostels), een van die oudste Christelike geskrifte wat teen 90 nC ontstaan het, meld dat gelowiges op Sondae (die dag van die Here) byeengekom het.
Daar is genoegsame aanduiding dat die eerste Christene, waar hulle hul ook al bevind het, op die eerste dag van die week saamgekom het vir prediking, nagmaal en aanbidding. Die Brief van Barnabas (100nC) lui: “Ons onderhou die agtste dag met vreugde, die dag waarop Jesus ook weer uit die dood opgestaan het” (Die Brief van Barnabas 15:6-8 ). Die geskrifte van Kerkvaders soos Ignatius, Justinus, Tertullianus, Origenes en Augustinus bevestig dit ook.
Justinus die Martelaar (140 nC.) skryf dat die gemeente op die dag wat in Rome Sondag genoem word, bymekaar kom omdat dit die dag is waarop Jesus uit die dood opgestaan het. Tertullianus (200nC.) skryf dat gelowiges in teenstelling met diegene wat Saterdag hul sabbat noem die dag ná Saterdag vier en dat dit vir hulle ‘n vreugdevolle dag is. Derhalwe is dit wat die kerkvaders sê, in lyn met die Skrif. Die eerste opgetekende geval waar mense egter die Saterdag herdenk het, was die Anabaptiste-leiers, Andreas Fisher en Oswald Glait in 1527.
12. Die Roomse leuen
Die Roomse Kerk sê dat keiser Konstantyn die sabbat van die Saterdag na die Sondag verander het omdat hy ‘n sonaanbidder was en die songod daardeur verheerlik het. Dis ‘n leuen! Hy het dan eers in 313nC met die Edik van Milaan godsdiensvryheid aan die Christene in sy ryk gegee. Sondagheiliging was toe al meer as 250 jaar oud!
13. Die Sinode van Dordrecht (1618-1619)
Die kwessie van die sabbat en die Sondag is tydens die Nasionale Sinode van Dordrecht (1618-1619) bespreek waarna ‘n paar reëls vir Gereformeerde Kerke neergelê is:
(i) In die vierde gebod gaan dit om ‘n seremoniële sowel as morele saak. (ii) Seremoni-eel was die rus op die sewende dag ná die skepping en die streng onderhouding daarvan vir die Joodse volk verpligtend. (iii) Dis egter moreel korrek om ‘n bepaalde dag vir gesamentlike godsdiensoefening te hou. (iv) Gelowiges moet Sondae daarvoor afsonder. (v) Sondae is sedert die tyd van die apostels as geleentheid vir geloofsgemeenskap onderhou. (vi) Dat daar op Sondae van alle slaafse (besigheid-of loon) arbeid gerus moet word. So ook alle soorte ontspanning wat godsdiensbeoefening kan belemmer.
14. Die Adventiste dwaal
Die tyd net voor die wederkoms van Christus sal aan sekere tekens/gebeure gekenmerk word. Die toename in dwaalleer is een daarvan: “want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte van leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Tim 4:4). Die ontstaan van die Adventiste is een daarvan - fabels van Ellen G White wat die waarheid van God se Woord ernstig aanrand!
Na aanleiding van ‘n gesig wat sy op 7 April 1847 gehad het, verkondig sy dat ‘n pous die Sabbat van die sewende na die eerste dag van die week verander het : “En ek het gesien dat God nie die Sabbat verander het nie omdat Hy nooit verander nie, maar dat die pous dit van die sewende na die eerste dag van die week verander het (Vry vertaal uit A Word to the Little Flock, p.18). So ook op 27 Junie 1850: “Die engel by my het vir my gesê: Die tyd is amper verby...die pous het die rusdag van die sewende na die eerste dag van die week verander” (Vry vertaal uit Early Writings, p.65).
Daarna het sy verkondig dat diegene wat die pous se sabbat (Sondag) onderhou, die merk van die dier ontvang het (Openb.13:16-18) en waarsku dat Sondagsheiliging kort voor Christus se wederkoms wetlik verpligtend oor die aarde gemaak gaan word. Dis net vreemd dat White nie weet wie die betrokke pous is nie!
Die Roomse Kerk (RK) het van meet af aan haar geskiedenis laat neerskryf. Dit word in ‘n biblioteek in die Vatikaanstad bewaar. Daar is hoegenaamd geen aanduiding van ‘n pous wat die sabbat na die Sondag verander het nie. Nog minder dat die hou van eredienste op Sondae ‘n Roomse bevel was. Gelowiges het lank voor die ontstaan van die RK reeds op Sondae byeengekom.
God het die Ou Verbond net aan Israel gegee. Toe Jesus sterf, het dit verval. Daarom het die gordyn in die tempel met die kruisiging middeldeur geskeur (Mt.27:51). Dus het die Joodse sabbat met die dood van Jesus geëindig. Hoe kan ‘n pous, etlike eeue later, die sabbat van ‘n Saterdag na ‘n Sondag verander as daar niks was om te verander nie?
Die Adventiste veroordeel die Sinode van Laodicea (381nC) wat aan gelowiges voorge-skryf het om hulle op die dag van die Here (Sondag) so ver as moontlik van alle fisiese werk te weerhou. Toe die RK die wet op die onderhouding van die Joodse sabbat aan die begin van die sesde eeu op die Sondag begin toepas het, het die Sinode van Orleans (538) dit sterk teegestaan. Dis as Joods en derhalwe nie-Christelik veroordeel.
Slot
Jesus se opstandingsdag vorm die grondslag van die Christelike Sondagsviering. Hy staan hier sentraal. Ten spyte van die duidelikheid van die Bybel oor die Christelike rusdag, is daar nog steeds mense wat die uitgediende Joodse sabbat, die skaduwee, onderhou. Mag God hulle tot ware insig bring!