Ds David Niebuhr
Lees reeks by Dood, waar is jou angel?
Begrip van die dood
Dit is vir enige persoon wat ander in tye van dood wil bystaan belangrik om te weet wat hulle glo aangaande die dood, en hoekom hulle so glo. Ek maak hierdie stelling, omdat ek al te veel gesien het hoe mense wat met die dood konfronteer word, soms knak onder die wrede realiteite daarvan, aangesien dit nie inpas by wat hulle geglo het, of gedink het hulle verstaan nie. Soms word mense se geloof erg geskaad want wat hulle aanvanklik geglo het, is dalk deur die realitieite van die dood in flarde geskeur.
Ek het al op ‘n paar geleenthede aspirant kapelane gehad wat graag betrokke wou raak by die kapelaans-bediening, omdat hulle geglo het dat God hulle wil gebruik om vir die oorledenes te bid, en hulle weer op te wek uit die dood.
Hulle het vas vertrou dat as hulle dit in geloof van God afvra, dit wel sal gebeur. Dit is immers wat die woord van God ons leer.
Erg was die realiteite om dan uitgeroep te word na ‘n grusame motorvoertuig ongeluk, waar die liggame van oorledenes in stukke geskeur is, en versprei is oor die toneel.
Erg die realiteit dat hierdie liggaam nie weer geheg of geheel sal word nie. Of self ‘n brandtoneel waar die liggaam so erg verkool is dat dit onherkenbaar is... Om geroep te word na ‘n toneel waar ‘n tiener ‘n haelgeweer in sy mond geplaas het en daar nie veel oorbly van die uitkenbare van die tiener nie...Glo my, die woord van God is waar. As dit binne God se wil is dat iemand wel weer uit die dood opgewek word, dan sal dit so gebeur. Maar die waarheid en die realiteit is, dat 100% van mense wat sterf, nie weer terugkom nie. Die uitsondering is so klein, dat dit nie ‘n uitwerking op die statistiek het nie. Die dood is finaal.
Ek kan wel getuig van een toneel waar God wel iemand teruggebring het vir ‘n wyle - ‘n wonderwerk beslis.
Ek het ook mense leer ken wat glo dat wat in die Bybel staan, aangaande die feit dat iemand wat naby aan die Here lewe 70 jaar en ouer sal word, beteken dat as iemand jonger as diè ouderdom sterf, hulle saak dus nie met die Here reg is nie. Wat gebeur dan as hulle eie kinders in siekte of in ‘n ongeluk sterf?
Wat as hulle weet hoe lief hulle kinders vir die Here was? Verloor hulle dan hul geloof in die proses? Hoe troos jy dan ‘n moeder wat haar drie-maande oue baba deur wiegiedood verloor het?
Watter trooswoorde sal jy aan die persoon gee wat haar tienerseun verloor het deur ‘n sinlose selfmoord? As jy reeds besluit het dat die kind in die hel is, en die genade van God nie verdien nie, watter woorde van troos kan jy aan sy familie bring? Ek sal later ‘n hoofstuk aan selfmoord afstaan.
In my inleiding het ek geskryf : “Dood, ek vrees jou, ek bewonder jou, ek haat jou, ek sien uit na jou koms......”
Wat beteken dit dan? Ek glo dat die meeste van ons die eerste begrip van vrees tot ‘n mate verstaan en ervaar. Ons almal weet, en besef dat ons lewe enige oomblik kan eindig, sou dit wees deur siekte, ongeluk, of ramp. Een van die enigste feite in die lewe waaroor ons kan seker wees, is die dood wat kom. Ons besef maar te goed dat ons gereed moet wees, en vrees as die dood ons dalk onverwags sou betrap en ons dalk nie reg sou wees vir sy koms nie. Ons vrees die wyse waarop dit sal gebeur. Sal dit pynlik wees, sal ek ly? Wat gebeur daarna? Is daar waarlik lewe na die dood, en as daar dan werklik is, waar gaan ek my oë oopmaak as ek hierdie wêreld of dimensie verlaat?
Ons het egter die woord van God wat ons verseker dat Jesus die dood oorwin het, en dat die dood slegs ‘n oorgang is vir God se kinders na ‘n ewige lewe saam met Hom. In Psalm 23 lees ons: “Selfs al gaan ek deur die dal van die dood se skaduwee, sal ek geen onheil vrees nie, WANT U IS BY MY.” Self in die dae van koning Dawid het God die mense deur sy dienskneg geleer dat God ook daar is vir sy kinders as hulle deurbeweeg na die doderyk.
Selfs in die dood, wat bestempel kan word as die eensaamste van plekke, waar ons gestroop word van alles, ook ons aardse liggaam, staan een ding sterk en waar: God laat nie sy kinders alleen daardeur gaan nie. Ons hoef nie te vrees nie, maar ons het ‘n verantwoordelikheid om te verseker dat ons saak met die Here reg is, indien ons dalk vandag voor Hom te staan kom, en nie weer ‘n geleentheid het om ons saak met God reg te stel nie.
Dood, ek bewonder jou... Daar is tog iets magies en fassinerend aan die dood. Iets bomenslik en bo ons begrip. Die dood is ‘n geboorte van ‘n nuwe dimensie in ons bestaan wat vêr bo ons menslike verstand of denke strek.
Daar word verhale vertel deur mense wat naby-doodservarings gehad het, dat hul deur ‘n engel ontmoet word en gelei word na hierdie asemrowende tonele. Of deur sommiges, dat hulle deur geliefdes kom haal word. Ons hoor van ‘n helder lig, ‘n tonnel wat ons lei na ‘n nuwe bestaan. Ons hoor van ‘n wonderlike vrede... Of dit waarlik só sal wees, dit weet ons nie, want ons was heelmoontlik nie self al daar om dit te ervaar nie. Tog kan ons nie help om soms te wonder oor die lewe hierna nie.
Ons wonder oor die skoonheid van God se stad, met strate van goud en ongekende skoonheid. Die wonder om engele te kan sien, om God te kan sien.
Dood, ek haat jou! Vir die pyn wat jy agter laat, die gebroke lewens, ondraaglike seer en leegheid, kan ek nie anders as om te haat wat jy agterlaat nie. Die uitdrukking op die gesigte van geliefdes wat platgeslaan agter gelaat word deur die dood is so wreed, so finaal, so waardig van ons afsku. As die dood ‘n gesig gehad het, sou ons dit gehaat het. Ons sou hom gejag en vernietig het oor die seer wat deur hom nagelaat word.
Dood, ek sien uit na jou koms. O, sal dit nie wonderlik wees om weereens almal te kan sien wat ek reeds verloor het nie! Hoeveel blydskap wag daar nie op ons in die hemel om weer te kan herenig met ons geliefdes wat ons so geweldig baie mis nie. Hoe wonderbaarlik mooi sal die hemel nie wees nie en pragtig sal die strate van goud nie skitter nie... En om God te kan ontmoet.
Hoe asemrowend, en wat ‘n eer. Om ook verlos te kan wees van die aardse liggaam, die pyne en lyding wat ‘n aardse bestaan soms bring. Om verlos te wees van hartseer, pyn en leed, en waarlik vry te kan wees van sondelas en versoeking. O, hoe wonderlik moet die ontmoeting met my God nie wees nie.
Daar is soveel wat ek nog wil vra, nog wil weet... Dus, wat glo ek oor die dood ? Wat glo jy oor die dood ?
Glo jy dat wanneer jy sterf, dit is omdat God dit so bepaal het, en omdat jou tyd op aarde verby was? Glo jy dat mense slegs sterf omdat dit die tyd is, deur God bepaal?
Hoe verduidelik jy dan vir vroue van werkers by ‘n sekuriteitsfirma dat hulle mans in ‘n transitoroof was, dat die rowers brandstof oor hulle voertuig gegooi het, en hulle dood gebrand het, omdat dit God se tyd was om hulle te kom haal.
Hoe vertel jy vir ‘n ma en pa wat hul tienerseun deur selfmoord verloor het, dat dit die seun se tyd was en daarom is hy dood? Die waarheid is eerder dat ons nie weet nie. Ons spekuleer en probeer verstaan, maar ons weet nie.
Persoonlik glo ek dat wanneer iemand aan siekte of ‘n natuurlike oorsaak sou sterf, of selfs in ‘n ongeluk of frats-ongeluk, dan is dit omdat God die tyd daarvoor bepaal het. Ek weet daar sal dié wees wat met my daaroor verskil, en ek probeer nie voorgee dat my siening noodwendig reg is nie, maar dit is hoe ek dit verstaan en interpreteer.
Moord en selfmoord val nie binne die wil van God nie en daarom glo ek nie dat dit die wil van God is om mense se lewens so te beëindig nie. Daarom stel die woord van God dit ook as ‘n sonde in God se oë. Maar selfs wanneer jy onverwags en nie op die tyd, soos deur God bepaal, tot sterwe sou kom, bly Psalm 23 steeds waar, God sal ook daar wees as ons die dal van die dood se skaduwee binnegaan.
Hier wil ek ook graag ‘n ander punt aanraak, en my siening daaroor lig. Ek wil praat oor verwyte ná die dood van ‘n geliefde. Ek praat van: “Sê nou maar ons het vroeër by die dokter uitgekom” of “As ek nie gesê het hulle moet daardie roete volg nie, sou hulle nooit in die ongeluk gewees het nie.” Dalk “as ek net noodhulp geken het sou my geliefde dalk nog by ons gewees het.”
My siening is egter dat God die tyd bepaal het wanneer hy elkeen van sy kinders sal kom haal, en dit maak nie saak waar ons is, wat gedoen kon word vir hulp, of watter kennis ons besit nie. As ons tyd op aarde uitgeloop het is daar nie ‘n verbykom kans nie. As ek dit waarlik glo, dan weet ek mos dat al die ‘sê nou maar’ of ‘miskien’s’, nie die uitkoms sou kon verander het nie.
Ek wil egter nie hê dat jy na my siening moet kyk as die enigste waarheid nie, maar wat belangrik is, is wat jy glo, en hoekom jy dit glo. As jou siening oor die dood getoets moet word met die realiteit daarvan, sal dit die toets kan weerstaan? Ek wil nie glo dat ek al opgehou het om te leer en dat ek volkome verstaan nie, want dan sou die lewende woord van God nie meer vir my ‘n uitdaging kon bied om meer en meer van God te leer nie. Namate ons groei in ons verhouding met God, leer ons algaande meer. Dalk wys God ook vir my dat wat ek oor die dood glo nie korrek is nie. My gebed is net: “Here, moet my nooit so kortsigtig maak dat ek nie groei in my denke en kennis nie, en sodoende nie bruikbaar is waar U my wil stuur nie.”
Nog ‘n begrip waaroor daar meer sienings en debatte is as wat ek wil aanraak, is waar ons heengaan ná die dood, en of ons sal weet wat op die aarde aangaan as ons self nie meer hier kan wees nie. Weereens wil ek my beskeie opinie deel, en hoekom ek dit glo. Ek wil nie daarmee probeer voorgee dat ek noodwendig al die antwoorde het nie, of ‘n eksegese doen oor die onderwerp nie. Ek baseer my siening van die dood op Lukas 16:19-31.
Die verhaal van die arm bedelaar genaamd Lasarus en die ryk jongman. Hier sien ons ‘n voorbeeld wat Jesus self gebruik om sy volgelinge te onderrig.
Eerstens sien ons dat God sy engele gestuur het om Lasarus te kom haal met sy dood en hom na die hemel te neem. Dit mag dalk ‘n aanduiding gee van wat gebeur as ons sterf en wat met ons siel sal gebeur. Dan lees ons van ‘n besliste hemel en hel. Twee plekke wat bestaan. Ons lees ook dat die ryk jongman gesien het hoe sy broers lewe en vader Abraham gesmeek het om met hulle te gaan praat, en hulle te vra om hulle lewens reg te kry, aangesien hulle ook in die hel sal eindig as hulle aanhou om so te lewe. Dus wil ek hieruit aflei dat ons sekerlik wel ‘n bewustheid sal kan hê van wat op die aarde aangaan, al is ons dalk nie self meer hier nie. - Weereens is dit slegs my beskeie opinie.
Nog ‘n gedeelte in die Bybel wat my fassineer is Handelinge 7:55-56. Hier lees ons van Stefanus se steniging. Hier sien ons dat Stefanus voor sy dood reeds Jesus in sy heerlikheid sien staan het aan die regterhand van God. Hy vertel vir almal om hom dat hy die Seun van die Mens sien staan aan God se regterhand, en dit veroorsaak dat hulle hom stenig. Maar Stefanus roep nie om hulp nie en bekommer hom nie erg oor die gebeure nie, want hy sien Jesus voor hom staan. Stefanus pleit egter by Jesus dat Jesus tog nie hierdie mense se dade teen hulle sal hou nie, want hulle doen dit uit onkunde. Kan dit wees wanneer ‘n kind van God tot sterwe moet kom in ‘n gruweldood, dat God hulle reeds daar kom bystaan, sodat dit wat om hulle gebeur van minder belang is as die Beeld van Jesus self wat voor hulle staan? Ek weet nie, maar sal graag wil dink dat dit wel so kan wees. Dit is immers Jesus se belofte aan ons, dat Hy ons nooit alleen sal laat nie.
Bid tot God, en vra Hom om jou ook te help met die begrip van die dood, en om sy woord vir jou oop te breek, en bly leersaam... Sodoende sal jy tot hulp vir ander kan wees.
Vervolg... SELFMOORD