Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
"Kyk, wat ek as 'n goeie ding gesien het, wat voortreflik is, is dat iemand eet en drink en die goeie geniet vir al sy arbeid waarmee hy hom vermoei onder die son gedurende die getal van sy lewensdae wat God hom gee; want dit is sy deel." - Pred. 5:17
LEEF DOELGERIG
Lees reeks by Pitkos vir die siel
Ds AE van den Berg
" Waarom is ons hier aan die suidpunt van Afrika en nie elders in die wêreld soos baie van ons volksgenote nie?..."
“In dié dae was daar geen koning in Israel nie; en in dié dae het die stam van die Daniete vir hom ‘n erfdeel gesoek om in te woon… En die kinders van Dan het uit al die dele van hulle geslag vyf man…gestuur om die land te verken…Toe hulle by die huis van Miga was en die stem van die jongman, die Leviet, herken, draai hulle daar af en sê vir hom: Wie het jou hierheen gebring, en wat maak jy hier? En wat soek jy hier?” (Rigt.18:1-3)
As ons iemand onverwags raakloop, vra ons gewoonlik: “Wat op aarde maak jy hier?” Op pad na Tarsus vra die matrose vir Jona: “Wat is jou nering? En waar kom jy vandaan? Wat is jou geboorteland, en uit watter volk is jy?”(Jona 1:8). Wanneer Elia uit vrees vir sy lewe onder ‘n besembos gaan lê en wens om te sterf, vra God hom: “Wat maak jy hier, Elia?” (1 Kon.19:9). Wanneer Judas nader kom om Jesus te verraai, vra Jesus hom:“Vriend, waarvoor is jy hier?” (Matt.26:50) Sulke vrae dwing ’n mens tot rekenskap en selfondersoek soos wat dit die jong Leviet in Rigt.18 gedwing het.
By geleentheid het ‘n geselskap uit die stam Dan by die huis van ’n sekere Miga, ’n afgodsdienaar, in die Efraim-berge aangekom en ‘n jong Leviet by hom ontmoet. Hulle het hom aan sy aksent herken en was verbaas om hom in die huis van ’n afgodsdienaar aan te tref. Dit was geen plek vir ‘n Leviet nie!
Die vraag waarom hy daar was, is ‘n vraag wat ons onsself moet afvra: “Waarom is ek hier?” Die Bybel sê dat ons bywoners en vreemdelinge op die aarde is en derhalwe nooit so vas aan die lewe raak, dat ons vergeet dat ons reisigers na ‘n ewigheid is nie. Ons durf nie so leef asof ons alreeds by ons bestemming aangekom het nie.
Wat maak ons hier aan die suidpunt van Afrika? Die vreemde wêreld waarin ons onsself tans bevind verskil waarskynlik hemelsbreed van die wêreld waarin ons grootgeword het, amper soos die Efraim-berge van die jong Leviet se land van herkoms verskil het. Ons vra onsselfdie vraag af: “Is ek nog op die regte pad of is ek soos ‘n eensame skaap in die onherbergsame Efraim-berge van die ou lewe met sy barre sorge?
Daar is verrassend baie ooreenstemming tussen Israel in die Rigterstyd en ons eie volk. Israel het toe nog geen koning gehad nie en elkeen het gedoen wat reg was in sy oë. Die mense van Dan was kwaadwillig en het ‘n onskuldige gemeenskap in Sidon aangeval uitgemoor. Dit het tot ‘n vlaag van wetteloosheid gelei waar niemand sy lewe seker was nie.
Dit klink modern! Die beskawingsnorme en ordelikheid wat Suid-Afrika jare lank gekenmerk het, is roekeloos omvergewerp en met die heidendom vervang. Alles het, soos in die tyd van Rigt.18, van die politiek tot by die kerklike lewe, onseker, onstabiel en oppervlakkig geword. In hierdie tyd vra die Woord van God vir ons: “Wie het jou hierheen gebring? Wat doen jy hier? Waarom is jy hier?” Is ons soos die Leviet slegs hier ten brode (oorlewing)?
Soos die Leviet hom in ‘n huis van geestelike verval en verdwaalde vroomheid bevind het, bevind ons ons ook in ‘n ontspoorde land. Wat moet ons doen? Miskien is ons teenwoordigheid hier aan die suidpunt van Afrika ‘n goddelike beskikking soos die Joodse meisietjie ‘n heilsame invloed op die huis van Naäman gehad het. Wie weet, miskien het die jong Leviet op die ou einde iets positiefs vir die goddelose huis van Miga beteken.
Dis net genade om in ’n tyd soos hierdie God se plan met ons lewens raak te sien en te besef dat ons nie toevallig hier is nie, maar dat God ‘n doel met ons het. Die Bybel sê dat gelowiges ‘n verskil aan die wêreld maak.“Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig” (1 Pet.2:9).
Toe Josef in die tronk beland, het hy seker ook gewonder wat hom in dié penarie laat beland het. Dit was mos nie sy skuld nie! Hy sou dit eers later verstaan, toe die stukke van God se legkaart by mekaar begin pas en hy vir sy broers kon sê: “God het my voor julle uitgestuur om lewens te red” (Gen.45:5).
Daniël het seker ook gewonder waarom hy as krygsgevangene onder ‘n heidense koning moes dien. Wat het hy as gelowige in Babel, die kookpot van afgodery, gemaak? God het ’n doel met hom gehad; hy moes teenoor heidene getuig! Hy sou nooit na Israel terugkeer nie, maar op rype leeftyd in Babel sterf. En wat ’n heilsame uitwerking het hy nie op die Babiloniërs gehad nie! Vyf eeue later kom wyse manne uit die Ooste in Betlehem aan op soek na Jesus. Hoe het hulle van Hom geweet? Daniël het dit voorspel!
By geleentheid bevind Paulus hom tussen paniekbevange matrose ter see (Hand.27). Hulle staar die dood in die gesig. Paulus troos hulle met die boodskap dat God niemand sou laat verdrink nie. Almal het die ramp oorleef.
Uit die vyfde eeu na Christus kom die verhaal van die 16 jarige Patric wat deur ‘n rowerbende uit sy huis in Engeland ontvoer na die heidense Ierland weggevoer is waar hy ‘n geestelike verdieping ervaar het. Na sy vrylating het hy na Engeland teruggekeer en hom as leraar bekwaam. Daarna is hy terug Ierland om met groot sukses die Iere te kersten.
Waarom is ons hier aan die suidpunt van Afrika en nie elders in die wêreld soos baie van ons volksgenote nie? Beteken ons werklik iets vir ons volk? Miskien verstaan ons nie wat God se doel met ons is nie. Weet net een ding: Niemand is toevallig hier nie. Ons leef nie toevallig saam met ons volksgenote in ‘n heiden-bedeling nie. God het ’n doel met ons.
Hy het elkeen van ons gebring waar ons vandag is. Dit maak nie saak hoe goed of beroerd ons lewensomstandighede is nie. Hy het ‘n doel met ons – om vir die Boerevolk te gaan sê om hul verkeerde paaie te los en na God terug te keer. Ons moet soos ‘n Johannes die Doper ‘n stem in die woestyn wees wat ons volksgenote oproep om die paaie van die Here reguit te maak.