SIMSON (2)

Die unieke metodes wat die Rigter Simson aangewend het om Israel van Filistynse oorheersing te bevry.

Dr  JP  Botha

Lees reeks by SIMSON

SIMSON  VERLIEF

So is Simson toe uit die stam Dan in Sora gebore en weens sy moeder se streng nakoming van die Here se opdrag, het die Gees van die Here reeds vroeg-vroeg daar in Magane-Dan in hom begin werk.  As jongman het hy dikwels rondgeloop.

Op ‘n dag kom hy in Timna, waar hy ‘n pragtige Filistynse meisie sien.  Tuisgekom sê hy vir sy pa: “Ek het in Timna ‘n Filistynse meisie gesien.  Ek wil met haar trou.”

Toe sê sy ouers:  “Is daar nie iemand tussen die mense van ons stam, of onder jou volksgenote met wie jy kan trou nie?”

Simson antwoord:  “Kry haar vir my.  Ek wil haar hê.”

Sy ouers het nie geweet die Here soek ‘n geleentheid om iets aan die Filistyne te doen nie.

DIE LEEU

Toe  Simson en sy ouers op ‘n keer op pad was na Timna toe, het ‘n jong leeu hom naby die wingerde van Timna aangeval.  Die gees van die Here het in hom gekom.  Hy het met sy kaal hande die leeu se kakebeen uitmekaar geskeur, soos mens ‘n bokkie verskeur.  Hy het niks daarvan vir sy ouers gesê nie.  Hy het in Timna gekom en met die vrou gaan praat. Hy het baie van haar gehou.

Toe hy later weer vir die troue terugkom Timna toe, het hy afgedraai om na die leeu se karkas te gaan kyk.  ‘n Swerm bye was besig om in die geraamte heuning te maak.  Hy het van die heuning uitgehaal en langs die pad daaraan geloop en eet.  Hy het ook vir sy ouers daarvan gegee.  Hulle het daarvan geëet maar nie geweet dat dit uit die geraamte van die leeu gekom het nie.

Sy pa het by die vrou se huis gaan reëlings tref en die huwelik het mettertyd plaasgevind.  Simson het volgens gewoonte ‘n onthaal gehou.

DIE RAAISEL

Daar was 30 Filistynse jongmans.  Hy het vir hulle gesê:  “Ek wil vir julle graag ‘n raaisel vra.  As julle binne die sewe dae van die fees kan sê wat dit beteken, sal ek vir julle 30 hemde en 30 stelle klere gee.  As julle dit nie kan oplos ne, moet julle vir my 30 hemde en 30 stelle klere gee.”

Hulle het ingestem en wou toe die raaisel hoor.  Hy sê vir hulle: “Spyse gaan uit van die eter en soetigheid van die sterke.”

Hulle kon drie dae lank nie die raaisel uitlê nie.

Die vierde dag sê hulle vir Simson se vrou: “Haal jou man oor dat hy die raaisal vir ons uitlê, anders verbrand ons jou en jou pa se huis met vuur.  Het jy ons uitgenooi om ons te beroof?

Simson se vrou het by hom gaan neul: “Jy het my nie regtig lief nie.  Jy het vir my mense ‘n raaisel gegee en nie eens vir my gesê wat dit beteken nie!”

Simson sê vir haar: “Ek het dit nie eens vir my pa en ma gesê nie; waarom moet ek dit vir jou uitlê?”

Sy het al sewe dae lank wat die maaltyd geduur het, by hom gehuil.  Sy het hom so gepers dat hy op die sewende dag dit vir haar vertel het.  Toe het sy die raaisel vir haar volksgenote uitgelê.  Net voor sononder op die sewende dag, het die mense van die stad toe met ‘n smalende houding vir hom kom sê: “Wat is soeter as heuning en wat is sterker as ‘n leeu?”

Simson sê toe: “As julle nie met my kalf geploeg het nie, sou julle dit nooit geraai het nie.”

DIE 30 MAN SE KLERE

Toe word die Gees van die Here oor hom vaardig en hy stap die hele ent na Askelon toe en gaan slaan 30 van die Filistyne wat daar bly, dood.  Hy vat hulle uitrustings en gaan gee die stelle klere vir die 30 manne wat vir hom die raaisel kom verklaar het.  Hulle het seker geskrik en besef dat hulle eie lewens ook in gevaar is as Simson so optree.

Ja, Simson was kwaad.  Hy het die feesvierendes en sy vrou net so gelos en weggestap na sy pa se huis in Sora.  Toe aanvaar hulle dat hy sy bruid nie meer wou hê nie en gee haar vir  sy strooijonker as vrou.

‘n Ruk later het die tyd van die koringoes aangebreek.  Simson het begin om na sy gewese vrou te verlang.  Hy het ‘n bokkie geslag en dit klaargemaak en daarmee na hulle huis in Timna gestap.  Hy wou by haar gaan slaap, maar haar pa wou hom nie laat ingaan nie.   “Ek het gedink jy haat haar en het toe jou strooijonker met haar laat trou.  Maar haar jonger sussie is mooier as sy.  Vat haar maar gerus in haar suster se plek.”

Simson het die nuuskieriges wat begin opdaag het, net so gekyk en gesê: “Hierdie keer is ek onskuldig as ek hulle kwaad aandoen!”

300 JAKKALSE

Hy is daar weg na die nabygeleë wildernis en die Here het hom in staat gestel om daardie nag 300 jakkalse te vang.  Hy het hulle sterte twee-twee goed aanmekaar gebind en ‘n fakkel aan die twee sterte vasgemaak.  Toe het hy hulle na die Filistyne se ryk graanlande by Timna gebring, die fakkels aan die brand gesteek en die 150 pare brandstigtende vosse in die ryp koringlande ingejaag.  Dit het vir Simson bevrediging verskaf om te sien hoe sy vyand se belowende ryp graanoes in vlamme verteer word, die ryk graanoes op die lande, die los gerwe, sowel as die groot gepakte miedens.  Daarna is hy na hulle wingerde en olyfbome, om dit alles aan die brand te steek en so te vernietig.

Toe die Filistyne agterkom wat plaasgevind het, vra hulle: “Wie het dit gedoen?”  Iemand sê toe:  “Dit is Simson, die skoonseun van die Timniet, omdat dié sy vrou geneem en aan sy metgesel gegee het.”  Hulle trek toe op na haar pa se huis en steek dit aan die brand.  Sy en haar pa het doodgebrand.

Toe Simson dit agterkom, was hy hoogs ontstoke en hy laat vir hulle weet: “As julle só maak, sal ek sekerlik nie rus voordat ek my op julle gewreek het nie.”  Hy het hulle met geweld aangeval en ‘n geweldige slagting onder hulle aangerig.  Daarna het hy in ‘n skeur by die rots van Etam gaan woon.

Vervolg...