Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Waarom skryf die profeet Hoséa dat sy volk ten gronde gaan weens 'n gebrek aan kennis? Gebeur dit slegs omdat mense God nie meer liefhet en Hom nie wil dien nie? Of gebeur dit ook wanneer 'n volk só mislei word dat hulle nie meer kan onderskei tussen reg en verkeerd nie? In hierdie tye is laasgenoemde opsie ernstig van krag; ons volk word so mislei en verblind deur ons vyande dat ons onwetend meedoen aan ons eie ondergang – dit verg groot verantwoordelikheid om genoeg kennis te dra wat tot eer van God se Naam strek.
ESTER (5) (SLOT)
Dr J P Botha
Lees reeks by ESTER
HAMAN WORD ONTMASKER
Toe ek terugkom, kry ek Haman besig om op die bank waarop Ester sit, neer te val. Ek skreeu toe vir hom: “Wil jy nou ook nog die koningin in my paleis verkrag?”
Ek het bevel gegee en my amptenare het hom in hegtenis geneem.
Garbona, een van my amptenare, sê toe: “Haman het by sy huis ‘n paal laat inplant van 23 meter hoog, om vir Mordegai wat destyds die koning gered het, daaraan op te hang.”
Ek beveel: “Hang hom daaraan op!” Nadat hulle dit gedoen het, het my woede afgekoel.
Ek het alles wat Haman besit het aan koningin Ester gegee. Sy het ook vir my vertel hoe Mordegai aan haar verwant is. Ek het Mordegai laat roep en my seëlring wat ek by Haman gevat het, afgehaal en aan Mordegai gegee. Ester het Mordegai in beheer van Haman se goed aangestel.
MY TWEEDE PROKLAMASIE BEVEILIG DIE JODE
Ester het dit toe weer ‘n keer gewaag om met my te kom praat. Sy het huilend by my voete neergeval en my gesmeek om die bose plan wat Haman teen die Jode beraam het, te stop. Ek het weer my goue septer na Ester toe uitgesteek. Sy het opgestaan en voor my kom staan en gesê: “As dit goed is vir die koning en u my goedgesind is en dit vir u in orde lyk, laat skryf dan ander briewe om Haman se briewe terug te trek. Hy het geskryf dat die Jode in al die provinsies van u ryk uitgeroei moet word. Ek kan mos nie net toekyk wanneer my volk deur so’n ramp getref word nie. Hoe kan ek toelaat dat my familie uitgeroei word?”
Ek het vir Ester en Mordegai gesê ‘n proklamasie wat reeds in die naam van die koning uitgevaardig is en met sy seëlring bevestig is, kan nooit herroep word nie, maar hulle kan die saak red deur ook ‘n brief aan die Jode te skryf met hulle plan. As hulle dit in my naam skryf en met my seëlring verseël, word dit ‘n proklamasie wat uitgevoer moet word.
My sekretarisse is toe weer ontbied om alles neer te skryf wat Mordegai vir die Jode, die amptenare, die goewerneurs en die leiers in die 177 provinsies wou laat weet. In die briewe is geskryf dat die koning aan die Jode in elke stad vergunning gee om bymekaar te kom en hulleself te verdedig. Hulle kon enige gewapende mag wat hulle aanval, doodmaak en vernietig en uitroei en op hul besittings beslag lê.
In elke stad waar die proklamasie afgekondig is, was daar vreugde en blydskap onder die Jode. Hulle het ‘n feesdag uitgeroep en saam geëet.
DIE JODE WREEK HULLE SELF
Op die dertiende dag van die twaalfde maand Adar, het my twee proklamasies van krag geword. Dit was die dag waarop die vyand gereken het om die Jode te oorweldig. Dit was toe net andersom, want die Jode het oral in die stede en in al die provinsies bymekaargekom om hulleself te verdedig. Al die volke was bang vir hulle. Al die leiers, die goewerneurs en almal in diens van die koning, het die Jode gehelp omdat hulle bang was vir Mordegai.
Mordegai het opgang gemaak in my hof-houding. Hy het in al die provinsies bekend geword. Hy het al hoe groter mag gekry.
Die Jode het onder hul vyande gemaai. In Susan het hulle 500 mense doodgemaak. Hulle het ook die tien seuns van Haman doodgemaak en op Ester se versoek, het ek toegestem dat hulle aan Haman se galg opgehang word. Daarna het hulle nog 300 mense in Susan doodgemaak.
Die ander Jode in die provinsies van die ryk het ook bymekaar gekom om hulleself te verdedig en het 75 000 mense doodgemaak. Dit het alles op die 13e dag gebeur. Op die 14e het hulle gerus. Daarna het die 14e dag van Adar ‘n vakansiedag geword van feesviering en vreugde. Mordegai het bepaal dat hulle dan op daardie dae aan mekaar eetgoed moet stuur en geskenke aan die armes.
Toe Haman planne beraam het om die Jode uit te roei, het hy met die Pur, dit is die lot, beslis watter dag hy verskrikking oor hulle sou bring. Toe ek egter op Ester se versoek ‘n brief laat skryf het om Haman se bose plan op sy eie kop te laat neerkom, is hierdie feesdae Purim genoem.
Ester en Mordegai het later weer ‘n tweede brief deur die hele ryk gestuur met opdragte hoe om jaarliks die Purimfeeste te hou, oor hoe die volk moes vas en na God om hulp moes roep.
SLOT
Dit is dan hoe die Here bepaal het dat koningin Ester en haar oom Mordegai elkeen ‘n uiters belangrike rol moes vervul in die redding en versorging van die deel van sy uitverkore volk Israel wat as bannelinge agtergebly het in die groot Persiese ryk van koning Ahasveros.