Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Geloof is geen opium wat jou verblind en verdoof nie – geloof is harde werk. Dis om te dóén in plaas van net te sê. Dis om jouself prys te gee soos Christus gedoen het – maar dit maak jou gelukkig!
ESTER (4)
Dr J P Botha
Lees reeks by ESTER
EK BEWYS EER AAN MORDEGAI
Haman is daardie dag in ‘n goeie bui en vrolik daar weg. Toe hy egter by die ingang van die paleis op Mordegai afkom en hy weer nie opstaan om aan hom eer te bewys nie of glad nie wys dat hy vir hom bang is nie, het hy woedend geword vir Mordegai, maar hy het hom egter beteuel.
By sy huis het hy sy vriende en sy vrou Seres nadergeroep. Hy het by hulle gespog oor hoe ryk hy is en oor hoe baie seuns hy het. Hy het uitgewei oor die koning wat hom so vereer het en hom bo al die ander amptenare en onderdane van die koning bevorder het. “ En dit is ook nie al nie,” het hy gesê. “Koningin Ester het vandag net vir my saam met die koning uitgenooi na die onthaal wat sy gegee het. Boonop is ek uitgenooi om môre weer saam met die koning te eet. Maar dit alles help my nks so lank ek teen daardie Jood Mordegai in die poort van die paleis moet vaskyk nie.”
Sy vrou Seres en sy vriende stel toe voor dat hy ‘n paal van 23 meter hoog inplant en die volgende môre vir die koning moet vra om Mordegai daaraan op te hang. Dan kan hy met ‘n vrolike hart saam met die koning na die onthaal toe gaan, sonder dat iets hom sou hinder.
Haman het sommer baie van hierdie voorstel gehou en hy het sommer dadelik gaan reëlings tref dat die galg ingeplant moet word.
Daardie nag kon ek nie slaap nie. Dit was asof iets belangriks my bewussyn ontwyk en my wakker hou. Ek laat toe die boeke oor die geskiedenis van my koninkryk bring en daaruit vir my voorlees. Ek lê en luister hoe daar gelees word van die twee haremamptenare Bigtan en Teres, wat diens as deurwagte gedoen het en ‘n komplot gesmee het om my om die lewe te bring, maar deur Mordegai aan die lig gebring is.
Ek het vir my amptenare gevra watter beloning of erkenning Mordegai hiervoor ontvang het. Die volgende môre het hulle vir my kom sê dat hy niks gekry het nie.
Onderwyl ek hieroor sit en dink, gewaar ek vir Haman, wat besig was om van die buitenste voorhof af in te kom. Hy wou glo by my kom toestemmng vra om Mordegai aan die galg op te hang wat hy opgerig het. Toe hy inkom, vra ek vir hom: “Wat dink jy moet gedoen word aan iemand vir wie die koning graag wil beloon?”
Haman dink: “Vir wie anders as vir my sou die koning wil beloon?” Toe sê hy: “As die koning iemand graag wil beloon, moet hulle van die koning se klere bring en die perd waarop die koning ry, met die koning se embleem op sy voorkop. Die klere en die perd moet vir een van die hoogste amptenare van die koning gegee word en hy moet die klere aantrek vir die man vir wie die koning graag wil beloon. Die amptenaar moet dan die man op die perd laat ry en hom oor die stadspleine lei terwyl hy uitroep: “Dit is wat gedoen word met die persoon wat die koning graag wil beloon!”
“Uitstekend!” sê ek. “Vat dadelik van my klere en my perd. Gaan doen dan soos jy voorgestel het met die Jood Mordegai wat in die poort van die paleis bly. Doen dit presies net soos jy gesê het. Moet niks nalaat nie.”
Haman het toe van my klere gaan vat en ook my perd. Hy het toe na Mordegai gaan soek en vir hom die klere aangetrek. Hy het hom op die rug van die perd laat sit en hom oor die stadspleine gelei, onderwyl hy voor hom uitroep: “Dit is wat gedoen word met die persoon wat die koning graag wil beloon!”
Daarna is Mordegai weer terug na die poort van die paleis toe, terwyl Haman haastig huis toe is, neerslagtig en verneder. Hy het vir sy vrou Seres en al sy vriende vertel wat met hom gebeur het. Seres, wat goeie insig in die gebeure gehad het, sê vir hom: “As Mordegai voor wie jy vandag die knie moes buig ‘n Jood is, is jy nie teen hom opgewasse nie. Hy is beslis jou ondergang.”
HAMAN WORD ONTMASKER EN TEREGGESTEL
Onderwyl hulle nog besig was om met hom te praat, het my amptenare daar opgedaag om hom te kom haal vir die onthaal wat Ester sou gee. Ek self het daarna uitgesien, deels omdat ek graag weer ‘n aangename tydjie in haar pragtige teenwoordigheid wou deurbring, maar die feit dat sy Haman ook telkens daarby betrek het, het my die snuf in die neus laat kry dat sy met baie ernstige sake besig was.
Onderwyl ons toe voor die ete nog besig was om wyn te drink, vra ek weer vir Ester: “Wat wil koningin Ester van my hê? Jy sal dit kry. Wat het jy nodig? Al is dit ook die helfte van my koninkryk wat jy nodig het, sal ek dit vir jou gee.”
Koningin Ester antwoord toe: “As U Majesteit my genadig wil wees en as dit vir u reg is, dan vra ek u om asseblief my en my volk se lewens te spaar. Ek en my volk is verkoop aan hom wat ons wil doodmaak, ons wil uitwis en ons van die aarde af wil wegvee. As ons maar net as slawe en slavinne verkoop was, sou ek stilgebly het. Dit sou dan te onbenullig wees om die koning daarmee lastig te val.
“Wie is dit wat so iets wil doen?” vra ek vir Ester. “Waar is hy?”
Sy antwoord: “Ons vervolger en vyand is hierdie slegte Haman!”
Op daardie oomblik skiet dit my te binne hoe ek in my dronkenskap my goue seëlring aan Haman oorhandig het en hom daarmee toestemming gegee het om die Jode uit te roei. Ek het woedend van die tafel af opgespring en na die tuin van die paleis gegaan om dinge te oorweeg. Haman het by koningin Ester agtergebly om vir sy lewe te smeek. Hy het gesien dis verby met hom by my.
Vervolg...