EVOLUSIE... WAT IS DIT EN KAN EK DIT GLO? (6)

Hanan Viljoen

Lees reeks by Evolusie - wat is dit en kan ek dit glo?

Die 'ou aarde'- en die 'jong aarde'-benadering

Teenoor die 'ou aarde'-benadering van die duisende miljoene jare van Evolusie, staan die 'jong aarde'-benadering van Bybelgelowiges. Daar is ook baie gelowige wetenskaplikes wat hierdie oortuiging deel. Hulle glo dat God die aarde ongeveer sesduisend jaar gelede in ses dae geskep het. Daar is ook baie sterk wetenskaplike feite wat daarop dui dat ons aarde redelik jonk is. Of anders gestel, dat ons aarde nie miljarde jare oud kan wees soos wat evolusioniste beweer nie. Ek noem 'n paar van hierdie wetenskaplike feite hier:

  1. Modder op die seebodem

As die aarde reeds ongeveer vyf miljard jaar oud was soos evolusioniste beweer, sou die see nou tot oorlopens toe vol modder gewees het. Elke jaar word ongeveer 20 tot 25 biljoen ton grond deur verspoeling en winderosie na die see geneem.

Die modderlaag wat tans op die seebodem lê is gemiddeld minder as 400 meter dik. As die jaarlikse invloeiing van modder van 20 tot 25 biljoen ton grond reeds vir vyf miljard jaar so voortgeduur het, sou daar waarskynlik meer modder as water in die see gewees het.  (Terloops: Een biljoen is gelyk aan 'n miljoen maal miljoen).
  1. Sout in die see

Elke jaar neem die aarde se riviere ongeveer 450 miljoen ton sout na die see. Slegs ongeveer 27% van hierdie sout word jaarliks deur winderosie en verdamping weer uit die see geneem. Sover ons weet bly die res van die sout in die see agter. Dis moeilik om presies vas te stel maar dit baie seker om die huidige hoeveelheid sout in die water van die see daar te plaas, baie minder as 42 miljoen jaar sou neem.  As die aarde vyfduisend miljoen jaar oud was moes die see min of meer net uit sout (en modder) bestaan het.

  1. Die magneetveld om die aarde

Die aarde het 'n magneetveld om hom. Dit word oor die afgelope langer as honderd jaar gemeet en gemonitor. Hierdie magneetveld word aan die gang gehou deur 'n elektriese stroom wat in die kern van die aarde opgewek word. "Die tempo waarteen die magneetveld van die aarde afneem dui op 'n aarde wat nie ouer as 10 000 jaar kan weer nie. As die aarde ouer as 10 000 jaar was, sou die aanvanklike elektrisiteitstroom in die aardkern so sterk moes gewees het dat die aarde sou gesmelt het. Hiervolgens sou geen lewe op aarde ouer as 10 000 jaar dus moontlik wees nie." (Sien die boek van dr HD Mouton 'Skepping en Evolusie – Onversoenbaar').

  1. Meteoriet-stof

Wetenskaplikes weet dat meteoriet-stof uit die ruimte op die aarde neersif teen 'n konstante hoeveelheid per jaar. Meting hiervan is gedoen en daar is vasgestel dat die jaarlikse hoeveelheid stof ongeveer 14 miljoen ton is. As die aarde vyf miljard jaar oud sou wees moes daar 'n meteoriet-stoflaag van ongeveer 60 meter oor die hele aarde wees. Tekens van so 'n groot meteoriet-stoflaag bestaan nie – dit dui op 'n jong aarde.

  1. Die draai van die aarde

Die draai van die aarde word algaande stadiger. Dit is hoofsaaklik te wyte aan die remmende invloed van die aantrekkingskragte van die son en die maan. As die aarde vyf miljard jaar oud was sou die aarde se rotasie as gevolg van die remmende kragte reeds tot stilstand gekom het. As ons sou aanneem dat die aarde en die son en die maan reeds miljarde jare oud is, en ons sou die aarde se spoed daarvolgens terugreken, sou dit logies wees dat die aarde in die verlede baie vinniger moes gedraai het – só vinnig dat die kontinente as gevolg van die middelpuntvlietende krag na die ewenaaromgewing sou getrek gewees het. Die aarde sou dan ook meer soos 'n plat pannekoek gelyk het. Ons weet egter dat die aarde steeds balvormig is en dat die kontinente nie langs die ewenaar lê nie. Ons vanselfsprekende gevolgtrekking is dat die aarde nie miljarde jare oud kan wees nie.

  1. Komete

Daar word aanvaar dat komete dieselfde ouderdom is as ons sonnestelsel. Hulle is eintlik groot 'sneeuballe' wat in bane rondom die son beweeg. Elke keer as 'n komeet sy baan rondom die son voltooi smelt 'n deel van sy massa. Noukeurige studie van die disintegrasie van korttermyn komete dui daarop dat hulle oor 10 000 jaar heeltemal sou wegkwyn. Die gevolgtrekking is dat ons sonnestelsel nie baie ouer as 10 000 jaar oud kan wees nie.

Volgende keer praat ons oor die 'fossiele' wat aanhou om Darwin in sy teorie van 'spontane ontwikkeling' te laat sink.