DIE WEDERKOMS (7) (SLOT)

Ds Andrè vd Berg

Lees reeks by  WEDERKOMS VAN CHRISTUS

Die groot verdrukking

Dit kom!

‘n Verdere begrip wat met die leer van die eindtye saamhang, is die 'groot verdrukking'. Gelowiges het van meet af aan die wind sterk van voor gekry. Hierdie wind word al hoe sterker na die einde toe totdat dit stormsterk waai.

In Matt.24 praat Jesus duidelik hiervan: “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wereld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie.  En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie….”.

Dis ‘n vreeslike ding wat vir gelowiges voorlê.  Is daar enige moontlikheid dat iemand hierdie verdrukking en finale swaarkry kan vryspring?  Nee, nie eens die toegewydste gelowige nie!

Jesus sê self dat as ons Hom wil volg, ons self ons kruis moet dra.  Petrus vermaan die gelowiges in 2 Petr.3:14 om hulle lyding met waardigheid te dra.  Slegs diegene wat enduit volhard sal gered word.  Ons gaan nie in watte toegedraai word omdat ons glo en sodoende die verdrukking gespaar word nie.

Die geloofslewe is geen ongeluksvrywaringspolis nie.  Daarvan kan die vrome Job getuig!  Ons sal ons kruise moet dra en dit gaan bitter swaar soos wat die wederkoms naderkom. Die kruis van Jesus is nie ‘n ekstra op ons skouer nie, maar standaardtoerusting!

Die wegraping – 'n dwaallering

Dit bring my by ‘n ergerlike dwaallering wat, strydig met God’s Woord, leer dat daar wel ‘n  ontsnaproete is. Hierdie leuen word selfs vanaf kansels verkondig en gee bangbroekkiges vals hoop.  Dis die dwaling van die sg.wegraping.  Dit kom daarop neer dat sekere gelowiges, wie se geloof sterk genoeg is, die groot verdrukking gaan vryspring.  Christus gaan hulle kort voor sy wederkoms van die aarde af opraap en die finale swaarkry spaar.

Mense wat dit glo, verstaan die Bybel op ‘n hele paar plekke baie verkeerd. Een ding moet ons weet nl.dat die kerk nog altyd verdrukking ervaar het. Vervolging is nie die uitsondering nie, maar die bestaanswyse van die kerk. 1 Thess.1 sê baie duidelik dat die hele kerk tot en met die wederkoms van Jesus op die aarde teenwoordig sal wees.  Geen gelowige sal voor die tyd opgepluk word nie.

In 1 Thess.4:17 word die gelowiges wat Jesus in die lug tegemoet gaan, nie weggeraap nie. Hulle ontmoet Hom, ontdaan van alle natuurkragte, vreugdevol in die lug.  Die opskrif bokant vers 13 sê dan ook waaroor die betrokke Skrifgedeelte gaan – Jesus se wederkoms. Wie hierin ‘n wegraping wil sien, is moedswillig en wys weereens op die gevaar as jy die Bybel wil laat buikspreek.

Die leer van die wegraping skreeu veral teen die boodskap van die boek Openbaring.  Hierdie laaste boek van die Bybel gee gelowiges die heerlike versekering dat Christus op ‘n besondere wyse met hulle is of dit nou die Romeins-Joodse vervolging aan die begin van die Christelike era of die groot verdrukking aan die einde gaan wees; die boodskap bly dieselfde: Christus stap die pad saam met sy kinders.. Hy het immers belowe: “Kyk, Ek is met julle tot aan die volein-ding” Die Woord van God sê dat Hy ons nie wegruk nie, maar die moeilike pad saamstap.

Wie word volgens hierdie dwaalleer weggeraap?  Diegene wat ‘n sekere graad van heilig- making bereik het.  Besef gereformeerdes wat hier geleer word?  Niks anders as werkheilig-heid nie!  Daarmee word ‘n dik streep deur die slagspreuk van die Hervorming getrek - soli gratia - genade alleen!

Al die tekste wat kwansuis op ‘n wegraping dui, het in werklikheid met die wederkoms te doen.  Die Bybel praat dikwels oor die wederkoms maar swyg soos die graf oor ‘n wegraping! Waarom maak Christus dan nie in sy Profetiese Rede (Matt.24+25) daarvan melding indien dit so belangrik is nie?  Om die waarheid te sê, bestaan daar nie eens so ‘n woord soos wegraping in die Bybel nie!  Dis maar ‘n sektaries-gefabriseerde woord.  Nog minder is hierdie dwaalleer ooit in enige Gereformeerde belydenisskrif opgeneem.

Die duisendjarige vrederyk -  nog 'n dwaallering

Nog ‘n dwaallering rakende die eindtyd wat wyd en syd verkondig word, is die leer van die sg duisendjarige vrederyk. Dis totaal vreemd aan die Bybel, nie eens van die term te praat nie!  Al wat die boek Openbaring vir ons sê, is dat Satan vir ‘n duisend jaar ingebind en net voor die wederkoms weer losgelaat word.

Hierdie duisend jaar is simbolies en dui ‘n baie lang tydperk aan. Ongelukkig word hierdie binding van Satan deur sommige mense tot ‘n verbeeldingryke vredesryk uitgebou waar daar geen sonde, dood of smarte sal wees nie.

Die binding van Satan het met die hemelvaart van Christus plaasgevind.  Die rede hiervoor was dat die evangelie aan alle nasies verkondig kon word.  As satan nie gebind is nie, kon die goeie boodskap nie doeltreffend versprei word nie.  Die binding van Satan beteken egter nie dat hy magteloos is nie, maar slegs soos ‘n kwaai hond aan ‘n ketting aan bande gelê word.  Hierdie ketting sal net voor die wederkoms losgemaak word.  As ‘n mens kyk wat vandag in die wêreld gebeur, wil ‘n mens straks glo dat die ketting reeds los is.

Die einde

Die Bybel sê vir ons dat diegene wat die aardse verdrukking enduit deurstaan by hulle dood by Christus aansluit om vir die volle tyd tot en met sy wederkoms saam met Hom te regeer.  Die Bybel eindig met die goeie nuus dat God aan die einde van die tyd wen. Op sy bepaalde dag vernietig Hy alle bose magte.

Daarna verskyn alle mense voor Christus.  Johannes sien dat die boeke van die oordeel oopgemaak slaan word waarin al die name van al die verlorenes voorkom. Hulle dade getuig teen hulle en hulle ontvang die gepaste oordeel. Gelowiges word nie volgens hulle dade geoordeel nie omdat Christus se bloed daaroor gestort is.  Hulle name staan in ‘n ander boek - die boek van die lewe geskryf.

Christus kyk dus of na mense se name. As jou naam in die boeke van die oordeel staan, wag die ewige verdoemenis op jou. As dit in die boek van die lewe staan, wag die nuwe Jerusalem op jou.

Die Bruidegom is oppad. Gaan vertel dit aan alle mense en maak gou!