Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die afgelope 24 uur het God alweer vir jou die geskenk van 86 000 sekondes gegee. Het jy een van hulle gebruik om vir Hom dankie te sê?
VOLKSVERRAAIERS WAS DAAR ALTYD (2)
BRAM FISCHER
...KOMMUNIS, ATEÏS, OPPORTUNIS, BOMPLANTER EN VOLKSVERRAAIER
Verdere blootlegging van ondermynende bedrywighede
Tydens die Rivonia-verhoor en die polisieondersoek wat dit voorafgegaan het, is 'n menigte aanknopingspunte gevind wat gelei het tot die verdere blootlegging van ondermynende bedrywighede in Suid-Afrika.
Ooreenkomstig 'n praktyk gevolg in ander Westerse lande, het die veiligheidspolisie ook gebruik gemaak van 'n metode wat veel vrugte afgewerp het, naamlik die plant van polisieagente ("spioene") tussen linksgesindes, wat die polisie dan gereeld op hoogte gehou het van ondergrondse aktiwiteite. Een so 'n agent was Gerald Ludi. Hy was besonder suksesvol en daarvoor verantwoordelik dat Kommuniste 'n gevoelige knou toegedien is. Ludi het gewoonweg by die polisie aangesluit waarna hy as student by die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) ingeskryf is en spoedig by linkse studentebedrywighede betrokke geraak en as 'n aktivis bekend geraak het. Later het hy 'n verslaggewer by die Rand Daily Mail en The Star geword en sy linkse aktiwiteite voortgesit en kontakte in daardie kringe opgebou. Mettertyd het hy ook lid geword van die Congress of Democrats, 'n belangrike frontorganisasie van die SAKP; uiteindelik, in Mei 1963, is hy as volwaardige lid van die SAKP aanvaar en ingeskryf.Oor 'n tydperk van etlike jare het Ludi honderde verslae oor en bandopnames van Kommunistiese bedrywighede aan die polisie verskaf. Hy het ook gereeld vergaderings van Kommunistiese selle bygewoon waar hy onder andere ook vir Bram Fischer leer ken het. By hulle eerste ontmoeting het Fischer hom — ironies genoeg — gewaarsku teen polisie-infiltrasie!
Ludi was naderhand so hoog aangeskryf in die SAKP dat hulle hom tesame met 'n ander lid van die Party na 'n belangrike Kommunistiese kongres in Moskou gestuur het. Hier het hy inligting bekom wat klaarblyklik baie waardevol vir die owerheid was.
Oor al hierdie aangeleenthede het Ludi volledige verslae by die polisie ingedien.
Geleidelik het die polisie dus goed ingelig geraak oor alle bedrywighede en planne van die SAKP. Aanhoudings ingevolge die 90 dae-klousule het ook gehelp om landsgevaarlike aktiwiteite bloot te lê.
Aan die hand van al die getuienis wat beskikbaar geraak het, het die polisie 'n paar weke ná die Johannesburgse stasiebom, volgens 'n goed uitgewerkte plan, op sowat 100 huise van mense dwarsdeur die land toegeslaan en ongeveer 50 mense gearresteer. Benewens ander bewysmateriaal het die polisie beslag gelê op twee radiosenders, etlike houers vol springstof, tydmeganismes en volledige planne vir sabotasieaanvalle. Die vonds van hierdie bewysstukke het daartoe gelei dat 'n groot aantal addisionele arrestasies gedoen is.
'n Besonder belangrike gevolgtrekking wat uit die getuienis wat op hierdie wyse ingesamel is, gemaak kon word, was dat daar inderdaad — soos reeds geblyk het tydens die Rivonia-verhoor — deurlopende skakeling was tussen die Kremlin en plaaslike Kommuniste.
Een van die mense wat as gevolg van die klopjagte in hegtenis geneem is, was adv. Bram Fischer QC, die leier van die verdedigingspan in die Rivonia-verhoor. Hy is na twee dae vrygelaat, aangesien dit geblyk het dat verdere ondersoek nodig was aleer hy aangekla kon word.
Fischer is weer op 23 September 1964 gearresteer en tesame met tien ander mense ingevolge die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme in die Johannesburgse streekhof aangekla. Die saak is uitgestel en op die rol geplaas vir verhoor in November 1964.
Intussen het Fischer 'n advokaatsopdrag ontvang om in Oktober 1964 in 'n kopieregsaak waarin hy vantevore betrokke was voor die Geheime Raad in Londen te verskyn. Aanvanklik is sy aansoek om 'n paspoort geweier, dog twee dae voor sy arrestasie is dit deur die minister van Binnelandse Sake na oorlegpleging met die minister van Justisie, John Vorster, toegestaan. (Dit het later geblyk dat hierdie besluit geneem is op aanbeveling van die hoof van die veiligheidspolisie, Hendrik van den Bergh, aangesien die polisie graag vir Fischer in Londen wou hê ten einde hom daar om bepaalde doeleindes te laat dophou — wat dan ook blykbaar gebeur het.
Fischer se advokaat het vervolgens by die streekhof aansoek om borgtog gedoen om Fischer in staat te stel om die opdrag uit te voer.
Die aansoek het geslaag hoofsaaklik in die lig van die feit dat die paspoort deur die regering uitgereik is en Fischer daarby onderneem het om ná sy verskyning voor die Geheime Raad na Suid-Afrika terug te keer en sy verhoor by te woon. 'n Bedrag van R10,000 is as borgtog vasgestel. Die bedrag is betaal en Fischer is vrygelaat.
Fischer se eggenote Molly is intussen oorlede as gevolg van 'n tragiese motorongeluk naby Bloemfontein terwyl sy, Fischer en nog iemand op pad na Kaapstad was om Fischer in staat te stel om onder andere met Nelson Mandela-hulle, wat toe reeds op Robbeneiland was, oorleg te pleeg in verband met die moontlikheid van appèl in die Rivonia-saak. Fischer se oudste dogter Ruth en haar man het inmiddels na Londen verhuis en daar gewoon. Fischer was ook besig om reëlings te tref vir sy enigste seun Paul om aan 'n universiteit in Engeland te studeer. Fischer het dus nie meer sterk persoonlike bande gehad wat hom aan Suid-Afrika geknoop het nie. Boonop was dit reeds bekend dat die minister van Justisie besluit het om wetgewing by die parlement in te dien wat Kommuniste sou verhinder om as advokate of prokureurs te praktiseer. Dit sou meebring dat Fischer nie langer sy professie in Suid-Afrika kon beoefen nie. Aan die ander kant sou hy heel maklik en met aansienlike persoonlike voordeel sy professie in Londen kon voortsit en sodoende 'n nuwe lewe daar kon begin. En gegewe sy bekwaamhede, die wye ervaring wat hy gehad het en die openbare aansien wat hy geniet het, sou hy heel waarskynlik binne 'n paar jaar 'n aanstelling op die Britse regbank kon gekry het.
Dit is derhalwe te verstane dat Fischer se vriende en kamerade in Londen asook sy dogter Ruth hom probeer oorreed het om sy borgvoorwaardes te verbreek en hom in Londen te vestig. Daar het destyds ook geen verdrag vir die uitlewering van voortvlugtige oortreders tussen Brittanje en Suid-Afrika bestaan nie en bowendien was Fischer van politieke misdrywe aangekla, waarvoor uitlewering in elk geval kragtens volkeregtelike gebruik nie toegestaan word nie. Gevolglik sou Fischer — afgesien van die persoonlike voordele wat vestiging aldaar vir hom sou meegebring het — heeltemal veilig in Londen gewees het.
Gegewe dus Fischer se persoonlike omstandighede, die feit dat hy — volgens sy eie siening — geen misdaad gepleeg het nie en bloot vanweë sy politieke oortuigings vervolg is, moes dit uiters aantreklik vir hom gewees het om sy vriende se raad te aanvaar en in Londen te bly. Die feit dat hy onderneem het om sy borgvoorwaardes na te kom en na Suid- Afrika terug te keer, kon ook nie deurslaggewend vir Fischer gewees het nie. Buitendien het hy dit reeds in Londen in die vooruitsig gestel om sy borgvoorwaardes in Suid-Afrika te verbreek en ondergronds te gaan — wat hy inderdaad dan ook gedoen het (sien verderaan). As oortuigde Marxis sou Fischer dus blykbaar geen gewetensprobleme gehad het om sy borgvoorwaardes te verbreek en in Londen te bly nie.
Waarom het Fischer dan besluit om wel na Suid-Afrika terug te keer en al die voordele van vestiging in Londen oorboord te gooi? Die volgende uittreksel uit Clingman se boek gee waarskynlik die antwoord hierop:
"Anthony (Ruth se man en dus Fischer se skoonseun), more forthright, confronted him (Fischer) on the question of his future, saying that his career at the Bar would be lost if he returned. 'Fuck my career,' replied Bram, and though the language was uncharacteristically blunt the sentiment was in keeping. Bram may have doubts about his plans, but not about the proper place of his own desires and needs. Some who knew Bram at this time felt that the trauma he had undergone only galvanised the steeliness within, as he became, if anything, even more resolutely committed to the path of his decisions."
Dit was dus Fischer se toegewydheid aan die weg van Marxisme wat hy lank gelede reeds besluit het om in te slaan, gepaard met sy staalharde beslistheid om sy planne deur te voer, wat by hom die deurslag gegee het om na Suid-Afrika terug te keer en die "stryd" met die "apartheidsregering" voort te sit.
Sover vasgestel, was Fischer die enigste Suid-Afrikaanse Kommunis (wit of swart) wat hierdie mate van toegewydheid geopenbaar het. Was hierdie toegewydheid straks te danke aan sy Afrikanerwortels? Al sy mede-"comrades" — Engelse, Jode, Indiërs, sogenaamde Kleurlinge, swart mense, noem maar op — wat daarin geslaag het om die polisie te ontglip, het landuit gevlug toe die polisie toeslaan. Spotprente wat destyds in koerante verskyn het, het hierdie uittog prettig geïllustreer. Dit kan net wees dat John Vorster, deur die toekenning van die paspoort, dit opsetlik vir Fischer moontlik gemaak het om ook die hasepad te kies, want dat laasgenoemde as Afrikaner toentertyd 'n verleentheid vir 'n Afrikaner-regering was, is nie te betwyfel nie. 'n Mens sluk swaar aan die bewering dat die veiligheidspolisie 'n paspoort vir Fischer aanbeveel het net om hom in Londen te laat dophou.
Fischer het sy saak voor die Geheime Raad gewen — sy laaste optrede as advokaat. Op 2 November 1964 het hy na sy land teruggekeer.
Die verhoor in die Johannesburgse streekhof het op 16 November 1964 begin, 'n Paar beskuldigdes is bygevoeg sodat daar benewens Fischer, wat beskuldigde No. 1 was, dertien ander aangeklaagdes was. Die name van die beskuldigdes was: Bram Fischer, Ivan Frederick Schermbrucker (43), Eli Weinberg (56), Esther Barsel (40), Norman Levy (35), Lewis Baker (54), Jean Middleton (Strachan) (26), Anne Nicholson (24), Constantinos Gazides (28), Paul Henry Trewhela (23), Sylvia Neame (26), Florence Duncan (31), Molly Irene Doyle (29) en Hymie Barsel (44). Bykomend tot die advokate wat tevore namens die beskuldigdes opgetree het (H. Hanson SC en Vernon Berrange) is advokaat Ismail Mahomed (wat in die nuwe bedeling as hoofregter van Suid-Afrika aangestel is) in 'n latere stadium tot die span gevoeg.
Adv. J.H. Liebenberg van die prokureur-generaal se kantoor, bygestaan deur staatsaanklaer A.O. Maree, het namens die staat verskyn.
Drie aanklagte is teen die beskuldigdes ingedien: dat hulle lede van die SAKP was; dat hulle deelgeneem het aan bedrywighede van die SAKP; en dat hulle die doelstellings van Kommunisme bevorder het. Op elk van die aanklagte kon 'n vonnis van hoogstens drie jaar gevangenisstraf opgelê gewees het.
Piet Beyleveld — een van die baie min Afrikaners benewens Fischer wat 'n Kommunis geword het — was 'n baie senior en gesiene lid van die SAKP. Hy het so ver gevorder in die Kommunistiese hiërargie dat hy op 26 Junie 1955 tydens die "Congress of the People" deur die aanwesiges gekies is en daarna opgetree het as voorsitter van die byeenkoms wat op Kliptown die veelbesproke "Freedom Charter" aanvaar het. Dit was dus haas ondenkbaar — veral vir sy ou vriend Fischer — dat hy sy lojaliteite oorboord sou gooi en teen sy oudkamerade sou getuig. Tog het dit gebeur — sommiges meen as gevolg van sy aanhouding ingevolge die 90 dae- klousule; die polisie weer het beweer dat hy dit vrywillig gedoen het nadat hy besef het dat hy vasgetrek is.
Hoe dit sy, tot groot ontsteltenis van Fischer het Beyleveld vir die staat in die saak getuig en die Kommuniste se aktiwiteite tot in die fynste besonderhede oopgevlek, en onder meer ook getuig van groot somme geld wat deur die Kremlin aan die SAKP geskenk is. Toe hy tydens kruisondervraging deur Berrange gevra is waarom hy so maklik 'n verklaring aan die polisie gemaak het, het hy geantwoord:
"I recognised that the Party (die SAKP) had suffered complete defeat. . . The shock to me was that the police knew as much as they did."
Die volgende is ook deur Hanson aan Beyleveld gestel:
"He (Fischer) has been widely revered," waarop Beyleveld geantwoord het: "Yes, and by me too. He still is."
"I was interested to hear you say that," het Hanson gereageer en voortgegaan: "I don't like to put this in my client's (Fischer's) presence, but he is a man who carries something of an aura of a saint-like quality, does he not?" — waarop Beyleveld bevestigend geantwoord het.
Dit is presies wat Fischer (volgens die owerheid se siening) so gevaarlik gemaak het. Vir gewone mense het hy die aura gedra van 'n soort heilige wat groot respek afgedwing het; sy volgelinge sou hom dus sonder meer gevolg het. Diep binne homself was hy egter 'n staalharde mens wat nie geaarsel het om besluite te neem wat tot mense se dood of ernstige besering kon lei nie. 'n Goeie illustrasie van hierdie kenmerk van hom is te vinde in sy reaksie toe hy vertel is van Philip Kgosana en sowat 30 000 ander swart mense se opmars na die parlementsgebou in Kaapstad in 1961 en dat hulle deur die polisie ter elfder ure in die middestad van Kaapstad oorreed is om op vreedsame wyse om te draai. Enige redelike mens sou verheug gewees het oor die massa mense se besluit om om te draai, aangesien 'n groot katastrofe sou gevolg het indien die duisende gewapende mense sou handuit ruk en daartoe sou oorgegaan het om mense aan te val en geboue te beskadig. Fischer, inteendeel, was kwaad toe hy verneem dat die mense hulle laat oorreed het en het aan sy dogter Ruth gesë: "Why the hell did they turn around! You know they had it there, they could have done it..." (d.w.s die skepping van so 'n katastrofe.)
Nadat Beyleveld sy getuienis voltooi het, was daar nog 'n skok vir die verdediging toe Gerard Ludi die getuiebank betree en homself as 'n adjudant-offisier in die veiligheidspolisie geïdentifiseer het.
Ludi het sy volle verhaal (soos reeds gedeeltelik hierbo geskets) aan die hof oorgedra. Sy getuienis oor bomme, moorde, brandstigting en verskeie vorms van geweld en al die intriges wat daarmee gepaard gegaan het, het gewone Suid-Afrikaners met afsku en verbystering gevul. Hy het afgesluit deur te sê dat die SAKP in die rigting van 'n coup detat werk om 'n Kommunistiese staat in Suid-Afrika te vestig.
Ná Ludi se getuienis was dit duidelik dat die SAKP totaal ontbloot was en dat Beyleveld korrek was toe hy gesê het dat daar niks was wat die polisie nie omtrent die party geweet het nie.
Toe die hof vir die reses van Desember 1964 verdaag, moes Fischer besef het dat sy ideaal om Kommunisme in Suid- Afrika te vestig aan skerwe gelê is en dat hy noodwendig tronkstraf sou kry en sodoende verhinder sou word om die SAKP weer op dreef te kry. Gevolglik het hy tydens die reses, na oorlegpleging met sy kamerade, die dwase besluit geneem om die verhoor te ontduik en ondergronds te gaan in 'n poging om nuwe lewe in die party te blaas. Vervolgens het hy al die nodige maatreëls begin tref om dit vir hom moontlik te maak om effektief te "verdwyn".
Met aanvang van die hofsitting op Maandag 25 Januarie 1965 was Fischer afwesig. Sy advokaat, Hanson, het opgestaan en die hof meegedeel dat 'n brief van Fischer hom die oggend bereik het — wat hy met die toestemming van die hof voorgelees het. Dit het soos volg gelui(6):
"I wish you to inform the Court that my absence, though deliberate, is not intended in any way to be disrespectful. Nor is it prompted by any fear of the punishment which might be inflicted on me. Indeed I realise fully that my eventual punishment may be increased by my present conduct. I have not taken this step lightly. As you will no doubt understand, I have experienced great conflict between my desire to stay with my fellow accused and, on the other hand, to try to continue the political work I believe to be essential. My decision was made only because I believe that it is the duty of every true opponent of this Government to remain in this country and to oppose its monstrous policy of apartheid with every means in his power. That is what I shall do for as long as I can.
"In brief, the reasons which have compelled me to take this step and which I wish you to communicate to the Court are the following:
"There are already over 2 500 political prisoners in our prisons. These men and women are not criminals but the staunchest opponents of apartheid.
"Cruel, discriminatory laws multiply each year, bitterness and hatred of the Government and its laws are growing daily. No outlet for this hatred is permitted because political rights have been removed, National organisations have been outlawed and leaders, not in gaol, have been banned from speaking and meeting. People are hounded by Pass Laws and by Group Area controls.
"Torture by solitary confinement, and worse, has been legalised by an elected Parliament — surely an event unique in history.
"It is no answer to all this to say that Bantustans will be created nor that the country is prosperous. The vast majority of the people are prevented from sharing in the country's wealth by the Colour Bar in industry and mining and by the prohibition against owning land save in relatively small and grossly over-crowded parts of the country where, in any case, there exist no mines or industries. The idea that Bantustans will provide any solution would deceive no-one but a White South African.
"What is needed is for White South Africans to shake themselves out of their complacency, a complacency intensified by the present economic boom built upon racial discrimi¬nation.
"Unless this whole intolerable system is changed radically and rapidly, disaster must follow. Appalling bloodshed and civil war will become inevitable because, as long as there is oppression of a majority, such oppression will be fought with increasing hatred.
"To try to avoid this becomes a supreme duty, particularly for an Afrikaner, because it is largely the representatives of my fellow Afrikaners who have been responsible for the worst of these discriminatory laws.
"These are my reasons for absenting myself from Court. If by my fight I can encourage even some people to think about, to understand and to abandon the policies they now so blindly follow, I shall not regret any punishment I may incur.
"I can no longer serve justice in the way I have attempted to do during the past thirty years. I can do it only in the way I have now chosen.
"Finally, I would like you to urge upon the Court to bear in mind that if it does have to punish any of my fellow accused, it will be punishing them for holding the ideas today that will be universally accepted tomorrow."
Die verhoor is sonder Fischer voortgesit. Teen die einde van die verhoor het ses van die beskuldigdes — Strachan, Nicholson, Gazides, Trewhela, Duncan en Neame — openlik erken dat hulle lede van die SAKP was.
Die meeste van die beskuldigdes is skuldig bevind en hul vonnisse is op 13 April 1965 uitgespreek. Die maksimum vonnis wat 'n veroordeelde opgelê is, was 'n totaal van vyf jaar gevangenisstraf. Dit is min of meer ook die vonnis wat Fischer sou gekry het. Indien hy dus nie gevlug het nie, kon hy heel waarskynlik na verloop van ongeveer vyf jaar weer 'n vry man gewees het. Soos later sal blyk, het sy besluit om ondergronds te gaan vernietigende gevolge vir hom en sy familie meegebring.
Vervolg...