Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ronald Reagan het oumense teen huigelaars gewaarsku en gesê: As mense jou begin vertel hoe jonk jy lyk, is dit maar net ‘n ander manier om te sê dat jy deksels oud word!
‘N TRAGEDIE
Dr Gustav Norval
uit sy boek “Takhare en Joiners”
Die geskiedenis van ons Boervok is deurdrenk van bloed, trane en lyding. Dink maar net aan die 30,000 kinders, onder 16 jaar, wat gedurende vir 32 maande van oorlog vanaf 1899 tot 1902 omgekom het om die hebsug en gierigheid van ‘n empire te bevredig. Die lyding wat hierdie kinders en hul moeders deurgemaak het, sou biblioteke vol boeke gevul het. Een van die lydingsverhale wat mens aangryp tot in jou siel, is die van ‘n baba wat sy of haar lewe gedurende 1901 moes inboet. Vandag is die dierbare lewe van hierdie klein wese vergete en toegemessel in die newels van die tyd. Gebore in ‘n wrede wêreld waar oorlog, wraak, haat en nyd hoogty gevier het, n wese sonder naam, sonder geboortedatum en wie weet waar begrawe. Die tragedie het begin toe Britse troepe een dag op ‘n plaas naby Standerton opgedaag het.
“Where is your husband” het ‘n rooigesig offisier met ‘n geel snor die vrou in haar gesig toegesnou.
“Waar is jou man” het joiner Els (van die plaas Slootkraal, Heilbron distrik) getolk.
“Besig om teen jou gespuis te veg… hy kruip nie weg soos julle judasboere agter die Ingelse nie.”
“Burn that shack down and tell that woman to prepare to come along. Tell her to sign this paper first”.
Die vrou het die papier bekyk en kon nie die inhoud verstaan nie, maar die joiner het gesê sy moet teken vir haar eie beswil :
“I hereby declare that I….. (name), willingly sought British protection to be sent to a safe place where I and my children will be cared for and be fed, as my livelihood has been commandeered by roving Boer bandits for their own use and I was left with but nothing to care for and feed my children. Signed ect……”
Joiner Els: “die kaptein sê jy’t vyf minute, dan laai ons jou ennie kinners op.”
Met skok en afgryse vervul, het die moeder die baba in haar arms aan die swart vrou in die kombuis afgegee, die ander kinders geroep en ‘n paar items uit haar en die kinderkamer gegryp. ‘n Paar komberse, ‘n rok en kinderklere, ‘n portret van haar en haar man se troudag, ‘n fluweel-handsak wat haar ouma vir haar gegee het en wat saam met die Franse Hugenote in die Kaap geland het. Dan ook ‘n blikkie met botteltjies rooi laventel, balsemkopiva, harmansdrup en witdulsies, asook ‘n jakkalsvelbeursie wat haar man nog gemaak het, waarin ‘n klompie Krugerponde was.
Intussen het die bende Kakies die meubels in die voorhuis opgestapel, die gordyne afgeruk en tussen die meubels ingeprop. Nadat kerosien op die hoop uitgegooi was, was alles aan die brand gesteek. Elders het die Kakies al die pluimvee gevang en hulle aan hul pote aan die perde se saels gehang. Die skuur en die kapkar was toe al aan brand en al die melkkoeie in die kraal doodgeskiet. Rooigesig het weer op die vrou en kinders gegil : “Come along you lot, get a move on, we haven’t got all day”’.
Els het die items wat die vrou inderhaas gegryp het, opgeraap en na die wa gehardloop, terwyl rook uit die kamers geborrel het. Die Krugerponde het in sy sak verdwyn terwyl die rumoer aan die gang was. Die wa was al ‘n hele ent weg, toe die vrou agterkom dat die swart vrou en die baba nie op die wa was nie. Sy het die joiner met verbystering gebied om te stop en terug te draai, maar hy was onverbiddelik en wou nie toegee nie.
Rooigesig : “What is this**** woman raving about?”
Els : “She wants us to turn back captain”.
Rooigesig : “Out of the question. Forward!”
So was die prosessie voortgesit na een of ander kamp van die dood, maar trane, mooipraat, soebat en woede het niks gebaat nie. ‘n Tragedie was in wording.
Dae later, of was dit weke later, het ‘n paar Boere op die verlate plaas opgedaag om iets te ete of iets bruikbaar in die puinhope te soek. Een van die burgers het iets op die kraalmuur gesien en soontoe gestap. Geskok en verbaas het hy uitgeroep
“O *** Veldkornet, kom kyk gou hier!”
Op die muur het ‘n patetiese bondeltjie gelê, nog toegedraai in ‘n wit tjalie, vergete in die son gelaat, die kappie nog op die klein koppie, die vel en lyfie gemummifiseer, en gesiggie swart verbrand en verskrompe deur son en weer. In die kraal was die koeie se beendere skoon gestroop deur jakkalse en aasvoëls, maar die baba se lykie was onaangetas. Die storie hou net hier op en ons weet nie hoe die verhaal verder verloop het nie en of die vader, of die moeder en ander kinders oorleef het nie.
Ja, klein gesiggie, ons ken nie jou naam of weet waar jou graffie is nie. Klein gesiggie, jy was nie beskore om die lief en die leed van die lewe te ervaar nie, want jy was ontruk uit hierdie wrede wêreld 124 jaar gelede. Jou lewetjie was soos ‘n vuurtjie wat gou geblus was en jou gees het soos ’n rookie na bo gestyg. Klein gesiggie, weet gerus ons sal jou nie vergeet nie, want jy was een van so baie slagoffers van ‘n empire wat jou lewetjie geneem het, maar jou siel en gees kon hulle nie bykom nie. Klein gesiggie, speel gerus met jou liewe maatjies wat ook soos jy ontydig vermoor was, want nou is julle veilig by ons Messiah se voete.