VOORTREKKER- PIONIERS (6)

Dr JP Botha

Lees reeks by Voortrekker-pioniers

Vestiging van die Ohrigstadse gemeenskap  (2)

Die besluit dat die gesag van die hoofkommandant onder dié van die volksraad sou staan, was vir die groot getal ondersteuners van Potgieter in die maatskappy soos ‘n rooi doek voor ‘n bul en nog dieselfde dag het hulle ‘n geskrif opgestel wat deur 122 persone onderteken is en waarin hulle op ondubbelsinnige wyse uiteengesit het wat hulle van Potgieter dink en wat hulle van die raad ten aansien van hom verlang.

In die skrifstuk roem hulle Potgieter se standvastigheid en ywer ten behoewe van die emigrante se welvaart en vryheid.  Hulle noem die kommissies wat hy gemaak het in 1836 en weer in 1844 na die Portugese ter wille van die welvaart van die Trekkers en eis dat hy die hoogste gesag in die maatskappy sal beklee, wat die volksraad in tye van sy afwesigheid sal oorneem.

Die raad het op die  20e Augustus 1845 die memorie behandel.  Die besluit wat daaroor geneem is, is in die notule sleg geformuleer, maar dui tog daarop dat aan die wense van die memoraliste voldoen is.

Hiermee was die volgelinge van Potgieter en die hoofkommandant skynbaar tevrede en die dreigende botsing voorlopig besweer.  Die raad kon nou sy aandag aan die ander spoedeisende sake wy.  Die eerste was om ‘n behoorlike staatsbestuur en administrasie in te stel.

Die raad het aanvanklik uit net 9 lede bestaan, maar op10 Desember 1845 het die publiek nog sewe lede gekies om die raad voltallig te maak.  Die publiek het die vergaderings bygewoon en die raadslede gekies.

Vir bewaring van rus en orde het die raad op die kommandante en veldkornette gesteun, wat reeds voor die verhuising gekies is.  Veldkornette moes burgers wees van goeie naam en faam en minstens 25 jaar oud wees.  ‘n Veldkornet is van alle belastings vrygestel.  Hulle was met regterlike gesag beklee en was ook ondergeskikte magistraatspersone, wat die pligte van die landdros in sy afwesigheid moes behartig.  Hulle moes toesien dat die rus en goeie orde in hul omtrek nie versteur word nie.

Dit was die plig van die veldkornette om alle wette en besluite van die volksraad in hul wyke bekend te stel en sorg te dra dat daaraan uitvoering gegee word.  Afgesien van hulle gehoorsaamheid aan volksraadsbevele, moes die veldkornette ook nog die instruksies van die landdros en heemrade en die hoofkommandant uitvoer

Die veldkornet moes vir sy wyk ‘n register aanhou, bevattende die name van burgers oor 16 jaar oud en waarin ook alle sterfgevalle aangeteken word. Verder moes die veldkornette ook nog lykskouings hou in geval van onnatuurlike sterfgevalle, gepleegde misdade aan die landdros rapporteer, misdadigers in hegtenis neem en die burgerstrydmag op las van die hoofkommandant in tye van oorlog opkommandeer.

Dat hierdie veldkornette hulle uitstekend van hulle taak gekwyt het, word bewys deur die feit dat die raad dit nie nodig geag het om ‘n landdros vir die nuwe gebied te benoem voor Januarie 1846 nie.  Die persoon wat toe benoem is, was maar baie huiwerig om die pos te aanvaar, maar het dit gedoen op voorwaarde dat hy weer oor ses maande ontslaan sou word, en nadat al die raadslede hom van hul steun verseker het.  Weens gebrek aan die middele om aan hom ‘n gereëlde salaris te betaal, is besluit dat hy as beloning sou geniet alle inkomsten van landdrost cantoor als trouw gelden, proseskostens, (en) alle boetens dat niet in saken van apel komt te vallen.

Op 8 Oktober 1845 het die raad dit alreeds nodig gevind om PJ Fourie en PJ Schutte as huwelikskommissarisse vir die gemeenskap aan te stel.

(Vervolg)