Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hoe weet jy wanneer iemand heel moontlik 'n wonderlike vriend of goeie huweliksmateriaal is? Dit sal iemand wees met 'n sin vir die klein dingetjies, wat lekker kan lag, saam met jou en oor homself.
VOORTREKKER- PIONIERS (26)
Dr JP Botha
Lees reeks by Voortrekker-pioniers
Lydenburg skei af (1)
Die uiteindelike verkryging van staatkundige eenheid het dus helaas geen harte-eenheid meegebring nie. Veral die Lydenburgers, wat inderdaad die volksraadgesinde Ohrigstadters was wat die stryd so lank teen Potgieter gevoer het, was nie so maklik vir hartlike samewerking te vinde nie en omstandighede het daartoe bygedra om hulle steeds meer en meer van die res van die republiek te laat vervreem.
In die eerste plek het die wegtrek van Potgieter na Soutpansberg en die terugkeer vanaf Ohrigstad na Potchefstroom en Magaliesberg van ‘n aansienlike getal huisgesinne wat nie aan die volkraadsparty behoort het nie, hulle as ‘n geïsoleerde groep in Oos-Transvaal laat agterbly met Lydenburg as hoofsetel. Hierdie geïsoleerdes het ‘n onwrikbare vertroue in Smellekamp se raadgewings gekoester en sy raad om die 25e breedtegraad as die suidgrens van die republiek te beskou, só ter harte geneem dat hulle inderdaad vyandig gestaan het teen die pogings van Andries Pretorius om die Engelse uit die Vrystaatse gebied te verdryf. Só sterk het hulle oor hierdie saak gevoel dat hulle sedert 1848 hulle distrik stelselmatig van Pretorius-volgelinge gesuiwer het en daardeur nog meer geïsoleerd geraak het. Hulle het naamlik almal wat aan Pretorius se oproep gehoor gegee het om die Engelse uit die Vrystaat te gaan verdrywe, gedwing om hulle distrik te verlaat, sodat in Ohrigstad en later in Lydenburg alleen ‘n klein getal “gesuiwerde” isolasioniste oorgebly het.
‘n Hollander wat Lydenburg in 1858 besoek het, het verklaar dat die hele dorp maar uit sowat 20 wonings bestaan het, versprei in ‘n groot vlakte, deur berge omring.
Waar die Lydenburgse gemeenskap so ‘n sterk houding ingeneem het oor die 25e breedtegraad as suidgrens van die republiek, kon daar dus van die begin af geen hartlike samewerking bestaan tussen hulle en die inwoners van Wes-Transvaal wat saam met Pretorius geglo het dat die gebied wat die Boere toegekom het veel verder suidwaarts, ja selfs tot aan die Oranjerivier gestrek het nie.
Die afgesonderde ligging van Lydenburg het die bestaande verskille tussen die inwoners van dié gebied en die res van die land in die hand gewerk. Weens die groot afstand vanaf Rustenburg of Potchefstroom na Lydenburg en die gebrek aan doeltreffende paaie kon ‘n gereëlde verkeer nie gahandhaaf word nie want ‘n reis vanaf Lydenburg na Potchefstroom het in hierdie dae ongeveer 80 uur geduur. Hierdie feit het noodwendig daartoe meegehelp om afsondering in die hand te werk.
Landdros De Clercq het in 1853 oor die ongereëlde posdiens gekla: De onzekerheid met overvoeren van briefen is zoo gevaarlyk dat van 10 slegs vyf teregte komp. Gevolglik het kennisgewings van belangrike vergaderings soms glad nie hul bestemming bereik of betyds bereik nie, waaruit dan veel misverstand kon ontstaan.
Die lang afstand en tyd wat so’n reis in beslag geneem het, het lede van die volksraad wat in een gebied woonagtig was dikwels daarvan weerhou om sittings in die ander deel van die republiek te gaan bywoon. Reeds in 1851 het die inwoners van die Suikerbosrand die behoefte gevoel . . . dat ons hoofstad meer in het dikste midden van de bevolking mogte zyn en niet op het uithoek, sodat raadsittings vir lede nie met groot koste gepaard moes gaan nie en die reis gouer en makliker afgelê kon word.
Aangesien Lydenburg as vooraf vasgestelde hoofsetel van die republiek nie hierdie status regverdig het nie weens sy klein getal inwoners en sy afgesonderde ligging, het MW Pretorius in 1853 probeer om die volksraad te oorreed tot die stigting van ‘n nuwe dorp aan die Apiesrivier, ten einde ‘n meer sentraalgeleë sittingsplek vir die volksraad te hê. Lydenburg was egter nie gewillig om aan die “voorste” distrikte so ‘n vergunning toe te staan nie.
Die verskille tussen die Lydenburgers en die res van die republiek is verder in die hand gewerk deur die feit dat die Lydenburgers hulle eie probleme, soos die voortdurende bedreiging van vyandige inboorlingstamme, bykans deurgaans selfstandig hanteer het sonder die samewerking van die res van die republiek. Die geïsoleerde ligging van Lydenburg het dit in die hand gewerk en sodoende gaandeweg meegehelp om by die Lydenburgse gemeenskap ‘n onderlinge samehorigheidsgevoel te kweek en die gevoel dat hulle inderdaad ‘n onafhanklike gemeenskap was. Dit wil voorkom of die Lydenburgers later die standpunt gehuldig het dat die Lydenburgse kommissieraad meer reg as die volksraad gehad het om te beslis oor sake wat Lydenburg alleen aangaan. Daar is ook beweer dat die Lydenburgers die standpunt gehuldig het dat hulle kommissieraad die hoogste gesag uitgemaak het wanneer die volksraad nie in sitting was nie.
Dat dit kon geskied is te wyte aan die konstitusionele inrigting van die republiek. Naas die volksraad as sentrale gesag, het die bestuurstelsel naamlik voorsiening gemaak vir sogenaamde kommissierade wat op enige plek opgeroep kon word wanneer dringende omstandighede dit sou vereis in tye wanneer die volksraad nie byeen was nie. So ‘n kommissieraad het bestaan uit ‘n minimum van vyf volksraadslede en alle besluite daarvan het dieselfde gesag as volksraadsbesluite gedra, so lank dit nie deur ‘n volkraadsitting afgekeur is nie. Hierdie stelsel het ‘n ryke bron van potensiële moeilikhede geskep. Immers, uit die aard van die saak en onder die omstandighede hier bo uiteengesit, moes die kommissierade veral ten aansien van die geografies geïsoleerde Lydenburg, eintlik ontaard in distriksrade of “plaaslike besture” met uitgebreide magte en kon die kommissieraad in een distrik besluite neem wat teenstrydig was met dié van ‘n kommissieraad in ‘n ander distrik. Bowendien het die Lydense kommissieraad in die besondere posisie verkeer dat hy homself as ‘n voltallige volksraad kon konstitueer, want Lydenburg het 12 lede in die volksraad gehad wat die vereiste minimumgetal was om ‘n voltallige volksraad uit te maak.
Die kommissieraad het dan ook ‘n belangrike rol in die afskeiding van Lydenburg gespeel en was dikwels die oorsaak van onenigheid tussen laasgenoemde gemeenskap en Rustenburg-Potchefstroom. Toe in Mei 1851 die Potchefstroomse lede van die raad nie te Lydenburg teenwoordig kon wees nie, het die twaalf Lydenburgse lede hulself as ‘n voltallige raad beskou en met die vergadering voortgegaan. In Oktober 1852 is daar te Rustenburg ‘n kommissieraadsvergadering gehou wat eintlik ‘n volksraadsvergadering moes gewees het maar wat egter nie kon gebeur nie aangesien geen lede van Lydenburg opgedaag het nie.
Lydenburg het dus vanweë swakhede in die konstitusionele konstruksie van die republiek in die posisie verkeer dat hy homself feitlik onafhanklik kon regeer en selfs die res van die republiek in ‘n mate kon oorheers. Selfs met minder as twaalf volksraadslede kon hy of enige ander distrik in so’n posisie geraak, want dit was ‘n konstitusionele gebruik dat ‘n kommissieraad wanneer nodig sy geledere uit lede van die publiek kon aanvul totdat ‘n kworum vir ‘n volkraadsitting bereik is. Trouens, dit was die gebruik in Natal en hierdie gebruik is in Junie 1853 deur die Lydenburgers oorgeneem toe hulle, blykbaar vererg oor die feit dat daar vanaf September 1851 tot Junie 1853 nooit ‘n volksraadsvergadering te Lydenburg gehou is nie, hulle kommissieraad in ‘n volle volksraadsitting omskep het en die ledetal uit hulle eie geledere aangevul het.
Om die pil vir die ander distrikte, van wie daar geen verteenwoordigers was nie, minder bitter te maak, is deur hierdie raad bepaal dat sake wat op Lydenburg alleen betrekking gehad het, deur hierdie “volksraad” finaal afgehandel sou word, maar dat die byeenkoms as ‘n kommissieraad beskou sou word wanneer dit oor aangeleenthede handel wat ook op die ander distrikte betrekking het. ‘n Gewone voltallige volksraad sou dus die reg hê om die besluite deur hierdie Lydenburgse raad met betrekking tot die res van die republiek te veto, maar nie die besluite met betrekking tot die distrik Lydenburg nie.
Hierop het die westelike distrikte van die republiek in gelyke munt geantwoord. Op 9 Augustus 1853 het naamlik ‘n kommissieraad op Rustenburg op dieselfde wyse hulle vergadering op aandrang van die publiek in ‘n volksraadsvergadering omskep deur nog vier lede uit die publiek by te kies en as volksraadslede in te sweer. Net soos Lydenburg gedoen het, het hulle ook alle plaaslike sake op die sakelys finaal afgehandel maar oor Lydenburgse aangeleenthede alleen voorlopig as kommissieraad besluite geneem.
Hierdie optrede het die Lydenburgers dwars in die krop gesteek en met die volgende vergadering van die raad wat in September 1853 te Lydenburg gehou is en waarop 12 Lydenburgse lede en drie van die weste teenwoordig was, is misnoeë oor die aanmatiging van die Rustenburgse kommissieraad uitgespreek.
Dit het op sy beurt weer die misnoeë van die weste verwek oor die getalsoorwig wat Lydenburg in die volksraad gehad het naamlik 12 teenoor 6 van die ander distrikte en met die volgende sitting wat in November 1853 in Potchefstroom plaasgevind het, is daar getrag om ‘n einde aan hierdie oorwig te maak deur te besluit dat elke distrik slegs ses lede mog kies waarvan slegs drie enige sitting moes bywoon. Hierdie besluit is deur die publiek goedgekeur en in Junie 1854 is dit weer te Potchefstroom bekragtig.
Die Lydenburgers was hiervoor egter nie te vinde nie omdat hulle besef het dat hulle in ‘n kleiner volksraad nie soveel invloed soos vantevore sou kon uitoefen nie en het hulle dan ook teen dié besluit verset. Hulle wou die volksraad oorheers en het liewers die weg van afskeiding bewandel as om toe te laat dat die ander distrikte in die geleentheid gestel word om hulle uit hulle posisie te verdring.