Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hoe lyk jou gesindheid en optrede binne die omgewing waarin jy leef en gesien word? Is jy ook een van dié wat hoor maar regtig luister nie, wat ervaar maar nie belééf nie, wat bestaan maar nie regtig lewe nie? Daar is 'n manier waarop jy hierdie saak kan regstel: in elke taak, optrede en handeling, vra eers vir jouself wat dink jy Jesus sou gedoen het soos toe Hy hier op aarde as mens was. As jy hiermee volhou sal jy intens bewus word van sy voortdurende nabyheid en leiding, en dit sal die begeerte van jou hart word om altyd die regte ding te doen en te sê.
DIE KEEROMSTRAAT- KLIEK (1)
INLEIDING TOT ARTIKELREEKS
Die hoofkarakter in hierdie artikels is "Die Burger', die koerant wat in die dertigerjare deur sommige bestempel is as "die siel van ons volk", en deur ander gesien is as die "smerige leuenaar van Keeromstraat.'" Laasgenoemde het gekom van genl Hertzog wat daarmee bedoel het die "ondermynende" bondgenootskap, gesetel in Keeromstraat, Kaapstad, van die Nasionale Pers en die Kaaplandse Nasionale Party. Om die 'booswigte' by naam te noem, dr DF Malan, maar veral en bowenal dr Albertus Geyer, "Ysterman", redakteur van Die Burger, en hul geesgenote in Pers en Party. (Met Die Volksblad van Bloemfontein, half onseker, in een kraal. ) Die "kliek" se sonde in die oë van genl Hertzog: hulle het sy en genl Smuts se planne gedwarsboom om van Afrikaans- en Engelssprekendes één, verenigde 'volk' te maak.
In hierdie aflewerings volg die verhaal van drie van die stormagtigste jare in die Suid-Afrikaanse geskiedenis, 'n verhaal van broedertwis soos die Afrikanervolk nie weer beleef het voor in die 21e eeu nie, die politieke geskiedenis van 1932 tot 1934. In 1932 was die Nasionale Party onder Hertzog nog stewig in die saal. Maar met droogte, armblanke-werkloosheid en finansiële onrus net so erg soos in 2011, en natuurlik met Tielman Roos... kom koalisie toe in 1933; en samesmelting van die NP en die SAP in 1934.
En toe die groot breuk, aangepor deur Geyer en Die Burger, en skei Malan en sy Gesuiwerde Nasionaliste van Hertzog en die nuwe Verenigde Party. Toe begin die sware woestyntog na 26 Mei 1948. En tussendeur besluit Hertzog om die Nasionale Pers "dood te maak." Dis 'n geskiedenis van ambisies, renonse, intriges en teen-intriges, versluierings en misverstande en baie flaters, maar ook (by sommige) van kompromislose, nogal koppige integriteit.Die rol wat Die Burger in hierdie tyd gespeel het was beslissend met nawerking vir baie jare. As die blad nie bestaan het nie of as hy 'n politiek verkondig het wat deur die groot gros van die kiesers begeer was, dan sou die Nasionale Party in Kaapland gesterf het. Die Burger het die politiek in 'n rigting gestuur omdat hy nie geskroom het om sy saak te stel nie. 'n Koerant wat standpunt inneem, kan die anders as omstrede wees nie. Verdagmaking, veroordeling en beswaddering uit eie kring het natuurlik Die Burger in sy wese bedreig. Omdat die blad hom met koalisie en samesmelting aan die beginsels van die Nasionale Party gehou en die nastrewing van Afrikanernasionalisme voorop gestel het, het dit hom nie net die onmin van ou vriende op die hals gehaal nie, maar ook hul openlike vyandigheid. Hiervan het die destydse Eerste Minister, genl JBM Hertzog aan die voorpunt gestaan deur 'n veldtog om die Nasionale Pers met sy mondstukke, Die Burger en Die Volksblad, uitgewis te probeer kry. Hoggenheimer het sy miljoene beskikbaar gestel om ander Afrikaanse dagblaaie in die plek van hierdie twee te stel. Die Nasionale Pers het die stryd gewen, meer nog, hy het binne daardie geveg dermate gegroei en 'n dogterkoerant, Die Oosterlig in die Oos-Kaap gestig, en 'n leidende rol gespeel in die stigting van Die Transvaler, wat daarom die troetelnaam gedra het "Kind van die Suide". Kostelik dat beide hierdie koerante in 2011 steeds bestaan, nou nie meer as nasionalistiese koerante vir die saak van die Afrikanervolk nie maar dienend aan die Swart kommunistiese regering.
Lees die reeks by Die Keeromstraat-kliek
TOUTJIES AGTER SKERMS: TIELMAN ROOS (A)
Dr At van Wyk
Advokaat TJ de V (Tielman) Roos se rol in die Suid-Afrikaanse politiek in die vroeë dertigerjare is al dikwels as dié van 'n katalisator bestempel. 'n Beter beskrywing is daar nie. In die chemie is 'n katalisator 'n stof wat 'n reaksie tussen ander stowwe veroorsaak of bevorder, sonder om self te verander. Deur die definisie van die woord "katalisator" te verpolitiseer, is die rol van Roos meteens duidelik: 'n katalisator is 'n politikus wat, sonder om self 'n verandering te ondergaan, 'n politieke verandering by ander veroorsaak of bevorder.
Dít is wat met koalisievorming gebeur het. Roos het twee van die bitterste politieke vyande in die geskiedenis van Suid-Afrika, genls JBM Hertzog en JC Smuts, gekataliseer of laat paar; en in die proses is daar, soos soms ook in so 'n chemiese reaksie gebeur, twee vaste stowwe afgeskei in die persone van dr DF Malan met sy "gesuiwerde" Nasionaliste aan die een kant en kol CF Stallard met sy Dominioniete aan die ander kant. Roos het, om 'n ander beeld te gebruik, wel sy hare verloor – en heelwat meer as sy stert daarby – maar sy streke behou.
Hy is indertyd bestempel as 'n man met "an impish delight in making mischief", want hy het dit geniet om die leeu se stert te trek en dit selfs óm die tralie te knoop – en daarmee het hy 'n speelsheid verraai waarmee jy jou maklik kon misreken. 'n Politieke opportunis was hy by uitstek – dit het vriend en vyand veral sedert die vlagkwessie van die laat twintigerjare besef – maar daarby was hy 'n taktikus en strateeg.
Roos het ambisies gehad, waarteen Die Burger sterk gekeer het; maar sonder ideale en vergesigte was hy ook nie. Sy intrigeryke rol met koalisievorming moet nie in afsondering betrag word nie, maar in verband gebring word met sy sporadiese propagering sedert 1926 van 'n sentrale party om die twee botsende taalgroepe byeen te bring. Omstandighede van die dag het vir hom die geleentheid geskep om sy streke en sy deugde ineen te smelt en as wig te gebruik om vir hom die deur na die premierskap te probeer oopdwing.
Die rol wat hy in 1928 gespeel het om die slepende vlagstryd in 'n kompromis tussen Afrikaner en Engelsman te laat eindig, het die reeds bestaande spanning tussen hom en sowel genl Hertzog as dr Malan, vererger. Daarom was albei seker verlig om van dié lastige kollega ontslae te raak deurdat hy in 1929 om gesondheidsredes as Minister van Justisie bedank, uit die politiek getree en 'n aanstelling as appèlregter aanvaar het.
Roos se maneuvers in die vlagstryd was 'n goeie en suksesvolle oefenloop vir wat voorgelê het. Sy regterskap was 'n sleur vir 'n man wat soveel politiek in sy are gehad het. Boonop het hy as oud-leier van die Nasionale Party in Transvaal 'n politieke aanhang aan weerskante van die taalgrens gehad wat nie te versmaai was nie. Vandaar die vertoë wat die regter van vroeg al van die kieserspubliek uit verskillende oorde ontvang het om 'n hertoetrede tot die politiek te maak. Die aandrang het saamgeval met sy sterker-wordende oortuiging van die noodsaak dat die twee taalgroepe in 'n sentrale party saamgesnoer moes word.
Terselfdertyd het die Nasionale Party, reeds belas met 'n erflating van onderlinge verbittering weens die vlagstryd, in 'n al hoe moeiliker posisie versink. Die knellende wêreldwye depressie sedert die ineenstorting van New York se aandelebeurs op 25 Oktober 1929, het in Suid-Afrika ekonomiese ellende en werkloosheid veroorsaak wat nie opgelos kon word nie. 'n Uitmergelende droogte het die skadu van dreigende ondergang vir die boer verdiep, en die armblankevraagstuk onder veral die Afrikaners het onheilspellende afmetings begin aanneem. Op 21 September 1931 is die probleme van die Regering op een punt saamgetrek met Brittanje se afstapping van die goudstandaard en die oplopende aandrang uit die opposisiegeledere en finansiële en ander kringe dat Suid-Afrika die Britse voorbeeld moes volg.
Eenstemmig was die aandrang nie, want van die voorste Suid-Afrikaanse ekonome het teen mekaar betoog. Selfs in hoë Britse regerings- en geldkringe het skerp meningsverskil geheers. Terwyl kenners, selfs binne die geledere van die onderskeie Suid-Afrikaanse politieke partye, oor die saak verskil het, spreek dit vanself dat Jan Publiek ook na weerskante sou gryp. In die hele aangeleentheid, het gevoel 'n groot rol gespeel. Duisende van dié wat in die knelgreep van ekonomiese nood gesit het, sou enigiets aangryp wat uitkoms kon bied; vir ander – daartoe opgevorder deur die standpunt van die Regering en sy koerante – was goud die simbool van ekonomiese vastigheid en staatkundige soewereiniteit. Hertzog het selfs sy politieke toekoms vasgekoppel aan die behoud van die goudstandaard, want navolging van die Britse voorbeeld sou Suid-Afrika se onafhanklikheid van Brittanje openbaar. Baie van die voorstanders van afstapping is weer deur 'n omgekeerde gevoel gelei.
Dit was 'n gevaarlike dobbelspel om ekonomiese swaarde te kruis met 'n land wie se hoofstad, Londen, steeds die Mekka van die sakewêreld was. In dié opsig, maar veral ook ten opsigte van die onteenseglike voordele wat afstapping vir die land ingehou het en die nie-inflasionêre opswaai wat dit tot gevolg sou hê, het die Regering en Die Burger lelik misgetas.
Die Regering, ywerig gesteun deur Die Burger met sy ewige renons in Hoggenheimer, het geweier om van goud af te stap en só gehelp om die weg tot intrige vir 'n man soos Tielman Roos te baan.
Vroeg in 1932 is weer 'n beweging optougesit om Roos tot die politiek te laat terugkeer. Dr Geyer en Die Burger het vermoed dat Roos self daaragter sit; dog die kleurryke joernalis en politikus Arthur Barlow sou jare later verklaar dat hy en dr Colin Steyn, oud-LV vir Vredefort en Bloemfontein-Suid, by Roos gepleit het om die regbank te verlaat en 'n politieke herverskyning te maak. Vir eers sou Roos sy kans afwag namate die aanslag op goud aan't opbou was.
In September 1932 het Charles te Water, Suid-Afrikaanse Hoë Kommissaris in Londen en pasverkose voorsitter van die Finansiële en Ekonomiese Komitee van die Volkebond, nog vol vertroue in Genève verklaar dat Suid-Afrika sou veg om op goud te bly. Hy is gesteun deur die heer Colijn, briljante premier van Nederland. Elders was die pot egter aan die kook. "In gold we trusted, and now we're busted!" was die onderwerp van 'n toespraak wat sir Henry Strakosch, voorsitter van Union Corporation en hoog aangeskrewe in die Suid-Afrikaanse mynwese, op 28 November 1932 by 'n private eetmaal voor 'n uitgelese gehoor van Britse parlementariërs, sakeluit en ekonome in Londen gelewer het.
Daardie woorde van sir Henry, wat destyds ook voorsitter van die direksie van die Britse blad The Economist was, moet geensins as 'n gebaar van oorgawe gesien word nie – eerder as 'n uitroep van verontwaardiging; want Hoggenheimer sou nie gaan lê nie. Hy het in Roos 'n bruikbare instrument gesien en sou alle mag en middele aanwend om hom aan die beweeg te kry.