Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Sou U as regter handel o HEER, en gadeslaan die goddelose wandel van hierdie Afrikanervolk, ag, sou ons dan bestaan? Maar nee, daar is vergewing altyd by U gewees; So word U, HEER, met bewing reg kinderlik gevrees.
13 JAAR MET DR HF VERWOERD (3)
Deur Fred Barnard
(Lees reeks by 13 Jaar in die skadu van dr HF Verwoerd)
DIE MAN, VERWOERD
Hendrik Frensch Verwoerd is op 8 September 1901 in Ouderkerk, Amsterdam, gebore. Hy was een van drie kinders. Sy vader was vennoot in 'n besigheidsonderneming en gedurende die Tweede Vryheidsoorlog het hy in sy stad 'n insamelingsveldtog vir die Boeremagte begin.
As jong knapie is hy deur sy ouers wat besondere simpatie met die Boerevolk gehad het, na Suid-Afrika gebring waar sy vader in Wynberg in die Kaap, as bouaannemer werksaam was en waar hy ook sendingwerk gedoen het. Die jong Hendrik het dan ook sy eerste skoolopleiding in Wynberg ontvang. Op 'n jeugdige ouderdom het sy ouers hom egter na Rhodesië geneem waar hy sy skoolopleiding in Bulawayo moes voortsit terwyl sy vader op die sendingveld gewerk het.
Die jong Verwoerd was 'n besonder skrander leerling en was dan ook in daardie jare een van die weiniges wat die gesogte Beit-beurs verower het.
Die gesin het later na Brandfort in die Vrystaat teruggekeer, vanwaar Hendrik ná sy matriek, na die Universiteit van Stellenbosch is. Daar het hy die grade B.A., M.A., en D.Phil. behaal voordat hy vir verdere studie na die buiteland vetrek het. Terwyl hy in Duitsland was, het mej Betsie Schoombie van Middelburg, Kaap, wat toe lektrise aan die Universiteit van Stellenbosch was, hom gevolg en is hulle in 1927 daar in die eg verbind.
Nadat die jong dr Verwoerd die universiteite van Hamburg, Leipzig en Berlyn besoek het, is hy na universiteite in Londen en die VSA. Terwyl hy in Amerika was, is hy op 26 jarige leeftyd as professor in toegepaste sielkunde aan die Universiteit van Stellenbosch aangestel.
In 1936 is hy deur dr DF Malan uitgenooi om 'n nuwe Afrikaanse koerant in die Transvaal te begin. Dit is minder bekend dat wyle adv Strijdom teen dr Verwoerd se aanstelling gekant was en dit as onraadsaam beskou het dat iemand uit die suide dié pos moes kry. Ten spyte daarvan dat ook sy vader hom sterk afgeraai het, het dr Verwoerd besluit om 'n veilige loopbaan vir 'n onsekere toekoms in die koerantwese te verruil. Maar hy sou nie net koerantman wees nie; hy is aangestel om die Nasionale Party te help bou. Voordat hy na die Transvaal verhuis het, het hy vir 'n rukkie by 'Die Burger' in Kaapstad gaan werk om die grondbeginsels van die perswese te bestudeer.
Toe hy in Johannesburg aankom om as hoofredakteur met die nuwe dagblad, 'Die Transvaler' , te begin, was daar slegs 'n gat in die grond waar die gebou sou verrys.
Daardie eerste dae was donker dae en daar het maande verloop dat die onderneming nie geldelik in staat was om 'n salaris aan die hoofredakteur te betaal nie. Om sake nog hagliker te maak, breek die Tweede Wêreldoorlog uit enkele jare nadat die nuwe koerant die wêreld ingestuur is. Daarby was die Afrikaanssprekende bevolking van Johannesburg betreklik klein en moes nog 'opgevoed' word om 'n Afrikaanse oggendblad te lees.
Dr Verwoerd was onmiddellik in die middel van die politieke stryd en sy koerant uit die staanspoor die orgaan van die Nasionale Party. Gedurende die oorlogsjare het hierdie koerant 'n moeilike stryd om bestaan gevoer. Dit het die hoofredakteur egter nie van stryk gebring nie en hy het konsekwent met die boodskap van nasionalisme waarmee hy begin het, volgehou.
Deur baie is hy as 'n vuurvreter bestempel, veral toe sy koerant die besoek van die Britse koning in 1947 totaal geïgnoreer het. Die besoek van die koning was, so is destyds gesê, 'n propagandaset van die Eerste Minister, JC Smuts, met die oog op die algemene verkiesing wat in 1948 sou plaasvind.
In 1948 was dr Verwoerd die Nasionale Party se kandidaat in die Kiesafdeling Alberton, maar is deur mnr Marais Steyn van die Verenigde Party met 'n meerderheid van 171 stemme verslaan. Toe die Nasionale Party egter aan bewind kom, het dr Verwoerd in dieselfde jaar Senator geword.
Op 19 Oktober 1950 het Eerste Minister, dr DF Malan, hom in die plek van dr EG Jansen wat toe Goewerneur-Generaal geword het, as Minister van Bantoesake in die kabinet opgeneem. Hierdie pos het hy tot op 3 September 1958, die dag waarop hy as Eerste Minister aangewys is, beklee. Geen ander minister het hierdie portefeulje vir 'n langer tydperk as dr Verwoerd behartig nie.
Dr Verwoerd was 'n frisgeboude man van oor die 200 pond en het ses voet en een duim in sy sokkies gestaan. Hy het helder blou oë gehad. In sy hare was daar 'n kinkel en sy kuif wat dikwels half regop gestaan en effens oor sy voorkop gehang het, het hom 'n jeugdige voorkoms gegee. Sy hande was ietwat klein vir so 'n groot persoon en sy voete was buite verhouding klein vir sy liggaam.
Wanneer tye normaal was, was daar altyd 'n vriendelike, halfondeunde glimlag op sy gesig. Hy was dan ook iemand wat graag iemand anders 'n poets gebak het en hy kon dit altyd waardeer wanneer iemand anders hom 'n poets bak. Veral het hy daarvan gehou om te korswel. Soms kon hy werklik ondeund wees en sy kinders moes gereeld deurloop. Een plek waar hy egter altyd streng en formeel was, was in sy kantoor.
Dr Verwoerd was 'n baie ewewigtige persoon en selde buierig of humeurig. Soos alle normale mense het hy egter ook kwaad geword en dan was hy 'n ongenadige mens.
Ek het hom eendag in die Senaat so kwaad gesien dat hy die president van die Senaat geheel en al geïgnoreer het. Senator Balliger het die irriterende gewoonte gehad om dr Verwoerd wat toe Minister van Bantoesake was, tydig en ontydig uit te tart. Daardie dag het die Minister moeg geword vir die Senator se uittarting en sonder om hoegenaamd ag te slaan op die president se tussenkoms, en in stryd met die reëls van die Huis, het hy opgestaan en gesê presies wat op sy gemoed was, en by sulke geleenthede was die dinge op sy gemoed gewoonlik vlymskerp en snydend!
Kort nadat dr Verwoerd 'n minister geword het, het hy die gewoonte gehad om oneindig lang toesprake te hou en ek glo dat daar nooit in die Suid-Afrikaanse Senaat langer redes gevoer is as dié wat hy daar gevoer het nie. Een toespraak het byvoorbeeld in die omgewing van vier uur geduur. Destyds was dit my taak om die Hansard-toesprake na te sien (later het mevrou Verwoerd 'n groot gedeelte van dié taak oorgeneem) en ek het dikwels gevoel dat dit werklik nie nodig is om so deeglik te wees nie. Soms was ek verplig om party sinne in drie of vier te verdeel. Gedeeltelik was dit daaraan toe te skryf dat hy sy onderwerp so goed geken het, maar andersyds het 'n mens tot die oortuiging geraak dat dieselfde saak bondiger gestel kon gewees het.
Dr Verwoerd was met 'n fantasiese brein en 'n skitterende intellek begaaf. In die Senaat en ook in die Parlement het ek dikwels gesien hoe hy op sy gemak en sonder enige inspanning hoegenaamd, uit 'n situasie kom waaruit ek nooit kon droom dit vir enigiemand moontlik was nie. Ek het veertien parlementsittings as sy privaatsekretaris bygewoon en nooit by een geleentheid in die honderde debatte waaraan hy deegeneem het, het hy nié aan die einde die beste van sake gehad nie. Hy het sy opponente eenvoudig moedeloos gepraat. Dit het net nie gehelp om hom in 'n hoek te probeer dryf nie, want op die ou einde kon hy jou oortuig dat jy die swakste daarvan afgekom het. Sy oortuigingskrag en redenaarsvermoë was dodelik en hy kon 'n gehoor se aandag ure lank aaneen só gevange hou.
Dit is 'n welbekende feit dat dr Verwoerd, behalwe by één geleentheid waarvan ek kennis dra, nooit sy toesprake vooraf uitgeskryf het nie. Dié keer wat hy wel met behulp van 'n uitgeskrewe teks gepraat het, was voor die Suid-Afrika Klub in die Savoy Hotel in Londen, nadat Suid-Afrika uit die Statebond getree het. En dit het hy op spesiale versoek van die BBC en TV gedoen.
Ofskoon hy nie aan die hand van volledig voorbereide notas gepraat het nie, het hy hom vir belangrike toesprake gewoonlik vooraf deeglik voorberei. Hy het hom eenvoudig afgesonder – soms ure lank – en dan sy toespraak volledig en in die fynste besonderhede as't ware van buite geleer. Hier moes hy nie gesteur word nie. Gewoonlik is daar dan aantekening in 'n soort 'Verwoerd-snelskrif' gemaak. Hiervan kon die buitestaander normaalweg geen kop of sterk uitmaak nie. Nadat so 'n toespraak gelewer is, is daardie notas, om een of ander onverklaarbare rede, sorgvuldig vernietig asof hy halfskaam was dat 'n mens daarvoor sou lag. By etlike geleenthede het ek versoek dat sulke stukke aan my vir my versameling oorhandig moes word, maar telkens het hy geweier omdat "julle tog nie sal verstaan nie". Ek het nietemin daarin geslaag om 'n aantal van hierdie dokumente op 'n manier te bekom. Sonder twyfel het kosbare stukke egter op hierdie wyse verlore gegaan.
Toe hy nog Minister van Bantoesake was, was dit die Departement se gewoonte om volledig uitgewerkte toesprake vooraf aan hom voor te lê. Dit was dan my taak om uit die lêers, uit ou koerantberigte of uit welke bron ook al, inigting in te samel oor die bepaalde onderwerp waaroor sy toespraak dan sou handel. Die Departement se 'toespraak' en die inligting wat ek versamel het, is dan 'n dag of wat voordat hy sy toespraak sou lewer, aan die Minister oorhandig. Male sonder tal het dit gebeur dat hy hom nie gesteur het aan al daardie gegewens wat met soveel moeite en sorg versamel en verwerk is nie en dat hy desnieteenstaande 'n skitterende rede gevoer het... sonder ons hulp.
Weliswaar het hy ook dikwels van die versamelde inligting gebruik gemaak, maar altyd het hy sy eie manier gehad om dinge te stel, en gewoonlik was die hoek waaruit hy sake benader het, meer logies as dié van sy raadgewers.
Dr Verwoerd het min toesprake gelewer wat nie een of ander definitiewe boodskap gedra het nie en ofskoon hy nie oor 'n magtige stem soos bv dr DF Malan beskik het nie, het hy sy gehore gewoonlik end-uit geboei, wat waarskynlik aan sy ongetwyfelde logika te danke is.
Dr Verwoerd was 'n ware gesinsman wat daarvoor gelewe het om saam met sy huismense te verkeer. Die kameraadskap wat daar tussen vader en moeder bestaan het, was onverbeterlik.
Aan sy ouers was dr Verwoerd baie geheg. Toe hy Minister van Bantoesake was, was dit 'n vaste gebruik om elke jaar na afloop van die Parlementsitting op weg na Pretoria by Brandfort, waar sy vader-hulle gewoon het, vir 'n dag oor te staan. Hier is 'n doos van die sterkste sigare aan die oubaas oorhandig en dan is daar vir 'n dag lank gekuier, geëet en gesels. Hyself het gladnie gerook nie, en sterk drank het ook nie in sy huis veel aftrek gekry nie.
Van uithuisigheid het dr Verwoerd nie gehou nie. Snags wou hy in sy eie bed slaap en oor die naweke wou hy tuis saam met sy kinders verkeer. Die gevolg was dat ons baie nagte, veral toe hy nog Minsiter van Bantoesake was, in die ampsmotor oppad huistoe moes deurbring. So het dit gebeur dat ons een aand na 'n vergadering uit Ermelo na Pretoria moes vertrek, een nag om twaalfuur uit Bloemfontein en een aand uit Pietermaritzburg. 'n Toebroodjie of twee en 'n fles warm koffie sou as lafenis op die lang pad dien.
Vandag is dit anders, dog in daardie dae het dr Verwoerd nooit in sy amptelike motor na politieke vergaderings gereis nie. Daar moes met sy eie ou Chrysler – wat nie in 'n veel beter toestand was as my tjorrie wat hy so gewilliglik moes stoot nie – gery word en wanneer dié onklaar raak, moes mevrou se ou klein Duitse motortjie geannekseer word.
Vir my was so 'n toer soos 'n kort kursus aan 'n Universiteit, want van daardie geleentheid het dr Verwoerd gewoonlik gebruik gemaak om oor alles denkbaar te gesels. En hy kon gesels!
Die gebruik was dat ons mekaar as bestuurders aflos, dog ek het altyd gepoog om so lank moontlik agter die stuur te bly omdat hy te heerlik gesels het wanneer sy hande vryelik kon beweeg. Sy skoene is dan uitgetrek, sy das afgehaal en sy baadjie op die agterste sitplek geplaas.
Watter lus was dit nie om dan te luister nie! Dit het gegaan oor alle onderwerpe denkbaar; landsprobleme, hengel, wêreldpolitiek, die Republiek (wat toe vir my nog net 'n toekomsdroom en vir hom 'n naderende werklikheid was). Daar is egter niks waaroor hy nie gesels het nie. Soms was ek so weggevoer dat ek vergeet het dat ek besig was om met 'n lid van die Kabinet te redekawel! Hy het egter die gawe gehad om 'n mens so gemaklik, tuis en ontspanne te laat voel dat jy nie anders as spontaan kon wees nie.
En wanneer hy vaak en moeg geword het, het hy eenvoudig om verskoning gevra en binne oomblikke heerlik gelê en slaap.
Werksure het hy nie geken nie en vir ons was dit glad nie snaaks om saans tot agtuur op kantoor te bly nie. Dikwels het ons ligte selfs tot tienuur nog gebrand terwyl ons meer as een keer tot drie-uur op 'n Saterdagmiddag nog op kantoor was. Dit was frustrerend om die luide toejuigings op Loftus Versveld te hoor terwyl jy, met jou kaartjies in jou sak, moes sit en wag vir die Minister wat van oordeel was dat landsake belangriker as rugbywedstryde is! En tog was dr Verwoerd 'n geesdriftige rugbykenner.
Goed onthou ek nog daardie aand toe die opsigter ons in die Uniegebou toegesluit het. Dit was een van daardie vele kere wat dr Verwoerd so in sy pligte verdiep geraak het dat hy alles om hom heen vergeet het. Dit het dikwels gebeur en ek het dit, veral daar aan die begin van ons samesyn, nooit gerade geag om hom dan lastig te val nie. Selfs wanneer sy senior kollegas hom geskakel het, het ek konsekwent 'n uitweg gevind om sy gedagtegang en werk nie te onderbreek nie.
Ewenwel, daardie middag was dit weer sulke tyd. Dr Verwoerd was besig met 'n magdom van probleme waaruit hy homself net nie kon losmaak nie. Vroeg daardie namiddag het ek reeds gemerk dat my teenwoordigheid in kantoor 103 nie baie welkom is nie. Net die manier waarop hy opkyk wanneer ek die deur oopmaak, was al genoeg. Ek het dan ook nie eens nader gestaan nie maar die deur oopgemaak, sy uitdrukking waargeneem, en sonder 'n woord omgedraai om met my werk voort te gaan totdat ek deur die klokkie aan die muur bokant my beveel word om nader te staan.
Toe ek Doktor se kantoor om sewe minute oor agt daardie aand binnestap, was hy verbaas om te verneem dat dit reeds so laat was. "Jy moes maar geloop het toe jy sien dit word laat", was sy opmerking wat maar eintlik as 'n toetsvraag bedoel was.
Saam het ons in die lang donker gang na die skakelaars van die elektriese lig gesoek; Doktor voel-voel teen die een muur en ek teen die ander totdat dit gevind en die gang verlig word. Toe ons by die deur kom, is dit egter stewig gesluit en geen lewende wese kon binne die spookagtige ou Uniegebou gevind word nie. Daar was net een uitweg: skakel die polisie! Hiervan wou Doktor egter nie hoor nie. Ons kan mos maar deur die venster klim! Nadat ons herwaarts en derwaarts in die donker na 'n venster op die grondverdieping gesoek het, het ons uiteindelik een aan die noordekant, langs een van die uitgange gevind.
Vir Doktor was dit groot pret om sy groot liggaam deur die smal uitgang na "vryheid" te maneuvreer. Vir hom was dit 'n heerlike avontuur waaroor hy lank daarna nog met louter genot kon gesels.
Ook herinner ek my nog goed hoedat ek een middag in kamer 50 in Marksgebou, Kaapstad, sonder sy medewete 'n worsbroodjie en 'n koppie koffie vir Doktor by die kafee gaan koop het omdat hy net nie die tyd kon vind om sy middagmaal tuis te gaan nuttig nie. Toe die beskeie middagete op sy lessenaar aan hom voorgesit word, was sy versoek aan my om "tog maar vir mevrou te vra om bedags vir hom 'n toebroodjie saam kantoor toe te gee" omdat daar so baie werk op kantoor is.
Dr Verwoerd het 'n wonderlike vermoë gehad om 'n mens te oortuig en daarbenewens kon woorde ure lank onophoudelik uit sy mond vloei. Dit was altyd my taak om, wanneer mense hom wou spreek, vooraf vas te stel oor welke onderwerp daar gepraat sou word. Dit het die Minister dan in staat gestel om hom voor te berei en telkemale het ek gesien hoe, wanneer hy homself vooraf voorberei het, die afvaardiging of afgevaardigde hoegenaamd geen kans gehad het nie. Hy het dan altyd gepoog om eerste te praat en juis dit was vir die persoon aan die ander kant van die tafel fataal.
Goed onthou ek nog hoe 'n 'moeilike' klant een oggend in die Uniegebou opgedaag het om dr Verwoerd te vertel wat hy van sy Bantoe-beleid dink. Hy was 'n boer wie se plaas aan die Bantoegebied grens. Voordat hy egter boer kon word, was hy 'n praktiserende advokaat en daarom was dit vir hom sommer kinderspeletjies om hierdie nuwe Minister te vertel wat hy nie weet nie. Nou kom hy sommer om namens die boeregemeenskap van sy kontrei te praat. As advokaat is dit vir hom tog nie 'n kuns om die ou sakies reg te stel nie...
Nadat dr Verwoerd vriendelik gegroet en na die welstand van vriend en vyand verneem het, het hy dadelik losgetrek. Meer as 'n uur lank het hy met feit op feit vorendag gekom. Nie alleen is elke vierkante duim van daardie boer se uitgestrekte plaas nie, maar ook van al die omliggende plase met die grootste noukeurigheid gedek. Nie een enkele graspol is oorgeslaan nie!
Die slim advokaat-boer wat die Minister 'so lekker wou sê' wat hy van sy beleid dink se oë het gerek en gerek en namate hy verder deur die stroom van woorde, feite en besonderhede weggespoel is, het hy dieper en dieper in die groen leunstoel weggesak – soos 'n gehipnotiseerde wat magteloos voor sy meester wegsluimer.
Stilswyend het ek alles voor my gadegeslaan en gewonder hoe ons vriend hierdie situasie sou red. Toe merk ek dat hy die twee getikte velle waarin sy saak so waterdig uiteengesit is, versigtig uit sy baadjiesak te voorskyn haal, vlugtig daardeur kyk, dit versigtig in sy regterhand toevou en toe saggies opfrommel en geruisloos langs hom in die snippermandjie laat afgly.
"Nee, dis reg, Doktor", was sy kalme en weldeurdagte kommentaar, en daarmee het hy, hoogs tevrede, totsiens gesê.
Toe ek hom jare later op 'n stryddag raakloop, was hy nog nie uitgepraat oor die "fantastiese" Minister van Bantoesake nie.
Dit is maar een van 'n lang ry soortgelyke voorvalle wat ek telkemale op my lang pad saam met doktor Verwoerd in stilte aanskou het.