13 JAAR MET DR HF VERWOERD (2)

Deur Fred Barnard

(Lees reeks by 13 Jaar in die skadu van dr HF Verwoerd)

DAAGLIKSE ROETINE

"Die baas", soos ons dr Verwoerd altyd genoem het, was 'n man wat aan ordelikheid en behoorlike organisasie geglo het. Wanordelikheid en planloosheid het hom geïrriteer en ofskoon dit, gelukkig vir my, selde gebeur het, was 'n geïrriteerde dr Verwoerd 'n moeilike dr Verwoerd.

Op kantoor moes dinge haak en pas wees. Gewoonlik het hy vroeg in die oggend kantoor toe gekom nadat hy eers al die oggendkoerante verslind het, want elke woord in elke koerant is gelees; advertensies, grappies, strokies, nuus, ja alles wat gedruk is. En gewoonlik was daar iets wat netjies met sy klein skertjie wat alewig in sy onderbaadjiesak gevind kon word, uitgeknip moes word. Dit het nie daarop aangekom watter staatsdepartement, provinsiale administrasie of staatsliggaam daarby betrokke was nie, die vraag wat deur daardie berig by hom geprikkel is, moes aan die betrokkene gestel word, die saak moes opgevolg en opgelos word.

Lees hy iets oor waterwese wat by hom 'n vraag laat ontstaan, dan moet daardie koerantsnit na die betrokke minister gaan, saam met die gepaste vraag. Lees hy iets oor finansies wat hom pla, dan moet daardie berig uitgeknip en in die Minister van Finansies se hande besorg word. Lees hy iets in 'n koerant waaraan hy verbonde is en wat hom nie aanstaan nie, dan moet die gepaste vraag aan die redakteur of hoof van die betrokke koerant gestel word. Gewoonlik is daardie snitte dan kantoortoe geneem en is die nodige opdrag aan die privaatsekretaris gegee. Op hierdie wyse is menige probleem deur die jare heen opgelos en baie gevalle wat in lastige probleme kon ontwikkel, betyds reggestel.

My gebruik was om soggens baie vroeg kantoortoe te gaan, die koerante sorgvuldig te lees, die pos deur te kyk en probleemgevalle op dr Verwoerd se lessenaar te plaas. Ek het altyd sorg gedra dat daar ten minste drie skerp potlode op sy lessenaar is. Wanneer een van hierdie items ontbreek het, kon die baas baie 'moeilik' raak, want as hy eers begin skryf, het hy onafgebroke soos 'n aangeskakelde masjien voortgegaan. Alleen 'n voorafbepaalde afspraak kon hom dan afskakel.

Geen brief wat die kantoor bereik het, het onbeantwoord gebly nie en vrae van korrespondente moes sonder versuim in die fynste besonderhede beantwoord word. Trouens, nie alleen moes daardie vrae wat gestel is, haarfyn beantwoord word nie, maar selfs ander vrae wat volgens ons mening ten opsigte van die bepaalde geval gevra kon gewees het, moes ook met noukeurigheid behandel word. Kortom, die antwoord moes so volledig en absoluut waterdig wees dat die briefskrywer, met die beste wil ter wêreld, nie in staat sou wees om opvolgende vrae te stel nie. Die gevolg was dat 'n korrespondent gewoonlik buite en behalwe die antwoorde op daardie vrae wat hy gestel het, ook nog 'n reeks antwoorde gekry het op vrae waaroor hy nooit kon droom nie.

Die hoeveelheid werk wat die kantoor moes hanteer, was enorm en briewe uit alle dele van die aardbol is daagliks sakgewys afgelewer. Later was ek so gekonfyt met die beantwoording van briewe dat ek met die grootste noukeurigheid kon sê presies wat dr Verwoerd op 'n bepaalde brief sou antwoord. Feitlik van die begin af was die gebruik dan ook dat ek ontwerpantwoorde vir die Minister se handtekening moes opstel. Aanvanklik was my pogings pateties, want Doktor het die gewoonte gehad om alewig iets aan te las. Teen die einde van ons samesyn kon ek darem lekker daarmee spog dat daar feitlik nooit meer deur dr Verwoerd aan my ontwerpantwoorde 'gepeuter' is nie. As hy dit nie sonder meer onderteken het nie, was ek teleurgesteld. Of dit toegeskryf moet word aan die feit dat ek goed geleer het en of die baas besluit het om my maar te laat begaan, weet ek nie. Wat ek wel weet, is dat ek antwoorde op alle soorte briewe moes opstel: aan politici, kwaadwilliges, kollegas, kinders, skindertonge, boesemvriende, kwaadstokers en so baie ander.

Dr Verwoerd se gebruik was om tot die laaste moontlike sekonde agter sy lessenaar te bly sit; elke oomblik moes voordelig en produktief benut word. Vir sy middagete wat veronderstel was om eenuur te begin, het hy gewoonlik  'n rukkie na eenuur uit die kantoor vertrek. En wanneer hy vir middagete per motor huistoe gery het, het hy gewoonlik 'n amptelike stuk saamgeneem om op pad daarheen te bestudeer. Vir hom was tyd gans en al te kosbaar om vir vyf of tien minute ledig agter in 'n groot motor te sit.

Ek het hom deur die jare heen fyn dopgehou en gevind dat hy gedurende kantoorure feitlik nooit na die badkamer gegaan het sonder dat hy 'n amptelike stuk meegeneem het om te bestudeer nie.

In die kantoor het hy ledigheid verafsku en diegene rondom hom moes die pas eenvoudig volhou. En was dit nie heerlik om die pas met so 'n man vol te hou nie! Jy het presies geweet wat hy wil en altyd het jy geweet waarheen en waarom. Altyd het hy my laat voel dat ek "saam met" hom werk aan 'n gemeenskaplike taak en wanneer ek 'n fout begaan het, het niemand harder gewerk om dit reggestel te kry as juis hy nie.

Selde het dr Verwoerd hom meer as 'n halfuur vir middagete gegun. Ofskoon hy, soos alle goeie mans, van lekker kos gehou het, was hy nooit vol fiemies nie en kon hy aangenaam aan enige dis, sit en smul. Hy het daarvan gehou om ná sy middagmaal vir 'n paar minute te slaap. Wanneer hy ookal die geleentheid kon vind, veral in die later jare, het hy hom na ete uitgestrek en 'pens-en-pootjies', soos hyself altyd gestel het, onder die komberse ingekruip om, al was dit vir slegs tien minute, te slaap totdat sy wekker of 'n lid van die huishouding hom wakker gemaak het.

Wanneer hy daar opgestaan het, was hy weer pure perd en moes diegene wat in sy kantoor vir hom sit en wag het, dit gewoonlik ontgeld, want 'n fiks Verwoerd was mans genoeg vir 'n halfdosyn normale fiks mense!

Vanwaar ek in my kantoor gesit het, kon ek dr Verwoerd se voetstappe in die Uniegebou se gang onder honderd ander mense se voetstappe uitken. Ek kon presies sê watter voetstappe syne was, selfs al was my deur stewig gesluit. Die besliste manier waarop hy sy voete op die grond neergesit het, die haas waarmee die een voet die ander opgevolg het  -  niemand anders het ooit in die Uniegebou se gange presies so gestap soos dr Verwoerd nie.

Dr Verwoerd se program was altyd oorlaai. Soos swaelstertvoeë het die een afspraak in die ander ingepas, met die gevolg dat ons nagenoeg vier-en-twintig uur van elke dag moes werk. Dit was inderdaad uitsonderings dat ons die kantoor in die Uniegebou voor sonsondergang verlaat het.  Ons het dan ook geglo dat daar 'n 'verskanste klousule' in ons werkprogram bestaan wat bepaal het dat dr Verwoerd se kantoor nie verlaat mag word voordat die straatligte buitekant deur die stadsraad aangeskakel is nie. 

Dikwels het dr Verwoerd spottenderwys aan my gevra hoeveel kere my kinders my 'oom' noem en hoeveel keer my eie hond my gebyt het. Min het hy besef hoe wesenlik hierdie gevare was, want in der waarheid het my gesin my vir lang periodes slegs as 'n soort ongereelde kuiergas geken.

Dr Verwoerd het die wonderlike gawe besit om sy probleme in die kantoor agter te laat. Wanneer hy in die aand, na 'n dag se harde werk op kantoor, sy kantoordeur agter hom toegestoot het, dan het hy sy probleme daar agter slot en grendel gelaat. Onmiddellik was hy 'n ander mens wat oor ander dinge gedink en gepraat het, welwetende dat hy by sy tuiskoms alweer met amptelike sake besig sou wees.

Wanneer hy saans geen buite-afspraak gehad het nie, het hy en mevrou Verwoerd altyd ná ete 'n paar minute probeer inruim om te gaan stap. Beide was geesdriftige stappers en, in hulle jong dae, bedrewe bergklimmers. Trouens, in Wes-Kaapland is daar waarskynlik min bergkruine wat hulle nie in hul studentejare oorwin het nie.

Dr Verwoerd was 'n ware 'nagwolf'. Hy kon letterlik dwarsdeur die nag by sy lessenaar met kantoorwerk sit om die arme tiksters die volgende môre behoorlik toe te gooi onder memorandums en korrespondensie. Ook moes alle beskikbare koerante saans, of liewer snags, gelees word. Daardie koerante of tydskrifte waarvoor daar vanaand nie tyd is nie, word opgegaar tot môre of tot aanstaande week maar dit moes net eenvoudig gelees word!

Mevrou Verwoerd was vir Doktor altyd 'n ware steunpilaar. Selde het sy voor hom gaan slaap en altyd was sy in die onmiddellike nabyheid sodat sy kon antwoord wanneer sy benodig was. Dikwels het dr Verwoerd memorandums of briewe aan haar gedikteer, wat sy dan, soos 'n ware tikster, 'afgeneem' het. Wanneer hy ingewikkelde sake of Nuwejaarsboodskappe aan die volk gedikteer het, was dit sy gewoonte om op en af in die vertrek te stap – dikwels kaalvoet en altyd in 'n goeie stemming.

Mevrou Verwoerd was dikwels ook met vertaalwerk of met die nasien van Hansardverslae behulpsaam en wanneer sy 'n stuk gekontroleer het, was dr Verwoerd gewoonlik volkome tevrede dat dit goedgedaan is.

Sy het nooit in haar man se werk ingemeng nie, maar omdat hy dikwels van haar dienste gebruik kon maak, het sy konsekwent gesorg dat sy vir hom beskikbaar was.

Wanneer dr Verwoerd sy agterstallige leeswerk moes inhaal, het hy gewoonlik sy skoene en sokkies uitgetrek, sy das afgehaal en op die rusbank gaan lê, met òf sy kop òf sy voete op mevrou Verwoerd se skoot terwyl sy met haar eie boek of breiwerk besig was.

So kon hulle saans, en tot die oggenduur, saam lees en soms debatteer oor een of ander artikel of oor 'n probleem wat raakgeloop is.

Dr Verwoerd het gevolglik snags nie baie ure lank geslaap nie, dog daardie tyd wat hy wel onder die komberse was, het hy goed geslaap. Hulle het geen oggendkoffie gedrink nie maar die gebruik was om vroeë ontbyt in die slaapkamer te nuttig.  Saam met die ontbyt moes al die beskikbare oggendkoerante inkom en daar is nie opgestaan voordat elke woord gelees is nie.