13 JAAR MET DR HF VERWOERD (1)

Deur Fred Barnard

(Lees reeks by 13 Jaar in die skadu van dr HF Verwoerd)

KENNISMAKING

"Ek is 'n veeleisende persoon en as u vind dat u nie die pas kan volhou nie, moet u maar teruggaan".

Met hierdie veelseggende woorde het dr Verwoerd my teen die einde van September 1952 in kamer 103 van die Uniegebou "welkom" geheet.

Voor daardie, vir my geskiedkundige lentemôre, het ek hom "geken" as "daardie vuurvreter van Die Transvaler" en "daardie onverantwoordelike Minister van Bantoesake wat Suid-Afrika op die mees roekelose wyse na die afgrond sleep", terwyl hy in die Departement waar ek voorheen werksaam was, bekend was as daardie man wie se koerant "in hierdie kantoor nie gelees mag word nie".

Vir my as ambisieuse jong amptenaar was dit 'n groot dag toe dr WWM Eiselen, destydse Sekretaris van Bantoesake, my ontbied om my mee te deel dat ek as die privaatsektretaris van hierdie veelbesproke en vir baie 'n gevreesde Minister, aangewys is.

Hoe goed onthou ek nie daardie eerste keer toe ons van aangesig tot aangesig kennis gemaak het nie! Flink en fier het hierdie frisgeboude jong Minister agter sy lessenaar opgestaan en my halfpad tegemoet gestap. Net soos my moed was sy woorde min, maar sy wakker blou oë, sy spontane glimlag en ferm handdruk het 'n aangename warmte geskep wat my onmiddellik tuis laat voel het.

Sommer van die eerste oomblik af was dit vir my duidelik dat ek my nou in die geselskap van 'n heel besondere persoonlikheid bevind het. So besig was hy daardie eerste dag dat die tee wat om tienuur vlak voor hom op die lessenaar geplaas is, om eenuur nog onaangeraak en yskoud daar gestaan het, in weerwil daarvan dat dr Verwoerd destyds besonder lief vir tee was.

Daardie namiddag, of liewer aand, het ons eers skuins voor sewe-uur die deur van kamer 103 agter ons toegeslaan, swaar belaai met amptelike stukke wat daardie nag nog aandag moes kry.

"Meneer Barnard", het hy opgemerk toe ons met die lang gang na die suidelike uitgang van die Uniegebou af drafstap, "in hierdie kantoor gaan dit maar bars..."  (In die kantoor het dr Verwoerd my altyd 'meneer' genoem).

In daardie dae het Doktor selde van hysbakke gebruik gemaak, en vir trappe – selfs na die tweede verdieping – het hy hoegenaamd geen ontsag gehad nie! En moenie dink hy het vir jou gewag nie! Dikwels wanneer hy haastig was – en dit was meesal – Hy hy vir my 'weggehardloop' en moes ék my knieë dra om hom darem nie uit my gesigsveld te laat verdwyn nie.

Trots was ek inderdaad daardie eerste aand toe ek uiteindelik by my hotel aankom en besef dat ek een volle dag met hierdie ongenadige "tiran" oorleef het. Maar nog meer: ek het rede gehad om te hoop dat ek die volgende dag ook nog sou kon uithou! Wat was my teleurstelling groot toe een van my nuwe kollegas my later daardie selfde aand verseker "dat jy waaragtig nie ou bene by daardie man sal maak nie". Op my vraag: "Waarom nie?" was die antwoord koel en beslis dat "hy en Eric Louw almal rondom hulle vrekwerk".

Al hierdie dinge het my aangespoor om die uitdaging met nog groter erns en geesdrif aan te durf. Daar was egter weinig aanmoediging en toe ek boonop 'n dag of wat later verneem dat die kollega wat 'n paar dae tevore by minister Eric Louw diens aanvaar het, alreeds die bloupas gekry het, het my moed my byna begewe en het ek begin glo dat die toekoms in hierdie kantoor by hierdie man vir my weinig belofte inhou.

Vir my was dit spanningsvolle dae daardie en die een klein drama het die ander met eentonige reëlmaat opgevolg. Afsprake het gebots; kwaai boere het kom kla oor "te veel wat vir die Bantoe gedoen word", tannies het my ingevlieg oor hulle probleme met huisbediendes, dreigbriewe van politici wat naby Bantoegebiede met probleme te kampe gehad het, moes taktvol beantwoord word en soveel ander probleme moes deur een onervare privaatsekretaris trotseer word. Onderwyl ruwe storms van vroeg tot laat in my kantoor gewoed het, het die Minister agter hoëstapels lêers verdwerg, kalm en bedaard in sy groot kantoor langsaan nooit van die lessenaar opgekyk nie.
Selde het hy briewe gedikteer en Rosa Schoonraad, my enigste hulp, moes letterlik dag en nag voor die tikmasjien swoeg om die stukke wat onafgebroke en voortdurend uit Doktor se pen te voorskyn gekom het, getik te kry.

Dit het my dan ook glad nie verbaas nie toe dr Eiselen my vroeg een oggend skakel om te verneem "wanneer die Minister dan vir sy afspraak verwag kan word". Ofskoon ek totaal onbewus was van sodanige afspraak, het ek dr Eiselen verseker dat die Minister inderdaad "reeds oppad is". Ek kon tog nie die indruk skep dat ek nie weet wat in my eie kantoor aangaan nie, en nog minder kon ek dr Eiselen onder die indruk bring dat die Minister 'n persoon is wat sy afsprake vergeet!

Toe ek by dr Verwoerd se kantoor instap, het hy dalk iets op my gesig gelees want voordat ek 'n woord kon uiter, vra hy om verskoning dat hy my nie ingelig het omtrent die reëlings wat hy sonder my medewete met dr Eiselen getref het nie. Later sou ek uitvind dat dit maar die eerste was van daardie soort afsprake wat sommer hier êrens op straat of by 'n sosiale geleentheid gemaak word, sonder aantekening en sonder die medewete van die privaatsekretaris.

Wat nou gedaan? Die motorbestuurder is juis oomblikke tevore na 'n ander deel van die stad gestuur en dis nou te laat om 'n amptelike motor van die regeringsgarage te bestel. Nou is die Minister haastig en daar's geen tyd vir teorieë nie.

"Het jy nie 'n motor nie?" was die onverwagte vraag.

Ek is lamgeslaan. Ek het wel 'n ding wat op die registrasiesertifikaat as 'n "motorkar" beskryf word, maar dis tog darem waaragtig nie 'n voertuig waarmee 'n lid van die Kabinet dit deur die strate van Pretoria kan waag nie! 'n 1938-Model... nou die dag nog 17 hoenders en 'n paar sakke kraalmis daarin gelaai vir my ou vriend op die plaas... nee... e...

"Ja, Doktor, maar..."

"Kom ons ry." En nog voordat ek met my verduidelikings kon kom, drafstap ons daar onder in die gang... oppad na die einde van my sekretarisskap?

Wat 'n marteling was hierdie endjie pad van kamer 103 af tot hier vlak voor die Uniegebou nie! 'n Nare onheilsgevoel het hom van my meester gemaak en ek het byna hardop gewens dat ons nooit aan die einde van hierdie pad moes kom nie.

Intussen gesels Doktor land en sand aaneen. Dit gaan oor die werk, oor die reën wat nie kom nie; oor alles behalwe oor motorkarre.

"Daar's hy, Doktor," en vasberade neem ek die leiding oor terwyl my hoë gas my spontaan en vol vertroue volg.

"Daar's hy," en nog nooit het my armoedige ou tjorrie meer pateties gelyk as juis op daardie oomblik nie.

Wat 'n onbeskryflike ervaring!

'n Minister wat ek skaars ken, 'n motorkar met 'n pap battery, en ek...!

Voordat ek nog die deur vir Doktor kon oopmaak, toe sit hy al. Ewe windmaker skuif ek ook trots agter die stuur in, skakel aan en...  'n kalme stilte...  geen reaksie hoegenaamd!

Ek kyk na Doktor, hy kyk na my, alles in doodse stilte.

Om sy mondhoeke huiwer 'n onderdukte, ondeunde glimlag dog hy spreek geen woord. Ek dink aan wat my ou vriende sal sê wanneer ek môre weer terug moet gaan na die plek waarvandaan ek nou die dag gekom het...

"Ek sal jou 'n stootjie gee." en sonder om op my reaksie ag te slaan, glip Doktor by die deur uit.

"Asseblief, Doktor..."

Danksy die afdraand by die Uniegebou en Doktor se stootjie gesels my ou maat gelukkig na enkele treë.

Ek sien vandag nog in my truspieël daardie groot figuur agterna draf, met 'n breë glimlag en 'n kuif wat skeef staan in die oggendwind... daar teen die hange van ou Meintjieskop.

Ek het reggesit met my verskonings, verduidelikings en teorie, maar toe Doktor 'n paar treë verder weer langs my plaasneem, kon ek geen woord inkry nie. Aaneen verduidelik hy hoe hy in sy dae motors gestoot het.

Selde het ek 'n gelukkiger mens gesien as wat dr Verwoerd was toe hy enkele minute later voor een van Pretoria se groot geboue uit my voertuig klim om deur hooggeplaaste amptenare en belangrike persoonlikhede verwelkom te word. Onderwyl ek besig was om die ou tjorrie netjies tussen die geel lyne wat vir die luukse ministeriële voertuie bedoel was, te parkeer, het die Minister sy gaste verontagsaam, nader gestaan en luimig opgemerk dat ek sy 'ampsmotor' liewer moet omdraai sodat sy neus na die afdraand wys "ingeval daar weer gestoot moet word".

Ná hierdie eerste paar dae saam met dr Verwoerd het ek besef dat ek 'n besondere mens ontmoet het. Nooit kon ek egter droom nie dat dit my beskore sou wees om vir meer as 13 jaar en gedurende een van die mees dramatiese tydperke in Suid-Afrika se geskiedenis aan die sy te staan van hierdie groot en dinamiese gees aan wie ons vaderland se toekoms soveel jare lank toevertrou is.

Reeds na daardie eerste paar dae saam met hom, het ek besef dat ek 'n man ontmoet het wat geroepe is om diep en onuitwisbare spore in die geskiedenis van sy volk oop te trap.