Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As gelowige ervaar ek alles as genade. Dis nie eens asof Christus 'n deur oopgesluit het en ek my hand moet uitsteek en die knop moet draai en ingaan nie. Ek staan alreeds aan die binnekant!
13 JAAR MET DR HF VERWOERD (14)
Deur Fred Barnard
(Lees reeks by 13 Jaar in die skadu van dr HF Verwoerd)
REPUBLIEKWORDING (1)
Dr Verwoerd was in murg en been 'n Republikein en vir hom was 'n Suid-Afrikaanse republiek, vry van vreemde bande, een van sy grootste lewensideale.
toe hy in die vroeë dertiger jare professor in die Sosiologie aan die Universiteit van Stellenbosch was, het hy 'n leidende aandeel aan buitemuurse sosiologiese en welsynswerk gehad en het hy onder meer die groot Volkskongres oor die Armblankevraagstuk in 1934 georganiseer.
Dit was juis sy ervaring in verband met hierdie werk, die teenkanting en verydeling waarmee hy homself so aktief besig gehou het, wat hom laat besluit het om tot die aktiewe politiek toe te tree, want, so het hy geredeneer, om iets werklik groot vir jou land en jou volk tot stand te bring, is dit gebiedend noodsaaklik dat hy self deel van dIe regering moet wees.
Juis om hierdie rede het hy in 1936 die redakteurskap van 'n nuwe te stigte dagblad in Johannesburg aanvaar. Nie alleen sou dit hom in staat stel om iets blywends, iets waaraan daar in die Transvaal 'n groot behoefte was, tot stand te bring nie, maar ook sou dit hom 'n ideale geleentheid bied om aan die aktiewe politiek deel te neem.
Nou was die algemene beskouing onder baie Afrikaners in daardie jare dat die Republikeine van Wes-Kaapland veral nie met dieselfde vuur as hul broers van die Noorde begeesterd was nie. Terwyl die voorstanders van 'n republikeinse regeringsvorm in die Suide – so is daar gesê – te langsaam beweeg het, of selfs onaktief en liberaal was, was die republikeine van die Noorde te "vinnig, te ekstremisties en te vurig".
Waar die Vierkleur van die ou Transvaalse Republiek in sy honderdtalle by vergaderings in die Noorde gewapper het, was hierdie simbool van 'n republiek 'n seldsame verskynsel in die Suide, en waar die politici by vergaderings in die Noorde geen geleentheid verby laat gaan het sonder om die noodsaaklikheid van 'n republiek oor die vlaktes van Transvaal uit die bulder nie, was 'n terloopse herinnering aan die republikeinse ideaal vir die Boland genoeg!
Toe die groot republikein en "ekstremis" van die Noorde, adv Hans Strydom, in 1936 verneem dat 'n man van die sluimerende Suide aangestel sou word om deur middel van 'n nuwe koerant die boodskap van die republiek oor sy vaderland uit te dra, het hy onmiddellik beswaar aangeteken, want hoe kan 'n onbekeerde die evangelie verkondig?
Nadat hy homself egter tevrede gestel het, het die professor van die Suide na Johannesburg gekom om sy taak as draer van die republikeinse ideaal hier in die Noorde op hom te neem.
Min het hierdie twee vurige jong republikeine besef watter hegte kameraadskap daar tussen hulle sou ontwikkel en nog minder het die wêreld geweet watter reuse-aandeel hierdie tweemanskap in verband met Suid-Afrika se republiekwording sou hê.
In daardie donker dae van die Afrikaner, toe hy feitlik geen aandeel in die regering van die land gehad het nie, was dit moeilik om 'n nasionalis en om 'n republikein te wees. 'n Nasionalis kon nog vergewe word maar vir die republikeine was daar geen genade nie. Dan was baie openlike nasionaliste terselfdertyd vurige teenstanders van 'n republikeinse staatsvorm ofskoon die Party sedert 1936 reeds 'n Republikeinse Party was wat openlik 'n republikeinse staatsvorm bepleit het.
Onmiddellik nadat hy sy nuwe taak as hoofredakteur van Die Transvaler in 1937 aanvaar het, het dr Verwoerd dan ook sy kleur beken, want in geen onseker taal nie het hy aangedui dat sy koerant wat die republikeinse ideaal betref, die weg sou volg waarvan Tielman Roos gepraat het toe hy in 1917 gesê het: "Ons moet 'n republiek word beide in teorie en praktyk."
Tot in 1948, voordat dr Verwoerd Senator geword het, het hy deur middel van sy koerant onvermoeid voortgegaan om die boodskap van die republiek uit te dra en vandat hy in daardie jaar tot die aktiewe politiek toegetree het, het hy die geleentheid te baat geneem om dit met hernieude ywer van platform tot platform te verkondig want, so het hy vas geglo, "ware eenheid in Suid-Afrika sal alleen tot stand kom nadat Suid-Afrika 'n republiek geword het."
Toe hy in 1958 hoofleier van die Nasionale Party en Eerste Minister word, was die rigting, wat republiekwording betref, dus reeds aangedui deur homself, maar veral ook deur republikeine voor hom – manne soos Tielman Roos, adv JG Strijdom, adv CR Swart, dr NJ van der Merwe, dr DF Malan en baie ander. Ofskoon die rigting aangedui is, was die pad na uiteindelike verwesenliking van sy lewensideaal nog lank en steil en was die uiteindelike doelwit nog iets vir die toekoms.
Vir hom was die vordering op daardie weg veels te langsaam en dit sou dan sy taak wees om dit waaroor daar oor die jare heen so baie gepraat is, waarna so lank gestrewe en waarvoor so ernstig gebid is, 'n lewende werklikheid te maak.
Nooit het hy egter die groot werk wat daar deur sy voorgangers onder tergende omstandighede gedoen is, vergeet nie en telkens weer het hy in die geskiedenis geblaai om te put uit hul ervarings en om die foute van die verlede te probeer vermy.
Een van die grootste probleme waarvoor al die nasionale Eerste Ministers sedert DF Malan te staan gekom het, was die wyse waarop die republiek tot stand sou kom. Eerstens is dit 'n feit dat ofskoon die Nasionale Party sedert 26 Mei 1948 aan bewind was, het die oppisisiepartye met en sedert daardie verkiesing steeds die meeste van daardie stemme wat by verkiesings uitgebring is, ontvang. Wanneer daar dus koppe getel word, was dit duidelik dat die Nasionale Party wat destyds alleen die openlik voorstanders van 'n republiek was, ver in die minderheid was.
Hierdie feit, naamlik dat die voorstanders van 'n republiek onteenseglik in die minderheid was, het meegebring dat die nasionale Eerste Ministers moeilik 'n formule kon vind waarvolgens 'n republiek op demokratiese wyse tot stand sou kon kom, ofskoon daar uit die staanpoor konsekwent verklaar is dat 'n republiek alleen op die breë volkswil gebaseer sal word.
En dit was juis hierdie "breë volkswil" wat so moeilik definieerbaar was, en waaroor veral adv Strijdom en dr Verwoerd talle uitgerekte samesprekings gevoer het. Terwyl adv Strijdom geglo het dat daar vooraf op 'n bepaalde meerderheid besluit moes word - waarvoor daar juis 'n formule gesoek is en wat juis die onderwerp van langdurige navorsing ager die skerms was – het dr Verwoerd daarenteen geglo dat 'n blote meerderheid voldoende moes wees. "'n Meerderheid is 'n meerderheid", was sy verweer.
Al die nasionale Eerste Ministers was dit roerend eens dat 'n republiek op erkende konstitusionele wyse verkry moes word en almal het geglo dat 'n republikeinse regeringsvorm beter by die gees van die Suid-Afrikaanse volk sou inpas. Nooit was daar enige sinistêre bedoelings nie en altyd is daar probeer om andersdenkendes deur middel van oortuigingswerk tot ander insigte ten opsigte van 'n republiek te bring.
Op 10 November 1956 het adv Strijdom op Naboomspruit verklaar: "...Vandat die republikeinse doelstelling in 1936 in die Nasionale Party se program van beginsels opgeneem is, het ons dit duidelik gestel dat die republiek tot stand gebring sal word alleen op die breë grondslag van die volkswil en met die getroue inagneming van die gelyke taal- en ander kultuurregte van die twee seksies van die blanke bevolking.
"In ooreenstemming hiermee het ons toe neergelê dat die republiek alleen tot stand gebring kan word as gevolg van 'n spesiale en besliste opdrag van die stemgeregtigde blanke bevolking, en nie bloot as gevolg van 'n parlementêre meerderheid nie, wat by 'n gewone verkiesing verkry mag word..."
Hierdie beloftes is herhaaldelik ook deur dr Verwoerd in die Parlement en van die verhoog gemaak dog die Opposisie het konsekwent geweier om dit te aanvaar, want vir hom was 'n republiek iets uit die bose – ies wat tot elke prys vermy moes word!
Minder as twee jaar nadat hy Eerste Minister geword het, het dr Verwoerd die bul by die horings gepak. Langer kon daar nie getalm word nie want jare lank reeds is daar van honderde platforms dwarsoor die land aangekondig dat die dag van die republiek vinnig nader. By beloftes alleen kon dit nie langer bly nie omdat 'n aansienlike deel van die Nasionale Party alreeds begin twyfel het aan hul leiers se vermoë om hul beloftes ten uitvoer te bring.
Die eerste stap was om die Nasionale Party-kantore van die verskillende provinsies opdrag te gee om 'n volledige en noukeurige opname te maak van wat die steun sal wees wat die Nasionale Party by 'n verkiesing in daardie stadium kan verwag.
Onmiddellik is daar aan die werk gespring maar wat was die teleurstelling groot toe daar na sorgvuldige berekenings gevind word dat die Nasionale Party nog steeds nie 'n meerderheid by 'n moontlike verkiesing sou monster nie.
Groot en duidelik was die syfers op die lessenaar voor dr Verwoerd en almal het gewag op die vanselfsprekende antwoord, naamlik dat dit in die omstandighede nie gewaag kon word nie.
Hoe kon enige Eerste Minister sy toekoms so opoffer; sy reputasie so in die hande van die noodlot plaas! Verwoerd sal dit nie doen nie!
Maar hulle wat gewonder en geweifel het, het dr Verwoerd nie goed geken nie want teen alle verwagtings in besluit hy dat, wat hom betref, "daar na die volk gegaan sal word!" "Want," het hy gesê, ons kan wen!"
"Stel ons langer uit, mag dit te laat wees," het hy konsekwent volgehou. "... na die volk gegaan sal word wel wetende wat die volk se antwoord gaan wees...!"
"Die antwoord van die volk sal reg wees soos dit altyd reg is...!"
Hierna is die saak aan die Kabinet voorgelê wat, nadat die volksleier met sy beredenering getower het, eenparig ingestem het dat die volk gevra sou word om te beslis.
Daarna is die parlementêre koukus van die Nasionale Party ingelig.
Ofskoon die oorgrote meerderheid die gedagte met ongekende geesdrif verwelkom het, het etlike lede geen geheim daarvan gemaak nie dat hulle die besluit as voorbarig beskou.
"Hoe kan ons wen nadat alle bewyse gelewer is dat die monargiste in die meerderheid is?"
"Dis sy eerste flater," het 'n voorbanker in die wandelgang teenoor 'n kollega opgemerk, "maar as hy so koppig wil wees, laat hom begaan."
"Ek glo ons kan nie wen nie," het 'n ander geantwoord, "dog as Doktor sê ons gaan, dan gaan ons."
Selde tevore is 'n politieke party se geheime so deeglik bewaar as wat hierdie geheim deur die Nasionale Party bewaar is.
Dat dr Verwoerd oneindig veel gewaag het ly geen twyfel nie. Inderdaad het hy wel deeglik besef dat hy besig was om sy politieke toekoms op die spel te plaas. Vas het hy egter geglo dat die uitslag ten gunste van 'n republiek sou wees en nooit het hy vir 'n enkel oomblik aan sukses getwyfel nie.
En toe breek Woensdag, 20 Januarie 1960 aan – daardie dag waarop die Suid-Afrikaanse parlement na een van die grootste redes van alle tye sou luister, met die aankondiging deur dr Verwoerd van die regering se besluit om die volk te vra om hom oor die vraag of Suid-Afrika 'n republikeinse regeringsvorm sal aanvaar, uit te spreek.
Republiekwording 2 ... vervolg