13 JAAR MET DR HF VERWOERD (7)

Deur Fred Barnard

Lees dr Verwoerd se volledige antwoord op Macmillan se winde by

  VERWOERD KEER MACMILLAN SE WINDE...

(Lees reeks by 13 Jaar in die skadu van dr HF Verwoerd)

WINDE VAN VERANDERING

"Meneer die Eerste Minister," het hy hoflik en glimlaggend begin, "u het my 'n aansienlike taak gestel", en daarna het hy voorgegaan om in die taal van die boerediplomaat aan Macmillan te verduidelik dat dit vir hom beter sou loon om liewer op verkeerdhede in eie huishouding en op eie bodem ag te gee, en om Suid-Afrika aan die inwoners van Suid-Afrika oor te laat.

Uit die aard van my werk moes ek oor die jare na baie sprekers en redenaars luister onder wie dr DF Malan ongetwyfeld een van die grootstes onder die grotes was. Dan was daar adv JG Strijdom, generaal Kemp, genl JC Smuts, AJ Werth van George om nie eens te praat van die staatshoofde by geleentheid van die 1961-Statebondskonferensie nie.

Oor baie jare heen het ek ook na honderde toesprake van dr HF Verwoerd geluister. Nie alleen was hy een van die briljantste redenaars na wie ek ooit geluister het nie, maar ook was hy een van die beste geleentheidsprekers wat ek ooit aangehoor het. Trouens, baie van die beste toesprake wat hy gelewer het was toesprake waarop hy totaal onvoorbereid was.

Een van daardie toesprake wat altyd soos 'n juweel sal skitter, is dié een wat hy as antwoord op Eerste Minister Harold Macmillan se veelbesproke en, vir baie, berugte winde-van-verandering-toespraak gelewer het. Lank nadat hierdie toespraak reeds vergete was, is daar in die Eerste Minister se kantoor nog navrae vir afskrifte ontvang, veral van persone in Groot-Brittanje en ander Afrikastate.

Wanneer 'n mens dan ook vandag hierdie rede bestudeer en die omstandighede in aanmerking neem waaronder dr Verwoerd geroepe was om by hierdie geleentheid te antwoord op 'n toespraak van 'n groot wêreldleier soos Macmillan inderdaad veronderstel was om te wees, dan besef jy dat die woorde wat daar gespreek is, alleen die vrugte van 'n groot en vrugbare brein moes gewees het.

Aan die begin van Januarie 1960 het die Britse Eerste Minister uit Londen vertrek op die eerste skof van sy toer deur Afrika. Nadat hy Ghana en ander Afrikastate besoek het, het hy teen die einde van Januarie op die Jan Smutslughawe aangekom. Die Suid-Afrikaanse Parlement was in sitting en daar is gevolglik besluit dat Macmillan eers die Transvaalse gedeelte van sy toer sou afhandel voordat hy na Kaapstad gaan waar hy vir die eerste maal die Suid-Afrikaanse Eerste Minister sou ontmoet. Dit is juis so gereël omdat dit die Brit in die geleentheid sou stel om daardie dinge waarby hy besondere belang gehad het, soos Bantoebehuising, opleidingsfasiliteite vir die swarte en veral die Opleidingskollege by Turfloop, persoonlik te besoek.

In die Transvaal is hy oral geesdriftig deur die swartes verwelkom voordat hy na Kaapstad vertrek het waar hy om 6:00 nm op Maandag, 1 Februarie aangekom het.

Met sy aankoms op die DF Malanlughawe daardie dag was die ou "Kaapse dokter" in 'n besonder ongeduldige luim – asof hy goed geweet het dat hierdie man van Downingstraat so 'n deskundige op die gebied van die winde was! Koorsagtig het die dames hul hoedjies, wat spesiaal vir hierdie geleentheid aangeskaf is, vasgeklou toe ' Casteel', dr Verwoerd se Viscount, sy hoëgaste aan die einde van die aanloopbaan besorg waar die twee premiers vir die eerste maal sou ontmoet.

Macmillan was, soos die gammat daar by die hek van die lughawe gesê het,  "nie 'n lekka outjie nie." Sommer so by die aanmekaarloop het ek die indruk gekry dat hy 'n stroewe, gespanne en onnatuurlike mens is wat dit besonder moeilik vind om op sy gemak te wees – inderdaad 'n skrille kontras met sy spontane kollega in wie se geselskap die onnatuurlikste persoonlikheid spoedig volkome tuis moes voel.

Vanaf die lughawe is ons na Groote Schuur waar mnr Macmillan en Lady Dorothy vir die duur van hul besoek aan Kaapstad die Verwoerds se gaste sou wees.

Lady Dorothy was in teenstelling met haar man, 'n besonder vriendelike persoon – in sekere opsigte 'n egte boeretannie – wat spoedig goed met mevrou Verwoerd bevriend geraak het.

Die Britte was heel gou tuis in Groote Schuur want waar is daar mense wat nie gou tuis gevoel het in die heerlike warmte wat daar in die Verwoerds se huis geheers het nie?

Op Dinsdag, 2 Februarie, is daar 'n samespreking tussen die twee leiers gereël want Macmillan sou onder meer die Parlement in Kaapstad toespreek. Hoflik soos dr Verwoerd was, het hy na afloop van die urelange gesprek nie veel kommentaar gelewer nie, dog by my was daar hoegenaamd geen twyfel nie dat hy nie baie vertroue in sy eweknie gehad het nie, en dat hy ewemin verwagtinge gekoester het. Grond vir my vermoede is daarin geleë dat hy homself onmiddellik in sy studeerkamer afgesonder het om persoonlik 'n volledige skriftelike opsomming te maak van alles wat daar tussen hulle gepraat is – iets wat dr Verwoerd by geen vorige of latere geleentheid waarvan ek kennis dra, nodig geag het nie!

Iets wat Macmillan wel by die geleentheid kwyt geraak het en wat dr Verwoerd gewelidg geskok het, was sy lewensbeskouing van 'n volksleier: "'n Leier moet nie so eng wees nie. Soms wanneer omstandighede dit vereis, moet hy maar die seile van sy bootjie volgens die wind span om saam met die stroom te vaar".

Vir dr Verwoerd was hierdie filosofie eens te veel, en dit alleen was vir hom genoeg om alles afkomstig van hierdie man van Downingstraat nommer tien met agterdog te bejeën. In die duidelikste taal het hy Macmillan verseker dat hy hierdie teorie met veragting verwerp en dat wat hom betref, hy liewer stroomop sou swem in die hoop dat daar genoeg krag sal wees om bo uit te kom!

Op Woensdag, 3 Februarie, was dr Verwoerd vroeg op kantoor want om 9:45 vm sou hy saam met mnr Macmillan en die Speaker, adv Johan Conradie, tee drink. Die baas was in 'n besonder luimige stemming en 'n mens het die indruk gekry dat hy daarna uitgesien het om so 'n bietjie kragte te meet met die verteenwoordiger van Groot-Brittanje. Ek was egter heeltemal oortuig daarvan dat die rede vir sy opgewekte stemming gesoek moet word in die feit dat hy, ten spyte van die groot agterdog wat hy ongetwyfeld gekoester het, tog heelwat van sy hoë gas verwag het.

Die teedrinkery in meneer Speaker se kantoor het nie lank geduur nie omdat Macmillan nog eers sy notas vir die vergadering wat om 10:30 'n aanvang sou neem, wou deurkyk.

Ooreenkomstig Britse Parlementêre gebruik stel die Eerste Minister gewoonlik 'n afskrif van die toespraak wat deur hom gelewer word vooraf tot die beskikking van die leier van die Opposisie. Gedagtig aan hierdie prosedure het ek daardie oggend verwag dat Macmillan se privaatsekretaris 'n afskrif van sy Eerste Minister se toespraak voor die aanvang van die vergadering aan my sou oorhandig vir dr Verwoerd se insae. Dit is trouens tradisie.

Toe ek egter 'n kwartier voordat Macmillan moes begin nog niks van my kollega, wat al die tyd, soos ek, op en af in die wandelgang beweeg het, verneem of ontvang het nie, het ek onrustig begin word. Volgens die program moes dr Verwoerd  op Macmillan se rede antwoord en daarom was dit niks meer as billik nie dat hy vooraf insae sou hê in daardie sake waarop hy gevra word om te reageer.

Eensklaps was Macmillan en sy privaatsekretaris skoonveld! Naarstiglik het ek begin soek totdat ek hulle uiteindelik in die klein eetkamer agter geslote deure aantref waar die Britse Eerste Minister besig was om sy getikte toespraak halfhardop te repeteer.

Op my vraag aan my Britse kollega of ek 'n afskrif van die dolkument vir my baas kon kry, was die vriendelike antwoord dat hy sekerlik "binne 'n oomblik" aan my versoek sou voldoen. Ten einde mnr Macmillan nie te steur nie het ek versigtig die vertrek verlaat om buite voor die deur te wag. Ek wag vandag nog!

Hierdie Britse diplomasie het my nie gepla nie want ek het toe al geweet hoe dinge deur diplomate en politici gedoen word. Wat my egter wel dwars in die krop gesteek het, was die feit dat sekere persmanne in daardie stadium alreeds oor afskrifte van die toespraak beskik het!

Doelbewus het Macmillan daarvoor gesorg dat dr Verwoerd nie 'n afskrif kry nie sodat hy daardeur voor sy eie mense in die verleentheid geplaas kon word.

Die geskiedkundige ou eetsaal met sy dik tapyte, swaar gordyne en hoë mure vanwaar groot figure soos Hertzog, Malan, Strijdom en Smuts neerkyk, was van hoek tot kant volgepak toe Macmillan agter die lang blink tafel plaasneem. Aan sy regterkant was komdt Chris van Niekerk, President van die Senaat, links van die Britse Eerste Minister was adv J Conradie, die Speaker, dan dr Verwoerd en Sir de Villiers Graaff.

Alleen Volksraadslede en Senatore is binne die saal toegelaat, dog daar is geen beswaar geopper toe oom Callie Richter en ek agter langs die muur plek inneem nie.

Binne die saal was dit inderdaad 'n indrukwekkende gesig. Nie alleen vir die Suid-Afrikaanse Parlement nie maar ook vir die geheel Suid-Afrika was dit 'n groot en geskiedkundige dag. Reëlings is dan ook getref om die verrigtinge landswyd uit te saai.

Nadat die hoogwaardigheidsbekleërs hul sitplekke ingeneem het, het die Speaker die Britse Eerste Minister paslik welkom geheet.

Jy kon die spreekwoordelike speld op die dik tapyt hoor val toe Macmillan opstaan. Die atmosfeer was swanger van verwagting en meer as 150 van Suid-Afrika se leiers het letterlik aan die hoë gas van White Hall se lippe gehang terwyl hy sy toepsraak van nagenoeg tien getikte velle, langsaam en met die nodige nadruk op die regte plekke, voorlees; tien velle waarin Suid-Afrika in die beste taal van die Britse diplomaat veroordeel en beledig word.

Stil en bewegingloos het dr Verwoerd daar agter die lang blink tafel gesit, sy oë bo teen die hoë houtplafon.

Ek het hom jammer gekry en vanwaar ek gesit het, het ek sy oë gesoek. So graag wou ek hulle vind, net om, soos ek so dikwelsgedoen het, te knik. Dit, het ek in my beskeidenheid geweet, sou 'n glimlag om sy oë tower en aan hom vertel dat dit goed gaan! Want hoe goed het ek nie op daardie oomblik besef watter reusetaak daar op sy sterk skouers rus nie!

Hier staan hy, man alleen, teen die beste, die sterkste wat Groot-Brittanje kan bied. 'n Groot toespraak wat maande gelede deur Haar Majesteit se Kabinet in Londen haarfyn beplan en uitgewerk is; 'n stuk waarin dr Verwoerd geen insae vooraf durf hê nie; 'n toespraak wat ongetwyfeld daarop bereken was om hierdie man van apartheid in 'n hoek te drywe. Geen kans is hom gegun om te dink om sy Kabinet of raadgewers te raadpleeg nie.
Hier staan hy, man alleen!

Uiteindelik het die "winde" vir 'n wyle gaan lê en was die Suid-Afrikaanse Eerste Minister op sy voete om 'die dankwoord te spreek'. Maar as Macmillan gedink het dat Verwoerd slegs 'n dankwoord gaan spreek, soos die program inderdaad aangedui het, dan het hy Verwoerd nie geken nie want daardie Eerste Minister van Suid-Afrika was nie 'n man wat 'n uur lank kon sit en luister hoe sy regering beledig word om dan op te staan en "dankie" te sê nie!

In weerwil van die geringe kans wat hom gegun is, wou hy sy sê sê en dit goed sê. 'n Engelsman durf net nie so lig daarvan afkom nie!

'n Doodse stilte het swaar in die ou eetsaal gehang toe dr Verwoerd opstaan.

"Meneer die Eerste Minister," het hy hoflik en glimlaggende begin, "u het my 'n aansienlike taak gestel", en daarna het hy voorgegaan om in die taal van die boerediplomaat aan Macmillan te verduidelik dat dit vir hom beter sou loon om liewer op verkeerdhede in eie huishouding en op eie bodem ag te gee, en om Suid-Afrika aan die inwoners van Suid-Afrika oor te laat.

"Ons matig ons dit nooit aan om die toepassing van ander beleidsrigtings in die gebiede waarvoor u verantwoordelik is, te kritiseer nie maar wanneer ons by 'n geleentheid soos die huidige, waar ons heeltemal openhartig is, krities daarna kyk, sien ons, anders as u, dat daardie beleidsrigtinge groot gevare kan inhou."

Toe dr Verwoerd gaan sit, is hy byna dawerend toegejuig.

By my aankoms in my kantoor enkele oomblikke later, was daar reeds 'n aantal persmanne wat afskrifte van die teks van dr Verwoerd se toespraak wou hê. Hulle wou my net nie glo dat die baas sommer uit die vuis en sonder enige voorbereiding hoegenaamd gepraat het nie en nog minder wou hulle my glo dat dr Verwoerd nie vooraf insae in Macmillan se rede gehad het nie.

Hierdie kort toesprakie van dr Verwoerd het baie belangstelling uitgelok en gelukwensinge het lank ná 3 Februarie 1960 nog by ons kantoor aangekom, veral van belangstellendes en bewonderaars in Groot-Brittanje en ander Afrikastate.

Eienaardig genoeg het Macmillan daardie namiddag na afloop van hierdie geskiedkundige vergadering verkies om 'n besoek aan Helshoogte te bring!

Gesien die omstandighede waaronder dit gelewer moes word, bly hierdie antwoord van dr Verwoerd op die Britse Eerste Minister se toespraak een van sy grootste redes. Vir my het dit weer eens oortuig dat oor die politiek in Suid-Afrika dit gerade sou wees vir diegene wat die toestande nie ken nie, om hul oordeel op te skort.

Veel onreg word hierdie land en ons Protestantse volk aangedoen deur lande en regerings wat probeer inmeng om hul eie belange of beskouings te dien eerder as die morele oorwegings waaragter hulle dit versteek. Die Suid-Afrikaanse volk ken nie net sy eie omstandighede nie, en handhaaf nie net sy reg om as nasie en wel as blanke deelhebbers van 'n Christelike beskawing voort te bestaan nie maar gun dit ook aan die ander nasies, swart en gekleurd, in sy midde, wie se voog hy is en op wie se vrymaking en ontwikkeling sy beleid gerig is. Hy wil dit egter doen op so 'n wyse dat die wanorde, armoede en swart tirannie wat met oorhaastige vrymaking elders in Afrika gepaard gegaan het, nie hier sal voorkom nie – ook tot skade en ellende vir die blankes. Hy wil ook nie, soos elders in Afrika, die Kommunisme 'n houvas op geheel Suid-Afrika met sy goud en voorspoed gee nie want daarna sal Afrika in die skoot val! Dan is die einde van moderne blanke Europa en die Westerse beskawing sowel as die Verenigde State van Amerika ook in sig.

Suid-Afrika wil, met ander woorde, sy plig as laaste fort van die blanke en Christelike beskawing nakom, maar tegelykertyd regverdigheid en selfstandigheid tot stand bring volgens die patroon van aparte nasie- en state-skepping wat oral, in Europa, in Afrika, Asië en in Suid-Amerika dwarsdeur die geskiedenis plaasgevind het wanneer verskille ontwikkel of bestaan het deur taal, godsdiens, kultuur of herkoms.

Suid-Afrika is voorspoedig en ook oordeelkundig en billik genoeg om sy eie probleme op te los, terwyl die kritici dit elders nie regkry nie, en hierdie land verdien dus om alleen gelaat te word.

(Elkeen van hierdie ware woorde van Fred Barnard is natuurlik regomgekeer toe hierdie volk se eie leiers by name FW de Klerk en sy Kabinet vol Broeders in die tagtigerjare begin werk het vir die guns van die Wêreldgeldmag, die hele land verraai het deur dit uiteindelik in 1994 aan 'n swart kommunistiese regime te oorhandig en daarmee al Barnard se vernietigingsvoorspellings waar laat word het – webmeester).