Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Geld is kosbaar, 'n huis ook goed, maar die allerbeste is 'n goeie vriend, in donker dae gee hy jou moed. Groete aan al ons vriende in die geloof!
BROKKIES UIT DIE BOEK “MAX”
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Cornelle Maritz ervaar ‘n mengelmoes van gedagtes in haar normaalweg presiesgeordene gedagtegang. Soos enige ingenieur ‘n proses stap vir stap uitredeneer en verwerk, in werking stel en in die verloop daarvan die probleme wat opduik, die hoof te bied, so is sy uiters prosesmatig in haar denke. Maar nie vandag nie.
Sy drink stadig aan haar melkskommel, haar mooi mond getuit, soos sy aan die strooitjie suig. Die melkskommel is lekker dik, romerig, soet en net reg gegeur. Gewoonlik sou sy eerder ‘n cappucino of laté verkies, maar na soveel laat aande, soms deurnagte, waarin sy ‘n oormaat swart, sterk koffie gedrink het, rebelleer haar liggaam tans daarteen. Sy hoop sy het nog genoeg geld in haar bankrekening om vir die geroosterde kaas en hambroodjie, nou nog net half-geëet, en die lemmetjiegeur melkskommel te betaal en ‘n bekommerde frons verskyn op haar gesig.
Cornelle het geen grimmering aan nie en haar lang, donker hare, wat teen haar spierwit gelaatskleur afsteek, is skoongewas, maar nie salonversorg nie. Hier en daar, ten spyte van haar jonkheid, slaan grys strepe teen haar slape uit. Sy is lank en skraal, miskien té skraal, maar dis die gevolg van maande se harde werk, vandat sy bedank het by haar vorige werkgewer, en sy het net genoeg geëet om aan die lewe te bly. Soms in die vroegoggend ‘n bord halfgekookte hawermoutpap – sy het nie tyd vir lank kook nie - ander kere net ‘n geroosterde broodjie. Die meeste middagtetes sou sy oorslaan en as dit nie was vir die besorgde oom langsaan nie, wat van sy vrou se gekookte maaltye met haar deel, sou sy saans ook met die minimum kon regkom.
Nou is haar projek voltooi en sy kan asem skep. As John tog net met goeie nuus terugkom. Sy het nege dae laas van hom gehoor…
Hy het die teiken vinnig en professioneel geëien, die dungeslypte Uzi-bajonet, waarvan die punt letterlik naaldskerp gevyl is se hef onder sy duur, maar nie uitspattige baadjie nie, in die pasgemaakte skouerskede, sodat die hef na onder hang, behoorlik vasgevat. Hy glimlag vir die ander mense wat, soos Cornelle op die stoep van die halfintieme restaurant sit, maar die meeste van hulle ignoreer hom, soos mense maar maak in die stad.
Hy loop tot agter Cornelle en lig haar hare amper liefdevol op met sy linkerhand, soos ‘n geliefde met sy meisie sou maak as sy vir hom sou wag, terwyl hy die dolk geluidloos uit die skede trek. Met die agterkant van sy linkerhand druk hy haar kop vorentoe, sò vinnig, dat sy kwalik ‘n uitroep van skok kan gee. Met ‘n geoefende beweging bring hy die dolk op om haar in die sagte kol net onder haar skedel te steek, waar die mes die medulla oblongata sal binnedring.
Uit ervaring weet hy sy sal vorentoe sak en haar hare sal die klein bietjie bloed lank genoeg verberg, totdat hy vinnig en ewe geoefend sal verdwyn. Die mense sal later van hom onthou, dat hy vriendelik, beleefd en mooi aangetrek was, maar min mense sal hom werklik kan beskryf, of hy lank of kort is, ‘n baard of snor het, en sommige sal selfs sy ras verkeerd hê.
Voordat die polisie ‘n behoorlike verklaring van die spul sal kan afneem, sal hy reeds op sy vlug wees, terug Europa toe.
Nog voordat Malcolm Heaney die beweging kan voltooi, val die dolk uit sy hand en hy kyk vir ‘n vlietende oomblik geskok na waar dit op die grond lê. Hy verstaan nie wat gebeur het nie en voordat die besef tot hom kan deurdring dat hy sterwend is, syg hy soos ‘n teddiebeer wat uit ‘n kind se greep val, op die grond neer.
Cornelle voel hoe die greep aan haar hare verslap en in blote reaksie, soos normaal sou wees by alle mense, vlieg sy op om te sien wie so ongevraagd aan haar vat. Sy kan die stoel net so ‘n ent agtertoe skuif voordat dit teen iets vasdruk, maar stamp die tafeltjie vorentoe, sò hard dat die glas omval en die groen, lemmetjiegeur melkskommel se reste oor die tafel loop.
Sodra sy regop is, kyk sy af na die man wat op die vloer lê, met ‘n gat aan sy regterslaap, waaruit ‘n straal bloed loop, maar waar aan die linkerkant ‘n pienkerige massa bloederigheid lê, wat sy onmiddellik en instinktief as mensharsings eien. Twee mense, ‘n man en vrou aan haar linkerkant, het intussen opgevlieg en die twee spring rats oor die lae staalheininkie om weg te kom. ‘n Vrou gaan aan die gil.
‘n Sterk hand gryp haar aan die regter bo-arm.
“Cornelle, as jy wil bly leef, kom saam. My naam is Max en ek het nie tyd om te redekawel nie!”
Daar is iets sterk en outoritêr aan die man se greep en stem, wat dringend, maar nie hard is nie. Sy kyk vir ‘n oomblik na sy sterk gesig en die Walther P38 (sy besef net dis ‘n handwapen) met die dik, swart knaldemper aan die voorkant, weer na die potensiële sluipmoordenaar by haar voete en gaan dan gewillig saam met hom. Ten minste vir nou. Later sal sy begin vrae vra.
Die deurmekaar gedagtes van netnou is nou nog meer deurmekaar.
*
“En jy wil my vertel jy het die geheim ontrafel?”
“Ek sou nie sê ‘ontrafel’ nie, maar ja, ek weet hoe om waterstof te maak werk vir ‘n motorenjin.”
“Vertel?”
Cornelle se werkswinkel is ‘n mengsel van hoë tegnologie en primitiewe masjiene. Op ‘n lae staaltafel staan ‘n ou Chevrolet 4,1 liter reguit-sesenjin. Daar is vlekvryestaalpype wat oral uitpeul en al wat John werklik kan eien is die enjin self, twee turbo’s en ‘n tussenverkoeler (intercooler). Agter die enjin is ‘n gastenk, wat hy aanvaar gevul is met vloeibare waterstof.
“Nou goed. Die tegnologie van die verlede het in werklikheid gesentreer rondom die omsetting van waterstof deur ‘n pak membrane, waar die waterstof in effek weer met suurstof verbind word, met ‘n katode en anode, en in die proses word elektrisiteit vrygestel en natuurlik die water as enigste uitlaat, in plaas van koolstofdioksied. Jy kan verstaan dat dit ‘n omslagtige besigheid is en dat baie energie in die tussentyd verlore gaan?”
“Ek verstaan.”
“Dan is daar ook die probleem dat die temperatuur laag gehou moet word en daarvoor is hitte-omsetters nodig, wat baie swaar is en die plek van spasie in ‘n voertuig en natuurlik gewig wat weereens die voertuig, hetsy passasiersmotor, lorrie of vliegtuig soveel swaarder maak, dat dit loonspasie en vrag opneem. So ook die elektrode membraan-assembly.
“Maak sin.”
Die – mag ek maar die Engelse terme gebruik? – proton exchange membrane is duur om te vervaardig en weereens, neem dit spasie op. Dit bestaan ook uit bi-polêre plate, gas diffusielae en membrane wat met ‘n katalisator ge-coat is. Is ‘bedek’ die regte woord?
“Toyota se Mirai werk met ‘n elektiese kompressor, wat al ‘n stap in die regte rigting is, maar die probleme is nog nie opgelos nie. In 2006 het BMW ‘n 7-reeks een gebou, maar sy reikafstand was sowat 50 kilometer.
“Die ander rigting is om waterstof bloot in plaas van petrol of diesel te gebruik. Dit het sy eie probleme en my opslossing is om die geweldige hitte waarmee waterstof brand, om te skakel na energie, met hierdie turbo’s en interkoeler. Die tenk self, waarin die waterstof geberg word – onthou dat waterstofatome baie klein is, met net een elektron – beteken dit dat die tenk se wande baie dig moet wees en daarvoor het ek ‘n eenvoudige oplossing gekry met ‘n platinum, iridium, koolstof en loodlaag aan die binnekant.”
“Maar dis nie al nie?”
“Nee. Hier raak dit ingewikkeld, maar nie onverstaanbaar nie.”
Cornelle loop stap vir stap saam met John deur die proses en verduidelik dit op eenvoudige, verstaanbare manier, al is John Mankey ‘n meganiese ingenieur. Hy sou die hele proses nie kon onthou as hy dit nie afgeneem het met die versteekte kameras in sy brilraam nie.
Drie ure later, as hy al die vrae gevra het, en seker gemaak het al die antwoorde is duidelik, is sy enigste probleem die beskikbaarheid van waterstof, wat uiteraard deur elektrolise van die suurstof geskei moet word.
“Daarvoor het ek ook ‘n oplossing…”
“Nog ‘n halfuur gaan verby as sy dit verduidelik.
“Ja, en waar kan ‘n motoris of lorriedrywer aanvullings doen? Ek is seker dat as hierdie stelsel van my bekend word, sal elke huidige vulstasie oor hulle voete val om dit te kan voorsien.”
“En koste?”
“Dit alles kan geskied teen ‘n fraksie van diesel en petrol.”
“En die ombouing van bestaande enjins?”
“Dis duur, maar die gemiddelde motoris kan die koste binne twee jaar verhaal aan goedkoper brandstof, natuurlik afhangende van die aantal kilometers per maand.”
“Is dit veilig?”
Cornelle haal haar skouers op.
“Nie meer onveilig as diesel of petrol nie.”
“Kan jy vir my wys hoe dit werk?”
Nadat Cornelle ‘n paar krane oop en toegedraai het (dit kan met elektroniese kleppe vervang word), gee sy die aansitter krag en die enjin vat dadelik, loop stil en egalig. By die uitlaat kom slegs waterdruppels uit.
“Ek verstaan nou alles, maar die integrale proses self?”
“Dit is my geheim, totdat ek dit kommersieel kan bemark.”
Met die inligting tot sy beskikking, kontak John nie beleggers soos Cornelle gehoop het nie, maar een van die groot olie-en-petrolmaatskappye se hoofkantoor. Vier ure later vlieg hy Brussels toe, waar hy met bekommerde manne met dik brille en notaboekies, vier verskillende kleur penne in hulle sakke en sakrekenaars ingewag word. Hoe kon hulle hierdie proses nie self bedink het nie?
“Die proses waar die waterstof verryk word, voodat dit die binnebrandkamer ingaan?”
“Sy sê sy sal dit verkoop teen die hoogste bieër.”
Hulle moet besluit of hulle die proses by Cornelle Maritz gaan koop (teen miljarde dollar) en of hulle dit gaan smoor. En om laasgenoemde te doen, is daar net een oplossing.
Sodra John Mankey by die gebou uit is en op die eerste vlug terug na Suid-Afrika, kontak hulle vir Malcolm Heaney.