Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Net bang mense kan moedig wees – dit is wat moed beteken: om jou vrese in die oë te kyk en te besluit hoe jy dit gaan aanpak – en as jy wys is sal jy weet dat ware moed deur gebed verkry word.
BROKKIES UIT DIE BOEK VRYBURGER (19)
geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
MAJUBA
Om eenuur die middag het die burgers die kruin van die berg bereik. Dit was vir die Britte ʼn totale verrassing. Die voorste burgers het dodelik op die verdedigers van die Noordelike kruinrand begin skiet. Die Britse soldate was so verbaas dat hulle verskrik na die middel van die kruin gehardloop het. Die Britte was hierna vir die res van die geveg op die agtervoet.
Die geveg het nie lank geduur nie – tussen 10 en 20 minute. Die Boere het aanhou skiet op die Britte wat teruggeval het. Colley het probeer om ʼn verdedigingslinie op te stel. Dit was egter gemik daarop om die aanvallers van die Noorde af te keer. Hierdie poging het geëindig toe die Boere die Oostelike kruinrand berek en op die verdedigingslinie se flank begin skiet het. Hierna het die Britse verdediging totaal verbrokkel.
Teen 12:45 het die Boere met hewige geweervuur op Gordon se koppie losgebars en dit verower. Gedurende die volgende uur het die Boere oor die kruin gestroom en die Britte met akkurate skietwerk groot verliese toegedien. Daar was groot verwarring en die Britte het na die suidekant van die bergtop begin vlug.
*
Op daardie oomblik kom Generaal Colley se adjudant by hom staan. Colley is geïrriteerd. Hy is sekerlik die slimste en mees begaafde offisier in her Majesty’s Royal Army. Hy het self duisende soldate geleer hoe om te veg en nou is hy hier op hierdie godverlate stuk veld in ‘n land waar geen selfrespekterende mens wil wees nie. In bevel van ‘n kleinweermaggie.
“What I would have given to have a real army, with real gentlemen to command, in a worthwhile place like the fields of Europe, or even India, for Pete’s sake! How have I wronged the Queen to be sent like an underling to fight rabble like this!”
Hy vergeet dat die “rabble” hom die afgelope tyd op twee geleenthede ‘n loesing gegee het en dat hy eintlik hier is om verlore aansien te probeer herwin. Hy sou nooit vir ‘n oomblik kon dink dat hierdie sy laaste dag op aarde sou wees nie.
So angstig is hy om homself te bewys dat hy nie eens tyd toegelaat het vir die vuurpyllanseerders, die Gatling-masjiengewere of grofgeskut om saamgeneem te word nie.
Hy staan op die rand van die berg, vyf honderd voet bokant hulle vorige kamp, wydsbeen soos dit ‘n generaal betaam.
“Sir, shouldn’t we take cover? You are fairly visible here from all sides.”
“While the enemy is attacking, young man? Surely not.”
*
Oorkant die klofie het Nicholaas Verwey sy geweer gelaai en skuins langs ‘n bitterbessiebos gaan lê. Voor hom is ‘n agt duim hoë klip. Hy het sy ferweelbaadjie uitgetrek, opgevou en op die klip geplaas saam met die geweersak. Hy maak homself gemakliker, skuif sy lang bene effens na links, tone stewig buitekant toe gevou, elmboë reg onder sy skouers. Hy sit een van die lang, dun patrone in die kamer van die geweer, druk die hefboom op en trek die haan terug. Hierna draai hy die uitskroef-meganisme van die regop gaatjies-visier totdat die merkies op die “900” posisie uitskuif. Dis nie winderig nie.
Hy antwoord op Oom Japie Dreyer se vraag van suffies:
“Kan maar net probeer, Oom Japie.”
“Maar dis dubbel se ver as wat ons roere kan bykom…”
Nicholaas vat drie lang asems. Hy blaas dit stadig uit. Wag vir die tyd tussen sy hartkloppe. Hy vou sy hand oor die half-pistoolgreep van die Remington stadig toe en die skoot klap. Dis mis.
“Net by hom verby, so ‘n voet en ‘n half na sy regterkant. Ek het die stoffie agter hom gesien slaan,” sê Oom Japie, sonder om die verkyker te laat sak.
*
Colley se Adjudant pluk aan sy mou.
“General, Sir! They are shooting at you!”
“Of course they are, my good man. It is not called ‘war’ for nothing, you know?”
“No, Sir. It is someone shooting at you spesifically!”
“From where? There is no one even near?”
“Sir, from that small bush past the gulley.”
“Don’t be absolutely absurd man! That is almost nine hundred yards, if an inch. There is no way on God’s earth that a shot can be made…”
*
Op daar die oomblik weerkaats die son van die goue skild wat voor aan die helm vas is. Nicholaas Verwey sien die flits ver oor die leegte tussen hulle. Hy korrel op dieselfde plek as voorheen, en die flikkering vang hom half onverwags. Die skoot knal en die groot geweer skop teen sy skouer. Vir ‘n oomblik kan hy amper hoor hoe die koeël deur die klofie beweeg. En dan verdwyn Colley.
Kaptein David Sutherland, Generaal Sir George Pomeroy-Colley se adjudant, staan ‘n oomblik verward wanneer warm vogtigheid oor sy wang en nek spat. Hy het die nat klapgeluid langs hom gehoor en hy vee onwillekeurig sy wang af met die agterkant van sy hand. Hy draai na sy generaal langs hom, maar is verbaas as hy vir ‘n sekonde hom nie gewaar nie.
Dan kyk hy af en agter hom. Die generaal lê op sy rug, sy helm ‘n ent agter sy kop. ‘n Ronde, blou-swart gat sit reg bokant sy regteroog in sy voorkop. Tussen sy kop en die helm lê ‘n groot deel van sy harsings.
“What happened, Captain?”
David Sutherland kom half by uit sy dwaal en kyk na waar kommandeur Romilly nou staan, nie meer as twee tree vanwaar Colley lê nie.
“They shot the general…”
“Who are they?”
“Someone across the gulley, Sir.”
“Impossible!”
*
Kalm, asof hy op ‘n skietbaan is, haal Nicholaas die lang dop uit die kamer en vervang dit met ‘n vars rondte. Hy weet nou waar die wind druk en hoe hard, weet waar om te vat en as ‘n tweede offisier staan waar hy weet Colley lê, druk hy die sneller stadig. Die skoot klap hard en swaar en daar is weer die sekonde-lange gesuis as die koeël oor die kloof trek. Nicholaas hoef nie eens te wag vir die swartkruitrook om op te klaar voordat hy oorkant die kloof kan sien nie. Hy weet dis raak.
*
Romilly het die groot, lompe Enfield rewolwer uit en hy skiet na waar die Boere aan die kom is. Van die manne rondom hom val een na die ander neer. Hy is lus en gooi die aankomende vyand met die swaar ou rewolwer. Die volgende oomblik slaan iets hom hard en swaar teen die skouer en die rewolwer val op die grond. Hy kyk vir ‘n paar sekondes verdwaas daarna en voel hoe sy bene lam word.
Saam met Colley het daar binne twee en ‘n half ure twee en negentig van sy manne gesneuwel, een honderd vier en dertig is ernstig gewond en daar was nege en vyftig gevangenes. Sy oorspronklike mag van vier honderd en vyf professionele soldate, met strategiese hoë grond tot hulle voordeel, onder leiding van hierdie briljante soldaat, wat die hoogste punte ooit by Sandhurst behaal het, wat later ‘n hoogleraar in krygskunde by dieselfde instelling was, is verslaan deur ‘n klomp plaasboere, waarvan die helfte seuns onder agtien jaar oud was.
Jy moenie die Boere die harnas injaag nie.
*
Die res van die Britse mag het oor die agterste kruin gespring en is beseer, geskiet of gevange geneem.
Britse offisiere en soldate het na die suidelike kruinrand gehardloop om weg te kom. Baie is raakgeskiet. Colley is noodlottig getref. Die troepe wat dit tot by die rant gemaak het, het teen die steiltes afgehardloop terug na hulle kamp toe. ʼn Paar het oor die kranse getuimel en hulle doodgeval. Die Boere het aangehou skiet totdat daar geen verdediging op die berg oor was nie.
Van die Britse soldate het 92 gesneuwel, 134 is gewond en 59 is gevange geneem. Slegs een van die Boere (H. Bekker) het daardie dag gesneuwel ('n tweede een, J. Groenewald, het later aan sy wonde beswyk) en ses ander is gewond. Dit toon die verskil tussen die Britte en die Boere se kamoeflering en skietvernuf.
Aan Boerekant is dus een burger dood, een aan wonde oorlede, en vyf is lig gewond. Aan die Britse kant het 6 offisiere en 86 ander soldate gesneuwel, en 9 offisiere en 125 ander soldate is gewond. 59 is as krygsgevangenes geneem. 46% van die Britte wat op Majuba was, is dood of beseer. Dit was vir die Britte ʼn verpletterende nederlaag.
Majuba was die laaste geveg van die Eerste Vryheidsoorlog en het die oorlog in die Boere se guns beklink. Majuba het ʼn simbool geword. Vir die Boere was dit ʼn simbool van oorwinning en onafhanklikheid van die Britte. Dit was ook vir die Boere ʼn duidelike aanduiding van God se ondersteuning in hulle stryd vir vryheid. Vir die Britte was dit ʼn simbool van hulle nederlaag wat gewreek moes word. Omtrent 20 jaar later, gedurende die Tweede Vryheidsoorlog – die Anglo-Boereoorlog – sou hulle hul kans kry.