Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Net ‘n huigelaar bid vir ‘n lang lewe maar vrees die ouderdom. Moenie sê: “Nou is ek oud” nie. Sê liewer: “Ek het ‘n lewe wat nooit gaan ophou nie”.
BROKKIES UIT DIE BOEK VRYBURGER (11)
geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Op 17 Januarie 1852 is die Sandrivierkonvensie tussen die Transvaalse Republiek en Brittanje onderteken. Op 12 April 1877 verbreek Brittanje die konvensie eensydig en Theophilus Shepstone annekseer Transvaal as 'n Britse kolonie.
Dié oorlog sou uiteindelik oor vier veldslae strek: by Bronkhorstspruit, Laingsnek, Ingogo/Skuinshoogte en Majuba. Ná Majuba op 27 Februarie 1881 het die Engelse egter gou vredesonderhandelinge begin aanknoop.
Dit was egter die aanloop tot die Eerste Vryheidsoorlog op 11 NOVEMBER 1880 op Potchefstroom wat wys hoe die finale strooi die rug van 'n kameel kan laat breek:
Die burgers van Transvaal het beswaard gevoel oor die belasting wat hulle aan die "vreemde regering" van Brittanje moet betaal. Op 7 Oktober 1880 het genl PA Cronje en 130 burgers van Schoonspruit beswaar gemaak by die landdros van Potchefstroom teen die belasting. Een van die Boere, Piet Bezuidenhout, het volstrek geweier om belasting aan die Britse Owerheid te betaal, en die balju van Potchefstroom het beslag gelê op sy wa om dit op 'n veiling te verkoop.
Cronje en 200 burgers het die vendusie op 11 Oktober ontwrig, die wa verwyder uit die balju se besit en teruggegee aan Bezuidenhout. Sir O Lanyon het 'n afdeling Britse soldate met kanonne na Potchefstroom gestuur. Die Transvalers het op 8 Desember 1880 by Paardekraal bymekaargekom en besluit om te veg vir hulle vryheid van Britse oorheersing.
Kolonel Anstruther se opmars van Lydenburg na Pretoria word by Bronkhorstspruit deur generaal Frans Joubert met 150 man binne 10 minute vernietigend gestuit – 57 Britte dood, meer as 100 gewond. Boere: 2 dood, 5 gewond. Anstruther sterf.
-Hannes Engelbrecht
*
Jan loop stadig, maar doelgerig na waar Francesca onder die boom sit. Die tuinbankie waarop sy sit het nie ‘n rugleuning nie en indien sy hom hoor, of van sy teenwoordigheid bewus raak, wys sy dit nie.
“Francesca…”
Sonder om om te kyk, antwoord sy sag: “Jan..?”
Hy gaan sit langs haar op die bankie, maar met sy lyf en bene wat in die oorkantse rigting wys. Skielik is hy stomgeslaan. Hy weet eenvoudig nie wat om te doen of te sê nie. Uiteindelik praat hy:
“Mag ek maar hier by jou kom sit?”
“Ai, Jan. Jy sit mos klaar. Waarom vra jy dan nou toestemming?”
Hy sit ‘n halfminuut stil, met sy skouers effens geboë en sy oë op sy skoenpunte gefokus, asof hulle hom kan help. Hy weet nie wat hy verwag het nie, maar nou weet hy glad nie verder nie. Uiteindelik besluit hy om die bul by die horings te pak.
“Francesca… Franci – ek is lief vir jou. Ek dink ek was van die eerste dag af lief vir jou, maar ek is ‘n man wat onkundig is met vrouedinge. Ek weet werklik nie wat om te doen nie.”
“Wat wil jy doen, Jan?”
“Ek wil hê jy moet my vrou wees, maar ek weet nie hoe om dit te doen nie. Moet ek regop staan, of kniel, of wat?”
Francesca lag en vee trane uit haar oë met ‘n sakdoekie. Dan draai sy haar gesig na Jan toe en hy kan sien dat haar oë effens opgeswel is van die huil. En tog is sy vir hom onbeskryflik mooi. Haar oë, haar neus en mond, die kaal skouers bokant die rok se moue en haar lang, slanke nek…
“Jy kan maar sit, dis reg.”
Jan vroetel met die sakdoekie wat tant Ralie hom gegee het en die ring, so lomp en onhandig dat hy die ring laat val, wat oor die plaveisel rol, ‘n entjie verder omval en bly lê. Hy buig sò ver vorentoe, dat hy sy balans effens verloor en met sy linkerhand homself moet stut. Hy kom regop, vee die bietjie stof van die ring af en hou dit na haar uit.
“Francesca du Bois, sal jy met my trou?”
“Waarom?”
“Waarom? Omdat ek jou vra, dis hoekom!” sê Jan ietwat verergd. Hoe moeilik gaan sy dit dan nou maak?
“Ja, ek weet jy vra my, maar wat is die rede? Hoekom juis met my?”
“Hoekom met jou?” Jan is nou verboureerd. Hy het nie werklik geweet wat om te verwag nie, maar beslis nie dìt nie.
“Omdat ek mos lief is vir jou, dis hoekom!”
“Nou sê dit.”
“Wat moet ek sê?”
“Dat jy vir my lief is.”
Dis asof daar ‘n wolk voor die son van sy gemoed wegtrek.
“Franci, ek is lief vir jou. Ek was lief vir jou vandat ek jou daar amper dood in die reën gesien het en jy agter my rug heelnag gelê het. Ek was nooit onseker daarvan nie, maar ek was bang dat jy my nie gaan kan terug liefhê nie, daarom het ek dit nooit gesê nie.”
“Hoekom het jy gedink ek sal jou nooit kan liefhê nie?” vra sy, nou in volle beheer van die situasie.
“Omdat… ek ‘n knorrige ou man is, met ‘n baard en hare wat grys word en ‘n groot neus, met min mensekennis. Mense hou nie werklik van my nie, maar daaraan is ek al gewoond. Ek ken net van waens en osse, van gewere en die lang pad. En jy is jonk en so baie mooi en hoe kon ek verwag dat jy lief vir my kan wees?”
“Maar ek is, Jan.”
“Wat is jy?”
“Ek is jonk en mooi en lief vir jou.”
Jan herstel nou van sy verboureerdheid, vat haar hand in syne, is weereens daarvan bewus dat haar handjie wit en slank is, met lang, mooi vingers. Hy praat ernstig.
“Franci, ek het jou regtig baie lief, meer as wat ek ooit gedink het ek lief kan hê. My ma is dood toe ek nog klein was en my suster, wat baie jonger as ek is, was nie juis vir my ‘n inspirasie oor vroue nie. My pa het altyd die onderwerp van manne en vroue vermy. Jy moet daaraan dink dat ek vyf en twintig jaar ouer is as jy, dat daar dalk oorlog gaan wees en ek op kommando sal moet gaan. Oom Paul het juis vir my ‘n kommissie as veldkornet gegee. Ek is nou nog jonk genoeg om sterk te wees, maar as jy veertig is, gaan ek vyf en sestig wees en oud en grys en knorrig, soos al my oupas.”
Sy tel sy hand op en soen dit liggies, voordat sy dit met haar twee hande in haar skoot sit.
“Jan, ek gee nie om nie. Ja, ek word nou eers een van die dae twintig, maar ek is oud genoeg om al die feite te verstaan. Vroue is op baie jonger ouderdom wyser as mans oor hierdie dinge. Al wat vir my tel, is om nou, in die tyd wat ons beskore is, saam met jou te wees.”
“So, jou antwoord is ja?”
“Ja, Jan. Gaan jy my nie vra of ek vir jou ook lief is nie?”
“Is jy?”
“Ja, Jan. Ek het jou ook lief. Ek is jammer dat ek jou met die sweep geslaan het, maar dit was omdat ek eintlik daarvan gehou het toe jy my gesoen het en dit was onverwags. Ek is my lewe aan jou verskuldig, maar dis nie die rede nie. Ek hou van jou krag, nie net fisies nie, maar innerlik. Ek hou van jou hangoë en jou baard wat grys word, en selfs van jou te groot neus. My ma het my immers gewaarsku teen manne met fyn of pofferneuse. En natuurlik oë wat te naby mekaar sit.”
Sy sê dit alles met soveel erns en oorgawe, dat dit haar amper asemloos laat. Jan glimlag vir die eerste keer vir die dag. Hy hou die ring na haar toe uit, onseker wat hom te doen staan.
“Sit die ring aan my regterhand se vinger, Jan. Wanneer ons trou, kan jy dit aan die regte vinger sit.”
“Kan ek jou nou weer soen?”
“Jy kan.”
Jan vat haar versigtig agter die kop en soen haar sag op die mond. Sy maak haar mond effens oop en die ervaring daarvan is vir hom amper te veel om te verwerk. Sy trek haar kop effens weg.
“Maar hou jou hande tuis meneer!” sê sy en soen hom weer.
“Jy het gehoor dat ek gesê het ek moet dalk net op kommando gaan?”
“Ek sal bitter teleurgesteld wees as jy nie gaan nie.”
“En as ek sneuwel, jou ontval en nie terugkom nie?”
“Dan is dit die wil van onse Vader.”