Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jy is gedurig in jou Skepper se lewe; Hy vergeet nooit van jou nie al besef jy dit nie altyd nie. Hy is nooit te besig met al die ander mense se probleme om aan jóu aandag te skenk nie. Nou is die vraag: is Hy gedurig in jóu gedagtes? Of is jý te besig met ander mense om Hom die tyd te gee wat Hom toekom?
BROKKIES UIT DIE BOEK VRYBURGER (7)
geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Dis baie vroeg as Jan vir Goliat opsaal. Hy het lank oor die saak gedink, maar uiteindelik die Snider .577 verruil het vir een van die nuwer Martini-Henri’s. Hy is nie seker of die visiere ingestel is nie en moet maar daarop staatmaak dat die vervaardigers dit gedoen het. Die feit dat die Engelse so mis skiet, troos hom nie baie nie, en hy hoop maar vir die beste.
Sie en Sa is al besig om die waens in te span as die vrou uit die wa kom. Sy het lekker geslaap en is dankbaar vir die feit dat Jan sy slaapplek vir haar opgeoffer het.
Natuurlik het sy niks saamgebring nie, maar met Jan se ma se haarborsel en die water wat Sie vir haar wa toe aangedra het, kon sy weereens was en haar hare borsel. Daar is koffie en roosterkoek vir ontbyt en sy is baie dankbaar daarvoor.
“Môresê, Nonnie!” groet Sie en Sa feitlik tegelyk.
“Môre julle twee,” groet sy terug. “Waar is Jan?”
“Daar ry hy al, Nonnie. Hy gaan kyk of hy nie vars vleis vir ons gaan kry nie.”
Sy kyk op na waar Jan reeds meer as ‘n honderd tree van die laer af is. Al is hy nie so groot gebou nie, merk sy op dat hy breë skouers het en dat hy baie regop in die saal sit. Daar is iets sterk en indrukwekkend aan die man en sy kyk totdat hy oor die eerste bult verdwyn.
“Gaan hy lank wegbly?”
“Nee, Nonnie. Jan kan baie goed skiet en hy is ‘n goeie jagter. Hy sal vandag nog terugkom. Ander dae kan hy miskien in die veld oorslaap, maar sal nie vandag gebeur nie.”
“Hoekom nie vandag nie?”
“Want die nonnie is mos hier.”
*
Die troppie springbokke het hom betyds gesien en hulle spring met die kenmerkende kromgetrekte lywe hoog die lug in en verdwyn voordat Jan naby genoeg is om ‘n skoot af te kry.
Hy wil ook nie sommer in die bondel inskiet met ‘n mog-dit-troffe skoot nie. Hy haat dit om iets te kwes. Baie ander jagters sal dit waag en hoop hulle kwes iets, sodat hulle die bloedspoor kan volg tot die dier gaan lê. Daar is immers honderde duisende bokke in die land!
Jan het al meer as een jagtog en geselskap verlaat as gevolg daarvan. Een keer het dit selfs in ‘n vuisgeveg ontaard en die ou dik, boepens van ‘n kêrel het erg ‘n pak slae op die lyf geloop, nadat hy vir Jan as lafaard uitgekryt het. Jan is korterig en skraal, maar baie sterk. Hy is ook baie vlug op sy voete, iets wat ou Boepens nie ingereken het nie.
Jan besluit om nie die troppie agterna te sit nie, maar ry in ‘n diagonale rigring na waar die bokke verdwyn het. Oubaas, met sy neus op die grond, snuif-snuif oral, by elke bossie en boom, maak hier en daar enetjie nat en draf dan aan. Hy is nie meer die verwaarloosde, maer brakkie van lankal nie, maar eerder gespierd en sterk, alhoewel nog nie heeltemal uitgegroei nie.
Skielik gaan staan hy, snuif-snuif op die grond, tel sy kop op na ‘n ruigtetjie so ‘n honderd treë van hulle af en kyk stip daarna.
Jan klim van Goliat af, laat die teuels hang en met die geweer oorgehaal, loop hy nader. Sodra hy binne sestig tree van die bosse af is, sien hy deur die takke en blare die onmiskenbare vorm van ‘n springbokram. Sodra die skoot knal en die rook effens weggewaai is, hardloop hy nader. Die swaar .45 koeël het die ram net onder die horings getref en hy is morsdood. Jan sny sy keel, laat hom uitbloei en sny dan die pens oop, haal die binnegoed uit vir die jakkalse en sit die lewer en niertjies terug in die buikholte. Met die karkas net voor die saal, klim hy terug in die saal en ry terug kamp toe.
*
Sy vang haarself uit dat sy kort-kort opkyk in die rigting waarheen Jan gery het. Sie en Sa het klaar ingespan, opgeruim en hulle trek verder, Noorde toe.
“Wat van Jan, Sie?”
“Hy sal ons kry, Nonnie. Die spore is mos duidelik.”
“Maar…”
“Hoe lyk dit my die nonnie het gevoelens vir die baas?”
Sy is dadelik verontwaardig.
“Wat bedoel jy? Nee, dis net dat hy my gehelp het. Hoe sal ek nou gevoelens vir hom hê, as hy so arrogant en astrant is, en ek ken hom nie eens behoorlik nie? Nee, ek is maar net effens ontgaan oor hom, dis al.”
Sie sê niks, maar glimlag asof hy van beter weet en fluit vir die osse om vas te vat. Hy klap met die sweep oor hulle koppe.
Sy besef skielik dat sy meer as net “ontgaan” is oor Jan, maar weier om die gevoel ‘n naam te gee. Tog kyk sy weer of hy nie maar aankom nie. Sê nou net ‘n wilde dier vang hom, of een van die Zulu’s of selfs die Engelse?
“Wat daarvan?” dink sy, maar daar is ‘n hol kol op haar maag.
Sy vang haarself dat sy voortdurend op die uitkyk is vir Jan Verwey.
*
Die Zulukoning, Cetshwayo kaMpande, oupagrootjie van Mangosutho Buthelezi, het enige verdere konflik met die Engelse probeer vermy, maar die Britte het aangehou met hulle kampanje.
Die een groep Engelse het tot stilstand gekom by die beleg van Eshowe, maar na die oorwinning by Rorke’s Drif en Kambula, het hulle nog twee veldslae verloor, naamlik by Intombe en Hlobane. Die Britte het byna hulle algehele posisie hierdeur verloor. Die Zulu’s kon die geleenheid aangegryp en ‘n teen-veldslag voer tot diep in Natal, maar Cetshwayo het daarteen besluit, gehoop om die Engelse mag bloot te stuit en dan te vra vir vredesonderhandelinge.
‘n Hollander, Cornelius Vijn, wat Cetshwayo gevange geneem het en later vrygelaat het, het as tolk vir die koning gewerk, maar hom later aan die Britte verraai, deur vir Chelmsford te vertel dat die Zulu’s besig is om te mobiliseer. Ook ‘n Skot, ene Dunn het hom uitverkoop.
By Ulundi het ‘n oormag, beter gewapende Engelse, die Zulu’s finaal verslaan en Cetshwayo gevange geneem. Hy is verban na Engeland, maar het in 1883 teruggekeer na Zululand.
*
Nadat diamante by Kimberley gevind is en goud aan die Witwatersrand, het die Britse immigrante die twee gebiede binnegestroom. Dit het meegebring dat Engeland die destydse Vrystaat en Transvaal in 1877 geannekseer het en die Volksraad, tesame met die presidentskap, is ontbind.
Die nuwe immigrante was vir die Boere ‘n steen des aanstoots, in ag genome dat baie van hulle bloot gekom het om ryk te word, maar niks bygedra het tot die welstand of bevordering van die twee state nie. Hulle het wel gedobbel, gedrink en prostitusie bevorder. Die “Immigrante-probleem” het inderdaad ernstige negatiewe gevolge ingehou en indien niks anders positief nie, het hulle die Boere saamgesnoer teen ‘n gemeenskaplike vyand.
*
Haar hart bons skielik en onverwags as as sy die stippeltjie na die Ooste sien en weet sommer dis Jan. Dis al laat middag en die twee touleiers het al uitgespan onder ’n groot boom. Sy verdwyn weer die wa in en borsel haar hare, sodat dit glad en weelderig is ten spyte van die natuurlike krul. Sy maak seker daar is nie enigiets anders aan haar gesig nie – ‘n per ongelukke vuil kol of so iets nie. In die klein handspieëltjie wat ook aan Jan se ma behoort het, sien sy haarself: jonk en baie mooi. Sy is baie dankbaar daarvoor, maar wens sy het ‘n skoon rok gehad om aan te trek.
“Waarom?” vra sy haarself, maar die anwoord is ewe duidelik. Sodat Jan ook so moet dink.
Wanneer sy weer buite is, loop sy nonchalant vuur se kant toe en gaan sit op die riempiesstoel wat Sa vir haar uitgehaal het. Sy hoor Goliat se pootvalle, maar staan nie op nie. Eerder kyk sy gemaak-gesteurd op as Jan afklim uit die saal.
“O, jy is terug? Ek het nie eens besef jy is weg nie, tot netnou.” Sy kry ‘n blos op haar wange, deels van blydskap en ook die feit dat sy so losweg met die waarheid omgaan, maar ook omdat haar hart in haar keel klop.
“Ja, ek is weg toe jy nog geslaap het. Ons moes vars vleis kry. Sie en Sa, slag die ding gou af, maar maak eers die lewer en niertjies vir my skoon.”
Jan lyk nie asof die dag se uitstappie hom enigins moeg gemaak het nie; inteendeel lyk hy vars en uitgerus. Die feit dat hy gebad het in die spruit hier anderkant, bly sy eie. Tog sien sy, as hy sy hoed afhaal, dat sy krullerige bruin hare, hier en daar met grys strepe in, skoon is en netjies gekam. Hoe kry hy dit reg?
Wanneer Sie die skoon niertjies en lewer aanbring, haal Jan ’n gietyster-pan van die haak af, waar dit onder die wa hang, sit dit op die vuur en met ‘n bietjie vet in, sny hy die niertjies elk in twee en die lewer in repe in die pan. In een van die potte is die oorblywende roosterkoek van gisteraand, en dit staan net naby genoeg aan die kole om lekker warm te word. Die reuk van die niertjies en lewer hang later watertand oor die kamp. Jan skep vir hom en die meisie genoeg in en gee van die lewer vir die twee broers.
Hy gaan sit langs haar op sy riempiesstoel, elkeen met ‘n bord kos en beker koffie. Onwillekeurig, asof dit nog die hele tyd sy gebruik is, vat hy haar hand, buig sy kop en bid.
“Segen Vader, segen dese ete, laat ons nimmer U vergete. Amen.”
Dan laat gaan hy haar hand, vat sy vurk en mes en begin eet, sonder om na haar te kyk, alhoewel hy intens bewus is van haar nabyheid en die sagtheid van haar slanke, wit hand.
“Jou naam is Jan. Jan Verwey. Waarom het jy my nog nooit myne gevra nie?”
Jan sluk die laaste van sy vleis weg, sleep ‘n stukkie brood deur die sous en spoel alles met ‘n bietjie koffie weg.
“Ek wou nie voorbarig wees nie.”
“Voorbarig? Jy het my klere uitgetrek en langs my vir ‘n hele nag gelê, Jan Verwey en dan praat jy van voorbarig?”
“Ek het geensins onkuis aan jou gevat of gedoen nie.”
“Ja, Jan, maar nog steeds…”
“Wat is jou naam, dame?”
Sy wag ‘n rukkie voordat sy antwoord.
“Francesca. Francesca du Bois. Maar mensenoem my sommer Franci.”
“Mag ek jou Franci noem?”
“Natuurlik mag jy.”
Jan is verwonderd dat die vrou so maklik beheer oor die gesprek en die hele situasie geneem het. Hy dink ‘n rukkie voordat hy antwoord.
“Daar was ‘n man met die naam Klein Coen du Bois saam met my pa by Bloedrivier.”
“Ja, dit was my oupa.”