GENERAAL KOOS DE LA REY (5)

Lees reeks by Generaal Koos de la Rey

Hennie de la Rey was teen 1914 die oudste oorlewende seun van generaal Koos de la Rey. Soos hyself vertel, het hy die rol van ’n privaatsekretaris vir sy pa vertolk. As sodanig was hy oor die laaste dekade van sy pa se lewe baie na aan hom. In hierdie reeks vertel hyself meer van sy pa.

Die laaste veertig dae van generaal Koos de la Rey (vervolg)

Dinsdag, 11 Augustus 1914

  • Juta stuur ’ n verslag deur na Pretoria waarin hy die planne vir die vergadering op 15 Augustus 1914 op Treurfontein uiteensit. Hy noem die gerugte van ’n rebellie wat De la Rey sou lei.

Volgens Kemp in sy boek Die Pad van die Veroweraar [pp 132 en 133] het hy aan Beyers, as sy hoof, ’n boodskap gestuur waarin hy hom versoek het om die vergadering op Treurfontein by te woon omdat gemoedere hoog geloop het. Hy vertel dat Beyers dieselfde dag nog aan De la Rey ’n telegram gestuur het en hom versoek het om die vergadering af te stel, maar dat De la Rey koppig gebly het.

Gelukkig het Kemp se boodskap aan Beyers en Beyers se boodskap aan De la Rey behoue gebly. Kemp het aan Beyers laat weet:

Ek moet verslag doen dat ek op Lichtenburg was en dat ek meegedeel is dat daar ’n openbare vergadering op Treurfontein op die 15de gehou gaan word. Die openbare gevoel loop hoog en ek vind dit raadsaam om u te versoek om die vergadering by te woon en die mense in te lig.

In sy boek beweer Kemp dat hy Beyers se hulp gevra het om De la Rey te oorreed om die vergadering af te las. Volgens die boodskap wat in Pretoria uitgekom het, het hy Beyers aangeraai om die vergadering by te woon! Beyers laat weet dieselfde dag aan De la Rey:

Zaken zijn ernstig en ik zou gaarne met u over het een en ander willen spreken. Het is niet mijn bedoeling dat u speciaal voor het doel naar Pre­toria moet komen maar mocht het zijn dat u toch hierheen komt wees dan s.v.p. zo goed mijn daarvan in kennis te stellen en mij op mijn kantoor te willen komen spreken.

NS: Die kommandanten van Transvaal zyn opgeroepen om a. s. Vrydag ochtend my hier te ontmoeten in verband met de Europese oorlog.

Woensdag, 12 Augustus 1914:

  • Smuts skakel De la Rey en versoek hom om Botha die volgende dag in Pretoria te spreek. Beyers stuur aan De la Rey die volgende telegram:

Ek hoor u spreek ’n vergadering Saterdag op Treurfontein toe. Is dit nie moontlik om die ver­gadering uit te stel sodat u my Vrydag hier kan ontmoet om dringende sake te bespreek nie.

Donderdag, 13 Augustus 1914

  • De la Rey reis per trein na Pretoria vir sy afspraak met Botha. Volgens Polly de la Rey het sy saam met haar pa gery - om hom op te pas. In Johannes Meintjes se De la Rey - Lion of the West vertel Polly dat sy die vorige aand by haar pa in die kamer geslaap het om seker te maak dat hy nie koers vat nie. Op die Pretoria-stasie wag Annie Botha, Botha se vrou, De la Rey in. Polly sê Beyers en Manie Maritz was ook op die stasie. Sy vertel dat sy met vernuftige keerwerk verhoed het dat laasgenoemde twee by haar pa kom.

Volgens Hennie de la Rey het Maritz wel aan De la Rey gesê dat Beyers hom wou spreek. Kemp vertel in Die Pad van die Veroweraar [p 134] dat Maritz aan De la Rey gesê het dat hy niks aan Botha moes sê voordat hy met Beyers gepraat het nie.

  • Manie Maritz skryf in My Lewe en Strewe

Toe ek op die stasie kom, was mev Louis Botha alreeds daar, om genl de la Rey af te haal, en toe die generaal afklim, kon ek nie kans kry om hom eenkant te kry nie, omdat mev Botha ons nie alleen wou laat nie; hy het later aan vriende gesê hy het gedink ek is ’n polisieman wat hom wou kom vang (ek was in uniform). Toe ons die stasiehek deurgaan, trek ek hom aan sy baadjie terug en fluister in sy oor die boodskap van genl Beyers. Hy gee my toe so ’n druk met die hand asof hy daarmee te kenne wou gee, dat hy verstaan. [p 63]

  • In Botha se kantoor het die Eerste Minister saam met Jan Smuts, die Minister van Verdediging, NJ de Wet, die Min­ister van Justisie, en Schalk Burger op De la Rey gewag. Polly de la Rey vertel aan Johannes Meintjes dat sy haar pa aan die arm by Botha in die kantoor ingesleep het.

“Hier is my pa, oom Louis,” het sy met ’n bewerige stemmetjie geprewel en toe in Botha se arms flou geword.

  • Dit was van die begin af duidelik, daaroor stem almal saam, dat die twee ou boesemvriende, Botha en De la Rey, elk sy eie agenda vir die byeenkoms gehad het. Botha wou De la Rey oorreed om nie voort te gaan met die vergadering op 15 Augustus op Treurfontein nie en De la Rey wou Botha oorreed om nie voort te gaan met die inval in Duits-Suidwes-Afrika nie. Dit is byna voorspelbaar dat die twee mekaar nie kon vind nie.

Botha het dit as ’n saak van eer beskou om Engeland in ’n tyd van nood by te staan. Dit was ’n siening waarvoor De la Rey geen begrip getoon het nie.

De la Rey het beweer dat hy bloot die gemoedere op Treurfontein wou gaan kalmeer. Hy het aan Botha vertel dat die visioene wat die Siener gesien het, Wes-Transvaal in rep en roer gehad het. Dit was ’n siening waarvoor die pragmatiese Botha geen begrip gehad het nie.

“ Die mense sê Oom gaan Saterdag rebellie stook,” het Smuts in ’n stadium opgemerk.

“ Glo jy my of die mense?” het De la Rey teruggekap.

“ Maar, oom Koos, kyk na die verslae wat hier voor ons lê,” het Smuts weer laat hoor.

“ Kom ek sê jou, Jannie, ek nooi jou om self te kom luister na wat ek te sê het.”

Hierdie voorstel van De la Rey het blykbaar die span­ning effens ontlont. Daar is toe ooreengekom dat Sammy Marks saam met De la Rey na Treurfontein sou gaan.

Ongelukkig het NJ de Wet toe tot die gesprek toegetree. Hy het De la Rey gewaarsku dat as hy nie saamspeel nie, hy “ die wet op hom sou toepas.”

Die opmerking, komende van iemand wat gedurende die Anglo-Boereoorlog Botha se privaatsektretaris was, het De la Rey hewig ontstel.

“Doen jy wat jou gewete vir jou sê wat reg is, Nicolaas, ek sal my gewete volg,” het die gewoonlik kalm De la Rey De Wet toegesnou.

Hierdie voorval het De la Rey dieper seergemaak as wat hy wou voorgee. Hy het telkens weer daarna verwys.

Botha, wat De la Rey so goed geken het, het De la Rey saam na sy huis, Rushof, in Celliersstraat, Sunnyside, Pre­toria, genooi. Daar het die twee tot in die vroeë ure van die oggend geredekawel.

Botha het later gesê dat dit soms wou voorkom asof De la Rey sy sinne kwyt was.

Hierdie opmerking van Botha, wat hy later ook voor die regterlike kommissie van ondersoek herhaal het, moet binne verband gesien word.

De la Rey het telkens na die visoene van Siener verwys. Hy het Siener as ’n profeet van God beskou. Botha het Siener as ’n verstrooide twakprater beskou.

As De la Rey dan vir Botha vra om saam met hom tot God te bid sodat hulle Siener se boodskap reg kon vertolk, is dit te verstane dat Botha sy vriend as effens van lotjie getik beskou het.

Oor De la Rey se siening oor die visioene van Nicolaas van Rensburg is daar vandag nog in sy familie nie eensgesindheid nie. Die een groep vertel dat hy hom nie aan Siener gesteur het nie, maar wel nie die invloed van Van Rensburg in Wes-Transvaal onderskat het nie. Ander, soos Polly de la Rey, glo dat Siener die generaal sterk onder sy betowering gehad het


Vrydag, 14 Augustus 1914

  • De la Rey gaan spreek Beyers. Beyers het die dag ’n vergadering van al die kommandante in Pretoria en daar kan vermoed word dat die tyd beperk was. Kemp skryf in Die Pad van die Veroweraar [p 134] dat Beyers weer ’ n poging aangewend het om De la Rey te oortuig om nie met die vergadering op Treurfontein voort te gaan nie.

De la Rey self vertel dat hy by die byeenkoms Beyers tot kalmte gemaan het en hom versoek het om nie as kommandant-generaal van die burgermag te bedank voordat die Parlement besluit het om teen Duits-Suidwes-Afrika oorlog te maak nie.

Saterdag, 15 Augustus 1914

  • Ongeveer 800 mense het De la Rey en Sammy Marks ingewag toe hulle op Treurfontein aankom. Interessant is dit dat HS Webb, in Oorzaken van de Rebellie beweer dat die feit dat Beyers en Kemp nie die vergadering gesteun het nie, die rede vir die klein (sic) opkoms was.

By die vergadering, waar daar blykbaar slegs een persoon met ’n geweer opgedaag het, het De la Rey die aanwesiges tot kalmte gemaan. Hy het gevra dat hulle teenoor leiers soos Botha getrou moes bly. Blykbaar was daar aan die einde van die vergadering ’n geskokte stilte. Die mense wat gekom het met die verwagting dat De la Rey vuur sou spoeg, was bitter teleurgesteld. Daar is ander wat hulle troos dat die ‘15’ in die Siener se visioen op 15 September en selfs op 1915 kon dui.

Sondag, 16 Augustus 1914

  • Kapt JA Visser vra aan Kemp hoekom hy nie De la Rey se vergadering die vorige dag op Treurfontein bygewoon het nie. Kemp verduidelik dat daar geen sin in was om die vergadering by te woon nie, aangesien die generaal nie bereid was om hom by die oorspronklike doel van die vergadering te hou nie. Visser het hierdie getuienis voor die regterlike kommissie gelewer.

Visser sê dat Kemp aan hom gesê het dat daar net een hoop vir die Afrikaner is. Dit was dat Beyers, De la Rey en De Wet saam met die burgermag na die Duits-Suidwes-Afrika grens moes opruk. Daar moes hulle dan met die Duitse magte saamsmelt en die Unie van Suid-Afrika binneval.

Woensdag, 26 Augustus 1914

  • Die middag eet Beyers en Kemp in die Pretoriaklub saam met Botha. Botha konfronteer Kemp met die storie dat hy wil bedank as die regering sou voortgaan met sy planne om Duits-Suidwes-Afrika binne te val.
  • Volgens Botha se weergawe het Kemp erken dat hy dit genoem het, maar dat hy ’n grap gemaak het en dit nie ernstig bedoel het nie. Kemp vertel in Die Pad van die Veroweraar dat hy aan Botha gesê het dat hy geen ander keuse sou hê as om te bedank indien die regering met sy planne sou voortgaan nie [pp 144-145].
  • Dieselfde aand hou die Nasionale Party sy stigtingkongres in die Erasmussaal in Pretoria. Adv Tielman Roos het De la Rey persoonlik genooi om die vergadering by te woon. [Dr JCH Grobler skryf in Politieke leier of Meeloper? Die lewe van Piet Grobler (1873 -1942), dat dit Grobler was wat De la Rey genooi het.] Met die enorme aanhang wat De la Rey in Wes-Transvaal gehad het, sou dit vir die Nasionale Party ’n groot bate gewees het indien De la Rey by die kongres sou aankondig dat hy sy gewig by die Nasionale Party ingooi. De Wet het dit juis reeds in die Oranje-Vrystaat gedoen.

Soos op Treurfontein stel De la Rey weer sy gehoor teleur. Hy doen ’n beroep op alle Afrikaners om Botha te steun. Vir hom is eenheid onder Afrikaners die kosbaarste bate wat tot elke prys beskerm moes word.

Dit was dieselfde De la Rey wat tien jaar tevore, ook in Pretoria, by die stigtingsvergadering van die Het Volkparty ’n beroep gedoen het dat hensoppers en joiners nou saam met bittereinders moes hande neem en aan ’n toekoms vir die Afrikaner moes bou.

Toe De la Rey klaar gepraat het, het daar ’n geskokte stilte oor die aanwesiges gedaal. Hy het sy hoed geneem en na die deur geloop. Die volgende oomblik het die toejuiging begin. Die kongres het ’n mosie van volle vertroue in De la Rey aanvaar, maar na hy die saal verlaat het, is besluit om met die stigting van die Nasionale Party voort te gaan!

Woensdag, 2 September 1914

  • Op Potchefstroom begin ’n kamp vir lede van die burgermag. Volgens die getuies van kaptein Gillett in die hoogverraadverhoor van Kemp is veral kol PR Kock, kapt HA de la Rey, kapt Wilco Wilkens en luitenant PG Kock tydens die kamp gedurig in die geselskap van Kemp opgemerk.

Donderdag, 3 September 1914

  • De Wet daag by De la Rey op laasgenoemde se plaas op. Die twee ou krygsmakkers beraadslaag die hele dag. Telkens is hulle op hulle knieë om tot God om leiding te bid. Dit was in een so ’n gebed dat De la Rey God gevra het om sy lewe te neem as dit in belang van sy volk sou wees.

Mev De la Rey het toe gevra wat van haar moes word as die twee generaals so bid.

“God sal voorsien,” het De Wet geantwoord.

Vrydag, 4 September 1914

  • De Wet vertrek terug na sy huis. Sy afskeidswoorde aan generaal De la Rey is:

“As jy dit doen, oom Koos, bly daar niks van Louis en Jannie oor nie.”

Wat De Wet hiermee bedoel het, sal niemand ooit weet nie. Daar was die wat geglo het dat hy aan De la Rey gesê het dat indien De la Rey die rebellie sou lei, daar niks van Louis Botha en Jan Smuts sou oorbly nie. Daar is ander wat meen dat dit De Wet se doel met sy besoek aan De la Rey was om hom oor te haal om by die Nasionale Party aan te sluit en dan sy woorde bedoel was dat as De la Rey by die party aansluit, daar polities niks van Botha en Smuts sou oorbly nie. Daar is selfs die wat beweer dat De la Rey belowe het om by die Nasionale Party aan te sluit as die regering volhou met sy besluit om Duits-Suidwes-Afrika binne te val. Die werklike betekenis sal ons nooit weet nie.

Saterdag, 5 September 1914

  • De la Rey vertrek van Lichtenburg op die eerste skof van sy reis na die Kaap vir die buitengewone sitting van die Parlement. Op Potchefstroom onderbreek hy sy reis en lê hy ’n besoek by die militêre kamp af waar sy seun en Kemp is.

Hier spreek hy, volgens kaptein Watkins, die troepe toe en vra hy hulle om getrou aan hulle offisiere te bly.

Watkins het voor die regterlike kommissie getuig dat hy en Kemp, De la Rey ná die toespraak na Kemp se privaatwoning geneem het. Hier het De la Rey aan Watkins vertel van die opstand wat hy beplan en dat Botha as die nuwe president van die Afrikanerrepubliek ingehuldig sou word.

Toe Watkins aan De la Rey sê dat hy dit moeilik vind om alles te glo, sou De la Rey geantwoord het dat hy dit moet neerskryf aangesien Siener dit voorspel het. (Voor die regterlike kommissie het generaal PJ Liebenberg getuig dat dit die plan was dat Beyers die nuwe president sou word en dat De la Rey die hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag sou wees.) Volgens Watkins het hy en Kemp, De la Rey dieselfde aand nog na die stasie geneem.

  • Kemp sê in Die Pad van die Veroweraar [pp 149 - 150] dat De la Rey die aand by hom aan huis oornag het en dat hy en sy vrou die generaal die volgende oggend eers stasie toe geneem het.

(Hennie de la Rey sê dat sy pa geen formele toespraak by die kamp gehou het nie en dat hy en Kemp sy pa dieselfde aand nog van die kamp na die stasie geneem het.)

Kolonel Hendrik du Toit het getuig dat De la Rey die aand in Kemp se tent saam met die senior offisiere in die kamp geeet het. Die generaal is daarna stasie toe.

Kolonel Nicolaas Pretorius stem saam dat hulle die aand in Kemp se tent geëet het. Hy het voor die geregtelike kommissie getuig dat Kemp aan tafel De la Rey uitermate gevlei het.

“Net ’n rebellie sal u u regmatige plek in die regering laat inneem,” sou Kemp gesê het.

“Nee, nie ’n rebellie nie. Net God weet wat vir my beskore is,” sou die generaal geantwoord het.

Pretorius het getuig dat De la Rey aan tafel vir die offisiere gevra het om aan hulle meerderes getrou te bly. Na Kemp se openlike rebelliepraatjies, het hy aanvaar dat De la Rey bedoel het ‘getrou bly’ in geval van ’n rebellie.

Ook Webb skryf in Oorzaken van de Rebellie dat De la Rey geen formele toespraak in die kamp gehou het nie, maar bloot met die offisiere gepraat het. Beyers het intussen uit Pretoria ’n telegram aan De la Rey gestuur waarin hy versoek dat die generaal hom op 12 September moes ontmoet.

Sondag, 6 September 1914

  • Generaal Tobias Smuts loop De la Rey op die Johannesburgstasie raak. De la Rey probeer Smuts oorreed om in die Kaap teen die regering se inval in Duits-Suidwes-Afrika te stem.
  • Smuts het voor die regterlike kommissie getuig dat De la Rey aan hom gesê het dat as die regering sou volhard met sy planne om Duits-Suidwes-Afrika binne te val, moes die Afrikaners in die Weermag bly. Volgens Smuts sou De la Rey gereken het dat die Afrikaner op so ’n wyse behoorlik vir verdere gebeurlikhede gewapen sou wees.

Maandag, 7 September 1914

  • De la Rey eet die middag saam met Jan Smuts en sy vrou op Irene, suid van Pretoria. Die aand vertrek hy na die Kaap.

Woensdag, 9 September 1914

  • Kemp sê aan Nicolaas Pretorius, volgens laasgenoemde se getuienis voor die regterlike kommissie, dat sodra die Engelse troepe uit die land is en die Suid-Afrikaanse Weermag in Duits-Suidwes-Afrika betrokke raak, die Afrikaner sy land moes terugneem.

Kaptein IJ Geyser het ook voor die regterlike kommissie getuig dat Kemp by die geleentheid getuig het dat wapens nie ’n probleem sou wees nie, aangesien die Duitsers in Duits-Suidwes-Afrika dit sou verskaf.

Saterdag, 12 September 1914

  • Die Volksraad het reeds die regering se inval in Duits-Suidwes-Afrika goedgekeur en die Senaat moes dit bekragtig. De la Rey praat teen die inval, maar stel dit duidelik dat hy hom by die regering sal skaar as dié ten gunste van ’n inval is (kyk Aanhangsel A).
  • Vir die tweede maal in vyftien jaar waarsku De la Rey in ’n Parlement teen die verklaring van ’n oorlog teen ’n Europese moondheid. Vir die tweede keer val sy beroep op dowe ore en vir die tweede keer belowe De la Rey om hom by die wil van die meerderheid te berus.

Daar is egter ’n verskil. In 1899 stem hy en sy vriend Louis Botha saam teen oorlog. Die keer is Botha vir oorlog. De la Rey verlaat die Senaat voordat daar tot stemming oorgegaan word.

Botha loop agter sy ou vriend aan. Dan volg daar een van die mees absurde episodes in die hele De la Rey-saga. Nicklaas Serfontein en Jan Brand Wessels beweer dat hulle agter Botha en De la Rey aan uit die Senaat is.

Hulle vertel dat hulle agter ’n muur weggekruip het en toe die gesprek tussen Botha en De la Rey afgeluister het. Daarvolgens sou De la Rey aan Botha gese het dat die tyd aangebreek het om die belofte wat hy, Botha en De Wet by Vereeniging aan mekaar gemaak het, na te kom. Die tyd was nou daar om die Afrikaner se vryheid terug te gee.

Daar is in Johannes Meintjes se boek De la Rey - Lion of the West nog ’n verwysing na ’n gesprek wat De la Rey met generaal JBM Hertzog in die toilet sou gehad het.

  • Dieselfde aand vertrek De la Rey per trein uit Kaapstad na die noorde. Op die stasie is Botha om sy ou vriend af te sien. Hulle soengroet mekaar.

Saam met De la Rey op die trein na die Noorde is die hoofregter, Sir James Rose Innes. Die regter het hom by De la Rey in sy kompartement aangesluit. Volgens sy outobiografie, James Rose Innes, het die gesprek so verloop:

Ek het die generaal opgewonde en ontsteld aangetref. Hy het dadelik oor die Suidwes-onderwerp begin praat. Die redes vir sy afkeur teen die inval is almal militêr. Hy het melding gemaak van die Duitsers se militêre mag en gewaarsku dat Suid-Afrika versigtig moet wees. Hy het dit op generaal Smuts se hart gedruk voordat hy uit die Kaap weg is. ‘Jannie, die Duitsers het berge ammunisie, ’ het hy gesê waarop Smuts geantwoord het ‘Oom Koos, ek sal versigtig wees. ’ De la Rey het sy kop geskud en gesê hy ken Jannie Smuts, hy is impulsief.

Nie ’n woord van beswaar teen die oorlog uit ’n beginseloogpunt nie. Beslis nie die gesprek van ’n man wat op die punt staan om met ’n rewolusie teen die regering te begin nie.

Sondag, 13 September 1914

  • Kemp ontvang die nuus dat die Parlement besluit het om Duits-Suidwes-Afrika in te val. Hy dien sy bedanking as offisier by die burgermag in.

Maandag, 14 September 1914

  • De la Rey klim in Germiston van die trein wat onderweg na Pretoria is en haal ’n trein na Johannesburg. In Johan­nesburg gaan hy in die Victoria Hotel (kamer 15) tuis en kontak Beyers.

Dinsdag, 15 September 1914

  • Beyers bedank as kommandant-generaal van die Suid- Afrikaanse Burgermag.

Jan Kemp trek sy bedanking terug, maar die Minister van Verdediging, Smuts, aanvaar nie die terugtrekking nie.

Beyers stuur sy vrou en motorbestuurder om De la Rey in Johannesburg te haal en na sy broer se huis in Pretoria te neem.

In die huis van Beyers se broer, Piet, Beyersheim in Walkerstraat in Sunnyside, Pretoria, net om die draai van Louis Botha se huis Rushof in Celliersstraat, het Beyers en De la Rey lank alleen gesels.

Hierna klim Beyers en De la Rey saam met Beyers se motorbestuurder, ene Wagner, in Beyers se Daimler. Presies waarheen hulle sou gaan, is nie duidelik nie.

In Johannesburg neem hulle nie die gewone roete deur Sauerstraat na Wes-Transvaal nie. Drie keer word hulle by padblokkades deur lede van die S A Polisie voorgekeer. Elke keer ry hulle deur sonder om te stil te hou.

Later het die motorbestuurder gesê hy hou net stil as Beyers sê hy moet stilhou. Beyers het gesê hy het De la Rey gevra of hulle moet stilhou en De la Rey het gesê nee.

Die padblokkades is opgestel in ’n poging om die berugte Fosterbende vas te trek. Vroeër die aand het die Polisie reeds per ongeluk by ’n padblokkade aan die Oos-Rand, dr E Grace, ’n broerskind van die beroemde krieketspeler WG Grace, doodgeskiet. Daarna is ’n bevel uitgereik dat daar nie by padblokkades geskiet moes word nie, tensy dit heeltemal seker was dat die Fosterbende in die voertuig was.

Die bevel het nooit die blokkade in Langlaagte bereik nie. Toe Beyers se Daimler die vierde padblokkade die aand nader, het hulle weer sonder om stil te hou, deurgery.

  • Hier het een van die polisiemanne, Charles Drury, besluit om op die motor te skiet. Hy het later verklaar dat hy na die bande gemik het. Die koeël het van die pad opgeslaan en deur die agterkant van die Daimler De la Rey noodlottig gewond. Dit was om sestien minute oor nege die aand.
  • Kemp beweer in Die Pad van die Veroweraar dat hy ongeveer 02:00 die volgende oggend eers deur die plaaslike Polisie wakker gemaak en van die voorval in kennis gestel is. Harm Oost stem in Wie is die Skuldiges? egter saam met Hennie de la Rey dat die boodskap ongeveer ’n uur na sy pa se dood in die kamp aan hom oorgedra is. Pretorius het ook voor die regterlike kommissie getuig dat Kemp nog dieselfde aand aan hom kom sê het die generaal is doodgeskiet.

Beyers het in ’n verklaring aan assistent-kommisaris Douglas van die S A Polisie verduidelik dat hulle na De la Rey se plaas by Lichtenburg onderweg was. Later by die geregterlike ondersoek na die voorval het Beyers gesê dat hulle onderweg na Potchefstroom was.

Woensdag, 16 September 1914

  • Kemp sê aan Geyser en Pretorius dat die dood van De la Rey ’n vingerwysing van God is om nie met die rebellie voort te gaan nie.

Sondag, 20 September 1914

  • By die graf van De la Rey sê Beyers dat ten spyte van wat die mense mag dink, hy en De la Rey nooit ’n rewolusie beplan het nie. In Die Pad van die Veroweraar [pp 192 — 193] sê Kemp hy glo nie Beyers het die waarheid gepraat nie.