BROKKIES GESKIEDENIS (20)

Lees reeks by Brokkies Geskiedenis

DIE SIMBOLIESE OSSEWATREK VAN 1938

Die politieke verdeeldheid onder Afrikaners het sy dieptepunt in Mei 1938 bereik in die weke voor die verkiesing van 18 Mei. Daar was lelike bakleiery.

Wat 'n ommekeer gebring het, was 'n nuwe volksgevoel weens die herdenking van die Groot Trek. As deel van die Voortrekkereeufees het die ATKV besluit op 'n simboliese ossewatrek na Kaapstad en ander plekke na Pretoria. Die meeste ATKV-bestuurslede was sonder geesdrif en die ondervoorsitter, oom Tienie van Schoor, was die enigste wat bereid was om die trek te lei. Van Schoor, 'n elektro-tegniese ingenieur, wat 'n revolusionêre treinbeheerstelsel ontwerp het, moes vir die trek onbetaalde verlof neem. Onverwags is aangekondig dat HJ Klopper hoofleier is maar Van Schoor het darem leier van die hooftrek gebly. Op 8 Augustus 1938 het die eerste kakebeenwa onder groot opgewondenheid uit Kaapstad vertrek.

Tussen 20 000 en 30 000 mense was teenwoordig op Goodwood, eerste stilhouplek van die lang tog. In elke dorp en stad is die tonele met al hoe groter geesdrif herhaal. Strate, tuine en parke is genoem na persone, plekke en gebeurtenisse uit die Groot Trek. Op plekke is die spore van die waens in beton vasgelê. Duisende was in tradisionele Voortrekkerdrag op die feeste. Mense het hul sakdoeke in die wa-ghries gedruk as aandenking. Op ander plekke het mense die waens gesoen en in trane uitgebars, blindes het die waens van voor tot agter op elke plekkie bevoel en siekes en kreupeles is op hul bedde uitgedra om die waens te kan sien. In Bloemfontein het dr. Kestell, "Vader Kestell", 'n beroep op almal gedoen om as 'n "reddingsdaad" 'n fonds te stig om minderbevoorregte Afrikaners op te hef. Ses wakiste is oop neergesit en die duisende mense het verbygestap en geld daarin gegooi.

Die hoogtepunt was die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument op 16 Desember 1938. Die argitek was Gerard Moerdijk, wat baie geleer het van die bouers van bouwerke van Afrika soos die Zimbabwe-ruïnes. Volgens hom het hy in die Voortrekkermonument nie net die groot dade van die Voortrekkers probeer versinnebeeld nie, maar ook die grootsheid van Afrika probeer vaslê soos hy dit in die Zimbabwe-ruïnes waargeneem het.

'n Koerantredakteur, Schalk Pienaar, het jare later gesê daar was destyds al mense wat die spot gedryf het met die geesdriftiges. Hy sê dat die waentjies op 'n vreedsame manier reggekry het wat andersins met 'n volk op 'n negatiewe manier gebeur wanneer daar 'n oorlog uitbreek of reeds woed: "Wanneer die volk homself in sy wese bedreig voel. Die waentjies het, soos vader Kestel, die groot kerkman van daardie dae, dit ingekleur het, die volk van sy bestaan magtig bewus gemaak."

NP van Wyk Louw stel dit in 'n nuusoorsig in Die Jongspan in eenvoudige taal: "’n Mens kan sê dat die hele volk soos een man feesgevier het. En soos nooit tevore in die geskiedenis nie, het die hele volk besef dat hy 'n volk is en nie net 'n los klomp mense nie. Daarom is dit in ons geskiedenis so 'n belangrike gebeurtenis. Julle moet onthou dat 'n klomp mense nie sommer vanself voel dat hulle bymekaar hoort nie; hulle moet dit leer, en dikwels moet hulle saam baie swaargekry het voordat hulle die les leer. Maar so 'n gebeurtenis soos hierdie, waar die mense bymekaarkom, trots is op die helde van hul verlede en besluit om as volk saam voort te gaan in die toekoms, so -n gebeurtenis is van onskatbare betekenis."