BROKKIES GESKIEDENIS (18)

Lees reeks by Brokkies Geskiedenis

Tuislande word polities onafhanklik

Die ideaal van dr HF Verwoerd dat die swart tuislande hulle onafhanklikheid sou verkry, het eindelik na sy dood gerealiseer. Transkei het in Oktober 1976 onafhanklik geword. In Desember 1977 het Bophuthatswana gevolg, in September 1979 Venda, in 1981 Ciskei.

Betekenisvol was dat die swart mense se eie tale die eerste keer amptelike erkenning gekry het. Die vier republieke wat tot stand gekom het, later die TBVC-state genoem, het aanvanklik Afrikaans, Engels en hul eie taal as amptelike tale gehad. Hulle het dit later soos volg verander: Transkei: Xhosa, met Suid-Sotho, Engels en Afrikaans as toelaatbare tale (dit wil sê tale wat vir amptelike doeleindes gebruik mag word); Bophuthatswana: Tswana, Engels en Afrikaans; Venda: Venda, met Engels en Afrikaans as toelaatbare tale; Ciskei: Xhosa en Engels.

In die sogenaamde "nasionale state" was die amptelike tale die volgende: Gazankulu: Afrikaans, Engels en Tsonga; KaNgwane: Afrikaans, Engels en Swati; KwaNdebele: Afrikaans, Engels en Suid-Ndebele; KwaZulu: Afrikaans, Engels en Zoeloe; Lebowa: Afrikaans, Engels en Noord-Sotho; Qwaqwa: Afrikaans, Engels en Suid-Sotho. Die eie taal is veral gebruik vir mondelinge kommunikasie met die publiek, vir informele kommunikasie tussen die amptenare en vir die vertaling van wette. Dit was ook van 'n besondere simboliese waarde. Engels is vir skriftelike kommunikasie gebruik en vir mondelinge informele (en soms formele) kommunikasie tussen die amptenare. Afrikaans en ander tale se rol was veel kleiner. Wette is dikwels in Afrikaans vertaal en dit is gebruik vir kommunikasie met Afrikaanstaliges.

In die meeste tuislande was die betrokke eie taal die skoolvoertaal tot graad 4, en daarna Engels. By baie skole is die Afrikataal saam met Engels tot in graad 7 as voertaal gebruik en net Engels vanaf die begin van die hoërskool. Transkei het hiermee begin en in 1963 besluit dat die moedertaal net vir die eerste vier skooljare gebruik sou word, en daarna Engels. Omstreeks 1974 het al die tuislande behalwe Qwaqwa, wat ten gunste van 'n vyftig-vyftig-benadering was, die gebruik van een taalmedium aanvaar, oor die algemeen vanaf graad 5 - en behalwe in Venda was dit die bepaling dat dit Engels moes wees. Wat taalvakke betref, is die Afrikataal 'n verpligte vak van die eerste tot die twaalfde skooljaar, Engels van die eerste of tweede tot die twaalfde skooljaar en Afrikaans van die derde tot die negende en dikwels die twaalfde skooljaar.

Die onafhanklike state het ruim geldelike hulp van Suid-Afrika gekry en kon daarsonder nie bestaan nie. Die leiers van die ander tuislande het geweier om onafhanklikheid te vra. Hulle wou deel van Suid-Afrika bly en Suid-Afrikaanse burgerskap behou. Suid-Afrika was die enigste wat die TBVC-lande se onafhanklikheid erken het.