DR VERWOERD SE KINDERJARE (3)

Peet de Wet

Hendrik het gereeld vakansies huis toe gekom toe hy student was en dan het ek soos 'n stertjie agter hom aangeloop. Hy was vir my te wonderlik. Hendrik was al op universiteit en ek so elf jaar oud, toe kry ek waterpokkies. Ek was seker so tien dae in die bed en by tye koorsig. Hendrik was die enigste een wat my kon kalmeer. Hy het vir ure by my gesit en storietjies vertel wat hy sommer so opgemaak het terwyl hy praat. Toe ek weer gesond was, het ons soms saam gaan perdry of tennis speel. Ek was soos sy skaduwee. Saans het ons meestal gesit en lees. Hendrik het vreeslik baie by die huis gelees.

Een vakansie kom Hendrik by die huis aan en Ma vra vir hom hoekom hy so baie briewe skryf. Dit lyk of hy in nooiens belangstel. Ag, sê hy, daar is drie meisies vir wie hy skryf maar dit is nie nooiens nie. 'n Paar jaar later, dit moes in 1923 gewees het, bring hy toe vir Betsie saam Brandfort toe om ons te ontmoet. Toe is ek darem beduiweld, hoor. So ongenaakbaar soos kan kom. 'n Regte onmoontlike tiener. Hendrik was, wat my betref, skoon verspot en ek was baie vies dat hy so probeer afwys. Ma het toe een aand met Hendrik gepraat en gesê hy moet nou nie sy sussie heeltemal opsy skuif nie, sy is maar alleen en sy sien so uit na die vakansies wanneer hy kom. Daarna het hy en Betsie my 'n paar maal saamgeneem wanneer hulle êrens heen gaan.

Hendrik was 'n derdejaarstudent op Stellenbosch, toe gaan Len ook na Stellenbosch om Landbou te bestudeer. Nadat Hendrik en Betsie getroud is en hy terug was op Stellenbosch as die jongste professor aan die universiteit, het Len ook 'n doktorsgraad aangepak. Hy het geweet hoe om die gegewens in te samel maar het vreeslik gesukkel om dit agtermekaar te sit. Hendrik het hom weke en weke lank gehelp en feitlik die proefskrif vir hom geskryf.

Nog iets wat ek onthou, is hoe Hendrik leer motor bestuur het net voor hy Duitsland toe is vir sy nagraadse studie, in Desember 1925. Pa het sy eerste kar gekoop, 'n Red Bird, dit was 'n soort "overland"-voertuig. Daardie vakansie het hy Pa aangepor om so gou as moontlik sy bestuurderslisensie te kry sodat Hendrik langsaan kan sit en ook leer om te bestuur. [Min mense het daardie tyd motors gehad en die motors was primitief teenoor vandag.]

In 1927 het ek op Brandfort matriek gemaak en die volgende jaar is ek ook Stellenbosch toe om verder te studeer met Sielkunde en Sosiologie as hoofvakke, dieselfde jaar wat Hendrik op 26 jaar as professor aangestel is. Eendag kom ons uit die klas, toe nooi hy my en sê: "Ry saam dan gaan drink ons tee by die huis." Hy het pas sy eerste motor, 'n Erskine, gekoop en hulle het in 'n huurhuis in Cluverweg op die "weduweesvlakte" (vandag deel van Universiteitsoord) gewoon. Ek staan toe so en kyk hoe hy oudergewoonte fietsknippies om sy broekspype sit voor hy in die kar klim. Ons het lekker gelag oor die "verstrooide professor".

In my derde jaar op universiteit het ek rumatiekkoors gekry. Hendrik en Betsie het my by hulle in die huis geneem en nege maande lank versorg terwyl ek bedlêend was. Eers is al my tande getrek, toe is my mangels uitgehaal en daarna het ek reggekom. In Junie 1933 het ek uiteindelik my B.A.-graad gekry. Daarna het ek vir die M.A.-graad in Sosiologie ingeskryf terwyl ek as maatskaplike werkster by die Onderstandsraad in Kaapstad werksaam was. Dit het meegebring dat ek en my kollega, Erika Perold, in die Kaap gewoon en net een maal elke twee weke op 'n Donderdag- namiddag Stellenbosch toe gekom het vir 'n klas van twee uur by Hendrik in sy studeerkamer. Hulle het toe reeds hulle eie huis in Van der Stelstraat, Mostertsdrift, gehad.

'n Sekere Morgenthal, wat later predikant in Suidwes geword het, was 'n medestudent en eendag, toe ons so uitstap, voor die studeerkamervenster verby, sê hy: "Jong, ek is darem bly ek is nie in jou skoene nie want wragtig, jou broer laat jou darem swaar kry." Twee weke later het ons dit al vergeet, maar Hendrik begin toe deur te sê: "Ek is jammer, mnr Morgenthal, om te hoor jy is so besorg oor my suster. Ek sal probeer om minder streng met haar te wees." Hy het seker maar sleg daaroor gevoel.

Nouja, dit was dan my herinneringe aan my broer Hendrik as kind en student en professor op Stellenbosch. Toe hy in 1937 redakteur van Die Transvaler geword het, was ek en my man ook reeds in Johannesburg en vir 'n tyd lank het ons 'n woonstel in die Voortrekkerpers se gebou gehad. Ons en Hendrik het mekaar dikwels gesien en ook oor en weer gekuier toe ons in Melville gewoon het. Hendrik was sy lewe lank vir my 'n steunpilaar en 'n geliefde broer.