DUITSE WESIES (7)

STAPPE GEVOLG OM DIE SKEMA IN WERKING TE STEL

(Lees reeks by Duitse weeskinders 1948 )

Werner (Shellack) van der Merwe

" Ook die Duitse reaksie moes eers getoets word voordat verder met die skema gegaan kon word."

Nadat die vergadering dus in beginsel die wenslikheid van 'n kinder-immigrasieskema goedgekeur het, is daar beraadslaag oor die stappe wat gevolg moes word om so 'n skema in werking te stel. Almal was dit eens dat daar eerstens met die insameling van fondse begin word. Daar is gevoel dat vir sodanige skema daar aan die begin net om bydraes van 100 pond of meer gevra word. Kleiner bydraes soos byvoorbeeld van skoolkinders kon saamgevoeg word om die bedrag van 100 pond vol te maak. Voordat daar egter met die insameling van 100 pond-bydraes begin word, moes beloftes van nog groter skenkings (die bedrag van  5 000 pond is genoem) verkry word. Die ideaal was om 'n gewaarborgde bedrag van 25 000 pond in te samel voordat die publiek om donasies gevra word.

Dit is nie heeltemal duidelik waarom die vergadering juis op hierdie insamelingsmetode besluit het nie, maar die indruk word geskep dat daar gevoel is dat 'n gewaarborgde bedrag die saak sou versterk wanneer daar om algemene bydrae gevra word. Boonop kon groot donasies sekerlik as aansporing dien vir nog groter skenkings.

Om die fonsinsamelingsveldtog van stapel te laat loop, is daar besluit om in Pretoria 'n klein voorlopige komitee in die lewe te roep. Mnr Schalk J Botha, sekretaris van die Pieter Neethling-fonds, het onderneem om die sekretariële werk verbonde aan die fondsinsameling te behartig. Die voorlopige komitee sou ook uitnodigings rig aan ongeveer 200 welgestelde Afrikaners in Pretoria en omgewing om met die propagering van die skema behulpsaam te wees en ook om moontlike beloftes vir skenkings te ontvang. Die lede wat die vergadering bygewoon het, het op hul beurt onderneem om 'n naamlys van welgestelde en pro-Duitse Afrikaners dwarsdeur die Unie op te stel sodat daar aan hierdie persone briewe gerig kon word, waarin hulle versoek word om die skema onder hulle beskerming te neem. Hulle sou ook vriendelik versoek word om elk 1 000 pond tot die onderneming by te dra.

Sodra dit geblyk het dat die voorlopige loodskomitee in sy doelstelling geslaag het en die bedrag van 25 000 pond ingesamel is, sou daar tot die volgende stap oorgegaan word, te wete die stigting van 'n breë komitee waarop 'n aantal vooraanstaande Afrikaners sou dien. Terselfdertyd sou daar dan tussen vyf en ses trustees benoem word wat moes toesien dat die ingesamelde fondse voordelig belê word. Die volgende stap sou wees om die samewerking van die Afrikaanse koerante te verkry.
Die pers sou versoek word om sy steun aan die skema te gee, dit verder te propageer en om die name van donateurs gereeld te publiseer. Nadat die fondsinsamelingsveldtog suksesvol geloods was, sou daar 'n oproep op Afrikaners gedoen word om aansoek te doen om Duitse kinders aan te neem.

Ten slotte het die vergadering daartoe oorgegaan om die beoogde voorlopige komitee te verkies. Dr JC Neethling is as sameroeper aangewys en die ander komiteelede was: Mnr WM Bührmann (lid van die Nuwe Orde), mev Nellie Liebenberg, mre JJ Bosman, Henk du Bruyn, Schalk Botha en dr Schumann. Die voorlopige komitee sou vir die eerste keer amptelik op 7 September 1945 vergader. Mnr Henk du Bruyn het die kantore van die Afrikaanse Kultuurraad van Pretoria aan die komitee beskikbaar gestel. Die vergadering het die plan om Duitse weeskinders na Suid-Afrika te bring as só 'n verdienstelike saak beskou, dat daar met groot vrymoedigheid om die seën van die Allerhoogste gevra is.

Op 7 September het die voorlopige komitee vir die eerste keer vergader. Daar is beslulit dat die fonds wat in die lewe geroep sou word om Duitse wese na die Unie te bring as 'Die Dietse Kinderfonds' bekend sou staan. Ongelukkig het die vergadering geen rede aangevoer waarom daar juis op hierdie benaming besluit is nie. Die naam kom egter ietwat vreemd voor wanneer daar in gedagte gehou word dat die begrip 'Diets' streng gesproke slegs op Nederlands, Vlaams en Afrikaans betrekking het, terwyl die voorlopige komitee juis Duitse wese na die Unie wou bring. 'Diets' sluit alles wat Duits is uit. Omdat die regering dit uitdruklik verbied het dat lede van die Ossewa-Brandwag noodlenigingswerk ten behoewe van Duitsland doen, was die voorlopige komitee, waarvan die meerderheid lede aan die OB en die Nuwe Orde verbonde was, waarskynlik bevrees dat dat die regering sy werksaamhede sou verbied indien dit bekend word dat hy kinder-immigrasie uit Duitsland beplan het. Dit mag dus net wees dat die voorlopige komitee met sy keuse van 'Diets' in plaas van Duits opsetlik gepoog het om die regeringsverbod op hulpbetoon aan Duitsland deur lede van die OB te omseil.

Watter oorwegings ook al by die komitee se benaming van hul fonds 'n rol gespeel het, was dit nie so 'n gelukkige keuse nie en later het die Nederlanders sterk protes teen die naam aangeteken. Toe Schalk Botha in 1948 in Nederland was, het die Nederlanders hom voor stok gekry oor die benaming 'Diets' vir 'n fonds wat daarvan geen geheim gemaak het dat dit juis aan Duitse kinders wou hulp verleen nie. Die Nederlandse maandblad Zuid-Afrika, wou van Botha weet: "Durfden de bestuurders (van die fonds) de naam Duits niet aan?" Op hierdie vraag het die blad ook sy eie antwoord verstrek: "Laat men in hun kring dan ten minste het woord Diets vermijden."

Op 7 September 1945 is daar dus 'n Dietse Kinderfonds (DKF) gestig met die doel om Duitse weeskinders na Suid-Afrika te bring. Nadat die Fonds amptelik gestig is, is daar besluit om 'n spaarrekening by Volkskas te open. Dit het spoedig vir die komitee duidelik geword dat daar te veel werk was vir een sekretaris en gevolglik is mnr SP van Loggerenberg (van Koopkrag Beperk) tot tweede sekretaris benoem.

Die voorlopige komitee het ook besluit dat daar veel meer aanvoorwerk gedoen moes word alvorens daar op 'n datum vir die beoogde groot vergadering besluit moet word. Die vergadering het gevoel dat lede van die voorlopige komitee eers 'n aantal sogenaamde huisvergaderings moes hou met die doel om die DKF wyer bekend te stel en die oogmerke van die skema te verduidelik. Daar is ook besluit dat die saak wyer as Pretoria bekendgestel moes word. Reëlings is getref om vergaderings in Ermelo, Rustenburg, Lichtenburg, Nylstroom en Johannesburg te hou. Vergaderings buite Pretoria sou telkens deur twee lede van die voorlopige komitee bygewoon word. Dr Schumann, wat voornemens was om die Kaapprovinsie te besoek het onderneem om die saak ook daar aan belangstellendes te verduidelik.

'n Aangeleentheid waaraan die voorlopige komitee baie aandag geskenk het, was die benoeming van beskermhere vir die DKF. Uiteindelik is daar 'n lys met 23 name opgestel. Dit is duidelik dat die komitee graag vooraanstaande Afrikaners uit die politieke, kerklike en kulturele lewe wou betrek. Van die belangrikste politieke figure wat as beskermhere voorgestel is, was die leiers van die Nasionale Party, dr DF Malan, en van die Nuwe Orde, advokaat Oswald Pirow. Van die Ossewa-Brandwag was dit dr Hans van Rensburg, en van die Afrikanerparty mnr NC Havenga. Die moderators van die 'drie-Boere-kerke' (die NG Kerk, die NH Kerk, en die Geref Kerk), sou as verteenwoordigende Afrikaanse kerkleiers, versoek word om as beskermhere van die Fonds op te tree. Die belangrikste kulturele leiers wat die voorlopige komitee as beskermhere voorgestel het, was onder andere die bekende argitek Gerhard Moerdyk, die Afrikaanse skryfster ME Rothmann (MER), die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Vroue Federasie mev S Broers, die hoofbeskermvrou van die Oranje Vroue Vereniging (OVV) en weduwee van die laaste Vrystaatse president mev MT Steyn, en die rektore van die vyf Afrikaanse universiteite.

Dit het die stigters van die DKF beslis nie aan geesdrif ontbreek nie en in die weke wat op die twee stigtingsvergaderings gevolg het, het die voorlopige komitee alles in die stryd gewerp om die beoogde skema aan soveel mense moontlik bekend te stel. Daarbenewens is 'n groot aantal briewe aan welgestelde Afrikaners uitgestuur en is hulle versoek om tot die Fonds by te dra. In Pretoria en omgewing is 'n hele reeks huisvergaderings gehou. Die verskillende huisvergaderings het uiteenlopende reaksie oor die skema uitgelok maar die saak is beginsel goedgekeur. Daar is egter gewaarsku dat die voorneme om Duitse kinders na Suid-Afrika te bring nie wêreldkundig gemaak moet word nie aangesien dit net onnodige teenkanting kon ontlok. Ook die Duitse reaksie moes nog eers getoets word voordat verder met die skema gegaan kon word.

In die volgende aflewering meer oor die bemoedigende reaksies en wat daarop gevolg het.