Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wanneer mense 'n lig het wat uit hulle skyn, het niemand nodig om mekaar se harte in te dring nie, want dan leer ons mekaar ken soos ons saam in die donker stap. Laat jou lig skyn sodat ander jou so leer ken.
SLUIPMOORD OP DR VERWOERD (1)
Beaumont Schoeman – geskryf in 1975
Lees reeks by SLUIPMOORD OP DR VERWOERD
Vooraf
Politieke sluipmoorde is vandag nie juis meer iets seldsaam nie. Baie nasies leef trouens feitlik elke dag saam met die moontlikheid dat ’n sluipmoordenaar hom teen hulle effektiewe regeringshoof sal rig. Maar tog word sluipmoorde gepleeg waarvan die betekenis en gevolge vir nasies groter is as soortgelyke dade vir lande waar dit feitlik al ’n algemene verskynsel geword het. Dit is dan ook vanselfsprekend dat in sulke gevalle die sluipmoorde baie groter weerklank dwarsdeur die wêreld sal vind.
In November 1963 is die Amerikaanse volk geruk deur die sluipmoord op pres. John F. Kennedy. Minder as drie jaar later, op 6 September 1966, het Suid-Afrika verdwaas gestaan toe ook sy regeringshoof deur ’n sluipmoordenaar neergevel is.
Hierdie twee sluipmoorde was ongetwyfeld die belangrikste van die afgelope twee dekades.
Dat die gang van sake in die twee onderskeie lande en ook buite die grense van hierdie lande deur die dade wesenlik beïnvloed is, is nie meer net ’n kwessie van bespiegeling nie. Dat die omstandighede waarin pres. Kennedy en dr. H.F. Verwoerd om die lewe gebring is, ook nog nie tot die bevrediging van baie mense opgeklaar is nie, is eweneens ’n feit.
Pres. Kennedy is deur ’n toegewyde en selferkende kommunis om die lewe gebring. Dr. Verwoerd se sluipmoordenaar het dwarsdeur sy lewe noue verbintenisse met die kommuniste en die verlinkse magte gehad. In die dae en maande onmiddellik ná die dood van pres. Kennedy is die uiterste pogings aangewend om die Amerikaanse volk te oortuig dat Lee Harvey Oswald alleen opgetree het toe hy sy daad gepleeg het en dat hy nie deel van ’n groter sameswering was nie. Dit was ook die amptelike bevinding in verband met Demitrios Tsafendas en die sluipmoord op dr. Verwoerd.
Vandag is die Amerikaanse volk en ook sekere owerheidsinstansies in die VSA nie meer so seker nie. Daar is selfs nou ernstige beweringe dat die Central Intelligence Agency, die Amerikaanse spioenasiediens, by die sluipmoord betrokke was.
Die CIA het alles behalwe ’n vleklose rekord in dié opsig. Dit is ’n erkende feit dat hierdie spioenasiediens in die verlede telkens reeds intiem met rewolusies in vreemde lande gemoeid was. In Suid-Amerikaanse state was dit reeds die geval en in Suid-Viëtnam, met die val van die Ngo Diem-bewind, is die vinger van beskuldiging ook regstreeks in die rigting van die CIA gewys.
Dit is vandag nie meer ’n geheim dat Suider-Afrika skerp binne die belangstellingsveld van die CIA val nie. Daar word byvoorbeeld beweer dat die CIA ’n belangrike rol gespeel het in die militêre staatsgreep van 25 April 1974 in Portugal waardeur die gang van sake in Suider-Afrika ingrypend verander is. Dit is dan ook baie betekenisvol dat dit ná die staatsgreep aan die lig gekom het dat genl. Antonio de Spinola ’n gereelde besoeker aan die VSA was, veral in die maande wat die staatsgreep voorafgegaan het.
Vandag is dit nog enigsins moeilik om ’n juiste beoordeling te maak van die ontwikkelinge in Suider-Afrika in die afgelope aantal jare en die meer resente gebeure. Wanneer die legkaartstukke met verloop van tyd in mekaar begin pas, sal dit beslis verbaas as die gebeure waarna hier verwys is en ook die sluipmoord op dr. Verwoerd, nie ’n betekenisvolle rol hierin gespeel het nie.
Die skrywer
Demitrios Tsafendas
Die groot horlosie teen die muur van die Kaapse Strafhof het aangedui dat dit ’n paar minute voor tienuur was. Kort-kort het die oë van die groot aantal aanwesiges in ongeduldige afwagting daarheen gedwaal, maar dan het dit teruggekeer en was dit asof ’n paar honderd oë op een plek in die hofsaal vasgenael was. Dit was die deur waardeur die beskuldigde enige oomblik sy verskyning in die hof sou maak. Almal het geweet dat hy reeds in die hofgebou was. Binne enkele minute moes hy in die hofsaal verskyn om tereg te staan vir die daad wat hy een-en-veertig dae tevore ’n hanetreetjie van die Kaapstadse Hooggeregshofgebou gepleeg het. Om tienuur op daardie Maandagoggend van 17 Oktober 1966 sou regter A.B. Beyers, Regter-president van die Kaapse Afdeling van die Hooggeregshof, en sy twee assessore hulle sitplekke in die hofsaal inneem. En dan sou die belangrikste moordverhoor in Suid-Afrika se kriminele geskiedenis ’n aanvang neem.
Presies om 9,59 het Demitrios Tsafendas sy verskyning tussen twee polisiekonstabels in die hofsaal gemaak. Die aanklag teen hom was moord deurdat hy op 6 September 1966 in die Volksraad van die Republiek van Suid-Afrika Sy Edele dr. Hendrik Frensch Verwoerd “verkeerdelik, wederregtelik en opsetlik gedood het.” Die aanklag teen hom het in Engels op die klagstaat verskyn.
Tsafendas het net enkele oomblikke in die beskuldigdebank vertoef en toe is hy weer deur die twee konstabels na die polisieselle in die gebou weggelei.
Binne in die hofsaal was elke beskikbare sit- en staanplek gevul. Die openbare galery was volgepak. Die juriebank is ingeruim as ’n persbank vir die sowat veertig koerantmanne van sowel binne as buite Suid-Afrika wat die hofsaak vir hulle koerante kom bywoon het. Die wat nie in die juriebank plek kon kry nie, is by spesiale tafels gehuisves.
Buite die hofgebou in Keeromstraat het talle beeldradiomanne en fotograwe van koerante rondgehardloop om elke toneel op beeld vas te lê. Toe die hofdeure daardie oggend oopgemaak is, was dit duidelik dat daar gans te veel belangstellendes was om binne die hofsaal gehuisves te word. Mense het nog steeds voor die deure gestoei en gestoot om toegang te verkry.
Die Sondagaand voor die verhoor sou begin, het die eerste belangstellendes reeds hulle plekke voor die hoofingang van die hofgebou begin inneem. Toe hulle merk dat hulle die enigste wagtendes was, is hulle daar weg en het omstreeks eenuur die oggend teruggekeer. Daarna het verskeie ander belangstellendes opgedaag en ’n paar uur voordat die hofverrigtinge sou begin, was daar reeds ’n lang tou.
Die hele Sondag voor die begin van die hofsaak was daar buitengewone belangstelling in die andersins stil Keeromstraat. Talle motoriste het stadig verby die hofgebou gery en in die rigting van die hof gekyk. Daar was ook lede van die Veiligheidspolisie. Die veiligheidsmaatreëls sou vir die duur van die hofsaak die strengste in die geskiedenis van die Kaapse Hooggeregshof wees. Veiligheidspolisiemanne is ook binne in die hofgebou geplaas en in die hofsaal self was daar heelwat van hulle - by deure, in die omgewing van die beskuldigdebank en tussen die publiek in die openbare galery. Tsafendas self sou soos goud bewaak word en sou nooit regstreeks met die publiek in aanraking kom nie. Hoewel nie verwag is dat iemand hom om die lewe sou bring nie, is niks aan die toeval oorgelaat nie.
Presies om tienuur het regter Beyers en sy twee assessore hulle sitplekke op die regbank ingeneem. Regter Beyers het kortliks die publiek en daarna die pers toegespreek. Vir albei groepe aanwesiges het hy ’n ernstige waarskuwing gehad. Daarna is die hofamptenare gelas om die aangeklaagde na die beskuldigdebank terug te bring.
Netjies geklee in ’n grys dubbelborspak, wit hemp en ’n wynrooi das met skuins swart strepe het Demitrios Tsafendas die tweede keer daardie oggend in die hofsaal verskyn. Alle oë was op hom gerig. Dit was die eerste keer dat lede van die publiek die sluipmoordenaar van dr. Verwoerd in lewende lywe gesien het.
Daar waar hy tussen die twee polisiekonstabels in die beskuldigdebank gesit het, kon die meeste aanwesiges hom net van die skouers boontoe sien. Die man was breed geskouer met ’n kort, dik nek. Hy het onmiskenbaar die indruk van ’n forsgeboude, sterk man geskep. Dit was egter sy gesig waarop alle oë in die hofsaal vasgenael was: kroeserige swart hare wat ver na voor gestrek het en die indruk van ’n smal voorkop gelaat het. Die oë was grysblou, nie baie groot nie en effens diep gesonke onder taamlike prominente oogbanke. Die gesig was rond met geen plooie nie, behalwe vir twee diep kepe wat sywaarts van die mondhoeke na onder gestrek het. Die neus was goed gevorm hoewel miskien effens aan die pofferige kant. Die swakste deel van die gesig was die mond met die bo-lip effens na agter gespan, ’n prominente omkrullende onderlip met feitlik geen ken nie. Opvallend was die klein oortjies vir so ’n forsgeboude man.
Regter Beyers het toestemming gegee dat Tsafendas in die beskuldigdebank kon gaan sit. Die twee polisiekonstabels het weerskante van hom gaan stelling inneem. In teenstelling met elke moordverhoor en ander kriminele sake is die aanklag nie in die hof uitgelees en aan Tsafendas gestel nie.
Tsafendas se regsverteenwoordiger het onmiddellik opgestaan en aangekondig dat mediese getuienis gelewer sal word om aan te toon dat die beskuldigde geestelik versteurd is en dus nie in staat is om op die aanklag te pleit nie. Wat hierdie verhoor betref, sou daar dus eers ’n verhoor binne ’n verhoor wees om te beslis of Tsafendas ’n normale of ’n geestelik versteurde persoon is.
Terwyl sy regsverteenwoordiger die hof toegespreek het, het Demitrios Tsafendas uitdrukkingloos voor hom gestaar. ’n Paar keer het hy sy blik oor die persmanne laat dwaal en dan het hy weer voor hom uitgetuur.
Wat daar op daardie oomblik deur sy gedagtes geflits het, sal niemand ooit weet nie. Het hy dalk gedink aan daardie Dinsdagmiddag van 6 September 1966 toe hy die raadsaal van die Volksraad met twee dolke binnegesluip en die Eerste Minister in sy bank doodgesteek het?
Dit was een-en-veertig dae tevore. Dit was ses-en-twintig maande nadat hy op daardie dag, 10 Julie 1964 in Pretoria deur sy baas uit sy soveelste werk in Suid-Afrika ontslaan is.
“Jy is nes jou verdomde Regering. Ek sal nog jou Eerste Minister vermoor!” was Tsafendas se dreigende woorde aan die man wat hom aangesê het om te loop. Daar was donker haat, moord, in sy hart. Twee jaar en twee maande sou verloop voordat die oomblik aangebreek het waarop hy sy dreigement kon uitvoer. Met twee dolke versteek onder ’n donkerblou bode-uniform sou hy Suid-Afrika se hoogste wetgewende raadsaal binnesluip om binne ’n paar sekondes met vier suiwer gemikte dolksteke die Republiek se sesde Premier neer te vel.
Met deskundige presiesheid is die verraderlikste daad in die geskiedenis van Suid-Afrika deur ’n halfnaaitjie van Mosambiek gepleeg. ’n Paar sekondes voor 2.15 nm. op Dinsdag, 6 September 1966, is Hendrik Frensch Verwoerd - groot staatsman, gevierde leier en onkreukbare Afrikaner - in sy bank in die Volksraad vermoor.
Sy mense het getreur. ’n Geliefde leier is uit hulle midde weggeruk. Maar hulle verdriet was ook iets meer. Hulle het geweet, of dit instinkmatig aangevoel, dat die daad van 6 September 1966 nie net ’n aanslag op die lewe van ’n gevierde leier en regeringshoof was nie. Dit was inderdaad ’n aanslag op die lewe van ’n hele volk.
Vervolg. . . .