NUUTSTE BYDRAES

Gedagtes vir elke dag

Of lees almal by Gedagtes vir elke dag

Ons sterf nie soos diere nie.  Jesus gee ons die belofte dat ons aardse lewe nie die enigste lewe is nie.  Daar wag ‘n heerlike hiernamaalse lewe op alle gereddes.

DE LA REY (10)

Hierdie boeiende vertelling van verskeie burgers se herinneringe onder genl De la Rey tydens die Tweede Vryheidsoorlog van 1899-1902 geskryf deur Ignatius Mocke kan gelees word by

De la Rey

BY GENERAAL DE WET

EK wil jou more vroeg met ’n rapport na genl. De Wet se laer aan Liebenbergsvlei stuur, Naudé ...”

Generaal De la Rey beskou Rudolf, wat so pas van ’n verkenningstog teruggekeer het, ’n oomblik afwagtend.

“Dis ’n baie dringende rapport en dit mag in geen omstandighede in vyandige hande val nie. Die wêreld wemel van die vyand en jy sal dus baie versigtig te werk moet gaan ... Ek vertrou volkome op jou, ou seun, om die rapport veilig deur te bring ...”

Rudolf knik begrypend. Hy weet naastenby wat die strekking van die rapport is. Dit het iets te doen met samesprekings wat die twee Generaals voer in verband met ’n gesamentlike inval in die Kaapkolonie. Geruime tyd reeds is hierdie korrespondensie tussen die twee bevelvoerders van die broederstate aan die gang.

 

Die Generaal neem ’n vaal koevert van die tafel voor hom op.

“Jy sal more vroeg moet ry, want dis ’n ver ent na Liebenbergsvlei,” sê hy terwyl hy die koevert aan Rudolf oorhandig. “Sorg dus dat jy alles vanaand vir die tog in gereedheid bring ... Jy sal darem in die voornag ’n paar uur moet probeer slaap, want die rit sal jou vreeslik vermoei. Wees nou maar versigtig...”

“Goed, Generaal, ek sal my bes doen.”

“Nou-ja, jy sal nou maar komberse se kant toe moet staan. Alle sukses.”

Vroeg die volgende oggend is Rudolf in die saal. In die vroeë oggendure ry hy vinnig om die grootste deel van die rit agter die rug te kry voordat die son te warm word.

Teen sonop se kant gaan hy Vaalrivier deur. Voor hom, in die mistige waas van die môreson gehul, strek nou die onmeetlike vlaktes van die Vrystaat en die veraf, blou heuwels en kopreekse.

Ver agter daardie heuwels en bulte moet De Wet se laer lê, dink Rudolf terwyl hy sy perd op ’n vinnige galop trek: De Wet met sy paar duisend burgers, op wie die stryd hier in die suide nou aangespits is. Rudolf het De Wet by Driekoppies laas gesien. Dit was kort ná die ineenstorting in die weste, toe die Boeremagte vanaf alle fronte teruggetrek is om die Republikeine se hoofstede teen die instromende vyand te verdedig. De Wet en De la Rey sou nou die verdediging waarneem.

Teruggedryf op sy eie grondgebied en in die aangesig van die verraad en kleinmoedigheid wat onder sy eie rnense geheers het, het die Vrystaatse Generaal se woede gestyg. Rudolf kon nog duidelik daardie beeld voor sy gees roep toe De Wet, sy aan sy met De la Rey, op 'n wa in die gloeiende hitte van die son voor sy geteisterde burgermagte gestaan het en in ’n stem, vol ingehoue toorn, sy burgers tot nuwe daadkrag aangespoor het.

“Die vyand sal geen duimbreedte van dié moederland meer verower nie,” het De Wet vasberade, verbitterd, gesê: “Dit is nou ons plig, burgers, om saam te staan; vas te staan in die verdediging van die dinge wat vir ons heilig is ... Diegene wat nou nog wankelmoedig of besluiteloos is, moet wyk, want vir diesulkes is daar geen plek in hierdie groot oomblik van beslissing nie...”

En in hierdie oomblik van beslissing is die kaf van die koring geskei: Slegs ’n handjievol burgers, in vergelyking met die oorweldigende magte van die vyand, het oorgebly om die stryd met De Wet vol te hou. En met hierdie paar duisend man het De Wet, in terugvallende bewegings, die vyand hou na hou toegedien...

Genl. Roberts het gesê dat die oorlog na enkele maande oor sou wees ná die deurbraak van die Engelse in die weste, dink Rudolf; dog nou het dit geblyk dat die stryd nog al die latente militêre mag van die vyand te voorskyn sou roep om dit tot ’n suksesvolle einde te bring.

Daagliks het die burgers gehoor van vyandelike versterkings wat vanaf alle dele van die Britse Ryk die land binnestroom. De Wet is besig om die oorlog vir die Republieke hier in die suide te “wen,” dink Rudolf terwyl sy hand die teuels van sy perd krampagtiger vasvat; net soos De la Rey, met sy herhaaldelike houe teen die vyand, dit daar in die weste doen. In elk geval, hulle het betyds verhoed dat die oorlog met ’n finale oorwinning vir die vyand tot ’n einde gekom het.

Rudolf dink aan die nuus wat hulle herhaaldelik in verband met De Wet se bedrywighede hier in die suide ter ore gekom het. Op kamp- of staanplekke van die Engelse laers het hy en sy maats, as hulle op verkenningswerk uit is, dikwels koerante opgetel wat die verrigtinge van De Wet in die suide as hoofnuusberigte vervat het.

“De Wet uiteindelik deur Elliot se magte vasgekeer ...” het die nuus in een van die koerante gelui. Dit was kort voor die slag van Sprinkaansnek en die Engelse het dit as onmoontlik beskou dat De Wet ooit uit hul omsingeling kon ontsnap.

’n Ruk later, na etlike dae se verbitterde gevegte teen Elliot se aanrukkende magte, het De Wet se kommando egter skielik spoorloos verdwyn. Die Engelse was skoon uit die veld geslaan; hulle kon hierdie skielike “verdwyning” van De Wet se kommando nie begryp nie. Soos groot spelde het die De Wet-kommando voor hulle verdwynasof dit in die grond weggeraak het.

Later het geblyk dat De Wet, in die aangesig van die vyand se “ringmuur van staal” om hom heen, skielik sy kommando beveel het om “op te breek.” En in hierdie “opgebreekte” toestand het die kommando toe maklik tussen die vyandelike omsingeling deurgesypel en sodoende veilig weggekom.

Toe die vyand weer tot verhaal gekom het, was De Wet met sy wilde boere ver agter hul rug en besig om in ’n wilde stormloop op die Kaapkolonie af te daal.

Die nuus van De Wet se stormloop op die Kolonie af het soos ’n skok deur die land gevaar. Vriend en vyand het in angstige spanning die gevolge daarvan afgewag. Vir ’n oomblik het daar as‘t ware ’n stilte in die krygsverrigtinge in die binneland gekom, terwyl almal se aandag op De Wet se inval toegespits was.

Kitchener het alle moontlike voorbereidings getref om De Wet se inval te verhoed en sodoende ’n aansluiting tussen De Wet se magte en die ander Boeremagte reeds in die Kaap bedrywig, te voorkom, dog selfs in die aangesig van al hierdie uitgebreide voorbereidings is De Wet met sy kommando veilig die Oranje oor.

Ná ’n koorsagtige tweeweekse stormloop oor die noordelike deel van Kaapland, het De Wet egter skielik weer kortom gevlieg, terug na sy geboortegrond. Ternouernood is hy en sy burgers en met groot blydskap in hul harte, by Leliefontein eindelik weer die Oranje oor en die Vrystaat in, met die Engelse kort op hul hakke.

De Wet het blykbaar hierdie inval beplan om die toenemende druk van die vyandelike magte ’n oomblik van sy geboorteland af te trek, dink Rudolf met opregte bewondering vir die groot krygsmansgenie van die Vrystaatse generaal. En hierin het hy ook werklik goed geslaag, want ’n tyd lank was feitlik al Kitchener se magte besig met die agtervolging van die gevreesde Boereleier.

“Maar De Wet gaan weer probeer,” se Rudolf halfluid teen homself terwyl hy ongeduldig aan die teuels van sy perd pluk, “daarom dat hy nou met De la Rey in verbinding tree; hy wil dit hierdie keer blykbaar op ’n veel groter skaal waag...”

Rudolf was so diep ingedagte dat hy glad nie op sy omgewing gelet het nie. Hy was reeds ver die Vrystaatse veld in. Voor horn strek nou ’n deinende grasvlei wat aan die oorkant teen ’n bosbeskutte koppie uitloop.

Die onrustige gedrag van sy perd trek skielik sy aandag. Die dier spits sy ore en beweeg hulle onrustig op en af terwyl hy na die boskoppie voor hom kyk: Af en toe blaas hy saggies deur sy neusgate. Rudolf volg die rigting van sy perd se blik en merk skielik iets wat ’n koue rilling in sy liggaam afstuur. In die bosse teen die hang van die rantjie, ’n paar honderd tree aan sy linkerkant, het sy oog skielik ’n beweging gevang. Hy pluk sy perd dadelik in en kyk gespanne in die rigting waar hy die beweging gewaar het; sy hand rus op die geweerloop in die sak langs sy saal.

’n Oomblik heers stilte, toe knetter dit skielik soos ’n sarsie geweervuur van agter die bossies op hom gelos word. Die koeëls slaan voor en om hom vas en sny skrikaanjaend langs sy ore verby.

Oombliklik ruk Rudolf sy perd om en jaag in ’ n wilde galop teen die hang van die teenoorgestelde bultjie uit. Die volgende oomblik kom ’n dosyn perderuiters agter die bosse teen die bultjiehelling te voorskyn en sit hom agterna.

Nou volg ’n wedloop om dood en lewe. Rudolf se perd skyn egter vinniger te wees as dié van sy agtervolgers, want geleidelik wen hy veld op hulle en laat hulle al hoe verder agter. In die jaag bly die Engelse op hom skiet en die koeëls sny snerpend en rakelings om hom heen. Skielik voel hy sy perd onder hom struikel. Hy is geskiet, flits dit met verblindende snelheid deur Rudolf se brein... ’n Endjie verder sak die perd in sy vier spore onder hom inmekaar, maar Rudolf behou sy ewewig en kom op sy voete te lande. Die volgende oomblik pluk hy sy geweer uit die saalsak aan sy perd se sy en hardloop om posisie in te neem agter ’ n groot ysterklip ’ n endjie links van hom. Die vyand mag nie die rapport in die hande kry nie, maal dit aanhoudend deur sy brein — die rapport... die rapport...

Die Engelse volg kort op sy hakke. Hy merk hoedat hulle in die laagte ondertoe op hom aanstorm. Werktuiglik kom die geweer aan sy skouer. Hy skiet; kort op mekaar knal die skote. Dan sien hy hoedat ’n paar van die voorste perde ruiterloos opsy draf.

Die agterste Engelse weifel skielik en pluk hul perde in. Die volgende oomblik spring hulle uit die saals en begin op hom skiet.

Sodra Rudolf merk dat hy hulle op die verdediging gedwing het, begin hy versigtig tussen die bosse teen die rantjiehelling uitsluip. Die Engelse merk hom nie voordat hy amper weg is nie; dog dan gewaar hulle hom skielik en kom in dolle vaart agter hom aangejaag.

Dit geluk Rudolf egter om veilig die rantjiehelling oor te kom. ’n Ent voor hom merk hy skielik een van die Engelse wat hy eerste geskiet het, se perd. Die perd het onklaar getrap in sy teuels en kon nie te ver wegkom nie.

’n Ent na sy regterkant het die Engelse nou skielik op die rantjiehelling verskyn, dog hulle het hom skynbaar nie gemerk nie, want hulle soek nou oral tussen die klippe rond. Dit gee Rudolf net genoeg tyd om weg te kom. Die volgende oomblik sit hy in die saal.

“Daar’s hy ... ! Daar gaan hy ... !” Die stem klink luid kort agter Rudolf. Een van die Engelse wat hom skielik gemerk het, skreeu aanhoudend. Spoedig is die agtervolgers weer op sy spoor.

Die swaarlywige perd kom stadig oor die weg. Rudolf kap sy spore diep in die perd se sye en slaan hom woes met die teuels oor sy blaaie, dog elke keer as hy oor sy skouer loer, skyn sy agtervolgers nader aan hom te wees. Nogtans geluk dit hom eindelik om sy agtervolgers tussen die rantjies en valleie verderaan van sy spoor af te skud.

Laat die namiddag kom hy eindelik by De Wet se laer aan. “Dit moet van Elliot se spioene wees wat jou so opgedreun het, Penkop,” se die Generaal nadenkend toe Rudolf hom die verhaal van sy ontsnapping vertel. “Die wêreld hier rond is vol van die vyand... jy kan darem nie genoeg van geluk spreek nie dat jy ongedeerd daarvan afgekom het; jy kon net sowel teen hierdie tyd dood gewees het...”

Die Generaal lees die rapport wat Rudolf aan hom oorhandig het. 'n Oomblik sit hy ingedagte.

“Ek is bevrees jy sal vanaand weer die ent pad terug moet ry.” Die Generaal se blik rus ’n oomblik vol simpatie op die jong man voor hom. “Ek het ook ’n belangrike rapport wat ek wil hê jy moet nog vanaand aan genl. De la Rey neem. Ek wil hê die Generaal moet so gou moontlik hiernatoe oorkom ...”

Rudolf voel teleurgesteld; hy het gedink dat hy die nag by genl. De Wet se laer sou kon uitrus, dog nou blyk dit dat hy nog ’n nag van slaaploosheid sou moes trotseer. Hy wil beswaar opper, dog bedwing homself net betyds.

’n Rukkie later is hy weer op pad terug. Hy ry nou vinniger en meer onverskrokke, want hy ken die pad nou naastenby. Na middernag kom hy weer by die laer aan.

Hy gaan dadelik na die Generaal se tent. Die Generaal slaap reeds en hy moet hom uit sy slaap wek.

“Dis ’n dringende rapport van genl. De Wet, Generaal,” sê hy ’n bietjie ongemaklik as De la Rey hom kwaai aankyk. “Die Generaal het beveel dat ek dit dadelik aan u moet oorhandig...”

Generaal De la Rey neem die rapport onverskillig by Rudolf en laat sy blik vlugtig daaroor gaan, dog sodra hy van die inhoud daarvan bewus word, is hy dadelik belangstellend.

“Jy moet nog vyf kêrels kies om my moreoggend vroeg na genl. De Wet se laer te vergesel, Naudè,” sê hy opgewonde terwyl hy die rapport stadig opvou en op die tafel neersit... “Ek weet dis bietjie hard vir jou, maar dit kan nou nie verhelp word nie. Jy ken die pad en jy sal ons moet lei...”

Vroeg die volgende môre is genl. De la Rey met sy lyfwag by genl. De Wet se laer aan Liebenbergsvlei. Die twee generaals gaan dadelik De Wet se tent binne om samesprekings te voer.

Terwyl die twee generaals nog in samespreking met mekaar is, word die kommando skielik in rep en roer gebring deur ’n geskiet agter die kliprantjies aan die suidekant. 'n Paar oomblikke later bring die verkenners die nuus dat ’n afdeling Engelse die walaer oorval het.

Dadelik tref die twee generaals voorbereidings vir die aanval. Gesamentlik werk hulle die plan van aksie uit. In ’n wye halfsirkel omsingel die Boere nou die koppie waarin die Engelse stelling geneem het. ’n Hewige skermutseling volg, dog die Engelse bied hardnekkige verset.

Na ’n verbete geveg gee die aanvoerders eindelik bevel dat die Boere moet stormjaag. Stormenderhand en met groot verliese vir die vyand neem die Boere die posisie in. Die Boere ontwapen die Engelse. Oral kom nog enkeles agter hul verskansings te voorskyn om hul wapens te oorhandig.

Rudolf en ’n paar maats wat besig is om die soldate op die linkerflank te ontwapen, kom skielik op ’n sloot af waarin ’n hele paar gesneuweldes op ’n bondel lê.

Skielik merk Rudolf ’n beweging onder die bondel: Hy stap nuuskierig nader om te sien wat dit is. Op dieselfde oomblik kruip ’n soldaat, skynbaar swaar gewond en met bloedbevlekte lappe om sy een been gewikkel, steunend en sugtend onder die dooies uit.

Rudolf tree nader: “Wat makeer jou?” vra hy die gewonde as hy by hom kom.

“Ek is swaar gewond,” antwoord die soldaat.

Rudolf verwyder die bloedbevlekte lappe van sy been, dog kan geen wond bemerk nie.

“Jy lieg,” se hy verontwaardig, “hier is geen wond nie ...”

“Nee, dis boontoe... in die boud,” verduidelik die soldaat.

Rudolf bring sy knipmes te voorskyn en wil net die rybroek bokant die knie oopsny om die skynbare wond by te kom, toe die soldaat skielik ongedeerd opspring;

“Nee, ek grap sommer; ek makeer niks,” se hy met ’n droë lag.

“Ek het gehoor dat De Wet se Boere alle soldate doodskiet wat hulle vang en toe gedink dat as ek sou voorgee dat ek gewond is, die Boere my sou jammer kry en my lewe sou spaar...”

Rudolf neem die soldaat na genl. De Wet toe en vertel horn wat hy gesê het.

“Sê horn,” antwoord die Generaal onverskillig, “dat ons nie soos sy makkers is wat siek en gewonde mense in hul magteloosheid doodskiet nie...”

’n Paar dae later was genl. De la Rey en sy lyfwag weer terug by hul kommando in die weste...

Ná dié slag het Rudolf, op instruksies van kaptein Schalk van der Westhuizen, hom gevoeg by die Vrystaatse kommando onder genl. De Wet. Vandat De Wet op die voorgrond getree het, het Rudolf ’n groot bewondering gevoel vir hierdie onverskrokke Boereleier. Hy het dikwels gewens dat hy die geleentheid mag kry om De Wet persoonlik te ontmoet en nou het Van der Westhuizen se bevel hom die kans gegee om ’n tyd lank pal saam met die groot Boeregeneraal te veg.

De Wet het hom by verskeie geleenthede vriendelik uitgevra na sy werk in die noorde en aandagtig geluister onderwyl Rudolf die binneste werking van Van der Westhuizen se spioenasiestelsel verduidelik. Hy het Rudolf 'n aantal vrae gevra en die jong verkenner het met verbasing daaraan gedink dat die Boeregeneraal, alleen uit die paar woorde wat hy gesê het, die hele aard van sy werk haarfyn afgelei het.

“Julle verkenners doen goeie werk,” het De Wet aan hom gesê. “Dis julle kêrels wat jul lewens die meeste aan gevaar moet blootstel. In elk geval,” daar is ’n ondeunde flikkering in sy oë, “aangesien jy nou ’n paar dae by my sal wees, kan ek maar net sowel gebruik maak van jou dienste.”

In die eerste paar dae ná die slag het dinge betreklik rustig toegegaan. Daar was geen gevegte nie, net ’n paar skermutselinge met klein vyandelike patrollies.

Maar op ’n oggend merk Rudolf skielik groot opgewondenheid om hom heen. Op die onderpunt van die laer kom 'n ruiter woes aangejaag. Hy is sonder hoed of baadjie en ry die perd bloots asof hy in sy haas om voor die vyand weg te kom, alles in die steek gelaat het.

Wild jaag hy tussen die laer deur na De Wet se tent, waar die Generaal reeds na buite gestorm het en hom nou angstig staan en inwag.

“Wat is dit...? Wat het gebeur... ?” Generaal De Wet se stem verraai ’n ondertoon van onrustigheid.

“Generaal... President Steyn is gevang op Reitz...!” Die burger, wat sy perd digby die twee generaals ingepluk het, kyk met verwilderde blik na De Wet.

“Wat sê jy, man...! Is jy seker...!”

“Ja, Generaal... Die Engelse het verlede nag skielik die dorp oorval... Byna die hele lyfwag is saam met die President gevang, net ek en ’n paar manne het daarin geslaag om te ontsnap...”

De Wet word merkbaar bleker. Hy staar stroef voor hom uit; slegs die harde trekke op sy gesig verraai die storm wat in sy siel broei.

“So waaragtig as wat ek leef,” sê hy skielik woes terwyl sy vuiste krampagtig bal: “President Steyn moet los geskiet word... Geen vyand mag sy hande op die President lê nie...”

“Maar dis ’n geweldige oormag wat die dorp oorval het, Generaal,” sê die burger stotterend bang: “Dit sou selfrnoord beteken om hulle aan te val...”

“Ek gaan die President Iosskiet,” herhaal De Wet, “al moet ek ook alleen gaan en al is al Kitchener se magte nou ook om die dorp saamgetrek...”

Nou vra die Generaal vrywilligers om die President te gaan Iosskiet. Die meeste burgers gee dadelik gehoor op sy beroep. As De Wet vir hierdie manne sou sê om deur die vuur te gaan, sou hulle dit doen sonder om ’n ooglid te verroer, dink Rudolf bewonderend as hy sien hoe eenparig die burgers hulle aan hul Generaal se sy skaar.

Genl. De Wet kies sommer die grootpad, reg op Reitz af. In groot oomblikke van krisis het die Generaal blindelings, selfs onverskrokke gehandel, dog altyd was daar ’n Hoër Mag wat sy dade gerig het.

’n Ent verderaan, toe hulle al ’n paar myl weg is, merk die burgers skielik twee perderuiters in die pad voor hulle. Genl. De Wet gee dadelik bevel dat hulle hulself agter die bosse langs die pad moet versteek.

Asemloos wag hulle agter hul skuilplekke die twee ruiters in. Hulle sit gespanne met hul gewere krampagtig in hul hande vasgeklem, gereed vir enige gebeurlikheid. Nader en nader kom die twee ruiters...

“Dis president Steyn...” Iemand wat skielik die President herken het, gee die nuus te kenne.

’n Ligte skok van blydskap vaar deur die afdeling burgers. Elkeen voel skielik bly en opgetoë, asof ’n swaar las van hul skouers gerol het; asof hulle uit die kloue van die dood gered is.

Die President en sy metgesel is nou digby die burgers. Elkeen kan hom nou herken. Fier en regop sit hy in sy saal terwyl die wind saggies deur sy waardige bos baard speel.

Genl. De Wet ry die President tegemoet. De Wet voel so opgetoë dat hy nouliks die trane van blydskap kan bedwing. Uit sy siel styg ’n dankgebed aan die Voorsienigheid wat die President veilig uit die gevaar gered het.

“Dank die Vader dat u veilig uit die gevaar gekom het, President,” se De Wet opgewonde as hy die President bereik. “Ons was net op pad om u te gaan Iosskiet...”

“Ja, dit was ’n bestiering van die Allerhoogste dat ek ontsnap het,” antwoord pres. Steyn. “As dit nie vir my ou baster was nie, sou ek seker nooit ongedeerd ontkom het nie...”

Hierop vertel die President hulle die verhaal van sy ontsnapping.

Sy lyfwag het dit heeltemal veilig geag om daardie nag op die dorp te slaap. In die nanag is die dorp skielik deur die vyand ingeneem. Die Engelse was reeds die hele dorp oor toe die President van hulle te hore kom. Vermoedelik moes die Engelse van sy aanwesigheid in die dorp geweet het.

Die President was net besig om voorbereidings vir sy ontvlugting te tref, toe hy skielik stemrne op die stoep van die huis hoor waar hy die nag geslaap het. Sy staljong, ’n Kaapse kleurling, was alleen buite.

“Waar is die President... ?” het hy skielik iemand aan die ou jong hoor vra.

“Die President het by daardie huis daar op die bopunt van die straat, vir die nag gaan slaap,” het die jong dadelik geantwoord...

“Nou-ja, jou swernootskind,” het die Engelsman waarskuwend gesê, “ons gaan nou dadelik daar soek en as ons horn nie daar kry nie, kom ons terug en sal met jou afreken...”

“Nee, die Here hoor my, die President is daar, Baas,” het die jong hoog en laag gesweer. “Die Baas kan my doodskiet as dit nie so is nie...”

Toe die Engelse die President sien wegjaag, vra hulle later wie daar jaag. “Sommer ’n ou boer,” het hy astrant geantwoord en die vyand het hul soektog na die President in die tente en huise voortgesit. Van Ruiter, die agterryer, het hulle nie verder notisie geneem nie en hy het horn gou by sy oubaas, die President, gaan voeg.

De Wet, wat die verhaal van die President enduit gespanne gevolg het, kan nouliks sy opgewondenheid beteuel:

“Ja, dit was waarlik 'n ontkoming, President; byna ongelooflik. ’n Mens sou nouliks soveel durf van ’n gekleurde skepsel verwag...”

Die Generaal hou nou sy hand op: Ootmoedig ontbloot die burgers hul hoofde. In ’n kort, kragtige gebed dank die Generaal nou die Voorsienigheid dat Hy hul geliefde President veilig uit die gevaar gelei het.

President Steyn bedank ook nou die Generaal en sy burgers vir hul kloekmoedigheid om hom tot hulp te snel.

* * *

'n Ruk daarna was Rudolf eendag net op die punt om generaal De Wet te gaan vra of hy nie maar op eie houtjie ’n bietjie verkenningswerk kan gaan doen nie, toe hy die Generaal na hom aangestap sien kom.

“Naudè,” sê DeWet. “Hou jou lyf reg. Vanaand moet jy saam met ons. Maar vanmiddag wil ek hê jy moet eers ’n bietjie spioenwerk gaan doen. Kyk,” verduidelik hy, “ons het vanmiddag verneem dat ’n Engelse konvooi vannag sal deurtrek na Hoopstad toe. Vind uit hoe laat hulle deur Mahemspruit gaan. Ons gaan hulle daar voorlê.”

Hy oorhandig ’n versameling rapporte aan Rudolf. “Lees die rapporte deur; jy sal alle inligting daarin vind wat jy verlang.”

’n Uur lank het Rudolf die verslae bestudeer. Almal het daarop gedui dat die konvooi vannag sou deurgaan na ’n Engelse laer naby Hoopstad. Hoe laat die konvooi sou aanland, kon nie een van die verkenners sê nie. Dit sou egter 'n groot lading wees, met genoeg mondprovisie, wapentuig en ammunisie om generaal De Wet se hele kommando weer van die nodige te voorsien.

Rudolf het dadelik besef dat sy sending belangrik is. Hy kon sien dat De Wet se burgers maar skraal toegerus is. Dit was hoog tyd, soos een van hulle lakoniek aan hom gesê het, dat Haar Majesteit weer hul maandelikse rantsoen stuur!

Rudolf het die Vrystaatse wêreld nie te goed geken nie, maar die ligging was nie wesenlik verskillend van die van die Wes-Transvaalse vlaktes nie en hy het nie daaraan getwyfel dat hy sy pad maklik sou kon vind nie. Hy het die topografie van die wêreld goed opgeneem en toe die pad gevat Kroonstad toe. Dit was langs hierdie pad dat die konvooi sou kom, volgens die rapporte van die verkenners. Dit sou hoofsaaklik ’n muilwakonvooi wees. Die sanderige pad, die lang, skotige opdraandes teen die bulte uit en die vermoeiende hitte van die middag sou dit onmoontlik maak vir die drywers om meer as ’n langsame gang vol te hou.

Die genade het die middag in Rudolf se guns gewerk. Omtrent drie uur te perd van De Wet se laer af, het hy skielik op ’n bult voor horn ’n lang streep stof sien uitslaan, rooi in die laat namiddaglig. Hy het sy verkyker uit sy sak geneem en die naderende stofstreep aandagtig bespied. Dit was die konvooi... omtrent drie myl ver het die muilwaens gestrek, die een na die ander. Rudolf het ’n oomblik seker gemaak van die rigting. Hulle is op hierdie pad en hy is omtrent agttien myl van die laer af. Mahemspruit kronkel kort anderkant De Wet se kommando deur die bulterige wêreld. Daarheen is dit omtrent twintig myl. Gestel die konvooi beweeg drie myl per uur: Dit sou beteken dat hulle die spruit binne sewe uur sou bereik; dit wil sê, omtrent eenuur vannag.

Dit was ná sononder toe hy sy rapport aan generaal De Wet oorhandig. Die Generaal het goedkeurend geknik.

“Knap werk, Naudé. Ek wil hê jy moet vanaand saamgaan.”

Die burgers het stil, byna onrustig gewag om hul perde op te saal. Uit Rudolf se verslag het geblyk dat die konvooi deur ’n sterk afdeling troepe beskerm word en De Wet het geen doekies hierom gedraai nie.

“Dit sal ’n gevaarlike spulletjie wees, maar ons het die voorrade nodig. Ons sal dit nie baie langer kan uithou nie.”

EENUUR die nag het die kommando op ’n vinnige drafstap vertrek in die rigting van Mahemspruit. De Wet het sy lokval goed gekies. Op ’n plek waar die spruit ’n wye draai maak, sy bedding rotsig waar in die ou dae 'n drif deurgang verleen het, het hy sy burgers beveel om hul perde agter ’n digte plaat bosse vas te maak.

Daarna het hulle weerskante van die spruituitgang stelling ingeneem, veilig verskuil agter die lae struikgewas. Hulle moes goed ’n uur so gelê het; die Generaal het geen beswaar daarteen gehad dat hulle gesels nie, solank die wag dit veilig ag. Maar teen tweeuur het ’n waarskuwende “sjuut” van sy kant gekom.

“Luister, Generaal.”

Doodse stilte het nou oor die burgers gehang. Rudolf het met sy oor teen die grond gaan lê en aandagtig, met ingehoue asem, geluister. Eers het hy niks gehoor nie; die gekwaak van die paddas in die vleie het dit moeilik gemaak om enige ander geluid te verneem, maar na ’n paar minute het hy duidelik die sagte, veraf klopgeluid van wawiele gehoor.

“Hulle is naby ons,” sê ’n burger langs hom.

“Ja,” sê Rudolf instemmend. “Die pad is sanderig. Mens sou die wiele nie ver kon hoor nie.”

“Onthou die Generaal se bevel,” sê die offisier wat Rudolf se flank van die kommando moet aanvoer, “niemand skiet voordat hy nie die teken gegee het nie. Sy afdeling sal eerste skiet.”

Die paar minute daama het soos ’n ewigheid verbygegaan; en toe verskyn die eerste wa op die spruitwal oorkant hulle; hy hoor nou duidelik hoe die drywer die muile aanspoor met geskreeu en sweepgeklap. Die wa kom stadig deur die drif, gevolg deur die ander. Rudolf wag gespanne, maar niks gebeur nie; die wa is nou byna teen die drifhoogte uit en nog kom daar geen teken van De Wet se kant nie. En toe hoor hy meteens ’n dowwe slag, ’n gedempte vloek en stilte. Kort daarna word die proses herhaal en so hou dit aan totdat die eerste tien waens die drif deur is. Die troepe het nog geen onraad gemerk nie; dit is duidelik, anders sou hulle lankal losgebrand het.

Meteens klink ’n enkele skoot in die donker en daarna ’n sarsie. Die muilwaens bondel in die rniddel van die drif en bo die geknetter van die gewere hoor Rudolf die gevloek en geskreeu van die swartes; dit is duidelik dat hulle in die uiterste verwarring verkeer en nie weet wat om aan te vang nie. Tien minute later is die skermutseling in volle gang. Vanuit die bosse oorkant antwoord die Engelse nou op die Boere se geweervuur, maar Rudolf kon dadelik aflei dat hulle te hoog skiet. Die koeëls fluit onskadelik oor hul koppe en klap vas bo in die ouhoutbome en sandbanke. Skielik hou die geskiet oorkant op.

“Storm hulle!” Vinnig word die bevel herhaal.

Uit hul skuiling onder die bosse het die Boere vinnig maar geruisloos die vyand te lyf gegaan. In die donker kon hulle nou beter sien en Rudolf het keer op keer sy geweerkolf gebruik; om hom kon hy die gesteun, gevloek en gesmeek hoor van gewondes en sterwendes.

Rewolwerskote het luid tussen die walle van die spruit weerklink. Dit was helder lig toe De Wet sy gevangenes bymekaar maak:

Omtrent honderd swart drywers, sowat vyftig troepe en twintig waens. Talle van die vyand het om hulle, in die bedding van die spruit en oorkant tussen die bosse, doodgelê. Hul eie verliese was swaarder as gewoonlik: Agt burgers dood en vier swaar gewond.

OP bevel van genl. De Wet is een muilwa met ekstra provisie en voorrade uitgekeer.

“Saam met hierdie een is dit elf,” sê hy aan Rudolf. “Ons sal hierdie een vir die offisiere hou.”

“Elf, Generaal?” vra Rudolf verbaas.

De Wet knik, laggend.

“Jy dink tog nie ek was van plan om hulle almal te laat vryspring nie, Penkop?”

En toe het Rudolf skielik besef wat die vorige nag gebeur het: De Wet het elkeen van die muilwaens laat voorkeer sodra dit die spruitwal uitkom, die drywer laat oorrompel en dit deur ’n burger laat wegdryf na sy hoofkommando. Vandaar die dowwe slae wat hy telkens gehoor het en die gevloek, asof twee mense daar in die donker met mekaar worstel. Teen hierdie tyd was al die waens natuurlik al veilig.

Rudolf probeer nie om sy bewondering vir die krygsman van die Boereleier te verberg nie.

“Dis nog niks hierdie nie,” sê ’n veldkomet wat langs De Wet staan. “Dis kinderspeletjies. Wag maar totdat hy regtig begin. Dan sal jy wens dat jy nooit hier was nie.”

De Wet glimlag onderwyl hy van hulle wegstap.

DIE son was al ’n hele paar span hoog aan die oostelike hemel toe generaal De Wet met ’n lyfwag van agt man langsaam agter ’n muilwa aanry teen ’n lang bult uit.

Rudolf voel onrustig. Nadat hulle die oggend die orige muilwaens in die spruit met voorrade en al aan die brand gesteek, die muile uitgespan en weggejaag het en die gevange soldate byna poedelnakend die Vrystaatse vlaktes ingestuur het, het een van De Wet se verkenners op die toneel aangekom. Hy was uitasem en het daar besorgd en opgewonde uitgesien.

“Die Engelse stuur ’n groot mag om ons voor te keer, Generaal,” sê hy, “hulle het natuurlik uitgevind van die konvooi en miskien ook dat Generaal hier is.”

“Uit watter rigting kom hulle?” vra De Wet kalm.

“Hulle gaan ons probeer afsny van die hoofkommando, Generaal. Agter toe kan ons nie vlug nie, want Hoopstad se wêreld wemel van troepe. Kroonstad se kant toe is dit dieselfde ding. Ons moet reguit terug kommando toe. Dis ons enigste hoop. Miskien spring ons hulle voor.”

De Wet knik, maar hy antwoord nie.

Rudolf kan nou duidelik die besorgdheid onder die ander aanwesiges aanvoel.

“Ons moet die wa laat bly en jaag, Generaal,” sê een van hulle.

De Wet antwoord nie, maar suig ingedagte aan sy pyp.

“Magtig, Generaal,” sê ’n ander, “as jy die wa wil behou, laat ons dit probeer deurbring. Hulle kan jou nie vang nie. Jymoet uitjaag met ’n paar man...”

De Wet draai langsaam om en kyk die spreker geamuseerd aan.

“Ek is nie van plan om die wa te laat staan en ook nie om uit te jaag nie, ou seun. Hulle sal ons nie gou inhaal nie en as hulle ons naby die kommando vaskeer, sal versterking betyds opdaag.”

EN ook hierdie slag het die gedugte Boereleier horn nie misgis nie.

Hulle was net duskant die vlak koppies waaragter die hoofkommando lê, toe ’n twaalftal ruiters skielik agthonderd tree voor hulle verskyn.

“Engelse,” sê een van die offisiere.

“Dis maar alte duidelik,” antwoord die Generaal.

Die aanvallers het in ’n snaakse halfmaanbeweging voor hulle gery en toe in ’n laagte verdwyn. Spoedig het ander hul verskyning gemaak.

“Hulle weet jy is hier, Generaal. As hulle jou kan vang, sal Haar Majesteit aan elkeen van hulle seker ’n ministerspos gee.”

Rudolf bewonder hierdie koelheid wat sy mense in staat stel, selfs in doodsgevaar, om grappe te maak.

De Wet se verkyker is nou pal voor sy oë. Hy bespied die omliggende wêreld aandagtig.

“Ek dink jy is reg,” sê hy na ’n tydjie, “dis ’n hinderlaag.”

“Wat gaan ons doen, Generaal?”

“Deurbreek!”

“Met hierdie wa... ee... hoe verstaan ek jou nou, Generaal?”

“Met hierdie einste muilwa, ou seun.”

“Dis kranksinnigheid, roekeloosheid”

“Ons sal sien.”

Niemand het geweet wat De Wet se plan is nie. Maar elkeen van die manne op daardie wa, wat op De Wet se bevel op die wa geklim het, was teen dié tyd so benoud dat die sweet op hul voorkoppe gepêrel het.

Elkeen het onrustig gewonder of hulle ooit lewend uit die gevaar sou kom.

Teen die rante voor hulle, in ’n wye halfmaan opgestel, kon hulle nou duidelik die vyandelike mag sien.

“Daar is minstens vyfhonderd,” sê die offisier benoud. “Ons sal nooit uitkom nie.”

“Theunissen,” sê generaal De Wet aan die drywer van die muilwa, “jaag die muile aan. En julle kêrels,” hy wend hom tot die ander, “open vuur op die Engelse.”

Die geskiet agter hulle en die geklap van die sweep het die muile nou wild en wakker gemaak. Hulle lê skuins teen die swingels soos hulle hardloop en agter hulle bokspring en kantel die wa gevaarlik, dan op hierdie twee wiele, dan op daardie twee. Hulle is nou ’n paar honderd tree van die naaste Engelse en nog is geen skoot op hulle geskiet nie.

Meteens kry Rudolf’n snaakse reuk in sy neus... soos iets wat brand. Hy kyk om en sy oë bly ’n oomblik so staar, groot van verbasing: Die bale klerasie agter horm, die houtkiste met komberse, linnegoed en papier staan in ligte laaie. Hoër en hoër lek die vlamme, totdat die hele wa in vuur en rook omhul is. Die muile hardloop nou teen ’n roekelose snelheid oor die klipperige, pollerige grond, maar nog het die Engelse nie geskiet nie.

’n Minuut, twee minute, tien minute, het verbygegaan en nog het geen skoot geval nie. Rudolf kon net hoor hoe die Boere op die wa benoud hoes van die rook; sy eie asem het keer op keer gedreig om weg te slaan en hy het meteens so dronk gevoel van die dik blou rook wat sy neusgate binnedring, dat hy nie omgegee het of hy geskiet word of nie.

Hoe lank die rit geduur het, weet hy nie, maar meteens het die wa tot stilstand gekom.

“Klim maar af; ons is deur,” sê De Wet.

Rudolf het geen tweede aansporing nodig nie. Hy tuimel holderstebolder van die wa en kruip handeviervoet totdat hy veilig uit die bereik van die rook en die vlamtonge is.

Hulle het gestaan en toekyk onderwyl die wa tot houtskool verbrand en ’n kwartier later het ’n versterking van die kommando opgedaag.

“Ons perde is verlore, maar ons het die Engelse uitoorlê,” sê die Generaal lakoniek.

Rudolf, stom van verbasing, kon nog geen enkele woord uitkry nie.

“Wat het gebeur?” vra hy aan die veldkornet met wie hy vroeër daardie dag in De Wet se aanwesigheid gesels het.

Die kêrel haal sy skouers op.

“Hulle het seker gedink dis iets soos Elia,” sê hy grimmig, “anders kan ek nie verstaan waarom hulle nie geskiet het nie.”

“Wat dink jy nou van De Wet?” vra hy ’n oomblik later sarkasties.

Rudolf lag.

“Ek gaan terug Transvaal toe,” sê hy. “Julle is te wild na my sin.”

VEERTIEN dae later het hy weer by De la Rey se kommando aangesluit. Die aand het een van sy medeburgers ’n eksemplaar van ’n Engelse koerant na hom gebring.

“Dit lyk my De Wet maak die Britte nou mal, Dolf,” sê hy. “Lees hier.”

Rudolf se oog val op die vernaamste berig op die bladsy: Bokant die berig is 'n afbeelding van ’n vlammende wa en daaronder lees hy die woorde:

“De Wet was onlangs weer vasgekeer... soos gewoonlik. Ons leërmagte was seker dat hulle hom uiteindelik gevang het. Hy het ’n paar man by hom gehad en ons het hom omsingel, met ’n halwe duisend. Maar toe het iets onverklaarbaars gebeur. Uit die rigting waarin die Boere gekom het, het skielik ’n vlammende wa gejaag. Honderde van ons soldate het dit met hul eie oë gesien. Die wa het teen ’n roekelose vaart deur ons linies gery en dit was so omhul deur rook en vuur dat ons niks daarop kon sien nie. Maar toe die wa agter die rante verdwyn, was De Wet skoonveld.”

“Baie van ons soldate is die mening toegedaan dat die Here De Wet met ’n vurige wa uit ons midde vervoer het...”

TWEE dae later het De Wet se kommando hulle aan die wal van die Wilgerivier bevind. Agter hulle het die Engelse ’n ringmuur van soldate saamgetrek. Dit was duidelik dat hulle hierdie keer “kleingeld” van De Wet wil maak. Hul spioene moes hulle in kennis gestel het dat die held van die Vrystaatse vlaktes nie deur hierdie rivier sou kon dring nie, want dit was in volle vloed van die swaar na-somerreëns.

Hoe hulle daarin geslaag het om De Wet se kommando hier aan die walle van die rivier vas te keer, kon nie afgelei word uit die verkennersverslae wat hom die afgelope dae bereik het nie. Dit moes ’n wye omvleuelende beweging gewees het, want De Wet se kommando het keer op keer die diepte van die Engelse leër op verskillende plekke getoets en telkens het hulle uitgevind dat hulle van alle kante omring is en dat die enigste hoop is om op die Wilgerivier terug te val.

Die kommando het aan die oewer van die rivier afgeklim en ’n oomblik so gestaan en kyk na die vuilswart water wat hoog tussen die borne deur voor hulle verbyvloei: Hulle kon sien dat die oewer verraderlik diep is. Die breedte van die stroom was goed ’n paar honderd voet.

“Wat staan ons te doen, Generaal?” vra ’n offisier aan De Wet.

“Deurswem.”

Die offisier fluit saggies.

“Dit is onmoontlik, Generaal, die helfte van die manne kan nie swem nie.”

Rudolf stem swygend saam met die offisier. Hy self is ’n goeie swemmer, maar dit sou moed verg vir hom om hom in daardie troebel watervloed te begewe.

De Wet dink ’n oomblik na.

“Kry vry willigers, Steyn. Die beste swemmers wat ons het.”

Rudolf bied dadelik sy dienste aan.

“Laat hulle eers hul eie perde oorswem en daarna die ander burgers kom haal. Die manne wat nie goed kan swem nie, moet maar op die perde se rue bly. Laat die swemmers elkeen soveel manne oomeem as wat hulle kan.”

Vyf man het ingewillig om oor en weer te swem en hul makkers deur die rivier te neem. Maar daar was vyftig man in die kommando, dus sou dit beteken dat elke swemmer tien burgers moet oorneem.

Rudolf en 'n jong penkop was die eerste twee wat elkeen een burger deur die watervloed geneem. het. Rudolf het vlak langs die perd geswem, sy een hand styf om die stang geklem. Die stroom het swaar teen hom aangedruk en hy het ver ondertoe die wal oorkant geraak; toe hy oorkant aanland, het die jong burger sy eerste ruiter en perd reeds veilig oorkant aan wal gesit. Die ander swemmers het ook nou die stroom gevat; dit was langsame werk, want dit het goed twintig minute geduur om oor te gaan en terug te kom.

De Wet se opdrag was dat die swemmers hul kragte moet spaar as hulle terugkeer.

“Moenie bang wees om ver af te dryf nie, maar probeer om uitgerus te wees as julle duskant kom.”

Dit was goeie advies, maar toe Rudolf die sesde keer oorswem, het sy kragte hom begin begewe. Daar was nog twaalf burgers saam met die Generaal aan die duskant van die rivier.

“Hoe lyk dit of jy kapot is, Naude?”

Rudolf haal swaar asem.

“My fut is uit, Generaal,” se hy moeisaam.

“Ons kan nie te lank talm nie,” sê De Wet, “rus’n bietjie as jy moet, maar onthou: Die vyand is op ons hakke.”

Rudolf het op sy tande gebyt en nog een keer deurgeswem en veilig teruggekom. Teen dié tyd was al die swemmers op een na uitgesak. Veertig burgers was veilig oorkant die rivier, maar daar was nog tien wat oorgeneem moes word.

“En nou, Generaal?”

“Is julle almal pootuit? Fris jong Boere soos julle?”

“Ek is nog lank nie klaar nie, Generaal,” sê die jong penkop wat eerste saam met Rudolf deurgeswem het, “ek sal hulle oomeem.”

“Mm. ’n Pure man,” sê die Generaal goedkeurend.

Die vierde keer toe die burger terugkom, het Rudolf aangebied om een burger oor te neem.

“Kom saam,” se die baasswemmer, “dan bly daar nog net ses om oor te swem.”

Maar Rudolf was so tarn dat hy nouliks die oorkantse wal kon haal; hy het byna vierhonderd tree ver met die stroom afgedryf voordat sy voete oorkant grond geraak het. Dit het meer as ’n halfuur geduur voordat hy terug was. Hy het teen die wal uitgekruip, met sy laaste krag en so bly lê in die donker naby generaal De Wet. Hy was so moeg dat hy nouliks kon antwoord op die Generaal se vraag: “Hou jy nog, Naudé?”

Toe die jong burger terugkom om die derde laaste ruiter met sy perd oor te neem, was dit duidelik dat sy kragte horn begin begewe. Rudolf kon hoor aan sy harde asemhaling dat hy doodmoeg is.

“Moet een van die ander nie inspring nie, Generaal?” vra hy.

“Nie een van hulle sal die oorkant haal nie,” is die antwoord.

“Ek sal hulle oorkry, Generaal,” sê die jong burger moedig.

Op een , die laaste burger en sy perd het so pas die stroom ingegaan.

Langs generaal De Wet staan Rudolf met ingehoue asem en luister: Die geluid kom van agter hulle en dit dra duidelik deur die stil nag om hulle.

“Ek hoor iets, Generaal.”

Die gekraak van droë takke en bosse is nou duidelik hoorbaar. ’n Gespanne stilte heers tussen die Boere op die rivierwal.

“Dis die Engelse,” sê De Wet kalm. “Hulle is weer te laat.”

Rudolf ys: Te laat?

De Wet sou nie oorgaan voordat sy laaste burger veilig is nie: Sou daardie jong penkop hulle betyds kan bereik?

’ n Oomblik later hoor hy hoedat die water digby hulle roer. Die jong swemmer kom hygend die wal uit.

“Generaal,” sê hy, “ek kan nie meer nie.”

“Die Engelse is hier,ou seun,” sê die Generaal, “daar is nog net een ruiter.”

“Ek sal ’n rukkie asemskep en hom dadelik oorbring, Generaal.”

Stilswyend het die orige burgers hul perde bestyg en saam met die Generaal die rivier deurgegaan. Oorkant het hulle gestaan en wag. Agter hulle, tussen die digte oewerbome, het die volmaan nou helder uitgestyg; hulle kon skielik die troebel riviervloed duidelik voor hulle sien. Silwerblink het die maanlig daaroor gelê en in die kabbelinge het dit keer op keer gebreek in ’n wisselende spel van lig en skaduwee.

Ongeveer vyf minute het hulle so gestaan en wag, hul oë stip op die oorkantse wal gerig.

“Daar kom hy,” sê een van die burgers opgewonde. “Ek wonder of hy die wal gaan haal?”

Rudolf kan duidelik sien hoedat die ruiter en perd die stroom binnegaan. Net die dier se kop is sigbaar bokant die malende stroom; hy sien hoedat die krag van die water hom ondertoe beur en hoedat die perd telkens weer bokant die stroom uitstyg. Onderkant die perd, sy een hand aan die stang geklem, is die jong swemmer duidelik sigbaar. Die gang is moeisamer, asof die swemmer sy kragte wil spaar om die sterk dryfkrag van die stroom midde-in die hoof te bied.

Nader en nader kom hulle, in die skaduagtige maanlig; die geklots van die water is hoorbaar bo die stil, sagte vloed van die stroom. Nou is hulle in die middel van die stroom. Rudolf merk hoedat die swemmer meegee en hoedat die water, asof die stil, verraderlike rivier skielik ’n houvas op hulle gekry het, ruiter, perd en swemmer meesleep.

Onwillekeurig beweeg die burgers op die oorkantse wal saam langs die rivier af; geeneen sê ’n woord nie. Dit is of die stryd wat hom daar voor hul oë afspeel, hulle met spraaklose bewondering vervul... almal se gedagtes kring om die een vraag: “Sal hy die wal haal... ?”

Hulle is nou in die middel van die stroom, die perd se geproes is duidelik hoorbaar. Nou slaan die swemmer sy een vry arm hoog bokant die water uit en met kragtige hale kom hy nader wal toe. Geen tien tree van hulle af nie, swem die perd skielik van hom af weg en peil op die wal af. En toe gebeur dit voor hulle oë, in ’n oogwenk. Met ’n gesmoorde kreet sink die jong swemmer weg in die troebel diepte van die stroom; net sy hand is 'n oomblik sigbaar, krampagtig bokant die water en dan sluit die stilte oor die rivier...

Die perd kom nou met luide geproes aan hul voete teen die wal uit. Maar niemand dink aan die rydier wat veilig is nie: Hul oë is vasgenael op die spieëlgladde water wat skielik kolk, suig en dan weer toevou om geruisloos voor hulle in die nag weg te vloei.

De Wet haal sy hoed af en bly so staan, stil, asof hy hulde bring aan die nagedagtenis van ’n onbekende held...

Vervolg...

Opsoek na inligting?

  • BYBEL 1933/53-druk nou gratis

    Gelofteland is dankbaar om aan al ons lesers die 1933/53-uitgawe van die Bybel gratis te voorsien. Al wat u hoef te doen is om 'n e-pos na

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    te stuur met die versoek om die Bybel te ontvang, en ons sal dit aan u stuur.

     

    _____________________

     

     Laserskywe in stelle van 10 te koop

    VRYHEIDSBEDIENING

    Ds. Andre van den Berg werk sedert November 1990 weekliks met volksgenote in die gevangenis in Pretoria-Sentraal. Hy bied ʼn reeks laserskywe teen R200 (posgeld uitgesluit) per stel van 10 aan. Die opbrengs van hierdie verkope gaan vir Gevangenisbediening.

    Dit handel oor aktuele onderwerpe soos:

    1. Die lewe hiernamaals.
    2. Word verantwoordelik oud.
    3. Die pad na die ewigheid.
    4. Bied beproewing die hoof.
    5. Raad vir tieners.
    6. Gelowige kinderopvoeding.
    7. Oorwin depressie.
    8. Kikker jou huwelik op .
    9. Alle mense is nie gelyk nie.
    10. Homoseksualisme - ʼn gruwel vir God.

    Bestel by:

    E-pos: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    Sel: 074 967 5187

    Bankbesonderhede:

    ABSA

    VRYHEIDSBEDIENING

    9062088855

    _______________

     

    Skryf in vir die gratis e-blad OORSIG EN REPLIEK

    'n Blad wat dmv verduidelikende agtergrond by die kern van ons volk se
    stryd uitkom.

    Kontak die redakteur by

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    Lees ons gereelde uittreksels daaruit hier op Gelofteland by OORSIG EN REPLIEK

    __________
     
    DIE HISTORIESE KOMPAS
    _________ 
     
    BOEKRESENSIE:

    Die Legkaart van ons Lewe – ‘n Boodskap van Hoop

    Lees meer oor dié getuienis by:

    DIE LEGKAART VAN ONS LEWE

    __________

    BOEKRESENSIE:

    DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK – Christen-Teokratiese Separatisme

    Suid-Afrika verkeer tans in 'n kommerwekkende toestand omdat mense se kennis oor die Bybel en die Staat so verwater het dat land en volk as gevolg hiervan ten gronde gaan.

    Hierdie boek uit die pen van ds AE van den Berg, het in gedrukte vorm verskyn.  Dit bring helder perspektief oor rasseverskille en natuurlike skeiding wat sal lei tot die herstel van Suid-Afrika. Die land het 'n dringende behoefte wat landsburgers van geestelike denke sal laat verander en van onregte en gewaande vryheid sal bevry.

    Sinvolle besluite in die lig van God se Woord, en onophoudelik gebed dat bevryding spoedig verwesenlik word, is noodsaaklik. Politiek is erns en harde werk wat wet en orde handhaaf en durf nie in eerlose hande gelaat te word nie. God is 'n God van orde, en mense word aangemoedig om die koninkryk van God eerste te stel.

    U kan hierdie boek bestel by ds A E van den Berg

    Tel: 074 967 5187  of by

    vryheidsbediening

    @gmail.com

    Prys: R50-00

     
  •                                                                        ______________

     

    BOEKE TE KOOP

    ‘n Nuwe Trek: Terug na u God

    Die Oerteks van die lotsbepalende 1838-Gelofte

    J L du Toit & dr L du Toit

    'n Bundel oor die bronne vir die 1838-Gelofte is nou ook by Exclusive Books in Suid-Afrika beskikbaar: 

    Alhoewel die nuutste prys op Exclusive Books se netwerf tans R191 per boek is kan u dit vir so min as R60 per boek direk by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.. bestel.

    Lees meer by: 'N NUWE TREK: TERUG NA GOD

    _______________

    ONDERSTEUN U VOLKSGENOTE IN DIE GEVANGENIS

    Wil u meer oor aktuele onderwerpe lees of vir iemand 'n besondere geskenk gee? Goeie voornemens;  Dink reg, leef reg; Moenie bekommer nie; Leuens; Woestyngedagtes, en Niks ontbreek nie, is van die aktuele onderwerpe wat in twee besondere preekbundels behandel word. Vir slegs R60 elk of R100 vir beide kan u 'n waardevolle bydrae maak vir u volksgenote in die gevangenis. Ondersteun hulle asseblief en bestel nou hierdie preekbundels by ds Andrè van den Berg by

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

                                                                           ________________

     

    GOD PRAAT MET DIE BOEREVOLK – DEEL 2

    Hierdie bundel, net soos deel I, is saamgestel uit twintig van die beste boodskappe wat sterk op ons volkslewe gerig is. Die inhoud bestaan uit aktuele onderwerpe wat die daaglikse lewe van elke Christen raak. Die koste beloop slegs R60 (posgeld uitgesluit) en is 'n uitstekende geskenk vir die regte persoon. Die inkomste gaan in geheel aan gevangenisdiens vir ons volksgenote.
    Plaas u bestelling per e-pos by ds Andrè van den Berg by

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    of skakel hom by 074 967 5187

    ________________

    Bestel 'n uitstekende digbundel deur BOERIUS
    Volledige besonderhede hier:

    Gietoffers van my Siel


    _________________

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
  •  

    DIE CHARISMATIESE GEVAAR
    Mense word so maklik deur dwaalleringe mislei. In hierdie boek word talle kwelvrae beantwoord.

VERGADERING-

PROSEDURES

(GRATIS)

Daar is min mense wat nog die waarde van 'n ordelike byeenkoms bedink en kan uitvoer. Sonder hierdie kennis en orde en gedissiplineerde toepassing daarvan sal 'n byeenkoms in wanorde verval en die doel van die vergadering nie bereik word nie. Die boekie kom handig te pas in alle omstandighede waar 'n vergadering van persone plaasvind, ongeag die sakelys of doel van die byeenkoms.

Klik hier om die boekie wat u op hoogte kan bring van korrekte vergaderingprosedures, gratis af te laai. Indien u van Windows 10 gebruik maak sal die inhoud outomaties onder die lêer "Downloads" geberg word en kan dit daar gehaal en gebêre word waar ookal dit maklik gevind kan word.

 

GRATIS E-BOEKE EN VERSBUNDELS OM AF TE LAAI:

 

As God volke aan hul eie lot oorlaat

Die waarheid oor ons volk en die Nuwe SA

Volksverraad geskryf deur adv. P.J. Pretorius

'n Oorblyfsel... deur genade alleen

Christen-Teokratiese Separatisme

Verse van Verset

Vreedsame Naasbestaan = Afsonderlike Ontwikkeling

No Ships in the Harbour

Ons heilsverhaal in die Ou Testament

Daniel

Evolusie - kan ek dit glo?

Petrus, die rots

Romeo en Juliet

Ester

Apokriewe - By modderpoele of suiwer fonteine?

Midsomernagdroom - Shakespeare in Afrikaans

Die Openbaring van Henog

Die Derde Tempel

Macbeth - Shakespeare in Afrikaans

Met ryperd en mauser

Goue strate het nie stof nie

Derdepoort

Die Laaste Pous

Josef

Rut

Drie Eeue van Onreg

Ons Geskiedenis

Engelse skandvlekke

Voortrekker-Pioniers in Oos-Transvaal

_______________

 

 

1919: VRYHEIDSDEPUTASIE KEER TERUG

1800: GRAAFF- REINETSE REBELLE GEVONNIS

1917: OOM JAPIE HELPMEKAAR

SKERP SLAGSPREUKE

(Lees die reeks by SKERP SLAGSPREUKE)

                                                                         __________________

 

AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES

(Lees by AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES - die hele reeks

                                                                         __________________                                                                  

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Besoekers aanlyn

Ons het 1091 gaste aanlyn