Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Laat ons nooit vergeet dat alles en almal aan God se mag onderworpe is nie. Hy gebruik selfs booswigte as instrumente in sy hand - ’n karwats om stout kinders ’n loesing mee te gee. God het by geleentheid selfs ’n bose gees gebruik om die afvallige koning Saul te teister. Weet dat God alle mag ook oor Suid-Afrika het.
DIE EERSTE VRYHEIDS- OORLOG (14)
Lees reeks by Die Eerste Vryheidsloorlog
Gladstone bring hoop vir onafhanklikheid
In 1880 sou ’n algemene verkiesing in Brittanje plaasvind. Die Liberale Party wat in 1874 deur die Konserwatiewe Party onder Disraeli verslaan is, het alles in sy vermoë gedoen om weer die bewind oor te neem. In hierdie poging het die Liberale leiers met sekere politieke sette vorendag gekom waarin Transvaal ’n besondere plek ingeneem het. Dit was veral die leier van die Liberale Party, W E Gladstone, wat die aandag op hom gevestig het met sy verdoeming van die Transvaalse anneksasie.
Met die herdenking van sy twintigste jaar in die kiesdistrik Midlothian in Skotland het hy ’n deputasie wat hom gaan gelukwens het, te woord gestaan. By hierdie geleentheid het hy sterk te velde getrek teen die “onregverdige” anneksasie van Transvaal. Gladstone het opgemerk: “If Cyprus and the Transvaal were as valuable as they are valueless, I would still repudiate them because they are obtained by means dishonourable to the character of the country.” Soos ’n profeet uit die Ou Testament het Gladstone na vore getree en ’n beroep op die Britse volk gedoen om geregtigheid te laat geskied.
Die een-en-sewentigjarige Gladstone “had waged a political campaign in Midlothian that was in reality ‘a crusade’ against the policies and conduct of the last Disraeli administration,” aldus D M Schreuder. Ook die Markies van Hartington het in Februarie 1880 verklaar: “The annexation of the Transvaal was a measure adopted and sanctioned by the House under wrong impressions and under incorrect information.”
Hierdie verwikkelinge in die Britse politiek het baie gou ’n invloed op die Transvaalse vryheidsbeweging gehad. Vanuit Edinburg in Skotland het ’n Afrikaanse student die Transvalers ingelig: “... het liberale Gouvernment of liever de oppositie, begint zich den toestand van zaken in de Transvaal sterk aan te trekken. Gladstone, John Bright en andere prominente liberalen hebben reeds hunne afkeuring van de Transvaalsche annexatie sterk uitgesproken. Het is daarom van het hoogste belang dat de volksleiders volhouden met hun protest.”
Gladstone se uitsprake op Midlothian is in Transvaal verwelkom. Die Transvaalse Boere het die mening gehuldig dat hulle onafhanklikheid met Gladstone se oorname herstel sou word. Op 22 Januarie het ’n aantal burgers die Volkskomiteelede per omsendbrief versoek om op Dinsdag, 27 Januarie 1880, op die plaas Watervalschrivier in die distrik Heidelberg te vergader. Hierdie publieke vergadering wat eers op 12 Februarie gehou is, is deur sowat 180 man bygewoon, waaronder S J P Kruger en P J Joubert. ’n Besluit wat tydens die vergadering geneem is, het ’n ingrypende invloed op die versetbeweging van die Transvalers gehad. Aan die Volkskomitee is opgedra om op 8 Maart 1880 op Rietvlei, beter bekend as Wonderfontein, te vergader “om nog eens middelen te beramen om den weg van vriendskap in te slanen.”
Vier dae lank, vanaf 8 Maart tot 11 Maart 1880, was die Volkskomitee op Jan Prinsloo se plaas, Wonderfontein, byeen. Buiten aangeleenthede soos M W Pretorius se arrestasie en die Boere-Handelsvereniging wat bespreek is, is twee belangrike besluite geneem.
Die eerste is dat die Volkskomitee weer eens besluit het om te probeer om hulle onafhanklikheid op 'n vriendskaplike wyse te verkry.
Op Woensdag 10 Maart is ’n tweede besluit geneem waarvolgens P J Joubert en S J P Kruger na die Kaapkolonie afgevaardig word “om persoonlijk de Landszaken voor te leggen aan het Parlement van de Kaapkolonie en die te bespreken met die leden van het Parlement van de Kaapkolonie en andere personen, voor de zitting van het Parlement plaats vindt.”
Die stuur van ’n Transvaalse deputasie na die Kaapkolonie moet gesien word teen die breë agtergrond van sir Michael Hicks Beach se konfederasie-wetsontwerp wat vroeg in 1880 aan die Kaapse parlement gestuur is vir goedkeuring. Hierdie skema wat tydens die Mei-sitting bespreek sou word, kon by die aanvaarding daarvan die Transvalers in hulle stryd om onafhanklikheid nadelig tref. Waar die anneksasie van Transvaal die sleutelskuif was vir ’n federasie van Suid-Afrikaanse state, sou Brittanje in so ’n geval nie daarvan afsien nie.
Indien die Derde Deputasie daarin kon slaag om hierdie wetsontwerp in die Kaapse parlement te verongeluk, sou dit vir enige Britse regering duidelik wees dat ’n gedwonge federasie geen sukses kan inhou nie. Met die federasie van Suid-Afrikaanse state van die baan, het die Transvalers gehoop dat Brittanje van die anneksasie sou afsien.
Op 5 Mei 1880, twee dae voordat die parlementsitting sou begin, het die Deputasie in Kaapstad aangekom. Tydens verskeie suksesvolle onderhoude met lede van die Kaapse Parlement het die bande van bloed sterk na vore gekom. Dit was ook gou duidelik dat hulle besoek nie doelloos was nie. Selfs Frere wat geglo het dat hy die wetsontwerp met ’n meerderheid van vyf stemme deurgevoer sal kry, is gou ontnugter toe selfs Philip Mijburgh, een van sy lojaalste ondersteuners, hom teen die uitgespreek het.
Intussen was dit ’n verheugde Transvaalse volk wat van die Liberale Party se bewindsoorname op 23 April 1880 verneem het. Het die leier van die nuwe regering dan nie alreeds by verskeie geleenthede hulle hul onafhanklikheid belowe nie? Vir iedereen was dit duidelik dat dit net ’n kwessie van tyd sou wees voordat die ou Zuid-Afrikaansche Republiek weer sy verskyning op die landkaart sou maak. Op 10 Mei 1880 het Kruger en Joubert namens die Volkskomitee Gladstone in ’n skrywe herinner aan sy uitlatings op Midlothian: “Wij, de vertegenwoordigers van voornoemd Comitee, beroepen ons op u, opdat er rechtvaardigheid geschiede aan ons tend ... Wij vertrouwen dat gij, na zorgvuldige overweging dier document en, vriiheid zult gevoelen om de annexatie van ons arm land op te heffen .. .” Die feit dat Kruger en Joubert, wat tydens die skrywe van die brief in Kaapstad was, die vrymoedigheid gehad het om die versoek namens die Volkskomitee te rig, is ’n aanduiding van die algemeen aanvaarde gesagsposisie wat die twee leiers in die Volkskomitee ingeneem het. In Brittanje het sake egter ’n ander wending geneem. Net soos die konserwatiewe regering sou die Liberale regering sy beleid jeens Transvaal formuleer teen die breë agtergrond van ’n verenigde Suid-Afrika. In hierdie beleidsbepaling sou die Liberale Party hom deurgaans laat lei deur rigting wat die Britse amptenare in Suid-Afrika verstrek het. Wolseley se verslag wat teen die einde van 1879 aan die Koloniale Kantoor gestuur is, is 'n voorbeeld van subjektiewe inligting wat sy invloed deeglik laat geld het:
"The Boers are essentially the most ignorant of people, easily led by the designing men who appeal to their instinctive dislike to English rule."
In Maart 1880 het Wolseley verder gegaan en aan die Britse Regering berig dat die Boere heeltemal tevrede is en dat die versetbeweging aan die kwyn is. Frere se telegram van 3 Mei sou die nodige uitwerking onder die lede van die Britse kabinet hê: “The result of abandonment would be fatal to confederation, and would possibly entail a Civil War in Transvaal. This may be prevented by an early assurance that the annexation is irrevocable ..."
Hierdie verslae uit Brits-Suid-Afrika het invloed uitgeoefen op die Kabinet se samesprekings. Op 12 Mei 1880 het Gladstone die volgende nota gemaak: “South Africa. To promote Confederation - Transvaal – retain souvereingnity grant free institutions. Telegram agreed on.”
Op 14 Mei is 'n telegram van lord Kimberley, die nuwe Minister van Kolonies, aan Brittanje gestuur en op 20 Mei is die besluit aan die publiek in Engeland bekend maak
Joubert en Kruger se brief het vir Gladstone soos ’n nagmerrie gekom.
Hy het dit aan Kimberley oorhandig “...with a pencilled note to the effect that he was at a loss as to how to answer it.” Eers op 15 Junie onderteken Goldstone die antwoordbrief wat Kimberley op 6 Junie opgestel het. Aan Kruger en Joubert word verduidelik: “Looking at all the circumstances, both of the Transvaal and the rest of South Africa, and to the necessity of preventing a renewal of disorders which might lead to disastrous consequences, not only to the Transvaal but to the whole of South Africa, our judgement is that the Queen cannot be advised to relinquish her sovereignty over the Transvaal.. .”
Intussen het Kruger en Joubert die vrugte van hulle sending na die Kaapkolonie begin pluk. Op 22 Junie het Sir Gordon Sprigg, die Kaapse Eerste Minister, drie resolusies ten gunste van federasie ter tafel gelê. Dit is heftig teengestaan deur veral lede soos Merriman, Hofmeyr en Sauerman. Vier dae later was Sprigg genoodsaak om die voorstel terug te trek om ’n algehele neerlaag te voorkom.
Die Transvalers was verheug oor die verwikkelinge. Die omvang van die Kaapse simpatie met die Transvaalse saak het ook sterk na vore gekom tydens die Deputasie se besoeke aan Paarl, Stellenbosch, Worcester en Montagu. Met die Deputasie se terugkeer na Transvaal is verskeie adresse tot hulle gerig, onder meer van die Paarl, Worcester, Clanwilliam, Graaff-Reinet, Dal Josafat en Beaufort-Wes. In die adres van die Paarl, wat deur 111 persone onderteken is, is nie geskroom om die ware gesindheid te toon nie: “Vaarwel, en weest verzekerd dat uw bezoek in deze kolonie lank in herinnering zal blyven, en dat wij niet ophouden zullen bidden tot den Heer, den Regvaardigen Regter en Almachtigen Heerscher, dat u regt geschiede.”
Die nuus dat die Transvaalse onafhanklikheid nie herstel kan word nie, het tot die laaste en finale fase in die versetbeweging gelei. Jorissen het in dié tyd besonder sterk standpunt begin inneem teen die voortsetting van lydelike verset en het die toestand soos volg opgesom: ...en toen wij in ’t laatst van Julie 1880 terugkeerden, wisten wij wat eerlang zou geschieden.”
Met die Deputasie se aankoms in Transvaal het Kruger op Potchefstroom aan sowat 150 tot 200 perderuiters kortliks verslag gedoen en daarop gewys dat die plan was “nu zoo spoedig mogelijk eene vergadering van het Sub-Comite te beleggen en aan hetzelve rapport te doen, waarop dan het Sub-Comite bepalen kon wanneer er eene vergadering van belangstellenden gehouden zou worden.” Kruger het daarop die publiek versoek “om in den tusschentijd zich rustig te houden en geene daden van geweld te plegen .. .”
Die Subkomitee het op Dinsdag 14 September 1880 op Andries du Preez se plaas Kliprivier in die distrik Heidelberg vergader. Tydens die verrigtinge wat die Woensdagoggend begin het, het die Deputasie oor sy werksaamhede verslag gedoen. Dit is met dankbaarheid aanvaar, terwyl ’n skrywe van dank aan die Kaapse Parlement vir hulle daadwerklike bystand gerig is. Spesiale dank is ook tydens die vergadering aan M W Pretorius en W E Bok betuig vir hulle opofferings en die ontberings wat hulle in die tronk moes verduur.
In antwoord op Gladstone se brief aan Kruger en Joubert het die vergadering in ’n skrywe aan Gladstone daarop gewys dat daar ’n groot misverstand tussen die volk van Transvaal en die Britse regering bestaan. Ten slotte is daar besluit om die volksvergadering wat op 6 April 1880 sou plaasvind en uitgestel is, te belê vir 8 Januarie 1881 op die plaas Paardekraal van M Pretorius sowat 100 km noord van Potchefstroom.
Volgens J F van Oordt en Paul Kruger is daar tydens die vergadering besluit om in die geheim te begin voorberei vir ’n oorlog deur die opberging van wapens en ammunisie. In die notule van die vergadering verskyn daar nie so ’n besluit nie, vermoedelik om Britse teenoptrede wat op die bekendmaking daarvan kon volg, te voorkom.
Joubert het verduidelik dat daar na die Gladstone-episode drie keuses oorgebly het: verhuising, onderwerping of “vry te vechten.” Ook Kruger was dit eens dat die tyd van verslae en versoekskrifte iets van die verlede was. Soos reeds gemeld, het dr Jorissen sterk standpunt ingeneem teen die voortsetting van lydelike verset. In ’n lang en beredeneerde brief aan M W Vorster, onder datum 6 November, het Jorissen sy standpunt uiteengesit. Hy verklaar dat die Deputasie na die Kaap baie suksesvol was, maar geen voorwaartse stap was om hul onafhanklikheid te verkry nie. Dit was slegs negatiewe wins en “Onze wagen staat nog juist zoo, op dezelfde plek waar die een jaar gelede stond.” Volgens Jorissen moet die Volkskomitee die wa na vore beweeg en indien hy nie daarvoor kans sien nie, moet ’n ander komitee verkies word. Transvaal se grootste vyand is nie die wapens van Brittanje nie, maar wel “de politiek van Iijdelijk verzet,” en daarvan is die konstitusionele geskiedenis van Natal voldoende bewys. Treffend het Jorissen daarop gewys: “En als er werkelijk geen ander weg is, dan protesteeren en weder om protesteeren, als het volk onwillig is of onmachtig om iets anders te doen, is het dan niet eerlijke plicht om aan het volk te zeggen, onderwerp u maar liever?” Hieruit blyk dit dat Jorissen gevoel het dat die tyd vir daadwerklike optrede aangebreek het. Die bepaling van ’n volksvergadering om oor verdere optredes te besluit, is ook deur Jorissen verdoem. Die volk het mos lankal sy uitdruklike wens te kenne gegee. Daar was dus geen volksvergadering weer nodig om agter te kom wat lankal so duidelik soos daglig was nie.
Die gevoel het stadigaan begin posvat dat die Volkskomitee se aanhoudende beroep op ’n vreedsame oplossing nie meer aanvaarbaar is nie. Dit blyk uit ’n brief van ’n vrou uit Zeerust teen die einde van 1880: “Ik sckryf deze regelen uit de bitterheid mijner ziel en hart om dat ik nu nog dagelijks ... hooren dat die bijeenkomst weder druipstert huis toe zal keeren zonder iets uit te rigten.”
Transvaalse Afrikanernasionalisme as dryfkrag tot weerstand: vervolg...