Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Slegte honde blaf graag vir ‘n dooie leeu. Eerlose volksleiers kan dit wat eerbare voorgangers oor baie jare opgebou het, in ‘n oogwink vernietig en voorgee dat geregtigheid oor sg. geskiedkundige onreg geseëvier het. Bose volksleiers skuil dikwels agter die masker van gewaande onreg en mislei hul volksgenote met leuens. ‘n Jakkals sal altyd dom ganse vind om na sy gepreek te luister.
DIE EERSTE VRYHEIDS- OORLOG (5)
Lees reeks by Die Eerste Vryheidsloorlog
DIE VOLKSKOMITEE: 'N STAAT BINNE 'N STAAT (2)
Die totstandkoming van die Pretoriase kommissie het onmiddellike reaksie uitgelok. The Natal Witness verklaar: “There is a method in the madness even of Boers.” Die sukses en die invloed van die kommissie was egter nie daardeur gewaarborg nie. Dit sou afhang van die verdere leiding en inisiatief wat sou voortspruit uit die instelling van die kommissie. Dit bring ons by een van die belangrikste gevolge van die anneksasie: dat daar sekere manne na vore getree het om leiding in Transvaal te neem. Paul Kruger, ’n kind van die Groot Trek, hoewel ongeleerd, sou na vore tree as ’n leier van formaat en onder sy bekwame leiding, en bygestaan deur persone soos P J Joubert en M W Pretorius, sou die Pretoriase kommissie ontplooi tot die Volkskomitee.
Kruger het besef dat een enkele stap in die verkeerde rigting Transvaal in chaos sou dompel. Dit was sy heldere insig en oordeel wat die uitvoering en verdere uitkristallisering van M W Vorster se voorstel verseker het. Op 12 Januarie 1878 het Kruger aan P J Joubert geskryf dat hy die 28ste Januarie naby Potchefstroom verslag moet doen van die Deputasie se verrigtinge. Die ernstige toestand in die land en die noodsaaklikheid van doelgerigte en georganiseerde leiding blyk duidelik uit die volgende woorde in die brief: “Ik verzoek u ten vriendelijkste om over te komen naar de bijeenkomste om my te helpen, opdat onze zaken geen verkeerde loop mag nemen” en “ik zeg nogmaals: Kom over en help my, al moet u ook dag en nacht rijden.”
Die vergadering op die plaas Naauwpoort in die distrik Potchefstroom het dieselfde vorm aangeneem as dié in Pretoria. Net soos in die geval met die Pretoria-byeenkoms het die tussen 600 en 700 burgers hulle sterk teen die Deputasie se verslag en lord Carnarvon se houding uitgespreek. Ook op hierdie vergadering is ’n kommissie verkies “om voor de onafhankelijkheid van het volk te werken zoover hun pligt hun in deze zaak roept.”
Tot lede van hierdie kommissie is verkies: A H Potgieter, J DL Botha, D J Coetzee, H S Wolfaart, P F Ernst, H R Lemmer, J H Visser, M W Pretorius, L C T Klopper, F G A Wolmarans, B J Liebenberg, N M S Prinsloo, A J Erasmus, R A Buitendag en C J Kampher.
Om 16h00 het die Potchefstroomse kommissie, verteenwoordigend van die distrikte Potchefstroom, Rustenburg en Marico, met M W Pretorius as voorsitter sy werksaamhede begin. By hierdie vergadering het P A Venter, T P Pretorius en F A Botha die Pretoriase kommissie verteenwoordig. Dieselfde besluite as dié in Pretoria is hier geneem, met een wysiging. Die versoekskrifte sou nie meer aan Kruger gestuur word nie, maar moes by ’n gesamentlike vergadering van die Pretoriase en Potchefstroomse kommissies ingelewer word. Aan al die kommissielede is die noodsaaklikheid van ’n betroubare volkstemming voorgehou. Geen persoon jonger as sestien jaar sou toegelaat word om te teken nie, asook geen persoon wat op 11 April 1877 nie ’n inwoner van die land was nie. Na verdere bespreking het die vergadering tot die volgende dag verdaag.
Tydens die Dinsdagsitting het die kommissie besluit om nie gehoor te gee aan die volk se versoek om die Volksraad op te roep nie. Die kommissielede moes poog om deur middel van kollekte genoeg geld in te samel om die drukkoste van die versoekskrifte en die besoldiging van W E Bok, die sekretaris van beide kommissies, te dek.
Nadat aan M W Pretorius opgedra is om toe te sien dat handtekeninge ook opgeneem word in die wyke wat nie in die kommissie verteenwoordig was nie, het die vergadering verdaag.
Aangesien die Pretoriase en Potchefstroomse kommissies niks anders was as die Volkskomitee in sy geboortestadium nie, soos later aangetoon sal word, kan verklaar word dat die eerste taak van die Volkskomitee die hou van ’n volkstemming was. Die kwessie van ’n volkstemming het wye reaksie uitgelok. ’n Korrespondent in die Kaaplandse De Zuid-Afrikaan het sy volle steun aan die idee gegee. Die Vrystaatse The Friend of the Free State het egter nie geskroom om sy bedenkinge oor die betroubaarheid daarvan uit te spreek nie.
Ook die Shepstone-kamp het agterna van hom laat hoor met Rider Haggard se verklaring dat daar name soos Jan Verneuker onder die handtekeninge verskyn, asook onder meer sy eie naam in ’n verdraaide vorm.
Die onjuistheid van laasgenoemde aantygings blyk duidelik uit die naamlyste van diegene wat die petisie onderteken het.
Die wyse waarop die Volkskomitee te werk gegaan het met die volkstemming, word omskryf in ’n brief van S T Prinsloo aan De Volksstem.
Tydens die kommissies se sittings is aan die verskillende lede sekere distrikte of wyke toegeken waarin hulle die volkstemming moes behartig. Dit is op tweërlei wyse gedoen. Eerstens is van die versoekskrifte aan betroubare persone gegee wat dit van persoon tot persoon moes neem, die inhoud voorlees en verneem of die toehoorder die versoekskrif wil onderteken of nie. Die tweede metode was meer effektief: ’n Vergadering is gehou, die versoekskrif is aan die publiek voorgelees, en daarna het die publiek geleentheid gekry om dit te onderteken.
Om te verseker dat al die versoekskrifte hulle bestemming op die regte datum bereik, het M W Vorster ’n kennisgewing met so ’n versoek asook die nodige inligting in De Volksstem laat plaas. Die Volkskomitee het sy eerste opdrag op ’n suksesvolle wyse uitgevoer, en met enkele uitsonderings is al die versoekskrifte op Donderdag, 4 April, ingelewer.
Kenmerkend van die versetbeweging was dat daar van die begin af gepoog is om nie met die Britse regering in botsing te kom nie. Paul Kruger, wat in sy hoedanigheid as vroeëre vise-president spontaan deur die Boere as hulle leier aanvaar is, het na vore begin tree as die sterk man in die versetbeweging, en het wat betref die aard en vorm van die verset, leiding begin gee.
In twee skrywes, op 11 Junie en 4 Maart, het Kruger Shepstone meegedeel dat die Transvalers hulle nie in die anneksasie berus nie. Hy meld dat baie burgers die wapens wou opneem, maar dat hy daarin geslaag het om die volk te oortuig “dat het zijne onafhankelijkheid
op een vredelievende wijze moet trachten te herkrijgen.” Gedurende die week voor die gesamentlike vergadering van die Pretoriase en Potchefstroomse kommissies te Doornfontein het Paul Kruger en die voorsitters van die twee kommissies, M J Viljoen en M W Pretorius, ’n onderhoud met Shepstone gevoer. Hiertydens het die kommissies se beleid van ’n vreedsame oplossing duidelik na vore getree. Die drie Boereleiers het nie net ooreengekom om ’n gewapende opkoms na Doornfontein te verbied nie, maar ook om die teenwoordigheid van enige persoon behalwe kommissielede deur middel van ’n proklamasie te verbied. Hierdie proklamasie is die eerste aanduiding van die kompeterende staatkundige posisie wat die Volkskomitee, nog in ’n wordende stadium, teenoor die Shepstone-regering ingeneem het. De Volksstem kon nie anders as om sy verbasing daaroor uit te spreek nie en vra hoe die drie Boereleiers “aan het recht kwam om zulk een verbod te publiceeren, terwyl er eene andere Regering aan het hoofd van zaken stond?”
Shepstone het in hierdie stadium ’n gebrek aan insig aan die dag gelê. Hy het die totstandkoming van die kommissies bloot gesien as “rebellie” onder die Boere wat deur sterk optrede aan bande gelê kon word. Onbewus daarvan dat die grondoorsaak van die ontevredenheid gesoek moet word in die miskenning van hulle onafhanklikheid, het Shepstone geglo dat Kruger die oorsaak van die agitasie onder die Boere is.
Die werklike stand van sake is egter geopenbaar deur die Boere-reaksie op die Shepstone-regering se pogings om die toestand onder beheer te bring. Op 12 Maart 1878 is Shepstone se sogenaamde “houdt jou smoel proclamatie” uitgevaardig wat die Doornfontein-vergadering ten strengste verbied het.
Dit is opgevolg deur landdros Goetz van Potchefstroom se maatreëls wat die verkoop van ammunisie verbied het, asook ’n skrywe aan die eienaar van die plaas Doornfontein wat hom verbied het om so ’n vergadering daar te laat plaasvind. Die landdros van Pretoria het ook sy deel bygedra deur kommissielid J H Schoeman in ’n skrywe te versoek om nie die Doornfontein-vergadering by te woon nie en dat hy die publiek moes oorreed om nie te gaan nie. Dat daar wel voortgegaan is met die vergadering en veral die opkoms van 1 151 burgers is duidelike bewyse dat die Boere nie die Britse gesag in Transvaal erken het nie. Die verklaring vir die verontagsaming van Kruger, Viljoen en Pretorius se proklamasie dat niemand behalwe kommissielede die vergadering mag by woon nie, is geleë in die kennisgewing wat te laat gepubliseer is, gebrekkige kommunikasie om die inhoud daarvan bekend te maak, asook daadwerklike verset teen die Shepstone-proklamasie.
Die versetbeweging van die Boere was teen April 1878 op ’n georganiseerde grondslag geplaas. Die leiers het die gevaar en probleme daaraan verbonde besef, en 'n gesamentlike vergadering van die twee kommissies is vir 4 April 1878 op Doornfontein gereël. Dit is insiggewend dat, hoewel daar in geen stadium tydens die vergadering of enige latere vergadering van hierdie kommissies besluit is om amptelik te verenig nie, dit wel in die praktyk hier spontaan gebeur het.
Tydens die vergadering van 4 April is daar gepraat van die “Verenigde Commissien van Pretoria en Potchefstroom,” ’n naam wat gou in onbruik sou raak. Die rede is voor-die-hand-liggend. Dit was nie net die Pretoriase en Potchefstroomse distrikte wat daarin verteenwoordig was nie, maar ook die distrikte Marico, Rustenburg, Waterberg en Heidelberg. Tydens die Doornfontein-vergadering het die distrikte Lydenburg, Utrecht, Middelburg en Wakkerstroom ook verteenwoordiging soos later aangetoon sal word. Met die uitsondering van Bloemhof en Soutpansberg het die hele volk teen 4 April 1878 verteenwoordiging gehad in die liggaam of komitee wat vir die vryheid van Transvaal moes werk. In wese was die liggaam niks anders as hulle ou Volksraad wat deur die anneksasie ongedaan gemaak is nie. Die nuwe volksliggaam sou daarom spontaan die naam “Volkskomitee” kry.
Vervolg...