Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die grootste wonder van lyding is NIE om juis daarvan verlos te raak nie maar om God daarin raak te sien en in Hom jou antwoord te vind.
DE WET (7)
Lewenskets van Genl. CR. de Wet
Ben Olivier
Lees reeks by GENERAAL CHRISTIAAN DE WET
Indien genl. Cronje hier by Paardeberg gedwing word om met sy 4 000 burgers oor te gee, sal dit niks minder as ’n ramp vir die Republieke wees nie. Genl. De Wet beskryf later self sy indrukke:
"Welk een toneel vertoonde zich aan ons! Overal rondom het lager stonden de Engelsche kanonnen, en van alle kanten werd het allerverschrikkelijkst gebombardeerd. Van het ongelukkige lager rees er een wolk - een donkerroode stofwolk - waar de granaten op den grond vielen en denzelven opwroetten.
"Wat zouden wij doen?
"Wij besloten Lord Roberts onverwijld aan te vallen waar zijne machten het naast bij ons waren.”
Hy pleeg oorleg met asst.-genl. Philip Botha en hulle besluit om twee punte in die vyand se linie aan te val en te beset. Die eerste is ’n rotskop en die ander die opstal van die plaas Stinkfontein.
Hierdie twee punte lê omtrent 1000 meter van mekaar af en as die Boere die terrein tussenin van die vyand kan skoonveeg, is daar n betreklik wye gang waardeur genl. Cronje kan ontsnap.
So geweldig is De Wet se stormloop, dat hy die vyand wat op die kop is, eenvoudig oorweldig. Ten spyte daarvan dat hul halsoorkop vlug, laat die vyand tog sestig gevangenes agter. Ook die vyandelike stellings op Stinkfontein word verower. De Wet bring nou gou die ligte Maxim-Nordenfeld in posisie en begin op ’n klomp troepe en waens te skiet. Dit skep verdere verwarring onder die vyand.
Terselfdertyd val hoofkmdt. Ferreira die noordelikste punt van die Britse linies aan. Hy het genl. French wat horn uit Kimberley probeer agtervolg het, ontwyk en nou pas met sy burgers by die geveg opgedaag.
Hierdie twee aanvalle verplig Kitchener om soldate en kanonne uit die gevegslinie teen Cronje te onttrek om sodoende De Wet en Ferreira se burgers te beskiet. Die pad is nou nog wyer oop vir Cronje om uit die wurggreep te ontsnap. Ongelukkig is die lug bewolk en is die laer so toe onder die rook- en stofdampe, dat genl. De Wet nie met sy heliograaf aan Cronje kan sein wat die posisie presies is nie. Hy besluit om ’n rapportryer na genl. Cronje te
stuur. As die man veilig deurkom, sal dit ook dien as ekstra bewys dat die pad oop is vir die vasgekeerde burgers. Hy besluit op Barry Richter.
Die twintigjarige burger is onmiddellik gereed om te gaan. Hy spring op sy perd en jaag die vier kilometer na Cronje se laer toe af sonder om ’n skrapie op te doen.
Die halsstarrige ou Generaal is egter nie vatbaar vir De Wet se voorstel nie. Die hele dag deur het hy die oormag van die vyand trotseer en ’n geweldige slagting onder hulle veroorsaak. Waarom moet hy padgee? Laat hulle kom, hy sal hulle wys! Boonop die vrouens, kinders en byna 300 gewondes hier agterlaat om in die hande van die vyand te val? Nee, hy kan dit nie oorweeg nie. Hy sal sy posisies hou en De Wet moet syne hou!
’n Aantal van sy offisiere sien De Wet se standpunt in en besef dat hulle onmiddellik moet probeer deurbreek, maar Cronje dwing hulle tot stilte.
Deur die skemeraand jaag Barry Richter terug na genl. De Wet. De Wet verberg sy teleurstelling, maar besluit om so lank soos hy kan, vas te byt ingeval Cronje oor ’n dag of wat die posisie anders insien.
Daardie nag tref ’n swaar slag die Vrystaters. Hoofkmdt. Ferreira gaan inspekteer sy wagte. Een van hulle het van uitputting aan die slaap geraak. Toe Ferreira hom wakkerskud, gaan die wag se geweer af en die hoofkommandant word noodlottig getref. Toe pres. Steyn hierdie tyding kry, stel hy De Wet onmiddellik as waarnemende hoofkommandant aan.
Dwarsdeur die nag laat De Wet aan die versterking van sy stellings werk. Nie alleen word stewige skanse vir die burgers gebou nie, maar ook ’n goeie stelling vir die Krupp-kanon wat in die na-nag in posisie gesleep word.
Teen dagbreek begin die vyand hierdie posisie geweldig bestook. Toe hulle dink dat hulle die Boere bchoorlik saggemaak het, val hulle met 2 500 soldate aan. De Wet gaan van burger tot burger, praat hulle moed in en inspireer hulle met sy durf en onwrikbare wil. Die gevolg is ’n geveg van korte duur en daarna ’n paar uur se werk vir die vyand se ambulanse. Toe begin De Wet die vyand met die Krupp onder skoot neem en skiet die gaping nog wyer oop.
Die dag is helder en hy sein aanhoudend aan Cronje om uit te kom. Al sy pogings om Cronje te beweeg bly tevergeefs, maar daar is van die vasgekeerde offisiere wat anders dink. Kmdt. Froneman en kmdt. Potgieter jaag ongedeerd met ’n klompie burgers uit die laer en bereik De Wet veilig. Onder hulle is ’n twaalfjarige seun.
Ondertussen stel die owerhede van die twee Republieke alles binne hulle vermoë in werking om versterkings vir genl. De Wet se kommando te kry. Selfs genl. De la Rey word met ’n deel van sy magte uit Kaapland teruggeroep om hulp te kom verleen. As De Wet en Cronje nog so vier-vyf dae kan uithou, sal die versterkings aangroei tot vierduisend of moontlik ’n bietjie meer.
Maar na twee dae word De Wet se posisie onhoudbaar. Genl. French met duisende ruiters dreig om hom te omsingel en saam met Cronje vas te keer. Hy stuur sy twee kanonne uit om die voorpunte van French se mag terug te skiet. Hulle slaag ’n paar uur lank daarin om die kavallerie tee te hou, maar dan moet die kannonniers terugval - hulle ammunisie is uitgeput.
Genl. De Wet het nou geen keuse nie, hy moet sy stellings wat hy teen ’n oormag van tien-teen-een behou het, uiteindelik prysgee.
French is onder die indruk dat De Wet nie meer kan ontkom nie. Die Boeregeneraal glip egter met sy manskappe soos ’n skim deur die net wat French vir hom span. Vyftien km ver jaag die vyand agter hom aan, skiet onophoudelik op hom met kanonne en kleingewere, maar hy ontkom met die verlies van een gesneuwelde, terwyl een burger gewond word.
So begin die legende van De Wet as die man wat nie gevang kan word nie.
Kort nadat die Engelse hulle agtervolging staak, kom genl. De Wet die eerste versterkings teë. Tot laat in die nag beraadslaag hy met die ander generaals en kommandante. In die vroeë nanag ruk hulle weer op na Paardeberg om weer eens ’n bres in die ring om genl. Cronje se magte te slaan. Tyd vir rus is daar nie, want 'n nasie se lot is in die weegskaal!
Hierdie keer slaag die aanval egter nie. Die vyand het sy posisies versterk tot 'n dubbele ring om Cronje en die dag breek voordat die aanval, wat beplan was om in die donker te begin, ’n aanvang kan neem.
Maar nog weier De Wet om in te gee. Hy het weer ’n plan en hy het ook net die man om hom die plan te help uitvoer, want die onvergelyklike verkenner Danie Theron het by sy kommando opgedaag. En Theron is gewillig om deur die vyand se linies te gaan en ’n boodskap aan genl. Cronje te neem.
Dit is ’n lewensgevaarlike taak wat byna bo-menslike krag en vernuf verg, maar Theron glip deur die kordon om die laer. Genl. Cronje besef nou hoe benard sy posisie is en is gewillig om te luister.
Stormreëns het egter uitgesak en ’n brug sal oor die rivier opgerig moet word as die burgers daar wil oor. In die nag reeds begin die werk. Die volgende oggend sien die Britse verkenners hoog vanuit ’n ballon wat aangaan en gee seine aan hul artillerie. Die half-voltooide brug word aan flenters geskiet.
Vir baie in die laer is dit die laaste strooitjie. Hulle word nou al nege dae hier onder die verskriklikste toestande van dood, vernietiging en honger vasgekeer en hulle kan nou net nie meer nie.
Genl. De Wet wil hê hulle moet van binne ’n pad oopveg terwyl hy van buite terselfdertyd help om die gaping te slaan, maar hulle is gedaan, nie net liggaamlik nie, maar ook geestelik. Hoe genl. Cronje hulle ook al probeer aanwakker, selfs sy beste offisiere sien nou nie meer kans nie.
Die nag glip Danie Theron terug deur die linies na De Wet toe. Hy bring die tyding dat genl. Cronje op dieselfde dag gaan oorgee. Dit is die 27e Februarie — Majubadag! Onder diegene wat juig omdat die neerlaag van Majuba gewreek is, is Hector MacDonald.
Hierdie ramp skok die hele volk. Vir Christiaan de Wet is die ergste dat ’n vlaag van moedeloosheid nou die burgers beetpak. Hy bemoedig, hy raas, hy dreig selfs met sy sambok, maar die vuur om te stry vir volk en vaderland kan hy maar nie weer ordentlik aan die brand kry nie.
’n Week lank lê lord Roberts se geweldige krygsmag uitgeput na die hewige geveg by Paardeberg. In dié tyd wy De Wet hom aan die opbou van sy kommando’s. Selfs die onwrikbare Pres. Steyn kom help om die burgers op Poplar Grove in slagorde te kry
Aan al die fronte begin die vyand nou die oorhand te kry en dit is noodsaaklik dat die burgers met nuwe wil en moed besiel moet word. Pres. Kruger het eers in Natal die terugvallende Boere gaan aanvuur om vas te skop en nou haas hy hom ook na die Vrystaat- Met ’n spesiale trein spoed hy na Bloemfontein en van daar vergesel van sy kleinseun, Frikkie Eloff, met ’n perdekar na Popar Grové. Poplar Grove is 160 kilometer van Bloemfontein af en die pad, feitlik sonder om te rus. Hy wil die Transvalers wat saam met DeWet veg, gaan aanspoor.
Skaars het hulle die kommando’s bereik en die moeë perde gespan, of die vyand begin die geveg met hulle kanonne. Onbevrees staan die ou volksheld en kyk hoe die bomme in sy natheid in die klam grand neerplof. Etlike kartetse begrawe hulleself in die aarde sonder om te bars, en die President se spotlied dat "Koningin Victoria se pille” maar bra flou is!
Sy dappere voorbeeld is egter nie genoeg om die vrees en moedeloosheid van die burgers te laat verdwyn nie. Toe die dienende ruiters onder genl. French hulle verskyning maak, begin die Burgers hulle stellings verlaat en terugval. Met smart op sy gesig aanskou pres. Kruger dit. Hy raas en dreig selfs met sy kierie, maar dit is tevergeefs. Met moeite oorreed genl. De Wet hom om in sy kar te klim. Die gevaar is nou al groot, want die vyand is naby, dus beveel De Wet die drywer om te jaag ten einde die ou President in veiligheid te bring.
Feitlik sonder om teenstand te bied, gee die burgers die slagveld prys, maar hulle generaal se wil om te veg, is so sterk as ooit. Dertig km verder, by Abrahamskraal, slaag De Wet weer daarin om orde in die kommando’s te bring. Hier sluit die Leeu van Wes-Transvaal, genl. De la Rey, met ’n afdeling zarps by die kommando’s aan. Meteens is daar weer staal in die manne. Van die oggend om tienuur tot sonsondergang hou hulle die vyand teë sonder om ’n haarbreedte te wyk.
Toe die nag daal, is dit of die skrik weer oor die burgers slaan. Klompies-klompies verdwyn hulle in die donker in die rigting van Bloemfontein.
Die hoofstad van die Vrystaatse Republiek is nou in gevaar.
Hier sal die burgers weer veg soos hulle al gewys het hulle kan veg, dink De Wet, wat later daaroor sal skryf:
"Die dag, de 13de Maart, dach ik zou de dag zijn waarop men vechten zou met geen gedachte aan wat het kosten zou; en dat, as Bloemfontein toch ingenomen moest worden, het dan zou zijn over onze doode lichamen heen.”
Maar in die nag voor die geveg verlaat klompies-klompies burgers reeds hulle posisies.
So word Bloemfontein haas sonder dat die vyand ’n enkele skoot hoef te skiet, deur lord Roberts ingeneem.
Vir baie lyk dit nou asof die oorlog vinnig ten einde loop, maar vir ’n man soos Christiaan de Wet is ’n volk nie oorwin as sy stede en dorpe verower is nie. ’n Volk is eers verslaan as sy mense hart en siel in die onvermydelike moet berus. Vir horn het daardie dag nog geensins aangebreek nie. Hy weet daar is ander wat ook soos hy voel en dink.
Tot die ontsteltenis van kmdt.-genl. Piet Joubert stuur Christiaan de Wet al sy burgers met tien dae verlof huis toe. Die meestevan hulle is te gedemoraliseer om te veg.
"U kan nie ’n haas met onwillige honde vang nie, Generaal,” verduidelik hy.
Hy besef wel dat al die burgers nie weer sal terugkom op kommando nie . "maar ik wilde liever onder mij hebben tien die vechten wilden, dan honderd onwilligen”.
Vervolg...