Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons gewone vreugdes word maklik deur slegte omstandighede weggeneem. Daar is egter net een vreugde wat niemand van ons kan wegneem nie: die vreugde wat die HERE in ons bekragtig – hierdie vreugde is die weerklank van God se lewe binne jou wanneer jy die pad met Hom stap.
TOTIUS – PROFEET VAN DIE MOOIRIVIER (2)
V. E. d'Assonville
Lees reeks by TOTIUS - Profeet van Mooirivier
VAN DIE PAARL NA TRANSVAAL EN TERUG
Op die wal van die Vaalrivier aan die Vrystaatse kant in die distrik Vredefort staan die huisie waar Totius in 1953 voor sy dood gewoon het. Dit was op die plaas van sy seun Dirk. Daar het hy ook sy laaste woorde geskryf.
Hy het eintlik nie meer lus gehad om nog iets te skryf nie. Maar hier kom toe die brief van prof. C. M. van den Heever: "Ons wil so graag dat u self ’n vertelling oor u jeug gee . . .” Vir Totius is dit egter ’n swaar ding om te doen: om oor homself te praat. Maar hoe kan hy prof. Van den Heever ooit teleurstel, die man wat sy doktorsproefskrif oor "Die digter Totius" geskryf het? Hy moet dit tog maar doen.
En so sit die gryse Totius uit sy kamer en tuur oor die Vaalrivier. En peinsend skryf hy sy artikel vir die boekie My ]eugland.
Maar behalwe dit flits daar ’n menigte jeugherinneringe deur sy gedagtes wat verstrooid lê in brokkies in baie briewe en verteliings — geen fantasieë van ander mense nie, maar wat hy self van sy lewe vertel het:"Ses-en-sewentig jaar gelede, om presies te wees, op 21 Februarie 1877, is ek in die Paarl gebore. Dit was ook agtien maande vantevore die geboorteplek van die Genootskap van Regte Afrikaners, daardie grootse beweging wat sulke onberekenbare invloed op ons volk se nasionaliteit en kultuur uitgeoefen het.
"Die huis waarin ek gebore is, was die pastorie van die N.G.- gemeente Noorder-Paarl en my vader, ds. S. J. du Toit, was die predikant. Merkwaardig is dit dat die pastorie ’n deel van die gebou van die Paarlse Gimnasium beslaan het.
"Ons taal, ons nasie, ons land — dit was die wind wat om my jeugdige ore gewaai het. Die vryheid van ons volksbestaan, die patriotiese liefde vir ons land en van ons moedertaal, is die dinge waaroor dit gegaan het.
"In 1877, die jaar van my geboorte, is die Transvaalse Republiek geannekseer en is daar in Afrika onder die diamantkoors geleef.
"Van daardie eerste jare onthou ek nie veel meer nie, behalwe dat van die familie later vertel het dat ek ’n klein terggees was.
"Oor my vader, ds. S. J. du Toit, sal ek seker nooit presies kan sê wat op my hart is nie. My bewondering oor hom is so groot dat ek seifs ’n biografie oor hom geskryf het. Meer kere het ek dit rondborstig getuig - seifs in die tyd toe hy deur die meeste van sy mense gesmaad is - dat hy die man was wat die grootste invloed op my lewe uitgeoefen het. Hy ten eerste en dan ook professor Jan Lion Cachet.
"Almal weet dat my vader ’n omstrede figuur was, veral oor sy politiek in die laaste jare van die vorige eeu. Ek het ook dikwels bitter swaar gely as gevolg van die publieke opinie oor my vader, maar het dit altyd weggesteek. Selfs in my grootste verleentheid, het ek vir hom in die bres getree. Dink net aan daardie aand op 14 September 1900 toe ek die gas van die beroemde Abraham Kuyper aan sy huis in Amsterdam was en hy ’n negatiewe, onsmaaklike uitlating oor my vader gemaak het. Wat vandag op die grafsteen van ds. S. J. du Toit staan, kan ek met ’n eerlike oortuiging onderskryf:
. . . Vader van die Afrikaanse Taal
Stigter van die Afrikaner-Bond
Stryder vir die Calvinisme.
"Oor my moeder kan ek nie veel sê nie, want alreeds in my sesde jaar is sy oorlede. Sy was Elizabeth Jacoba Joubert en my voorname Jacob Daniël kry ek van my oupa se kant van die Joubert-familie. Maar al sou ek nie veel persoonlike herinneringe oor my moeder kan neerskryf nie, kom haar beeld tog na soveel jare helder na vore. Na haar vroeë dood het my vader ’n klein geskrif, 'Lijden en Vertroosting’ oor haar geskryf en daaruit kon ek my moeder nog beter leer ken as ’n nederige, sagmoedige, kinderlike mens met toegewyde godsvrug. Die dag toe ons van die Paarl af na Transvaal vertrek het, het ’n dame aan haar vriendin gesê: 'Dit bewonder ek tog so in mevrou du Toit: haar kinderlikheid; sy bly ’n kind onder alles; al sou sy 80 jaar oud word, dan sal sy nog ’n kind bly.’ Dat sy ook ’n geleerde vrou was, was weens haar beskeidenheid nie aan almal bekend nie. Onbeskryflik heerlik is my gedagtes aan my moeder wat ek so vroeg moes verloor. Dikwels het ek in my lewe na haar graf in Pretoria gegaan en lank gedink oor die bietjie stof daaronder, en die opskrif daarbo: 'Ik geloof de opstanding des vlezes.’
"In 1882 het my vader ’n betrekking aanvaar as Superintendent van Onderwys van die Zuid-Afrikaansche Republiek. Maartmaand daardie jaar het ons die lang tog vanaf die Paarl na Transvaal aangepak. Ek was toe slegs vyf jaar oud. Ongelukkig kan ek nie veel van hierdie reis onthou nie, maar tog styg daar nog verskeie wit wolkies van herinneringe op bokant die gesigseinder van my kinderverlede. Een gebeurtenis is nog baie helder: Die laaste aand van die reis het ons uitgespan voor die poort van Pretoria. Ons suiker was toe juis op en ek proe nog die swart, bitter koffie. Voordat dit heeltemal donker was het my moeder alleen langs een van die hoogtes opgeklim om die eerste van ons almal ’n blik op Pretoria te werp. Was dit ’n donker voorgevoel van wat spoedig met haar sou gebeur. . . . Ons weet dit nie, maar een ding staan vas — toe is aan haar ’n eerste aanskouing gegun van die plek, wat haar laaste rusplek sou wees . . .
"Die verhuising van die Paarl na Pretoria was ’n groot verandering wat ons gesin diep geraak het. Vanuit die pastorie en gemeente van Noorder-Paarl na die staatswoning in Pretoria, was ook ’n groot verandering in geestelike klimaat. Van die rustige Paarl na die onstuimige politieke woelinge in Pretoria, het gewis van my ouers uiterste aanpassing geverg. Die idilliese buurt van die Gimnasiumgebou met sy eikebome in die agterplaas, is verruil vir die woelige Kerkstraat in Pretoria.
"Ons woonhuis in Pretoria was ruim en was ongeveer halfpad tussen Kerkplein en die ou begraafplaas geleë, digby president Kruger se woning. Ons het feitlik in die brandpunt van die Transvaalse geskiedenis geleef. Ek herinner my die situasie nog goed. Langs die straat was daar tralies, ondersteun deur groot wit pilare, waarop my ouer broer en ek geklim het om die verbytrekkende burgers na en van Mapoch se oorlog te bekyk. Aan die een kant van die huis was ’n geweldige roosheining waarin ons tonnels gemaak het. Aan die ander kant het oop saailande gelê.
"Aan die noordekant van ons huis was oop veld tot aan die volgende straat. In die straat het die skool van mej. Putzer gestaan. Daarheen is ek ook gestuur. Dit was my eerste skoolonderrig. Ek moet eintlik sê daarheen is ek gedra. Ek was naamlik baie onwillig om self met my boeksakkie aan te stap. Toe het die huisbediende opdrag gekry om my skool toe te dra. Ek het haar darem nie te naby laat kom nie. Toe ek die kinders voor die skool sien speel, het ek gesê dat sy my asseblief moet neersit: ek sal self loop! En daarmee was die pad gebaan,
"Spoedig is ons huis daar in Kerkstraat egter deur die grootste smart oorval. My moeder het gesterf. Sy was nie baie lank siek nie en eintlik was dit slegs ’n halwe middag wat dit ernstig was. In daardie oomblikke het ek deur die slaapkamervenster gesien hoe dat my vader met my sterwende moeder worstel. En toe alles verby was, is ek deur vriendehande oor die doodsbed opgehef om die doodsgelaat vir laas te kus.
"Daarna het ek hand-in-hand by my ouer broer gestaan, die oop graf voor ons, en het ek in my diepe smart my twee jonger sustertjies in hulle swart rokkies gesien. En as kind het ek toe alreeds gemymer oor die kuil daaronder, maar ook in my verlange die ligskemering daarbo gesien - dit was toe vir my as kind geloof!
"So het my moeder se dood plotseling en onverwags ’n nuwe fase in my lewe gebring. Ek was maar skaars ses jaar oud.
"Einde 1883 moes my vader as lid van die Transvaalse Deputasie ’n reis na Europa onderneem. My ouer broer en ek is toe weer teruggeneem na die Paarl om by my ouma (my vader se moeder wat reeds weduwee was) in te woon. Dit was op die ou familieplaas in Daljosafat. Daar het die Hugenote-voortrekker (eerste trekker oor Bergrivier) hom gaan vestig.
"Van hierdie tydperk noem ek slegs een besonderheid. Vroeg as dit nog donker was, het my ouma in die groot eetkamer by haar tafeltjie voor die venster gaan sit. Dan het sy haar Bybel en dagboek hardop gelees. Ek hoor nog haar dun stemmetjie as haar morelied en moregebed opstyg. O, die jeugherinneringe uit ’n waarlik wonderlike tyd! Hierdie stille voorbeeld in die ouderwetse huis was een van die faktore wat my trou laat bly het aan my Calvinistiese oortuiging.
"En dan mej. C. Brunner, daardie Switserse dame wat saam met ons vier kinders van Pretoria gekom het om die huishouding oor ons waar te neem — betekenisvol was haar invloed. Dit was sy wat ons geleer het om Duitse iiedere te sing. Sy was vir baie lank nie alleen ’n gesellige huisgenoot nie, maar ook inderdaad ’n 'moeder’.
Vervolg...